Melt Myburgh (1967–)

  • 0

Gebore en getoë

Melt Myburgh is op 22 September 1967 op Upington gebore. Sy ouers, albei nou reeds oorlede, het in daardie omgewing grootgeword. Melt noem homself ’n “regte kanaal-aap”. “Dis ’n uitdrukking wat die mense daar (op Upington) gebruik vir die maplotters wat so langs die kanale bly en oorleef. Daai kanaalwater vlóéi maar in die are,” vertel Melt aan Murray la Vita. (Die Burger, 16 Oktober 2009)

Toe Melt 13 jaar oud was, het hulle van Karos langs die Oranjerivier (sowat 40 km buite Upington in Groblershoop se rigting), verhuis na Upington self.

Sy pa was ’n erfboer op Karos en sy ma het in die sentrale gewerk (“Nommer asseblief!”). Melt is die vyfde van sewe kinders. Die oudste is ’n dogter en die res is seuns.

“Hoewel my ouers self net standerd agt gehad het (hulle het nie die geleentheid gehad om skool klaar te maak of verder te studeer nie), het hulle geglo in die waarde van boeke,” vertel Melt aan LitNet. “Toe ek 'n kleuter was, het hulle ’n enorme hoeveelheid boeke by ’n kolporteur aangekoop, onder andere allerhande sprokies van oor die hele wêreld, asook ’n volledige stel ensiklopedieë. Koerante en tydskrifte was volop in die huis. Nadat ons Upington toe verhuis het, het ’n tante (my ma se jongste suster) met smaak voorgelees uit André P Brink se Kennis van die aand. Ek was toe 13 en die boek had ’n ouderdomsbeperking van 18. Brink se boek het ek daarna self verslind en my politieke siening is vir ewig verander. Nodeloos om te sê, is ek so tot die letterkunde bekeer. FA Venter se Kambrokindhet ook ’n sterk invloed op my gehad.”

Die kennismaking met Kennis van die aand het op ’n manier die wêreld vir Melt oopgeskiet – “daai horisonne van die rooi duine en die rivier wat daar deurloop, gróter gemaak”.

Melt bring sy laerskooljare aan die Laerskool Karos Connan deur en sy hoërskooljare aan die Tegniese Skool Upington, vandag Hoërskool Duineveld. Sy Afrikaans-onderwyser, Riaan Basson, het ’n wonderlike invloed op hom gehad en het die deurslaggewende rol gespeel in sy besluit om met behulp van ’n onderwysbeurs Afrikaans te gaan studeer. Op hoërskool het Melt uitgeblink in akademiese vakke, maar beroerd gevaar in die tegniese vakke, waarvoor hy geen aanleg gehad het nie. “Ek was ’n ramp op die sportveld en het slegs aan atletiek deelgeneem om 'n deelname-punt vir die span te kry.” (aan LitNet)

Sy ouers het ’n redelik behoudende siening gehad ten opsigte van studeer na skool, sê hy aan La Vita. “My pa was kwaad dat ek daardie veilige sone wou verlaat. Hy het my nie gegroet die dag toe ek Stellenbosch toe vertrek het nie. Hy het vir my spesifieke planne gehad soos vir my vyf broers – ons moes vir Telkom gaan werk. Hy wou hê ek moet elektrisiënswerk by Telkom doen. Maar as ek nou vandag (2009) teen Telkom-pale moes opklim, dan sou dit vir my ’n ramp gewees het. Ek wás in ’n tegniese skool, maar ek is glad nie tegnies aangelê nie. My hande was te dom vir ’n praktiese ambag. In matriek was ons projek om ’n sweismasjien te bou wat kan sweis. Myne het FM-radio opgevang op die ou einde.”

Die behoefte om te skryf het hom op hoërskool oorval, vertel Melt aan Deborah Steinmair op LitNet. “Ek vermoed ek wou ontkom aan die geweld van die sosiale omgewing van die tagtigerjare waarin ek my bevind het. Jy weet, daardie gemilitariseerde samelewing waarin kadette op skool en diensplig na skool soos ’n skadu oor ’n tiener se lewe gehang het. In daardie dae was die mishandeling van plaaswerkers en huisbediendes aan die orde van die dag in die omgewing waarin ek grootgeword het. En dit het my gepla. Vir my het dit voorgekom asof ek die enigste wit mens was vir wie dit ’n probleem was. So, ek was geïsoleer en ek het, danksy André P Brink se Kennis van die aand, besef dat skryf ’n manier is om deur daardie isolasie te breek.

“Ek het in standerd nege ’n opstel vir my Afrikaans-onderwyser geskryf waarin ek geweld wat ek waargeneem het, grafies beskryf het, vloekwoorde en al. Hy het my nul gegee en my aan my oor uit die klaskamer gelei, maar later darem vir my ’n ordentlike punt gegee. Hy het nie geweet hoe om die situasie te hanteer nie. Daardie einste onderwyser was later my redding toe hy my pa, wat van my ’n polisieman of Telkom-werker wou maak, omgepraat het om borg te teken vir die onderwysbeurs waarvoor ek aansoek gedoen het – my hoofvakke: Afrikaans en Engels!”

Melt matrikuleer in 1985 aan die Tegniese Skool Upington en skryf sy eerste gedig, “gisteraand met die reënwind se koms” in 1984 toe hy sewentien en in standerd nege was. Dit is later in sy eerste digbundel, oewerbestaan, gepubliseer. “Ek het my eerste gediggie (heel religieus) geskryf terwyl ek op my skooltas voor my gedruk het. Ek het op my bed gesit, bene gekruis.”

Verdere studie en werk

Melt het in 1986 met ’n onderwysbeurs met sy BA-studie aan die Universiteit Stellenbosch begin en in 1988 gegradueer met Engels en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke. In 1989 doen hy sy honneurs in Afrikaans en Nederlands en in 1990 sy Hoër Onderwysdiploma (HOD).

Daarna pak hy sy meestersgraad aan en in Maart 1992 verwerf hy sy MA met ’n tesis getiteld “Die ruimte in Wilma Stockenström se Kaapse rekwisiete”.

In 1992 begin Melt met sy onderwysloopbaan van 15 jaar. Sy eerste pos was in Murraysburg in die Karoo. Dit was in April 1992. “Ek het getjank die dag toe ek daar aankom en sien hoe dróéwig die omgewing lyk. En ek het ’n jaar en nege maande later (einde 1993) gehuil soos ’n regte ou sissie toe ek daar moes weggaan, want ek het so lief vir die plek geraak. (...) Daar was altyd sulke merkers op my pad gewees wat my so dú in die rigting van die letterkunde. Een van my mondelinge wat ek byvoorbeeld gedoen het toe ek vir daai onderwysbeurs aansoek gedoen het, was oor die Uilhuis in Nieu-Bethesda. En wragtig, toe ek op Murraysburg beland en dink wáár is ek nou? toe vat my broer wat my daar gaan aflaai het, my na Nieu-Bethesda toe wat een van die naaste klein dorpies aan Murraysburg is. En toe weet ek daar is ’n rede waarom ek daar moes beland.

“En Toorberg was natuurlik net ’n klipgooi van daar gewees. En toe op Grahamstad [waar Melt aan die Hoërskool PJ Olivier onderwys gegee het van begin 1994 tot einde Maart 1997] kruis my paaie met dié van Etienne van Heerden. Hy was toe nog daar professor in Afrikaans-Nederlands.” (Die Burger, 16 Oktober 2009)

Na die Afrikaanse omgewing van PJ Olivier is Melt van die begin van April 1997 tot die einde van Maart 2002 na die Engelse omgewing van Graeme College Boys’ High, ook in Grahamstad, waar hy ook atletiekafrigter was! Terwyl hy in Grahamstad onderwys gegee het, het hy ook deeltyds klas gegee in die Rhodes-Universiteit se Opvoedkunde-fakulteit.

By Rhodes-Universiteit was Tim Huisamen Melt se mentor. “Dit is individue wat jou as digter en skrywer aanmoedig en help skaaf.” Destyds het hy gemeen dat die Afrikaans-departemente aan universiteite en instellings dié toets dop. Skole was volgens hom dié plekke waar skrywers gevorm word. “Die Afrikaanse mark het só verander dat van die land se beste skrywers as onderwysers in skole sit. Dit is hulle wat jong skrywers in die klas aanspoor en help skep aan ’n mark deur die gemeenskap te betrek,” het Melt aan Pieter van Zyl (Die Burger, 17 Januarie 2002) gesê. Baaise skole soos die Hoërskool DF Malan hou boeke-makieties waar skrywers hul werk kan bekend stel. Die Hoërskool Framesby skep ’n teelaarde vir digters en skrywers. “Skole moet hul skrywers oppas. Dít is waar die dinge gebeur.”

In 2000 was hy betrokke by Kook II, die Afrikaanse literêre gebeurtenis by die Grahamstadse Kunstefees, en het sy gedigte groot aftrek gekry. In 2001 was hy medekoördineerder van Kook III, wat weer as deel van die Wordfest plaasgevind het.

Van begin April 2002 tot einde Maart 2007 is hy onderwyser aan Rondebosch Boys’ High School in die suidelike voorstede van Kaapstad. Daar het hy sy oorwegend Engelse leerders blootgestel aan Afrikaanse tekste soos Daar’s vis in die punch van Jackie Nagtegaal. Sy graad 9-leerders het daarop aangedring dat hulle dit as hulle voorgeskrewe boek moet bestudeer.

In April 2007 kruis sy paaie toe weer met Etienne van Heerden toe Melt by LitNet aansluit as inhoudsbestuurder en later as meningsbestuurder. Oor sy tyd as meningsbestuurder by LitNet sê Melt aan La Vita: “Dit het gevoel soos om op ’n lewendige Eskom-draad te stap en ’n balanseertoertjie te doen. Dit was verskriklik opwindend. Dis ’n onvoorspelbare medium vir ’n gemeenskap met baie plofbare opinies. Weet jy wat het my gehelp om te oorleef binne daardie mengelmoes van menings en uitruil van gedagtes? Humor. Ek het dit verskriklik geniet. Ek het nooit gevoel asof ek besig is om mal te word of so iets nie. Ek het élke oomblik daarvan geniet – juis omdat dit so onvoorspelbaar was.

“Wat al oor die menslike psige gesê is – dit is soos ’n afgrond: jy word duiselig wanneer jy daarin kyk – is dalk ook hier ter sprake. Internet is op ons losgelaat, en ons is nog besig om maniere te vind om op ’n geordende manier te praat en onsself te laat geld. Maar ’n mens wil ook nie té georden lewe nie. Dit is ’n mite dat die internet jou ábsolute vryheid van spraak gee. Dit is nié so nie. Daar is genoeg instansies en mense en agente wat rondloop en orde afdwing – uit ’n regsperspektief beslis.”

Dit het gevoel asof hy van ’n familie afskeid geneem het toe hy by LitNet weg is. “Daar is van daardie briefskrywers wat ek persoonlik leer ken het. Ek het onttrekkingsimptome, maar dié het darem nou al bedaar.”

Aan die begin het hy te hard probeer. “As die nuwe webvoet wil jy jouself véstig op ’n manier. My politieke onderrok het óók uitgehang. Maar ek is gou-gou geklap van alle kante af deur die LitNet-skrywers en hulle kritiek. Ek het selfs doodsdreigemente gekry in daardie tyd. Hulle het gevoel ek is te links.”

Mettertyd het hy “gestabiliseer” in sy posisie. Iemand het vir hom gesê: “Ontspán. Jy moet so ver as moontlik neutraal probeer bly en almal se opinies akkommodeer.”

Vir Melt staan alles in diens van die letterkunde. “Ek het die letterkunde verkoop aan my mense,” sê hy. (Die Burger, 16 Oktober 2009)

Na twee en ’n half jaar by LitNet is hy na die Universiteit Stellenbosch, waar hy Woordkunsprojekbestuurder is by die US Woordfees en enkele kursusse in die Departement Afrikaans en Nederlands aanbied.

Melt verlaat die Woordfees ná die fees van 2013 om redaksiehoof by die uitgewer Naledi te word. In 2014 is hy aangestel as opdraggewende redakteur by Penguin SA, wat in 2015 Penguin Random House SA geword het. Terwyl hy in diens van Penguin was, was hy ook verhaleredakteur by Vrouekeur. Vanaf 2020 is hy terug by LitNet in die gedaante van bestuurder van LitNet Akademies.

Sy eerste gedigte word in Nuwe stemme 2, onder redaksie van Petra Müller en Nèlleke de Jager, gepubliseer. Vroeër het hy meegeskryf aan die LitNet-romanskryfprojek, Die Rooi Rom@n – ’n webroman – onder leiding van Etienne van Heerden en Jaco Botha. “Ek het my medeskrywers ontstel. Ek het die gay- en dwelmtonele ingeskryf en só hulle homofobiese karakters ontmasker. Dié roman was ’n interessante eksperiment. Dit het my die selfvertroue gegee dat ek kán skryf.”

Gay-wees is ’n sentrale tema in Melt se gedigte. “Die gay-tema is al holrug gery. Alles is al voorheen gesê. Die geheim is om dit op ’n nuwe manier te sê.”

Hy probeer wegbly van gay-politiek, vertel hy vir Pieter van Zyl. (Die Burger, 17 Januarie 2002) “Ek skryf sonder hierdie bedreiging. Daar is wel plek vir gay rolmodelle, rugbyspelers, akteurs. Die grootste oorsaak van tienerselfmoorde is onsekerheid oor seksualiteit. Dit is die gay-gemeenskap se morele plig om rolmodelle te wees.”

Die geleentheid om poësie gepubliseer te kry kom nie so gereeld soos in die verlede nie. Melt is egter bly dié tyd is verby. “Daar is nie meer só ’n akademiese selfkoestering nie. Die mark vir gedigte is só klein, ons kan dit nie bekostig om lesers te vervreem nie. Die uitdaging is om die gehoor aan te gryp.”

Van sy gedigte is in Versindaba 2008 en Versindaba 2010 opgeneem. In 2011 verskyn Letter to South Africa, waarin daar ook een van Melt se gedigte opgeneem is. Die Cape Times se resensent Keith Gottschalk was nogal opgewonde daaroor; hy skryf in sy resensie van 20 Mei: “Melt Myburgh’s poem broods full of surreal menace. To me, the most powerful line in this anthology, with its angel of death evocation, is his ‘wings flank the shadow that glides over the plains’.”

Na die skryf van sy eerste gedig het gedigte oor die volgende 23 jaar hom te binne geskiet wat uiteindelik bymekaargebring is in die manuskrip vir oewerbestaan nadat Nicol Stassen van Protea Boekhuis Melt aangemoedig het om ’n bundel saam te stel. Dit word in 2010 deur Protea Boekhuis uitgegee en in 2011 word dit bekroon met die Ingrid Jonker-prys.

Met Danie Marais as voorsitter en Heilna du Plooy, Loftus Marais en Bernard Odendaal as beoordelaars het hulle die toekenning as volg gemotiveer: “Die bundeltitel verwoord die deurlopende motief van Myburgh se debuut: ’n bestaan aan die kant van die rivier, letterlik met verwysing na Upington en die Garieprivier, maar ook figuurlik as ’n bestaan wat bewus is van grensgebiede, (…) van oorgang en buitestanderskap.

“Sy sterk visuele beelde, sy sensitiewe waarneming sonder sentimentaliteit en sy vlak van beheersdheid en eenheid is prysenswaardig in ’n debuut.” (Volksblad, 15 Augustus 2011)

Tydens die oorhandiging van hierdie prys aan Melt het hy gesê: “Dit is vir my ’n voorreg om hierdie prys, met sy assosiasie van Ingrid Jonker se uitsonderlike digterlike nalatenskap, in ontvangs te neem. Om dit te ontvang uit die hand van Caro Wiese, wie se ondersteuning van die poësie en geleenthede soos hierdie van voddedraers digters maak, is ’n voorreg des te meer.

“Vir my suster Karen en haar kinders, Janke en Hugh, wat vanaand hierdie geleentheid met my deel: baie dankie. Julle is my bloed en laat my voel ek behoort.

by die ontvangs van die ingrid jonker

vir die oomblik wat jy jou rug op die twaalf apostels keer
kan ek sien
hoe die wind beitel aan jou profiel
om jou enkels skuim ’n tsunami van drif
jou skadu ontwerp deur maanlig

ek weet, daarso waar jy staan
sal jy sien hoe Koeberg se ligte
aanflikker in die mis

jou saam met my verbeel
hoe terrasse oortrek met anemone
duidelik raak met elke tree dieper in die mis

aanskou hoe die kragsentrale se buitelyne gelade nader skuif:
koepels blink tussen minarette
in marmer: ’n mausoleum vir die liefde!” (LitNet)

Wanneer Melt oor sy poësie praat, word sy stem inniger, skryf Murray la Vita. “My grootste uitdaging was om ’n titel te kry (vir sy bundel) waarin ek daardie Noord-Kaapse, Upingtonse landskap en die Spaanse landskap van Lorca laat gel. Ek het in 2004 na Spanje gereis om op Lorca se spoor te loop en om beslag te gee aan die bundel. Ek het van die verse eintlik al voor die tyd geskryf wat ek gevisualiseer het. Maar ek het toe die plekke gaan besoek. Ek het gedink ek sal die verse herskryf of aanvul, maar die verse wat ek voor die tyd geskryf het – asóf in die Spaanse landskap – was akkuraat gewees. Daar het ook nuwe verse bygekom na aanleiding van daardie pelgrimstog. Daar is redes waarom ek my, op ’n nederige manier, met Lorca kan vereenselwig.

“Ek is gefassineer deur die feit dat hy gay was; dat hy op ’n jong ouderdom deur die Falangiste vermoor is. En daar is geweldige ooreenkomste tussen die Spaanse landskap, die Andalusiese landskap, en die Noord-Kaap. Jy het riviere en ’n netwerk van kanale in daardie omgewing waar Lorca grootgeword het. In die Noord-Kaap het jy natuurlik nie berge en sneeu nie. Jy het ook nie ’n stad soos Granada met daardie wonderlike Moorse invloed nie. Maar jy het nou weer iets anders. Jy het die Kalahari wat daar uitstrek met al die mites en mitologieë wat daarmee saamloop. So, ek probeer dié twee landskappe vir my laat sin maak.”

Dis Hennie Aucamp wat Melt op Lorca se spoor gesit het. Hennie was een van sy dosente in sy HOD-jaar op Stellenbosch, en hy het eendag vertel van die klomp gedigte wat Lorca glo aan ’n anonieme gay minnaar geskryf het, en wat sy familie nie wil laat vrystel nie. “Of dit waar is of net ’n mite, weet ek nie,” sê Melt op OuLitNet aan Anton Vorster. “Dit maak eintlik nie saak nie; dis ’n wonderlike romantiese idee om mee te speel. Ek dink Lorca is vir my ’n soort objective correlative (nie dat ek mooi weet wat die woord alles impliseer nie!). Dis eintlik meer sy lewe as sy skryfwerk wat ’n rol in my poësie speel – ek identifiseer met hom onder andere omdat hy gay was, omdat hy ook in ’n klein gemeenskap grootgeword het, in ’n omgewing met landerye, kanale en dies meer.”

Louise Viljoen skryf in Die Burger (geen datum) dat oewerbestaan geen oorhaastige debuut is nie, maar ’n deeglik afgewerkte bundel waarin Melt met die ervaring van ’n ervare digter skryf. “Die omslagfoto van die Garieprivier plaas die leser onmiddellik in die wêreld waaruit hierdie poësie spruit en gee ook letterlike betekenis aan die begrip ‘oewerbestaan’. Hoewel in die bundel ook ander landskappe beskryf word, is daar sekere gemene delers in die landskapswaarneming: Daar is telkens ’n bewustheid van die magiese potensiaal wat in die landskap opgesluit is, van die poësie as die middel waardeur dit ontsluit kan word, van die geskiedenisse wat daarop geskryf is en van die wyse waarop dit vorm gee aan drome van liefde en erotiese vervulling.

“Die eerste afdeling van oewerbestaan fokus op die digter se komplekse verhouding met sy geboortewêreld op die oewers van die Gariep. Aan die een kant word die landskap in evokatiewe beelde opgeroep, maar aan die ander kant word ook met ’n skerp oog na die donker sy daarvan gekyk.

“Melt se afdeling in Nuwe stemme 2 begin met die reeks gedigte ‘om Federico’, en dit is ook in oewerbestaan opgeneem, waar dit die tweede afdeling vorm met Federico Garcia Lorca as die fokuspunt. In hierdie afdeling reis die digter deur Spanje en loop hy in die ruimtes waarin Lorca hom bevind het – gedig vir gedig in ’n soort pelgrimstog. Die intense vereenselwiging met Lorca en die landskap waarin hy geleef het, neem verskillende vorme aan: dié van verliefdheid, verering, viering en veral ook begrip vir die gees van duendeof emosionele donkerte waaroor Lorca self so mooi gepraat het. ’n Mens sien dit byvoorbeeld in die gedig ‘net hier’ waarin die digter sy eie pa in die Spaanse landskap plaas en met Lorca se pa vergelyk. Die somber momente in hierdie gedig waarin verwys word na die honde wat geskiet word omdat hulle beseer is, wys vooruit na die treffende gedig ‘by my vader se dood’ in ’n latere afdeling.

“Die derde afdeling, met die titel ‘gesigte’, bevat gedigte waarin visioene, indrukke, perspektiewe en geheuebeelde gegee word.

“Die bundel sluit aan by die jongste neiging in die Afrikaanse poësie om toegankliker te skryf – sonder dat dit in praterigheid of oppervlakkigheid verval. Die gedigte kry tekstuur en diepte deur die konkrete beelde, die sorgvuldige woordgebruik, die gevoeligheid vir klank en ritme en die vermoë om die verskillende boustene van die gedig in ’n hegte struktuur saam te trek. Dit was in alle opsigte die moeite werd om vir hierdie sterk debuut te wag,” skryf Viljoen.

TT Cloete (Beeld, 16 Augustus 2010) skryf dat in die trant van Uys Krige die plaaslike in Myburgh se bundel vermeng word met gedigte oor Spanje. “Madrid, Granada, stede in die vreemde kom staan naas Upington. In sekere gedigte skuif die twee wêrelde oor mekaar en word die twee uiterstes, Spanje se Sierra Nevada en in ons eie land die afgeleë Noenieput, in een greep saamgevat (soos in ‘oorsaak en gevolg’). Myburgh het bewondering vir Lorca, en ‘fuente grande’ is een van sy beste gedigte oor hom. Die kindmotief kom steeds in die Spanje-gedigte na vore (‘die aand vloei duiselig by boomholtes in’).

oewerbestaan is ’n bundel met ’n verskeidenheid motiewe wat op ’n behendige manier saamgevleg word tot ’n eenheid, met volop beminlike trekke.”

Vir Ronel Nel (Rapport, 1 Augustus 2010) moet gedigte sing en ’n malse kopmusiek in élke mens losmaak en nie slegs tot ’n uitgelese, belese gehoor spreek nie. “Dit moet posvat in elke deel van elke mens, sy openlikste emosies en sy diepste donkertes. En jou oë moet opnuut sien met die lees van die gedigte. In ’n woordlandskap wat so akademies geword het, kry enkelstemme dit soms wel reg om regdeur die glasplafon te bars, die hoogtes in, en die lug te vul met aardse musiek. Ja, gedigte moet sing. En Melt Myburgh se gedigte sing. (...)

“Wat Myburgh se gedigte egter so verbysterend besonders maak, is sy kragdadige vermoë om ’n beeld, ’n visioen, in jou gedagtewêreld in te stoot en te laat ontplof. Bladsy na bladsy van oewerbestaan laat die leser voller voel. Hoor jy later steeds die gedigte sing. Elke gedig, hoe kompleks of eenvoudig ook al, slaag daarin om die leser met ’n spreekwoordelike hou in die maag te laat snak na asem. Elke gedig se woordkrag, om die digter se eie woorde te gebruik, soos ’n koord wat jou ten hemele ruk. Hierdie bundel gaan ’n besondere plek op my boekrak inneem.”

Joan Hambidge (Volksblad, 28 Augustus 2010) meen dat nie al die verse deurgekomponeer is nie. “Daar is gesogte beelde (‘hoe lui ’n foon slank?’, bladsy 17). Dikwels staan verse nog te na aan die ervaring, maar wanneer dit slaag, soos in ’n hand vol, is daar beslis bewys van talent. Daar is hiperbolies gedink, om die digter buite verband aan te haal, en die gesprek met Lorca bring winste. Ons ken almal die voortreflike vertalings van Uys Krige in Spaanse dans. Myburgh is oorweldig deur die betowering van Granada en die ‘heuwels staan knop soos boude’ (bladsy 32). Daar is suggesties en openlike verwysings na homo-erotiese aanrakings; iets wat moeiliker was in die ruimte waaruit hy kom. Heen en terug flits die gedigte na mekaar: die nou en die verlede toe die oksels nog vry was van skadu’s. Die liefdesverse is egter al beter deur Auden, et al (en by ons De Lange) gehanteer en waarskynlik is die landskap-van-die-jeug die beste verse: dit wat die digter werklik ken én verken het.”

Volgens Annemarié van Niekerk (LitNet) is oewerbestaan ’n debuut wat weet hoe om die valkuile van ’n debuut mis te trap. “Hierdie gedigte weet dat poësie nie net ’n beskrywende instrument is nie, maar ’n lewende krag wat dinge kan laat gebeur: breek, skep, verander; in Myburgh se eie woorde: ’n oleander ‘laat blom asof vir die eerste keer’, ‘die son laat skif’ of die lusernakkers laat ‘afkoel in ink’ (ongetitelde gedig, 15). Om die belofte van hierdie eerste bundel ten volle waar te maak, sou Myburgh ’n nóg sterker eie stem moet vind en homself heeltemal losmaak van eksterne invloede (of dit nou doelbewus of onbewustelik meespeel) – invloede soos die Breytenbach-klank in ‘huisbesoek’ en ‘waarheen dra jou voete jou, my liefste’, die Jonker-klank in ‘terugblik’, die Ernst van Heerden-klank in ‘privaat skool’, die Breytenbach- en Stephan Bouwer-klank in ‘jy slaap nog my skat’, en so meer. Want Myburgh kan daarsonder prima klaarkom. Verder hoef hy ook nie só ver weg te skram van ’n skeutjie gevoel nie.

“Met hierdie soepel-gekonstrueerde en welbeleë debuut kan Myburgh se lesers uitsien na die ontplooiing van ’n oeuvre wat binne die Afrikaanse digkuns sekerlik ’n ryk bydrae sal kan lewer. Sy poësie spreek outsiderskap, gay-liefde en -erotiek, gewortel binne ’n anderse kyk na ’n landelike jeug en ’n huidige geproblematiseerde stedelike bewussyn, op ’n vars manier aan, en boonop met ’n ryk metaforiese geskakeerdheid.”

Oor die gedig “toeval” wat in oewerbestaan verskyn, vertel Melt op Versindaba oor die ontstaan van die gedig.

toeval

hoe lieflik die toeval
daardie sondagmôre
in die avenida de los andaluces

sonder praat betree hy die bus
beklink sy passaat met uitgetelde munt
en neem twee sitplekke verder stelling in.

pepe el romano, my lippe klankloos.

golwend en git glip sy hare oor die baadjiekraag.
langs hom jukstaponeer die kaatsing in die ruit
’n gebeitelde profiel met populiere wat hiberneer.

heupe bestendig, klim hy êrens in die vega af.
toe hy agter ons kleiner raak, sien ek hoe kleef
aan sy postuur, met die grasie van ’n moeë gimnas,
die vervulling wat volg op ’n deurgenaaide nag.

“Ek het die gedig geskryf na my terugkeer van Spanje waar ek onder meer Federico García Lorca se geboortedorp Fuente Vaqueros besoek het. Vir daardie besoek in Januarie 2005 moes ek ’n bus haal vanaf Granada na die digter se geboortedorp sowat 30 km buite die stad. Dit was vroeg op ’n Sondagoggend wat ek op die autobus in die Avenida de los Andaluces moes klim. Snerpend koud daarby.

“Omdat daar skynbaar net twee Granadino’s in die ganse stad is wat Engels kan praat, moes ek myself met die hulp van handgebare en geradbraakte Spaans op die regte bus kry. Die Spanjole is nou nie juis bekend vir hul hartlikheid teenoor vreemdelinge nie.

“Daar was net ’n handvol passasiers op die rammelrige bus, van wie een ’n onchristelike mooi man was. Kyk, die Spanjaarde spoeg en pis op straat en hulle verpes immigrante en buitelanders, maar ’n gebrek aan skoonheid het hulle nie. En dié besondere Andalusiër was bepaald die aanskoulikste van die spesie wat my pad gekruis het die hele Spanje deur.

“Uit die aard van die saak kon ek my oë kwalik afhou van die skone klong wat hom enkele sitplekke voor my tuisgemaak het. Hy was geklee in ’n netjiese wolbaadjie en die dik swart hare, berekend geolie, het oor sy kraag gehang.

“Iewers op die pad na Fuente Vaqueros het hy letterlik in die middel van nêrens afgeklim en koers gekies deur ’n landery na ’n plaasopstal wat tussen bome versteek gelê het.

“Dis toe dat my verbeelding op hol gaan. Ek het dadelik gewonder oor sy bestemming en wat die doel van sy besoek aan Granada was. So ’n mooie man moes ten minste ’n minnares (of ’n minnaar; mag die gode genadig wees!) hê by wie hy sy lê sou kry tydens ’n nag in die stad. Dalk het hy ’n besoek aan ’n siek ouma gebring, of so iets – hoe sal mens nou weet?

“Omdat ek op my verbeelding aangewese was vir ’n ‘historie’ oor dié aanvallige vreemdeling, het ek dadelik gedink aan Pepe el Romano, die manjifieke ‘afwesige’ karakter in Lorca se Die huis van Bernarda Alba. Daar en dan het ek die insig aan myself opgedring dat dié insident Lorca se manier was om met my te kommunikeer terwyl ek op sy spoor geloop het. En ’n groter geskenk kon hy my sekerlik nie gee nie: Pepe el Romano in die vlees!”

Wenke vir jong digters van Melt: “Skryf oor ’n onderwerp wat jy ken; vermy woorde soos ‘siel’, ‘gees’ en ‘pyn’; moenie woorde indwing omdat dit rym nie; skryf jou gedig ’n paar keer oor – dit gebeur nie sommer dat die eerste poging die finale weergawe is nie; pasop vir soetsappigheid; wees op die uitkyk na anglisismes; spel- en taalfoute is verbode vir enige digter; en kies jou titel versigtig sodat dit funksioneel is.” (Beeld, 11 Junie 2010)

Publikasie

Publikasie

oewerbestaan

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781869193690 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ingrid Jonker-prys, 2011

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Melt Myburgh

Artikels deur Melt Myburgh

Melt Myburgh se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-07-26 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top