Om jou ’n Zoeloemonarg raak te verbeel: Johann Lodewyk Marais oor die uitbeelding van Shaka

  • 0

Johann Lodewyk Marais se artikel oor die uitbeelding van koning Shaka in die Suid-Afrikaanse literatuur, het in Desember 2020 in LitNet Akademies verskyn. Melt Myburgh het hom uitgevra oor sy interessante navorsing.

Johann Lodewyk Marais by die gedenkteken ter nagedagtenis van Shaka in kwaDukuza. In die voorgrond is die klip waarop Shaka na bewering gesit het toe hy vermoor is. (Foto: A. Steynberg)

In ’n onlangse onderhoud op LitNet sê Antjie Krog dat Suid-Afrikaners dikwels oor Shaka opgetoë raak omdat ons wraak respekteer en haat ons opgewonde stem, en dat ons in die proses vergeet van die ander swart konings wat vrede nagestreef het. Waar kom jou fassinasie met Shaka vandaan?

My jeugjare het ek op die grens tussen die Vrystaat en KwaZulu-Natal deurgebring. Daar was heelparty Zoeloesprekers in die omgewing, en van Colllin(g)spas af in die rigting van Ladysmith het ek my tussen saliehout, papierbasdoring en klip verwonder aan hoe vinnig die landskap verander en die Sesothokultuur na ’n Zoeloekultuur oorgaan. In Sesotho, wat ek soos ’n moedertaal leer praat het, was daar baie Zoeloewoorde. Shaka en sy invloed het gou onder my aandag gekom uit wat ek as kind mense hoor vertel het. Boonop het Cecil Skotnes en Stephen Gray se The assassination of Shaka (1974) my op dramatiese wyse van dié monarg en die moord op hom laat kennis maak. Ek en van my skoolmaats is veral gefassineer deur Skotnes se houtsnee. Via opmerkings van Gray het ek die eerste keer DJ Opperman en sy Natalse gedigte, waaronder die lang “Shaka” uit Heilige beeste (1945), leer ken. In die geskiedenisklas het ons van Moshoeshoe I en die konflik oor die grens tussen die Vrystaat en Basutoland (nou Lesotho) geleer, maar die ingrypende implikasies van Shaka se lewe en optrede vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis het my meer geïnteresseer.

In jou artikel noem jy dat die vroegste uitbeeldings van Shaka voorkom in die geskrifte van jagters en handelaars, en in die eerste roman van die Engelse skrywer H Rider Haggard, Nada the lily (1892). Haggard beeld Shaka dan ook as “’n roekelose koning met ’n onnatuurlike persoonlikheid” uit. Jy noem spesifiek ook die werk van Afrikaanse skrywers soos DJ Opperman, PPR van Coller, Pieter Fourie en PJ Schoeman. Wanneer dit kom by wit skrywers wat oor ’n swart figuur soos Shaka skryf, is dit met die politieke tydsgees van vandag, waar begrippe soos appropriasie die diskoers oorheers, waarskynlik soos om ’n mynveld te betree. Wat is jou gedagtes as navorser hieroor? In hoe ’n mate is Shaka se beeld deur dié kolonialistiese tekste skeefgetrek, en hoe gaan jy as navorser met sulke bronne om?

’n Voorstelling van Shaka in Nathaniel Isaacs se Travels and adventures in Eastern Africa (1836)

Dit wat ons van Shaka weet, word bepaal deur die bronne oor hom wat oor ’n tydperk van bykans 200 jaar ontstaan het en/of geskep is. Benewens die mondelinge en skriftelike bronne bestaan daar min ander gegewens van ’n tekstuele aard. Ons weet byvoorbeeld nie hoe Shaka gelyk het nie, want Nathaniel Isaacs se voorstelling van hom in Travels and adventures in Eastern Africa (1836) bevat allerlei onwaarskynlikhede. (Maar hierdie voorstelling bepaal tog in ’n baie visuele era hoe ons ons Shaka voorstel, en kunstenaars is nog steeds daarmee in gesprek.) As historiese én letterkundige navorser is ek gekonfronteer met die vraag hoe betroubaar die bronne is. Vir die historikus is die vraag na die betroubaarheid van bronne vir die bestudering van die geskiedenis selfs belangriker as vir die letterkundige, wat heel dikwels in tekste met die doelbewuste verdraaiing van die geskiedenis te doen het. In die lig van die “historiese afstand” van Shaka se werklike lewe en tyd af, is bykans alle tekste oor hom skeeftrekkings, soos Dan Wylie ons in sy radikale herskrywing van Shaka se biografie op wys. Tekste wat oor Shaka in die era van Britse kolonialisme en apartheid ontstaan het, is ongetwyfeld deur tydgenootlike lewens- en wêreldbeskouings gekleur. Geen vroeë tekste oor Shaka kan daaraan ontkom nie. Dit was vir my ’n uitdaging om na feitlik al die tekste te kyk wat oor Shaka behoue gebly het en om hom só te probeer begryp.

Jy verwys na Thomas Mofolo se Chaka (1926) as “die eerste groot roman” in ’n inheemse taal, Sesotho. Waarom staan Mofolo se roman oor Shaka vir jou uit, buiten dat dit deur ’n swart skrywer in Sesotho is?

Ek was nog op skool toe ek met Chris Swanepoel se Tjhaka (1974), ’n vertaling van Mofolo se Chaka, kennisgemaak het. Swanepoel se vertaling was keurig en die verhaal wat hy vertel het, was sowel boeiend as ontstellend en selfs makaber. Mofolo, Opperman, Skotnes en Gray het as ’t ware ’n oorsig oor die Zoeloemonarg se lewe gegee en klem op sy byna onvermydelike ondergang laat val. Swanepoel se vertaling het ’n Afrikaanse venster oopgemaak op hoe ’n (ten diepste bevooroordeelde?) Sesothoskrywer gebeure in die Zoeloegeskiedenis voorgestel het. Mofolo het diep in Zoeloegebruike, -tradisies en -mites gedelf om ’n era te herskep en herinterpreteer. Sy narratiewe vermoëns het ’n briljante teks opgelewer wat nie noodwendig betroubare geskiedskrywing is nie. Dié seminale teks het in Afrika wyd daartoe bygedra om verbeeldingryke belangstelling in Shaka te prikkel.

Politieke leiers in Suid-Afrika, soos die voormalige Inkatha Vryheidsparty-leier Mangosuthu Buthelezi, het dikwels uit die beeld van Shaka geput om ondersteuners te verenig en om sin van die hede te maak deur vergelykings te tref met die era van die eertydse Zoeloekoning. Watter rol speel Shaka nog in vandag se politieke landskap?

Shaka sal altyd met die ontstaan van die Zoeloevolk en -taal vereenselwig word. Om dié rede alleen sal sy nagedagtenis bly voortlewe. Suid-Afrika se Erfenisdag op 24 September val natuurlik saam met die moord op Shaka op dié datum in 1828 naby kwaDukuza (vroeër Stanger) wat deur sy twee halfbroers beplan en uitgevoer is. Shaka het in KwaZulu-Natal in ’n prekoloniale era gelewe. Sy kennismaking met mense uit Europa het hom tot aan die begin van blatante kolonialisme en konflik met wit migrante langs die Ooskus van Afrika gebring. As ’n inspirasie vir die vereniging van ’n groep of groepe is Shaka se rol tans ten minste voorlopig klein. Shaka sal egter altyd een van Suid-Afrika se belangrikste historiese figure bly.

Ten spyte van tydgenootlike bronne oor Shaka en mondelinge oorleweringe wat later opgeteken is, is die Shakafiguur steeds in misterie gehul. Indien lesers en navorsers die getrouste beeld van Shaka wil verkry, na watter bronne sou jy hulle stuur?

Tans is die insiggewendste bronne oor Shaka Dan Wylie se Myth of iron: Shaka in history (2006) en Shaka: A Jacana pocket biography (2012) waarin hy omtrent alles wat oor Shaka bekend was, krities ondersoek en selfs bevraagteken. Geen navorser kan ’n ingeligte perspektief op Shaka kry sonder om deeglik met Wylie se werk kennis te maak nie. Carolyn Hamilton en John Laband se publikasies is eweneens noodsaaklike leeswerk. Maar ek moet ook byvoeg: Om ’n “getroue beeld” van Shaka te kry, moet ’n mens ’n omvattende bronnestudie doen, soos my artikel oor die uitbeelding van Shaka in die Suid-Afrikaanse literatuur probeer toon.

Prysliedere oor Shaka is beduidende voorbeelde van mondelinge bronne oor die Zoeloekoning wat mettertyd opgeteken is. Watter ander belangrike mondelinge bronne bestaan oor hom?

Die koloniale amptenaar, landdros en Zoeloelinguis James Stuart (1867–1942) het enorm bygedra met verslae gebaseer op onderhoude wat hy tussen 1897 en 1924 met 200 informante gevoer het. Hierdie versameling in die Killie Campbell African Library in Durban wag op verdere ontsluiting. Stuart se werk is opgeneem in The James Stuart archive, waarvan ses dele onder redaksie van Colin de B Webb en John B Wright in onderskeidelik 1976, 1979, 1982, 1986, 2001 en 2014 gepubliseer is. Baie historici plaas ’n hoë premie op die gebruik van mondelinge bronne.

Die hegte en komplekse verhouding wat Shaka met sy moeder en ander vrouefigure gehad het, het navorsers soos Max du Preez byvoorbeeld in Of warriors, lovers and prophets gelei tot die verkenning van Shaka se seksualiteit. Dink jy Shaka was gay?

Shaka se seksualiteit kom in heelparty tekste ter sprake. Ek het die jeugverhaalskrywer en vroeëre professor in antropologie aan die Universiteit Stellenbosch, PJ Schoeman, se opvallende belangstelling in Shaka se seksualiteit en die teenoorgestelde geslag in Pampata: Die beminde van koning Tsjaka (1978) opgemerk. Shaka het ’n komplekse verhouding met Nandi, sy moeder, gehad wat uiteindelik tragies geëindig het toe hy haar heel moontlik om die lewe gebring het. Shaka se verhouding met vroue en geweld teen hulle steek heel dikwels die hedendaagse leser dwars in die krop, met die gevolg dat ernstige vrae oor sy magsug en geestesgesteldheid gevra kan word. Ek het baie oor Shaka gelees, maar nie onder die indruk gekom dat hy gay was nie.

Shaka word natuurlik as briljante militêre strateeg beskou. Was hy inderdaad briljant as militêre aanvoerder, of is dié status deur oordrewe uitbeeldings in skrywes oor hom gevoed, soos wat daar ’n vraagteken oor die uitbeelding van sy voorkoms was?

As ons ons op die bronne oor Shaka en sy voortspruitende en voortgaande reputasie moet verlaat, was hy beslis ’n briljante militêre strateeg wat baie welslae behaal het. Hy het hom ook die gramskap van mense op die hals gehaal wat tot sameswerings en sy moord gelei het vanweë die buitengewone fisieke en op die duur onrealistiese eise wat hy aan sy vegters gestel het. (Hulle is byvoorbeeld eers op 40-jarige ouderdom toegelaat om te trou.) In die literatuur kom enigsins oordrewe uitbeeldings én dikwels op die oog af onrealistiese getalle voor van die teenstanders wat in die slag gebly het. Met Shaka se gevegstegnieke is die Voortrekkers ’n dekade later aangedurf, terwyl die wapenrusting, mondering en aanvalstegnieke wat tot en met die Anglo-Zoeloe-oorlog (1878–1879) gebruik is, uiteindelik tot fatale verliese vir die Zoeloeleër en die einde van die koninkryk gelei het.

In jou artikel haal jy die Dan Wylie aan waar hy verklaar: “History, in the end, is a creative literary medium. It tries to say something verifiable about the past, but the past is ultimately a construction of language; it’s something imagined.” Net soos Wylie is jy as digter ’n kreatiewe gees wat ongetwyfeld inspirasie uit die geskiedenis put. Vertel asseblief van jou poësieprojek rondom Shaka waaraan jy verlede jaar gewerk het: Die invloed van Shaka op kuns, literatuur en die samelewing.

Wouter Gildenhuys, die Durbanse argitek en kuns- en poësieliefhebber, het my twee jaar gelede genooi om aan ’n projek oor kuns, literatuur en die samelewing met die fokus op Shaka deel te neem. My bydrae het oor die uitbeelding van Shaka in die Suid-Afrikaanse literatuur gehandel, terwyl onder andere die kunshistorikus Elsa Miles, kunskenner en -kritikus Marilyn Martin en taalkundige Wannie Carstens ook bydraes gelewer het. Afrikaanse en Zoeloedigters is genooi om gedigte oor Shaka voor te lê. Die projek het my die geleentheid gegee om verder aandag aan my jeugbelangstelling in Shaka te gee en in die proses baie meer oor hom te leer. As skeppende skrywer het ek uit die hoek van my oog kon kyk hoe ander skrywers oor hom geskryf het (en Mazisi Kunene se formidabele Emperor Shaka the Great: A Zulu epic (1979) gelees!) – uit die hoek van my oog, want ek het tot dusver nog nie daarin geslaag om self iets werklik beduidends oor Shaka te skryf nie. Nietemin, dit was van die begin af nie regtig vir my belangrik om self skeppend oor hom te skryf nie. Tans is ek besig met voorwerk vir ’n biografie oor koningin Nandi, Shaka se moeder, wat vir etlike maande enigsins deur die COVID-19-beperkings in ons land in die wiele gery is. Maar nou gaan my werk voort en kan ek weer museums, argiewe en ander navorsers besoek.

 

Lees Johann Lodewyk Marais se artikel in LitNet Akademies, “Die uitbeelding van koning Shaka (ca 1781–1828) in die Suid-Afrikaanse literatuur” hier.

Ander bydraes deur Johann Lodewyk Marais:

Vreemdelingehaat en die gelaat van die ander

UNISA se Breyten-seminaar: "Breyten Breytenbach in turbulente jare, enkele persoonlike perspektiewe"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top