Wie is ons
Krities Afrikaans
LitNet (LitNet Akademies ingesluit) en Voertaal
deur Etienne van Heerden (Hoofbestuurder en Hoofredakteur sedert 1999)
Januarie 2021
Die webwerf vir ernstige Afrikaanse gesprek, www.litnet.co.za, se slagspreuk is "Krities Afrikaans". LitNet rig sigself op die meer ingeligte en gekwalifiseerde lesersmark in veral Suid-Afrika en stimuleer kritiese gesprek in hoofsaaklik Afrikaans, maar ook in Nederlands, en in ’n baie mindere mate in Engels en Xhosa.
Te midde van die atrofie van ernstige, gebalanseerde menings wêreldwyd en, wat taal in Suid-Afrika betref, die inkrimping van hoërfunksie-Afrikaans op verskeie lewensterreine, wil LitNet ’n tuiste bied vir diegene wat belangstel in aktualiteit en kritiese denke. Aandag word egter ook gegee aan leefstyl, soos musiek, reis, teater, goeie wyn en die kookkuns. Ook nuwe belletrie word gepubliseer.
Van Suid-Afrika se voorste skrywers publiseer op LitNet, maar ook nuwe skryfwerk deur ontwikkelende skrywers word gepubliseer en slypskole ("workshops") word vir beginnerskrywers aangebied.
Vanaf 2021 sal LitNet in samewerking met die Victoria Hotel en Tuishuise in Cradock ’n LitNet-/Tuishuis- Inwonende Skrywerskap aanbied, waartydens leidende skrywers vir ’n tydperk ongestoord op ’n Karoodorpie kan gaan skryf en ook aanbiedings by plaaslike skole in die verskillende gemeenskappe van Cradock doen.
Spesiale fokuspunte van die projek is eerstens aandag aan alle variante van die Afrikaanse taal en die Afrikaanssprekende gemeenskappe wat voorheen deur apartheid uitgesluit is (bv die sprekers van Kaapse Afrikaans of Kaaps); tweedens, die Nederlandse taal en die voortgesette kulturele verhoudinge tussen Suid-Afrika, België en Nederland; en derdens, skool- en tersiêre opvoeding, met die klem op die voorsiening van opvoedkundige materiaal in Afrikaans en gesprekke rondom skool- en universiteitsake.
LitNet is borggedrewe, sit nie agter ’n betaalmuur nie, en is deel van die ooptoegang-beweging. Die webwerf, wat sedert 1999 bestaan, word druk besoek en sy besoekersgetalle is stabiel. Dit het oor meer as 21 jaar uitgegroei tot 181 464 unieke gebruikers (as een voorbeeld) vir die maand November 2020. In daardie maand is 597 838 bladsye – dus meer as ’n halfmiljoen bladsye – binne 30 dae besoek.
In sy hart dra die webwerf LitNet Akademies, ’n multidissiplinêre node of onderafdeling vir geakkrediteerde akademiese navorsing. Die voortbestaan en bevordering van Afrikaans as akademiese en vaktaal is die kerndoelstelling van hierdie afdeling. Dit bestaan uit bene vir die dissiplines Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Godsdienswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde asook Regte. In 2020 is 91 geakkrediteerde navorsingsartikels in Afrikaans gepubliseer deur van Suid-Afrika se voorste navorsers. In die bestek van die jaar is daar 2 470 bladsye se navorsing gepubliseer.
Die onderskeie bene van LitNet Akademies het leidende wetenskaplikes as redakteurs. Hulle is gerekende navorsers binne hul onderskeie dissiplines. Hulle word ondersteun deur ’n streng eweknienetwerk wat voorgelegde artikels baie streng keur, met die gevolg dat LitNet Akademies se gepubliseerde navorsing deur die akademiese gemeenskap hoog geag word.
Hierdie akademiese navorsingsmateriaal in die node wat hiervoor geskep is, word binne die breër omgewing aangevul met boekbesprekings, hoëvlak-meningsmateriaal oor aktuele sake, skeppende skryfwerk en skole-inhoud. Die unieke model van LitNet beteken dus dat bogemelde akademiese navorsingsartikels omring word deur problematiserende menings, onderhoude, aanlyn debatte en videogesprekke met skakels wat lesers lei tot by die akademiese artikels. Die akademiese node is volkome met die groter LitNet-hiperteksomgewing geïntegreer, wat www.voertaal.nu insluit. ’n Akademiese artikel bevind sigself dus nie in ’n afgesonderde ivoorwit papierjoernaal of in ’n elektroniese joernaal agter ’n betaalmuur nie, maar is gratis beskikbaar, wêreldwyd, en is deel van ’n multidissiplinêre en dinamiese benadering binne ’n groter hiperteksomgewing. Só word navorsingsbevindinge wyer bekendgestel en word die werk van navorsers deel van die aktuele debat.
LitNet fokus nie slegs op die breë Afrikaanse spraakgemeenskap nie, maar poog ook om kulturele kommunikasie tussen SA en die Lae Lande te stimuleer. ’n Spesiale projek in hierdie verband is LitNet se susterwebwerf, www.voertaal.nu, wat deur LitNet besit en bestuur word en waarvan die inhoud met LitNet s'n geïntegreer is. Voertaal is op 23 Januarie 2018 van stapel gestuur. Dit is gerig op almal wat Nederlands en Afrikaans in Nederland, Vlaandere, Suid-Afrika, Suriname, die Antille en die diaspora praat of lees/luister. Die doelstelling is om Afrikaans en Nederlands as lingua francas in die opvoedkundige, akademiese en kulturele omgewings te versterk. Dit stel daarin belang om vir Nederlandstaliges in die Lae Lande en elders ’n belangrike voetspoor in Afrika te gee, en aan Suid-Afrikaners ’n belangrike voetspoor in Europa en verder.
’n Spesiale projek is in Mei 2020 op Voertaal begin, naamlik LitNet Akademies Internasionaal. Dit behels ’n reeks onderhoude met Europese akademici en Suid-Afrikaanse akademici in Europa oor hul navorsing wat aansluit by geakkrediteerde navorsingsartikels wat in LitNet Akademies gepubliseer word. Hierdie inhoud word soms na LitNet gesindikeer indien nodig. Voertaal dra dus die inhoud van Afrikaanstalige akademiese navorsing oor grense heen en bring dit in verband met soortgelyke werk wat in Europa gedoen word. Só word die wêreld van LitNet Akademies-navorsers uitgebrei en word moontlikhede vir netwerkbou vir hulle geskep.
Voertaal het eweneens ’n bestendige lesersgetal en handhaaf ook, nes LitNet, ’n sterk sosialemediateenwoordigheid op Facebook en Twitter. Voertaal as projek bied groeimoontlikhede aan LitNet en LitNet Akademies as projekte in die sin dat dit die kulturele en akademiese uitwisseling op internasionale vlak bevorder en met aktiwiteit op LitNet en LitNet Akademies skakel. Dit is ’n belangrike simboliese teenwoordigheid wat ’n sein stuur dat onderlinge kulturele belangstelling – die "tussengebied" – tussen Suid-Afrika en die Lae Lande bestaan, en is op sigself getuienis van toenemende wisselwerking.
Wat die uitdra van inhoud betref, het LitNet ook ’n eie LitNet YouTube-kanaal, waar onder meer aktuele video-onderhoude en opvoedkundige materiaal (soos Wiskunde-video's) geberg word en algemeen (en gratis) toeganklik is.
Geheue is vir LitNet en Voertaal van belang, en benewens voortdurende aandag aan debatte rondom die historiografie, argiewe en die verlede, vorm LitNet en Voertaal op sigself ’n bewarea met hul onderskeie argiewe, waarin die inhoud van meer as 21 jaar geberg en deur navorsers en die media benut word.
Kulturele kapitaal is belangrik vir die projek. Dit sluit mense in wat hul tyd skenk deur materiaal te skep en dus ’n "koalisie van gewilliges" vorm, maar ook die saamloop met ander projekte, organisasies en instansies wat hul energie en medewerking gee en saam met LitNet projekte aanpak. Só werk LitNet byvoorbeeld nou saam met die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging, PEN Afrikaans, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Afrikaanse Taalmuseum en -monument, Afrikaanse Taalraad, Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, Woordeboek van die Afrikaanse Taal, kunstefeeste soos die Suidoosterfees, Woordfees, Schreiner Karoo-skrywersfees, Aardklop en ander, asook instansies soos die Breytenbach Sentrum, Jakes Gerwel Stigting en vele meer. Ter illustrasie: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se NP Van Wyk Louw-gedenklesing is in Junie 2020 aanlyn op LitNet aangebied en LitNet het lesings wat by ’n Akademie-seminaar aangebied is, gepubliseer. Nog ’n voorbeeld: LitNet publiseer byvoorbeeld skeppende skryfwerk wat ontwikkelende skrywers tydens LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool in die Karoodorp Somerset-Oos geskep het. Ook publiseer LitNet PEN Afrikaans se materiaal, en werk op verskeie vlakke met die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging mee – onder meer aan die Afrikaanse Skrywersalbum, dié gesaghebbende ensiklopedie van Afrikaanse skrywers wat op LitNet as die ATKV|LitNet-Skrywersalbum aangebied word.
LitNet het sy eie radio-insetsel op Radio 786 op 100.4 FM, wat vanuit Athlone op die Kaapse Vlakte uitgesaai word. Radio 786 is ’n gemeenskapsradiostasie en LitNet se insetsel is deel van die Afrikaanse Taalraad se maandelikse Barakat-program. Hierdie Lekker LitNet-insetsel word ook as podsending op LitNet gepubliseer as #opdielug. Daarin word onderhoude met Afrikaanssprekende kultuurwerkers en studente gevoer.
Die voorbeelde hier bo is maar enkeles vanuit ’n breë koalisie en is uitvloeisels van LitNet se doelbewuste skepping van kanale vir Afrikaansgerigte verenigings, instellings of projekte. Hierdie projekte het ’n oop deur na LitNet en Voertaal en nuus oor hulle en hul projekte word op LitNet se tuisblad in ’n spesiale kanaalglyer uitgedra.
Om af te sluit: LitNet, sy akademiese node LitNet Akademies en sy diaspora-gerigte susterwebtuiste, Voertaal, is dus sentraal geposisioneer binne die Afrikaanse ekologie.
Christo van der Rheede, Martin Geldenhuys en Etienne van Heerden dien op die LitNet Akademies-direksie.
Melt Myburgh terug by LitNet
2020-01-06Melt Myburgh, voormalige Menings-bestuurder van LitNet, het weer by LitNet ingeval – hierdie keer as bestuurder: LitNet Akademies.
LitNet op TV: Wat is 'n taal?
2015-11-06Afrikaanse ikone Pieter‑Dirk Uys, André P Brink, Karen Zoid, David Kramer, Riaan Cruywagen, Koos Kombuis, Emo Adams en Etienne van Heerden verskyn in LitNet se televisie-advertensie.