UNISA se Breyten-seminaar: "Breyten Breytenbach in turbulente jare, enkele persoonlike perspektiewe"

  • 0

Johann Lodewyk Marais en ’n gedeelte van plakkaat wat as bemarking van die kunsuitstalling gedien het (volledige plakkaat heel onder)

Die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap by Unisa het op 19 Maart ’n Breyten-seminaar aangebied na aanleiding van Breyten Breytenbach se kunsuitstalling daar. Sommige van die sprekers by die seminaar deel hul bydraes met LitNet.

Hieronder deel Johann Lodewyk Marais enkele persoonlike perspektiewe rondom Breyten Breytenbach in turbulente jare.


Die groot Kanadese skrywer Margaret Atwood (2003:160) sê in On writers and writing die volgende, waarby ek sterk aanklank vind:

All writers must go from now to once upon a time; all must go from here to there; all must descend to where the stories are kept; all must take care not to be captured and held immobile by the past.

Daar was ’n tyd toe Afrikaanse skrywers soos openbare figure was en ek met hulle doen en late probeer tred hou het. Nou verwys ek nie na die huidige era waarin sosiale en ander elektroniese media dit moontlik maak om as ’t ware daagliks die hartklop van skrywers te voel nie. So kan ek deesdae binne sekondes agterkom wat dié en daardie skrywer vandag iewers in die wêreld op die hart het, en deur te kyk wat op Facebook, Twitter en Instagram aangaan, tot hoe laat in die nag weet wie wakker is en selfs ʼn gesprek aanknoop. Natuurlik kry veral sekere skrywers op TV, tydens kunstefeeste en ander openbare geleenthede blootstelling. Uiteindelik het selfs van die traagstes deel van die sosiale netwerke geword.

My vroegste ervaring van die literêre bedryf daar buite en skrywers as openbare figure was gedurende die 1970’s as ’n leerling aan die Hoërskool Harrismith. In daardie dae het die dorp nog ʼn telefoonsentrale gehad, en in die distrik was daar plaaslyne wat deur kleiner poskantore en/of sentrales bedien is. Berigte in die media en veral die Sondagkoerant Rapport het egter ’n opmerklike rol gespeel om ons oor die wel en wee in die letterkunde, en veral die “skrywer agter die boek”, waarteen NP Van Wyk Louw ons gewaarsku het, ingelig te hou. Daar was ook my kennismaking met die werk van Sestigers soos Hennie Aucamp, Breyten Breytenbach, André P Brink, Abraham H de Vries, Ingrid Jonker, Etienne Leroux en Bartho Smit, wat ek in die Carnegie-biblioteek aan die suidekant van die stadsaal uitgeneem het en van wie se bestaan ek in resensies en berigte in die media gehoor het.

Brink (1980:11, 13), wat in daardie jare Rapport se vaste resensent was, het in die inleiding tot sy Tweede voorlopige rapport: Nog beskouings oor die Afrikaanse literatuur van Sewentig soos volg oor daardie era geskryf:

In een opsig was Sewentig ’n voortsetting, ’n “oorloop” of selfs ’n “naloop” van Sestig – maar dan juis nie afronding nie. Die aggressiewe aspek van Sestig was ʼn bestorming van taboes: en dié het in bepaalde werke van Sewentig ook ʼn (onvermydelike?) sosiopolitieke konsekwensie gekry. […] Maar in ’n ander opsig was Sewentig dalk eerder voorbereiding as voortsetting: voorbereiding van iets wat nog nie helder in fokus gekom het nie – ’n worsteling by ’n Jabbok wat nog in hoë mate in die donker geskied het, en waaruit die literatuur met ietsie van ’n mank heup opgestaan het (of bly lê het?).

[S]oos tydens Sestig, maar eintlik nog méér, het die literatuur in ’n arena beland waar die woelinge rondom hom meermale veel heftiger was as dié daarbinne: nog selde is daar om, en verby, die literatuur by ons so kant gekies, aangeval, verdedig, en geskinder. Op sigself is dit nie sonder waarde nie: daarmee is die literatuur immers teruggehaal uit enige ivoor- of ander toring wat dit mog bedreig het, binne-in die volle lewe en die volle kultuur, deel van ʼn omvattende debat oor sin en oorlewing in ʼn breё verband.

Ek het op skool die eerste keer van Breyten Breytenbach (1939–) gelees in Rapport, wat ruim aandag aan sy werk en doen en late gegee het. My eerste kennismaking met die groot Chileense digter Pablo Neruda (1904–1973) was juis na aanleiding van ʼn gedig wat Breytenbach ná Neruda se dood in die koerant gepubliseer het. Breytenbach se metafore het my na Neruda se metafore, landskappe en (verbeeldings)wêreld gelei. Gedurende die 1970’s, 1980’s en 1990’s het Coenie Slabber, die destydse kultuurredakteur van Rapport, elke Sondag ʼn rubriek oor literêre gebeure geskryf en die leser op die hoogte gehou van eietydse gebeure en polemieke in die literêre wêreld. Ten spyte van predikante se vermaning in daardie dae het ek gereeld Sondae Rapport gekoop om oor die woelinge in die literêre wêreld te lees toe dié koerant prominent gestaan het in die Afrikaanse skrywers se stryd teen apartheid en sensuur.

In daardie jare was André P Brink (1935–2015) Rapport se gereelde resensent, wat met sy verbluffende werksvermoё byna elke denkbare nuwe Afrikaanse literêre en nieliterêre boek bespreek het. Brink se oorrompelende skryfstyl, wye belesenheid en meestal akkurate waarde-oordele oor ’n boek het die belangstelling in die letterkunde wyd geprikkel. Jongmense is deur hom vir die letterkunde gewen, en op universiteit het honderde in afwagting gesit om meer van hulle dosente oor die “nuwe” te wete te kom. Natuurlik was daar sterk teenkanting van die kant van die Nasionale Party, die Broederbond, die kerk, behoudende literatore en mense in die gemeenskap wat oor die ongewenste neigings bekommerd was. Selfs op die platteland, waar ek grootgeword het, was daar mense met hulle ore teen die grond.

In die dorpsbiblioteek op Harrismith was die enigste Breytenbach-bundel Jan Blom se virtuose Lotus (1970), wat waarskynlik op die rak beland het omdat die skrywer van ʼn skuilnaam gebruik gemaak het. Ander “sensitiewe” boeke van die Sestigers, soos Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins (1962), Een vir Azazel (1964) en Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet (1964), het in die biblioteek se verste lokaal op ʼn stapeltjie gelê waaroor die hekwagterbibliotekaresse, Miss Ivy Petty, ʼn wakende ogie kon hou.

In Lotus was daar pragtige gedigte, waaronder “3.15 (windroos)”, wat my asem weggeslaan het:

hang die wit seile uit geliefde
vandag nie ʼn dag later nie
en op die daad gaan ons
huis toe

verf die boothuis blou
versigtig versigtig
bring die vaatjies vars water aan boord
ʼn palmboom om die kuste af te rond
lemoene my pype die blomme die brood
en smeer pik tussen die dekplanke
want mens weet nooit

wat sê die kompas?
hang die wit seile uit geliefde
spyker ʼn landsduif teen die hoogste kruismas
kyk die wind staan bol
en lou reeds op die hand

o vandag nog in waarheid en op staande voet
vaar ons uit
huis toe:
kry nou net nog enige ou see.

Die opspraakwekkende besoek wat Breytenbach aan die einde van 1972 en begin van 1973 aan sy geboorteland gebring het, het gevolg nadat ʼn visum vroeër geweier is, onder meer op grond van die Wet op Gemengde Huwelike van 1949, omdat hy in 1962 met ʼn Viëtnamese vrou, Hoäng Lien Ngo (of Yolande), getroud is. Die besoek het wye dekking in die media gekry. Tydens die Sestiger-Somerskool wat James Polley daardie jaar by die Universiteit van Kaapstad gereël het, het sy toespraak, “ʼn Blik van buite”, waarin hy voor ʼn groot gehoor ʼn striemende aanval op die beleid van apartheid gemaak het, tot opskudding gelei. Na aanleiding van die besoek het hy ʼn klompie Sondae lank ʼn mengsel van prosa en poësie oor sy besoek aan Suid-Afrika gepubliseer. Hierdie “reisboek”, wat as ʼn Seisoen in die paradys (1976) onder die skuilnaam BB Lasarus gepubliseer is, het my meer geleer van Breytenbach se gehegtheid aan sy geboorteland en hoe hy op die destydse samelewing en politiek gereageer het; asook van die innerlike konflik wat tydens die veelsinnige reis na vore gekom het.

Intussen het ek op skool self begin skryf, of “skryf”. Toe ek regtig van hierdie behoefte bewus geword het, was skrywers soos Brink, Breytenbach en Chris Barnard my rolmodelle; natuurlik ook NP Van Wyk Louw en DJ Opperman. Ek het egter een keer my Afrikaans-onderwyser, Cas Steenkamp, erg ontstem toe ek in ʼn opstel met die titel “Vensters” oor die dood van die anti-apartheidsaktivis Ahmed Timol geskryf het, en van die name van mense wat “onder behandeling van die veiligheidspolisie, geboorte aan hul dood [ge]gee” (bl 26) het in een van Breytenbach se gedigte in Skryt: Om ʼn sinkende skip blou te verf (1972), gebruik het. Nadat ek Brink op 28 Oktober van my standerd 9-jaar toevallig op Harrismith ontmoet het, was die oё van die veiligheidsdienste op my. Die volgende jaar het ʼn lid van die Buro vir Staatsveiligheid my by my ouerhuis besoek omdat ek kontak met Brink gehad het en daar gerugte oor my skryfwerk was. Dit was ʼn enigsins traumatiese ervaring, en ek het besef dat skrywers soos Brink en Breytenbach goed dopgehou word.

In Augustus 1975 het Breytenbach Suid-Afrika weer besoek. Dié keer het hy die land met ʼn vals paspoort en visum binnegekom en is hy op 19 Augustus op die destydse Jan Smuts-lughawe (tans OR Tambo-lughawe) in hegtenis geneem omdat hy na bewering in besit van vervalste dokumente was, en ingevolge artikel 6 van die Wet op Terrorisme aangehou. My skoolvriend Costa (later Constantine) Georghiou, van net om die draai op Harrismith, het my gebel om van die inhegtenisname te vertel. Ons was uit die veld geslaan, maar my Afrikaans-onderwyser se reaksie was min of meer dat dit die soort ding is wat met ʼn mens kan gebeur indien jy soos Breytenbach skryf en die pad bewandel wat hy besluit het om in te slaan.

Breytenbach is in die Paleis van Justisie op Kerkplein in Pretoria verhoor en op 7 November 1975 deur regter PM Cillié tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis.

Aan die Universiteit van Pretoria was ek bevoorreg om van die beste en bekendste dosente van die tyd te kon hê. Wat die poësie betref, het Breytenbach maar net baie skrams ter sprake gekom. Die altyd stylvol geklede en aartsstreng Réna Pretorius het, as ek reg onthou, net een enkele keer kortliks een van sy gedigte bespreek. Sy het “Die tweegeveg” voorgelees waarin Breytenbach klankmatig ʼn swaardgeveg beskryf het. Terwyl sy die gedig voorgelees het, het sy die woord “kak” in die gedig uitgelaat. Ek het my ander poёsiedosent tot in my honneursjaar, en dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, AP Grové, nie ʼn enkele keer Breytenbach se naam in die klas hoor noem nie.

Die eerste geleentheid toe ek Breytenbach gesien het, was in 1977 tydens sy tweede verhoor in die Paleis van Justisie in Pretoria. Ek en Costa (wat later ’n diplomaat sou word, nou as politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Johannesburg verbonde is en verlede jaar met die bundel Oblivium: A journal of love and loss by Naledi gedebuteer het) het die verhoor bygewoon. Ons is selfs ’n keer op die trappies van die gebou afgeneem en op SA Mirror / SA Spieël, die destydse nuusprogram wat in rolprentteaters vertoon is, getoon.

DJ Opperman (1914–1985) was lank siek weens lewerversaking, maar nadat hy wonderbaarlik herstel het, het hy onder meer na die noorde gereis en Breytenbach se hofsaak bygewoon. Ek het hom (baie maer, gedas en in ’n pak klere) die eerste dag saam met sy aantreklike dogter, Diederi, in die deur van die hofsaal sien verskyn terwyl ons gewag het vir die hofverrigtinge om te hervat. Hy het later by Rykie van Reenen in die persbank gaan sit en gesels en tot laat die middag gebly toe die hof vir die dag verdaag is. (As ek reg onthou, het die regspanne na die bande van die gesprekke tussen Breytenbach en die bewaarder Lucky Groenewald geluister.)

Die hofsaak is die volgende dag hervat. Breytenbach is ingebring en het in die beskuldigdebank bly sit totdat regter WG Boshoff hom na die getuiebank geroep het. Breytenbach het opgestaan, na regs beweeg, verby die persbank waar joernaliste soos Rykie van Reenen en Martin Welz (van Breyten en die bewaarder­-faam, 1977) gesit het. Opperman was weer tussen hulle. Dit was ’n besonderse geleentheid wat my vandag nog hoendervel gee. Toe Breytenbach by hom kom, het Opperman opgestaan, hom met sy maer hand ’n handdruk gegee en waarskynlik sterkte toegewens vir wat voorlê. Daarna het Breytenbach na die beskuldigdebank gegaan waar hy die eed voor regter Boshoff afgelê en sy advokaat, Johann Kriegler, hom begin ondervra het. In die gehoor het bekendes soos Ampie Coetzee en John Miles gesit. Almal was bewus daarvan dat ’n stuk geskiedenis besig was om te ontvou.

Daardie dag was die Afrikaanse letterkundiges in solidariteit bymekaar.

Ná my twee jaar as dienspligtige het ek ʼn navorser by die RGN se Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (Sensal) geword. Charles Malan, die hoof van Sensal, was ʼn Etienne Leroux-ghoeroe wat hom onder meer ten doel gestel het om ʼn paradigmaverskuiwing in die bestudering van die Suid-Afrikaanse literatuur te bewerkstellig. Die fokus is op resepsie- en geskiedskrywingprogramme geplaas. Om groter legitimiteit vir Sensal en die RGN te kry, is op aktuele kwessies soos sensuurwetgewing en rasseverhoudinge gefokus. In ʼn ideologies hoogs gepolariseerde samelewing, en voor die val van onder meer die Berlynse muur wat Marxisme dramaties gestuit het, was dit moeilik om progressiewe en radikale medewerkers te kry. Die samewerking, weliswaar soms halfhartig, van skrywers en akademici soos Stephen Gray, Jakes Gerwel, JM Coetzee, André P Brink en Nadine Gordimer was kosbare meevallers.

Intussen is Breytenbach uit die gevangenis vrygelaat. ’n Kollega van my, Francis Galloway, wat ʼn lewenslange passie vir Breytenbach en sy werk het, het in dié tyd ʼn kantoor met my in die Presidentsentrum in die middestad van Pretoria gedeel. Tussen my en haar was daar ʼn rak met vakkies waarin knipsels uit koerante en tydskrifte alfabeties geplaas is. Hierdie knipsels is deur die Instituut vir Eietydse Geskiedenis (Ineg) van die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat teen betaling vir die diens aan die RGN gelewer. Die knipsels is gebruik om Sensal se unieke literêre jaaroorsigreeks voor te berei. Dit sou ook ʼn belangrike bron vir Galloway word om die resepsie van Breytenbach se poësie vir ʼn proefskrif aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat met Malan as medepromotor te beskryf. Met hierdie soort bydrae sou Sensal verdere bewys lewer van navorsing oor ʼn aktuele onderwerp wat vanuit ʼn nuwe invalshoek gedoen is.

Ek het Galloway se navorsing meelewend ervaar, knipsels help aandra uit die koerante wat ek al op skool gelees het, en iets van die worsteling ervaar om die geskikste benadering tot die navorsing te kry. Uiteindelik het sy besluit om ʼn proefskrif in te dien oor Breyten Breytenbach as openbare figuur, wat in 1990 in boekvorm deur HAUM-Literêr onder Hettie Scholtz se bestuur gepubliseer is. Ook ek is as navorser geslyp, maar moes ook die groot konflik in Sensal ervaar toe verskillende literatuuropvattings van Charles Malan, JC Kannemeyer en Galloway op die spits gedryf is en een keer selfs op die voorblad van Rapport beland het. Die berig is natuurlik deur Coenie Slabber geskryf en die bron vir die berig was … nou ja, besluit maar self.

Ek het beleef dat Breytenbach se werk groot spanningsvelde van polarisasie ontketen het, al was daar gedurende sy tyd in die gevangenis min nuus oor hom bekend. Daar is onder meer deur die Afrikaanse Skrywersgilde en invloedryke individue soos (prof) Christiaan Barnard, Helen Suzman, Frederik van Zyl Slabbert, Nadine Gordimer en Elisabeth Eybers vir Breytenbach se vrylating gepleit. Tydens sy tyd in die gevangenis het ʼn Seisoen in die paradys (1976), die bundel Voetskrif (1976), Die miernes swel op; Ja die fox-terriër kry ’n weekend en ander byna vergete katastrofes en fragmente uit ’n ou manuskrip (1980) en die bloemlesing Blomskryf: Die gedigte van Breyten Breytenbach en Jan Blom (1977) die lig gesien. Veral die onafhanklike uitgewery Taurus het ʼn prominente rol gespeel om Breytenbach se werk lewend en beskikbaar te hou.

Toe Breytenbach op 2 Desember 1982 vrygelaat is, het hy na Parys teruggekeer, waar hy die volgende jaar Franse burgerskap aanvaar het. Die goeie nuus was dat hy inderdaad in die gevangenis toegelaat was om te skryf. In Die ongedanste dans (1975–1983) is die bundels opgeneem wat gedurende Breytenbach se gevangenskap geskryf is. Tot dusver het Breyten altesaam 23 digbundels gepubliseer, wat hom een van die produktiefste Afrikaanse digters maak. Hy het ook ʼn aantal prosawerke geskryf, waaronder Mouroir: Bespieëlde notas van ’n roman (1983), The true confessions of an albino terrorist (1984), Boek: Deel een: Dryfpunt (1987) en A veil of footsteps (Memoir of a nomadic fictional character) (2008). Die media het weer ʼn groot rol gespeel in die kanonisering van Breytenbach en om hom as teruggekeerde verlore seun binne die kader van die Afrikaanse literatuur en in ʼn era van politieke verskuiwings terug te verwelkom.

Die eerste groot geleentheid om dit te doen was tydens die toekenning van die Rapportprys in 1986. Sensal was gedurende die eerste helfte van die 1980’s betrokke by die administrasie van die Louis Luyt-prys, wat deur die kunsmismagnaat Louis Luyt geborg is. Nadat die prys toegeken is aan Elisabeth Eybers en Wilma Stockenström, wat vir Luyt “minder kleurryke” figure was, het hy egter belangstelling verloor en sy borgskap van die prys onttrek. Verby was die sprankelende onthale met die groot krewe, garnale en Noorweegse salm by Luyt se huis in Saxonwold.

Die geleentheid om weer ʼn prys van statuur daar te stel, het ontstaan, en Rapport het ongetwyfeld die geleentheid gesien. In 1986 is die eerste Rapportprys ingestel, en die verwagting is dadelik geskep dat Breytenbach se bundel (“Yk”) (1983) vir die prys in aanmerking sou kom. Die oorhandiging van die prys sou eweneens ʼn glansgeleentheid wees. Hierdie keer is die arena van die Staatsteater in Pretoria vir die geleentheid gebruik. Kort voor die prysoorhandiging is bekend gemaak dat Breytenbach en Yolande terug in die land is – die eerste keer ná sy vrylating. By baie was daar die verwagting dat Breytenbach die prys sou ontvang, al het hy in 1984 die Hertzogprys van die hand gewys.

Dit was dan ook so. Daar is aangekondig dat (“Yk”) die wenner van die prys ter waarde van R15 000 en twee retoerkaartjies na Europa is. Ek het die geleentheid bygewoon en het die groot opgewondenheid en byna skisofreniese reaksie van die gehoor ervaar nadat die wenner aangekondig is. Daar was groot verwagtinge oor wat Breytenbach in sy toespraak sou sê. Hy het dié aand ʼn baie kritiese en selfs gedurfde aanvaardingstoespraak op sy besonder oorredende trant aangebied. Breytenbach het snydende kritiek op die politiek van die dag en ook die NG Kerk gehad. “Ek het teruggekom omdat ek my onherroeplik verbind het tot Afrika en omdat ek my vereenselwig met die stryd om die bevryding van Suid-Afrikaners,” het hy onder meer gesê. Gaste het die geleentheid gehad om persoonlik met hom kennis te maak. Een van die dinge wat ek onthou, is hoe Johan Heyns, die moderator van die NG Kerk, na Breytenbach gekom en hom sterk tereggewys het omdat hy gesê het die NG Kerk stoot God soos ʼn Casspir rond.

Ná sy vrylating het Breytenbach nog ʼn verdere formidabele oeuvre opgebou waarvan onder meer die omvangryke Die singende hand: Versamelde gedigte 1984–2014 (2016) getuig. Sedert sy vrylating het Breytenbach se openbare rol nie afgeneem nie. Hy het ook internasionaal by talle inisiatiewe betrokke geraak. Tans verdeel hy sy tyd tussen Europa, Afrika en die VSA. Hy is/was onder meer betrokke by die Internasionale Parlement van Skrywers, die Gorée-instituut in Dakar, Senegal, en ’n gasdosent by die Columbia Universiteit in New York. Francis Galloway het uitstekende werk oor Breytenbach se rol as openbare figuur in Suid-Afrika gedoen, maar indringende werk oor sy werk elders in die wêreld moet nog gedoen word. Dalk sal ʼn toekomstige biograaf hierdie taak onderneem wat, as dit deeglik gedoen word, net so veeleisend kan wees as Norman Sherry se werk oor Joseph Conrad en Graham Greene.

Oor die jare heen het Breytenbach en sy werk, wat ek in die turbulente 1970’s leer ken het, my belangstelling bly boei, hoewel ek hom nie as een van die groot invloede op my eie skryfwerk sou bestempel nie. Een van die dinge wat ek byvoorbeeld by die Sestigers gemis het, was groter erkenning vir die omgewing en die bedreiginge wat dit in die gesig staar. Ek het ook Breytenbach se beeldende en metaforiese vermoë en elemente van die surrealisme totaal onnavolgbaar gevind en nie daarmee in gesprek getree nie. Dieselfde geld vir Pablo Neruda, wat my wel ten opsigte van sy bemoeienis met die fauna en flora van Suid-Amerika en spesifiek Chili beïnvloed het.

Opsommend sê ek graag die volgende ten opsigte van wat Breytenbach vir my beteken:

  • Breytenbach as openbare figuur het vir my beklemtoon dat ʼn skrywer wel ʼn sosiale rol het.
  • Ek is op skool en universiteit grootliks geslyp in die tradisie van “close reading”, lees op die woord af, waar die teks as geslote eenheid gesien is. Van sy eerste bundel af het Breytenbach hierdie benadering uitgedaag.
  • Breytenbach se bemoeienis met die land Suid-Afrika en veral ook die groter kontinent Afrika is betekenisvol en verruim ons kennis van wie en wat ons is.
  • Oor die jare heen het Breyten Breytenbach onherroeplik deel van die kultuur en wese van hierdie wye en droewe land geword.
  • En, natuurlik, nog soveel méér tussen die lyne van hierdie praatjie!

Margaret Atwood (2003:160), wat ek vroeër aangehaal het, sluit in die betrokke paragraaf in On writers and writing soos volg af:

The dead may guard the treasure, but itʼs useless treasure unless it can be brought back into the land of the living and allowed to enter time once more – which means to enter the realm of the audience, the realm of the readers, the realm of change.

  • Eenheid vir Akademiese Geletterdheid, Universiteit van Pretoria

Bibliografie

Atwood, Margaret. 2013 (2003). On writers and writing. Londen: Virago.

Blom, Jan. 1981 (1970). Lotus. Tweede uitgawe, eerste druk. Emmarentia: Taurus.

Breytenbach, Breyten. 1972 (1964). Die ysterkoei moet sweet. Johannesburg:

Afrikaanse Pers-Boekhandel.

—. 1983 (1972). Skryt: Om ʼn sinkende skip blou te verf. Amsterdam: Meulenhoff. (Vertalings Adriaan van Dis.)

Brink, André P. 1980. Tweede voorlopige rapport: Nog beskouings oor die

Afrikaanse literatuur van Sewentig. Kaapstad, Pretoria en Johannesburg: Human & Rousseau.

Galloway, Francis. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria:

HAUM-Literêr.

Lasarus, BB. 1976. ʼn Seisoen in die paradys. Johannesburg: Perskor.

Welz, Martin. 1977. Breyten en die bewaarder. Johannesburg: McGraw-Hill.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top