Vreemdelingehaat en die gelaat van die ander

  • 1

Johann Lodewyk Marais

My betrokkenheid by navorsing oor immigrasie was ’n onverwagse wending. Dit was een van die ervarings wat my lewe op allerlei nuwe paaie sou neem – weg van die RGN se gebou in Pretoriusstraat in Pretoria, waar ek enkele jare lank betreklik rustig navorsing oor die Suid-Afrikaanse literatuur gedoen het.

Ná omgewingsimpakstudies, navorsing oor armoede, oorlewingstrategieë, plaaslike kennissisteme en gemeenskapsorganisasies in landelike gebiede het ek deel geword van ’n navorsingspan wat oor onwettige immigrante gewerk het.

“Ons praat eintlik van ongedokumenteerde immigrante,” het my kollega Marie Wentzel my gou reggehelp. “Mense hou nie daarvan as jy van ‘onwettige immigrante’ praat nie.”

My en ’n kollega se vorige ervaring in Mpumalanga en Limpopo het die aandag gou na veldwerk in daardie provinsies laat verskuif. Die immigrante het immers hoofsaaklik uit die suide van Mpumalanga en Zimbabwe gekom.

Tydens vorige navorsing het ons gehoor van die vreemdelinge in daardie geweste, maar min van hulle gesien.

In die Malelane-hotel tussen die tropiese plante en met bokkoppe in die voorportaal het ek Spector leer ken: die Malawiese kelner wat soms vir weke “verdwyn” het. Sy vertellings oor sy reise na Zimbabwe, Zambië en Malawi het my gefassineer. Dit was in die dae toe Suid-Afrika erg geïsoleer was en die moontlikheid vir mense om vryelik oor landsgrense te beweeg ’n vreemde gedagte was.

Die beweging van mense van Mosambiek na Suid-Afrika het egter ’n lang geskiedenis. Marie, ’n historikus met ’n MA-graad van die Universiteit Stellenbosch, het my baie vertel. Die myne op die Witwatersrand het werkers nodig gehad, en in 1901 het die Witwatersrand Native Labour Association (Wenela) ’n geheime ooreenkoms aangegaan om alleenreg te verkry om jaarliks duisende Mosambiekse werkers te werf.

Tienduisende werkers van lande soos Mosambiek, Lesotho en Malawi het na die myne in Suid-Afrika gestroom. Die beweging van hierdie mense is deur amptelike verdrae gereël en het deel van die kultuur van die senderlande en hulle mense geword. In Mosambiek het daar selfs lank ’n stigma aan mense gekleef wat nie in Suid-Afrika kom werk het nie.

In Mosambiek het die migrasie merke op die landskap gelaat. Infrastruktuur in die vorm van ’n spoorlyn is van Inhambane in Mosambiek na Lourenço Marques (nou Maputo) aangelê om die werkers uit die suidelike provinsies na die Mosambiekse hawestad te neem. Van daar is hulle met president Paul Kruger se eertydse Oosterlyn na Suid-Afrika gebring. Dié spoorlyn was die myne op die Witwatersrand se belangrikste slagaar vir werkers om onder die grond na rykdom te help soek.

Ons navorsing het ons na die grensplase in Mpumalanga, Limpopo en die Vrystaat geneem. Die meeste van ’n nuwe stroom immigrante het daar gewerk. Die boere het volgehou dat hulle die seisoenwerkers nodig gehad het om hulle groente en sitrus te verbou. Die plaaslike mense was glo onwillig om plaaswerk te doen en het liewer stede toe verhuis. Ons het bevind dat die immigrante dikwels vir ’n karige loon gewerk het (ook vir die swart boere langs die Limpoporivier), en boere het op allerlei maniere probeer om toestemming te bewimpel om hulle werkers te behou. Onwettige indiensneming was aan die orde van die dag, en party boere was ons, navorsers, vyandig gesind.

Ons wou uiteindelik in Mosambiek met mense gaan gesels om hulle perspektief op migrasie te kry. Dit was my eerste besoek aan dié buurland, wat tussen 1975 en 1992 vir baie Suid-Afrikaners ontoeganklik was. Mosambiek was ook ná die sluiting van die Vredesakkoord van Rome tussen Frelimo en Renamo op 15 Oktober 1992 ’n gebroke land, en vir lank die armste in die wêreld. Meer as 700 000 mense het hulle lewens in die burgeroorlog verloor.

In Mpumalanga het ek met mans en vroue gesels wat slagoffers van die konflik was. Ek het na gruwelike verhale geluister van hele dorpies wat uitgewis is en van die kaart verdwyn het, landmyne wat mense vermink het en mense wat vir ’n leeftog ’n heenkome op ’n ander plek moes gaan soek.

Deur na die mense self te luister het ek ’n baie beter perspektief op migrasie gekry en besef hoe belangrik dit is om die verskynsel ook uit ’n Mosambiekse oogpunt te beskou. Een van die baanbrekerstudies oor die onderwerp is deur Ruth First gedoen, wat vanaf 1977 die direkteur van die Centro de Estudos Africanos van die Eduardo Mondlane Universiteit in Maputo was. Haar en haar span navorsers se The Mozambican miner: A study of the export of labour (1987) is ’n seminale werk. Die verslag het aangetoon hoe die geld wat uit Suid-Afrika gekom het, die kwaliteit van die kleinboere se bestaan nadelig beïnvloed het. Die geld wat van die myne af gestuur is, het veral in die suide van Mosambiek die landbou benadeel. First was oortuig van die negatiewe invloed wat die werk op die myne op die “prekapitalistiese” bestaan in Mosambiek gehad het.

Sy was self die slagoffer van ’n briefbom wat haar lewe geëis het en waaroor daar later ’n bekentenis voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie gemaak is.

Terug in my kantoor het ek gewerk aan ons verslae oor die navorsing. Dit was soms ’n vreemde ervaring, want dikwels het haweloses buite op die stoepe van die gebou probeer slaap. Om dit te probeer voorkom is sproeiers geïnstalleer om hulle daar weg te hou.

Ná 1994 het die middestad van Pretoria baie verander. Die bekende JL van Schaik-boekhandel, waar ek gereeld gekom het, het sy karakter verloor. Kunsgalerye het toegemaak of na ander dele van die stad verskuif. Een bekende winkel na die ander het hulle deure gesluit. Ander winkels het in hulle plek gekom en baie nuwe gesigte het op straat verskyn.

Ek het ondertussen ’n ander werk gekry, ’n blok van waar ek voorheen gewerk het, en het sodoende die grootste deel van my loopbaan in die middestad van Pretoria geslyt. Talle van die kafees, tuisnywerhede en ander winkels in die middestad is intussen deur buitelanders oorgeneem. Baie van hulle kom uit Noord-Afrika of Pakistan en het die Moslemkultuur in die stad versterk. Die afgelope jare besoek ek soms een van die internetkafees wat deur Nigeriërs besit word. Ek het geen hegte vriendskap met hulle nie, maar hulle diens is puik en hulle is altyd beskikbaar en gewillig om te help. Ek ken hulle op hulle voorname.

Die afgelope jare is daar in my stad baie vreemdelinge, wat veral uit ’n verskeidenheid Afrikalande kom. ’n Magdom tale word gepraat, en ek hoor dikwels Swahili, een van Afrika se belangrike oorgrenstale, op straat. Deur met die mense in die blok waar ek werk, te gesels, kan ek ’n perspektief op baie lande en mense in Afrika kry.

Daar is ongetwyfeld ’n wedywering om skaars hulpbronne in Suid-Afrika. Nie minder nie as ses miljoen van die bevolking is werkloos. Dié wat geleenthede benut en oor die nodige netwerke beskik, het die beste kans om te oorlewe. Buitelanders het klaarblyklik ’n sterk oorlewingsinstink. In hierdie proses kom kulture wel met mekaar in botsing. Nie almal word gesien as deel van ’n groter broederskap wat tot Suid-Afrika se vryheidstryd bygedra het nie.

Ek het al gewoond geraak aan die groot verskeidenheid gesigte om my in die middestad. Stede soos Pretoria, Johannesburg, Durban, Nelspruit en Polokwane het multikulturele gemeenskappe, wat ’n mens vermy net wanneer jy verkies om in die stede se blink winkelpromenades te koop. Elders, en op baie ander plekke en dorpe in die land, is nuwe samelewingspatrone besig om te vorm. Suid-Afrika is ekonomies aanloklik vir buitelanders, en ons migrasiebeheer is nie effektief nie.
Die kwalitatiewe navorsing waarby ek betrokke was, het my laat kennis maak met mense wat hulle verhale vir my vertel het. As navorser het ek weinig aan dié mense se lewens verander.

Ons navorsingsverslae is dikwels nie eens vrygestel nie en het deel van ’n burokratiese rompslomp geword. Ek het wel ’n reisboek, Lae wolke oor Mosambiek (2003), geskryf, wat my belangstelling in dié land verder geprikkel en laat uitleef het. Ek het ook ander Afrikalande besoek waar immigrante en vlugtelinge ’n “probleem” is. As reisiger in Kenia het ek digby die Somaliese en Ethiopiese grense gedraai en iets van die verhale van skrywers soos George Monbiot (in No man’s land: An investigative journey through Kenya and Tanzania, 1994 ), Bill Bryson (in Bill Bryson’s African diary, 2002) en Paul Theroux (in Dark star safari: Overland from Cairo to Cape Town, 2002) beleef.

Ek het Afrika begin assosieer met mense wat reis, vlug of ontheem is. Hulle gesigte, gelate en persoonlikhede is om my. Hulle dwing my om opnuut vrae oor my eie identiteit te vra. “Xenofobië” is ’n woord wat eers betreklik onlangs algemeen bekend geword het.

Lees ook Deel op Facebook of red 'n lewe? #xenomedia

Lees ook Instagram or intervention?

Lees ook Xenofobie: Stories uit Yeoville

Lees ook Yeoville: Jesus was a makwerekwere

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top