Deel op Facebook of red 'n lewe? #xenomedia

  • 0

Herman Wasserman (foto: Naomi Bruwer)

Sy naam was Emmanuel Sithole. Hy het na Johannesburg gekom vanaf Mosambiek om sigarette op die sypaadjies van Alexandra te verkoop. Om ’n bestaan te maak. Totdat sy paadjie dié van ’n groep Suid-Afrikaanse mans gekruis het wat sy ware wou steel. Hy het die fout gemaak om teë te stribbel, en hiervoor is hy met ’n mes in die hart gesteek. Hy het een van die sewe mense geword wat ten tye van hierdie skrywe in die jongste vlaag xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika gesterf het.

Ons is bewus van bogenoemde feite – insluitend die ontwikkeling dat die polisie vinnig opgetree het om Sithole se aanvallers in hegtenis te neem – omdat ’n fotojoernalis, James Oatway, op die toneel was en die aanval gedokumenteer het soos dit gebeur het. Ons het dit sien uitspeel op die voorblad van die grootste koerant in die land, raampie vir raampie: eers die mes, dun en dodelik, hangende in die lug bo Sithole se kop, gereed vir die steek, terwyl die slagoffer sy hande uithou in ’n finale pleitgebaar. In die volgende raampie is hy reeds op die grond, tussen die vullis wat op die sypaadjie gestrooi lê, terwyl hy om sy lewe smeek. Tevergeefs – ’n volgende man staan reeds bo-oor hom, moersleutel in die hand. Die volgende twee foto’s wys ’n bebloede Sithole op die sypaadjie, met bloed wat deur sy klere sypel terwyl die lewe uit hom eb.

Is dit die joernalistieke weergawe van ’n snuff movie of die “eerste rowwe weergawe van die geskiedenis” in die openbare belang? Die joernaliste het nie heeltemal op die kantlyn bly staan nie. Oatway en sy kollegas het met Sithole hospitaal toe gejaag, maar sy lewe kon nie meer gered word nie. Die vrae wat gevolg het op die aanval en die Sunday Times se verslaggewing daaroor, het bekende kwessies ingesluit oor “objektiwiteit” en betrokkenheid. Moes die fotograaf ingetree het? Moes hy dalk vroeër ingetree het?

In ’n onderhoud met ENCA het Oatway die ongelooflike druk beskryf waaronder fotojoernaliste besluite moet neem wat dan lank daarna nog weerklink. Die hele aanval, sê hy, was binne twee minute verby – daar was gewoon nie tyd vir die luukse om te redeneer oor wat om te doen nie. “My werk is om gebeure te dokumenteer,” sê hy. “Dit is wat ek doen … Daar was geen ander keuse vir my om te maak nie; ek is ’n fotojoernalis.”

’n Mens sou verdere vrae kon vra oor die besluite wat geneem is nadat die hitte van die oomblik verby was. Moes die foto’s op die voorblad van ’n koerant geplaas gewees het, waar kinders dit kan sien? Behoort die media mense nie toe te laat om met waardigheid te sterf, en eerder ander maniere vind om die storie te vertel nie? Wat van die gevoelens van Sithole se familie? Wie onder ons sou graag wou sien dat die laaste aaklige oomblikke van ons man, pa of vriend verbruik word deur enigeen wat die koerant saam met hul Sondagmôre-cappuccino optel?

Dan was daar die vrae  oor of die media ooit soortgelyke foto’s van sterwende wit mense sou publiseer, en of sodanige dekking moontlik wraak sou kon aanwakker of tot nabootsaanvalle sou kon lei. Taalgebruik is ook belangrik – hoe ons oor mense praat – in die woordeskat van slagofferskap, as “buitelanders” of, soos die Daily Sun so onverantwoordelik gedoen het in 2008, as “aliens”. Wat wel duidelik is, is dat die media, terwyl hulle sorg en meegevoel uitoefen, nie hul waghondrol moet laat vaar om die regering aanspreeklik te hou vir sy gebrek aan leierskap of koning Goodwill Zwelithini vir sy roekelose uitlatings nie.

Dit is nie die eerste keer dat hierdie vrae gevra word nie. ’n Klassieke geval was Kevin Carter se foto van ’n sterwende Soedannese kind, met ’n aasvoël wat agter haar wag. Fotograwe word dikwels selfs daarvan beskuldig dat hulle self aasvoëls is, terwyl die gehore wat hierdie beelde verbruik, nie noodwendig hul eie optrede of medepligtigheid ondersoek wanneer hulle ’n behoefte in die mark skep nie.

Die gewig van hierdie vrae kan mense onderkry terwyl hulle ’n taak verrig wat hulle beskou as synde in die openbare belang. Ook die fotograwe verdien ons mededoë. In die ENCA-uitsending kan ons die uitputting in Oatway se oë sien wanneer hy praat van sy woede en die pyn daarvan om ’n man se moord te moes aanskou. Hopelik sal Oatway troos kan vind in die goeie gevolge wat sy werk gehad het, aangesien die vermeende moordenaars gevang is en in die hof verskyn het.  Vir Carter destyds het die ondraaglike gewig van getuienis uiteindelik te veel geword. Sy selfdoodnota het gelui: “Die helder herinneringe aan moorde & lyke & woede & pyn spook by my ... van honger of gewonde kinders, van mal mense met hul vingers op die snellers, dikwels die polisie, van moordende laksmanne.”

Hierdie is vrae wat ons ons almal moet afvra, synde lede van ’n globale media-ekosisteem wat in ’n toenemende mate medevervaardigers van joernalistiek geword het wanneer ons die stories en beelde verder versprei op Facebook, Twitter en blogs.

In sy boek Media and Morality het Roger Silverstone geargumenteer dat die sleutelvraag wat mediaverbruikers en -vervaardigers hulle behoort af te vra, die een is oor wat die “behoorlike afstand” is van waar ons nuusgebeure op ’n daaglike basis beskou. As ons te ver staan, word ons gevoellose voyeurs van pyn en tragedie. Ons loop dan die risiko om nooit ware empatie te ontwikkel wat kan oorgaan in aksie nie, omdat die lyding buite die bereik van ons meegevoel en besorgdheid blyk te wees. As ons te naby staan, kan ons mislei word om te dink dat daar geen verskil tussen “ons” en “hulle” is nie, dat ons die “Ander” heeltemal begryp, en dat ons eie gemaklike wêreldjie gevolglik nie versteur hoef te word nie. Die uitdaging is om nie so oorweldig te word met tragedie dat dit ons verlam laat nie (Susan Moeller se “meegevoelstamheid”), maar terselfdertyd daarteen te waak om te dink dat ons so vertroud is met alles dat alle verskille en magsverhoudinge tussen kyker en objek uitgewis word. Soos Yeats al gesê het: “(T)he world’s more full of weeping than (we) could understand.”

Soos die geval was met sy landgenoot Ernesto Alfabeto Nhamuave, wat lewend verbrand is tydens die xenofobiese aanvalle in 2008, gaan Sithole waarskynlik ’n ikoniese beeld word vir die geweld wat ons land bly teister. Vir hierdie kragtige simbool kan ons Oatway bedank. Hoewel goeie gevolge ’n onsekere of twyfelagtige posisie is van waar etiese regverdiging verkry kan word vir optrede (dis beter om deur beginsels en waardes gelei word, aangesien gevolge van ons optrede nie altyd voorsien kan word nie, en so ’n utilitaristiese argument kan lei tot situasies waar enige doel die middele kan heilig), sou dit moontlik wees om Oatway en die Sunday Times’s se optrede in hierdie geval só te regverdig.

Maar hierdie is alles die soort etiese vrae wat as prosedureel beskryf kan word – hulle het te make met die dag-tot-dag-toepassing van perskodes en riglyne rondom akkuraatheid, objektiwiteit, waarheid en beperking van skade. Ons moet nie daar stop nie. Die geval van Emmanuel Sithole behoort ons aan te spoor om meer substantiewe vrae te vra oor hoe besluite in nuuskantore geneem word, hoe joernaliste hul rol in die samelewing sien, wie se stories vertel word, en wie die geleentheid kry om te praat en gehoor te word. Maar dalk selfs belangriker as die vrae rondom hoe stories gedek word, is die vraag oor watter stories niégedek word nie. Is dit byvoorbeeld eties regverdigbaar vir ’n koerant om ’n hoofstorie te kies oor ’n prominente dominee en jeugbewegingleier se beweerde egbreuk, of vir ’n aanlyn nuusdiens om te lei met ’n storie oor ’n beseerde rugbyspeler, terwyl mense in ons strate afgemaai word? Ons sien dikwels baie kritiek oor die publiek se reg om te weet wanneer die staat druk uitoefen op die media, maar dieselfde kritiek word nie uitgespreek oor skadelike markkragte wat nuusagendas bepaal tot die punt waar sulke agendas bydra tot onkunde oor die “Ander” wat buite die nou grense van kommersieel-bepaalde nuusmarkte val nie.

’n Verwante vraag is wat met hierdie stories gebeur nadat die onmiddellikheid van die gebeure verby is. Beweeg die media aan na die volgende gebeurtenis, gewelddadige uitbarsting, misdaad of skandaal, of bly hulle by die storie en probeer die onderliggende faktore daarvan uitpluis? Die volledige dekking van Oscar Pistorius se hofsaak was ’n voorbeeld van eersgenoemde – dit het byvoorbeeld die veel minder sensasionele maar baie belangrike Farlam-kommissie se ondersoek na die Marikana-slagting op die agtergrond gedryf, en toe die saak verby is, het aandag aan geslagsgeweld, omstandighede in tronke en die regte van gestremde gevangenes gekwyn.

As die manier waarop ons xenofobie dek, of ignoreer, slegs deur markkragte bepaal word, eerder as deur die dwingende drang om ons samelewing te verstaan en te verander, sal joernalistiek sy morele aanspraak op beskerming en spesiale regte verbeur. Dan sal ons Stuart Hall se bekende uitspraak oor kultuurstudies in die tyd van vigs kan herformuleer om betrekking te hê op die media gedurende konflikte soos dié: “In die lig van die dringendheid van mense wat in die strate sterf, wat in Godsnaam is die punt van joernalistiek?”

Lees ook: Instagram or intervention?

Lees ook Xenofobie: Stories uit Yeoville

Lees ook Vreemdelingehaat en die gelaat van die ander

Lees ook Yeoville: Jesus was a makwerekwere

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top