Yeoville: Jesus was a makwerekwere

  • 3

In die tyd toe Yeoville boheems was, was hier baie Jode en katte. Nou is slegs enkeles oor. ’n Bittereinder-kat sit vanoggend onverstoord op my hoë voorste muur terwyl my honde hulle kwaaiste blafsessie in weke insit.

Dis die klankbaan van Yeoville: blaffende honde, roepende stemme, toetende taxi’s en die geluid van ’n hamer, bam-bam-bam teen sinkmuur of sinkdak soos wat nog ’n shack in ’n agterplaas ingesqueeze word vir meer tenants.

Ek werk nou al lank aan ’n dik boek wat (weereens) in Yeoville afspeel en hopelik volgende jaar sal verskyn. Toe ek in 1990 hier ingetrek het, was die buurt spierwit. Nou is dit so te sê pikswart. En onder die swart mense wat hier woon, is Suid-Afrikaners in die minderheid (my Zoeloe-vrou is een van hulle). Hier woon Kongolese, Nigeriërs en veral Zimbabwiërs. Hier is te veel vreemdelinge (dalk is ek ook een).

Hoek van Kenmereweg en die beroemde/berugte Rockeystraat:

Yeoville het die xenofobiese aanvalle wat onlangs in Natal uitgebars en na Jeppestown en Alexandra in Johannesburg en Primrose aan die Oos-Rand uitgebrei het, vrygespring. Hier is safety in numbers. Hier sal die buitelanders terugveg, selfs teen ’n Zoeloe-impi gewapen met kieries en pangas. My vrou het wel verlede week vertel sy het gesien hoe skop iemand die tamaties van ’n sypaadjiehandelaar in Rockeystraat dat hulle rooi rol en toe maak hy ’n snedige aanmerking oor "makwere-kwere".

Die kwetsende woord makwere-kwere is glo ’n klanknabootsing ─ plaaslike swart mense verstaan meestal nie die tale van noord van die Limpoporivier nie, dit klink vir hulle soos kwere-kwere. Jare terug het ek teen ’n toiletmuur in Hillbrow dié graffiti gesien: Jesus was a makwere-kwere.

(Uit my manuskrip: Wanneer iemand in ’n brabbeltaal praat of iets onverstaanbaar sê, sê ons hy praat koeterwaals. Dit kom van die ou Nederlandse woorde koeteren en waal. Die Wale, in die gebied waar België vandag is, het Frans gepraat, wat die Hollanders nie kon verstaan nie. Dit het vir hulle geklink soos die geluid wat kalkoene maak: koeteren.)

Onlangs was daar ’n brief oor xenofobie in die swart poniekoerant Daily Sun. (Hier is meer donkies as ponies in Afrika, maar dis okay, donkies, luiperds, olifante, mense en pikkewyne is my gunstelingdiere.) Die briefskrywer se betoog was dat wit Suid-Afrikaners en die swart middelklas nie deur die instroming van vreemdelinge geraak word nie. "It’s us, the black lower class, who live squeezed in the township next to foreigners and have to compete for the same scraps," het hy geskryf. Hy keur die geweld nie goed nie, maar betreur dit dat ons grense oopgegooi is vir mense van die noorde.

In 1991 het Yeoville 17,000 inwoners gehad. Nou is hier meer as 40,000. Die buurt is oorbevolk, raserig en vuil. Die rioolpype en hysbakke kreun. Die infrastruktuur dreig om te vou. Baie manholes se ysterdeksels is gesteel vir skrootmetaal. My vrou sê dis die foreigners, veral Zimbabwiërs, wat die plek kom opfok het. Ek wil vir haar sê plaaslike mense, Zoeloes en Sotho’s en ander, het voor die Zimbabwiërs hierheen gestroom ná die white flight in die laat 1990’s, en toe het Yeoville reeds die aard van ’n township begin aanneem, maar ek bly stil ter wille van die vrede.

(Uit my manuskrip: By talle straatstalletjies word besigheid gedoen. Nie net groente en vrugte word verkwansel nie maar ook telefoonoproepe, sigarette, vadoeke, musiek, selfs rou vis wat op planke lê. In Rockeystraat brand vanaand ’n paar konkas. Hier is ook slotte en speelkaarte, kamme en borsels, kombuisgereedskap en toiletpapier, naelknippers en donkerbrille te koop. Los tampons word deur die tralies van ’n winkeltjie aangegee, ook Lotto-kaartjies. Die plek lewe! Sommige sypaadjiehandelaars gebruik paraffienlampe om hul stalletjies te verlig. By ’n lae tafeltjie kerf drie vroue ’n groentesoort fyn. Dit lyk na spinasie maar is ligter groen en die blare is dikker. Ek gaan staan en vra wat dit is. “Chomolia, from Zimbabwe. It’s very nice with meat,” sê die een vrou. Hulle stapel die gekerfde blare in hopies, en as jy daarvan wil koop, gooi hulle ’n hopie in ’n plastieksakkie. Ek koop ’n sakkie vir R5. By die tafeltjie langsaan koop ek agt tamaties vir R3; groente is hier veel goedkoper as in die supermarkte. Ek draai regs en loop noordwaarts in die rigting van my huis. By ’n straathoek hang ’n daggageurtjie in die lug. Voor my waggel ’n vrou met ’n pakkasie op haar kop, en by ’n halfleë erf is daar ’n handgeskrewe kennisgewing: WELDER IS HERE.)

Buite Yeoville se kliniek in Kenmereweg strek die ry Zimbabwiese vroue en hul babas elke weeksoggend tot op die sypaadjie langs die swembad. Ons staat voorsíén die buitelanders van inentings, medisyne en pleisters. (Binne- of buitelanders, in Yeoville naai ons vir die eerste span, ons almal kreun in die symste taal.)

Ek en my gesin woon in Webbstraat. Dit het ontaard in ’n taxiroete ─ vanaf 5vm kom toeterende minibusse verby. Die huis oorkant ons word deur ’n klomp Zimbabwiërs gehuur. Daar is al vir jare dié graffiti teen hulle muur: Goofyie. Seker daar gespuit deur ’n junkie. Goofyie is beter as fobie.

Een van die Zimbabwiërs wat oorkant die straat woon, is ’n mechanic. Die ander mense wat daar huur, wil nie hê hy moet motors in die oorvol jaart diens nie. Nou doen hy dit op die sypaadjie. Hier is daagliks motors, busse en bakkies op straat geparkeer. Mense sit op die sypaadjie en drink bier en strooi rommel terwyl hulle voertuie gediens word. Die mechanic se groen Toyota Tazz is altyd daar. Soms rev hy die enjin windgat, maar meestal is dit die doef-doef-musiek uit die kar wat my gat krap.

’n Paar weke gelede was ek en my vrou teen elfuur op ’n Vrydagaand reeds aan die slaap toe ons gewek word deur skielike musiek uit die kar oorkant. Ná ’n kwartier kon sy dit nie meer verduur nie. Sy het ’n kamerjas en sandale aangetrek en is straat toe om te gaan kla. Ek het digby my Astra .357 Magnum met sy gefrustreerde koeëls uit die 1990’s bly lê. Vyf minute later was sy terug, nog meer omgekrap as tevore, en die musiek het steeds vanaf die straat se kant gedoef-doef. Sy het gesê die Zimbabwiese mechanic en sy vriend was dronk in die Tazz. Hulle praat Ndebele, wat naby aan haar Zoeloe is, maar sy het die onderonsie in Engels aan my kom oordra. Toe sy vra hy moet ophou raas, sê hy: "No, we’re going to play music until the morning." En toe sy vererg iets terugsê, antwoord hy: "I'm a foreigner, I'm here to fuck up your country!" En toe skree sy iets en hy dreig: "I'll kill you!"

Ek en die Zimbabwiese doos het darem een ding in gemeen: ek ry ook ’n Tazz. Al is syne groen en myne wit. Maar ek het iets wat hy nie het nie: ’n onbesoedelde oprit. Hier braai en drink en dink ek op Saterdagmiddae. Ek kan nie fokof nie want ek sal hoogstens R350,000 vir my afbetaalde huis kry, en wat kan mens elders daarvoor koop? Fokol. Ek is naby aftree-ouderdom en het ’n patetiese ou pensioentjie. Maar ek gaan ons slaapkamer klankdig probeer maak, al kos dit baie. Aluminiumvensters en so aan.

(Uit my manuskrip: In die oprit stapel ek ’n klomp hout op my braaier. Ek sal dit eers later kom aansteek, kort voor sononder. Ek vergelyk Woensdag se Lotto-nommers met dié wat ek gespeel het. Hierdie keer wen ek, soos die meeste kere, fokol. Skaaptjops wag in ’n marinade in ’n groen skottel. Daar is ses blikkies bier en ’n bottel witwyn in die yskas. Net ’n ramp, iets soos ’n hartaanval, ’n aardbewing, ’n vliegtuig wat in ons buurt neerstort of ’n inval van hongeres uit Zimbabwe, sal hierdie braai kan verhoed. Ek vat my eerste bier en my foon en gaan sit op ’n omgekeerde melkkrat met my rug teen die muur en tik ’n boodskap aan my tweelingbroer.)

Lees ook Deel op Facebook of red 'n lewe? #xenomedia

Lees ook Instagram or intervention?

Lees ook Xenofobie: Stories uit Yeoville

Lees ook Vreemdelingehaat en die gelaat van die ander

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Estelle Bester

    Fanie, jou aanbieding van die realiteit van Jozi, Yeoville en die makwerekekweres, is so raak en lekker. Hou so aan.

  • Avatar
    francois williams

    Hahahaha!! Fokken goed!! Het jy nog van daai Chinese witblits oor? Ek sal nog bring volgende keer!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top