Vyf vinnige vrae aan Antjie Krog

  • 0

Antjie Krog is waarskynlik die beroemdste Afrikaanse digteres. Sy geniet internasionale erkenning vir haar werk oor die Waarheids-en-versoeningskommissie. Haar poësie en boeke soos Country of My Skull en A Change of Tongue word wêreldwyd gelees. Antjie is Buitengewone Professor aan die UWK. Melt Myburgh het onlangs met haar gesels.

1. Jy doen die wonderlikste dinge met jou studente aan die UWK. Vertel my asb van die uitstappies wat julle gereeld onderneem.

Die dinge wat 'n mens doen, wissel na gelang van die werk wat jy behandel en die studente wat jy het. Ek het verlede week studente, van wie die meerderheid Amerikaans, Noorweegs en Xhosa was, Bo-Kaap toe gevat, waar Najwa Jones 'n wonderlike program met ons gedoen het. Die voorgeskrewe werke was Confessions of a Gambler en So Long a Letter. Sy het ons na 'n moskee gevat, wat absoluut ongelooflik was. Selfs in Timboektoe is ek as ’n non-Moslem-vrou nie in 'n moskee toegelaat nie. Reeds met die uittrek van die skoene en die loop oor die dik tapyt het dit 'n sensuele en onmiddellik spirituele ervaring geword.

Gedagtig aan die feit dat dit die Moslem-kleredrag is wat die debatte so domineer, het ek haar gevra om spesifiek op kleredrag te konsentreer en die studente die klere te laat aantrek. Sy het 'n hele kis van haar eie klere gebring en absoluut onderhoudend vertel waar híérdie soort veil vandaan kom, waarom dáárdie ding só gedra word, waarom híérdie kleur gebruik word, ens, ens. En voor 'n mens se oë verander 'n gepiercete, Nike-draende, magie-uitstekende meisie in 'n effens meer statige jong Moslem-meisie. Dit het oombliklik soveel vooroordele verbreek dat almal eintlik in ekstase daar uitgekom het, waarna ons Moslem-koeksisters en melktertjies by Biesmillah se coffee shop geëet het.

Ons het ook 'n hele periode gespandeer aan pruime, gedagtig aan “an unexamined life is not worth living”. Gekyk, geteken. Elkeen moes sy pruim kon eien tussen ander, elkeen moes hom verbeel waar sy pruim vandaan kom, die wetenskaplike name van elke deel van die pruim verken, ens. Eers ná 'n uur het ons die eerste hap gegee ...

2. Jy vloek so pragtig. Het jy enige raad vir onderwysers wat sukkel om nie te vloek in die klaskamer nie?

Dit is nogals moeilik, want 'n mens is veral lus om 'n vervelige ding met 'n moerse vloek op te lewe, of 'n Vrydag se laaste periode lekker op te fok. Omdat die meeste van my klasse in Engels is, en soms oor heavy dinge soos die Truth Commission gaan, lê jou tong minder langs 'n vloekwoord as gewoonlik.

3. Is “Ma” die gedig waaroor jy die meeste navrae kry van jongmense? Watter vrae irriteer jou die meeste?

"Hoe het u gevoel toe u ‘Ma’ geskryf het?"

4. As jy die Afrikaans-onderwysers van hierdie land enigsins moed moes inpraat, wat sou jy vir hulle sê?

Ek weet nie. Ek weet net dat elke keer as ek met Afrikaans-onderwysers te doene kry, dan staan ek verstom oor wat hulle, desondanks alles, regkry. Dis 'n geheim dat soveel onderwysers hulle leerlinge aan die skryf kry. Dit bly 'n geheim dat soveel onderwysers dit geniet om gedigte te behandel. Dis 'n geheim dat die grootste drag van Afrikaans deur bruin onderwysers gedra word wat Afrikaans leer vir klasse wat dikwels vol swart kinders sit (baie swart kinders kan die Model C-skole nie bekostig nie, maar weet dat die onderrig by die bruin skole dikwels beter is). Dis 'n geheim hoeveel uitstekende Afrikaans-onderwysers Moslems is en aan hordes en hordes kinders topkwaliteit-Afrikaans leer. Dis 'n geheim dat Afrikaans-onderwysers téén vyandighede in leerlinge omhaal na Afrikaans.

As Afrikaans-onderwysers uit skole gehaal moet word, sal die skole inmekaar stort, want op 'n manier is dít die backbone.

5. Dink jy dis deesdae makliker om kind te wees as destyds toe jy op skool was?

Maar glad nie! Ek kan my kinders oor niks raad gee nie. Hulle moet hulle handhaaf in 'n land en wêreld wat ongelooflik nuut is. Dis uitdagend vir hulle en al wat ek kan doen, is om kennis aan te bied waarvan hulle moet vat en los soos hulle nodig het. Wat ek graag probeer doen, is om iemand te probeer lei om met 'n volle bewussyn te leef.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top