Afrikaans klein maar bedrywig binne UJ se meertaligheidsvisie

  • 0

Marné Pienaar is in Maart 2020 as hoof van die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Kantoor vir Meertalige Taaldienste aangestel. Melt Myburgh het by haar ingeloer om te verneem oor dié kantoor se funksies, hul betrokkenheid by die UJ-pryse vir letterkunde en die stand van Afrikaans by die universiteit.

Marné Pienaar (Foto: Jan Potgieter)

Marné, verduidelik asseblief aan ons lesers hoe die Kantoor vir Meertalige Taaldienste by UJ se bedrywighede inskakel.

Die Kantoor vir Meertalige Taaldienste (KMT) vorm saam met die Departement Afrikatale en die Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek die Skool vir Tale by die Universiteit van Johannesburg. Die KMT verskaf intern taaldienste aan die hele universiteit. Ons is ook betrokke by opleiding en terminologieskepping en bedien die bestuur van raad wat betref taalbeleidskwessies. Naas die administrasie van vier van die vyf UJ-pryse (Afrikaans, Noord-Sotho, Zulu en Literêre Vertaling) reël ons ook die jaarlikse NP Van Wyk Louw-lesing en die tweejaarlikse EB van Wyk-lesing. Die NP Van Wyk Louw-lesing fokus op aspekte van die Afrikaanse letterkunde. Die EB van Wyk-lesing plaas klem op ontwikkelings in taalkunde en spesifiek hoe dit neerslag vind in die bestudering van Afrikatale.

UJ se leuse is “The Future. Reimagined.” Waar pas die KMT in by die universiteit se visie? Ek veronderstel dié visie hou implikasies in vir die posisie van Afrikaans by UJ – hoe staan sake met Afrikaans deesdae by UJ?

UJ is verbind tot meertaligheid en is tans, soos alle ander universiteite, besig om sy taalbeleid te hersien. Ons studente- en personeelkorps kom uit ’n groot verskeidenheid taalagtergronde. Zulu is verreweg die grootste taal by UJ. Volgens die HEMIS-data van November 2020 het die studente se taalverspreiding soos volg gelyk:

Zulu 10 959   Swati 2 062
Engels 8 704 Venda 2 061
Sotho 5 514 Ander 1 639
Tswana 4 215 Ndebele 1 032
Noord-Sotho 4 134 Afrikaans 873
Xhosa 4 011 Onbekend 288
Tsonga 3 076 Totaal 48 568

 

Die amptelik tale van die universiteit is Afrikaans, Engels, Noord-Sotho en Zulu en dit is duidelik dat daar nie ’n een-tot-een passing tussen die studente se moedertale en die amptelike tale van die universiteit is nie. Die voertaal is Engels, maar is ons nie blind vir die uitdagings wat studie in Engels vir baie studente inhou nie. Gevolglik word daar baie gedoen om studente se Engelsvaardigheid te verbeter, maar terselfdertyd al hoe meer aandag aan transtaligheid te gee. Transtaligheid kom daarop neer dat soveel moontlik tale in die klaskamer geakkommodeer word. Daar is baie min Afrikaanssprekende studente by UJ. Afrikaans word wel voor- en nagraads tot op doktorale vlak aangebied en die vakgroep Afrikaans doseer ook metodologie aan studente wat onderwys studeer.

Wat is die Kantoor vir Meertalige Taaldienste se verbintenis met UJ se onderskeie Tale-departemente, spesifiek Afrikaans? Ek veronderstel julle bedien nie alleen tale-departemente nie; julle werk byvoorbeeld nou saam met Filosofie?

Moedertaalstories in BUKA (Foto: KMT, UJ)

Afhangende van die behoefte werk die KMT nou saam met ’n verskeidenheid departemente. Verlede jaar het ons byvoorbeeld saam met Roela Hattingh van die Departement Strategiese Kommunikasie aan ’n projek gewerk waar studente en personeel aangemoedig is om hulle eie stories in hul moedertale te skryf. Die verhale is in BUKA gepubliseer.

Sekere departemente stel hulle studiegidse en/of eksamenvraestelle in verskeie tale beskikbaar. In sulke gevalle hanteer ons die vertaling en redigering daarvan. Die Departement Filosofie is tans besig met ’n projek waar hulle nagraadse studente gebruik om seminale filosofietekste in verskeie Afrikatale te vertaal. Ons help met die aanbied van werkswinkels oor onderwerpe wat wissel van die gebruik van vertalingsagteware soos Autshumato tot by vertaalstrategieë wat veral ter sprake kom in tale wat nog nie volledig gestandaardiseer is nie.

Watter dienste verskaf julle aan die onderskeie departemente?

Ons verskaf ’n redigeringsdiens vir Engels, Afrikaans, Noord-Sotho en Zulu, en doen ook vertaling tussen die vier tale. In beginsel bied ons ’n tolkdiens, maar tans word dit net in uitsonderlike gevalle versoek. Ons is ook jaarliks betrokke by Internasionale Moedertaaldag, wat gewoonlik in Februarie gehou word. Verlede jaar het hoofregter Mogoeng Mogoeng ’n klein opskuddinkie veroorsaak toe hy voor ’n gehoor wat grootliks uit leerders uit Soweto bestaan het, fel kritiek gelewer het op die feit dat Afrikatale nie as onderrigtale in skole gebruik word nie.

Kollegas van die KMT by 2020 se Internasionale Moedertaaldag: Marné Pienaar, Moroamofo Leshilo, Nomusa Sibiya en Tisa Viviers. (Foto: KMT, UJ)

Hoofregter Mogoeng Mogoeng tydens die KMT se Internasionale Moedertaaldagvieringe. (Foto: KMT, UJ)

Marné, jy was onlangs (en ook voorheen) verantwoordelik vir die reëlings rondom die toekenning van die UJ-pryse vir Afrikaans. Hoe het dit gekom dat dié toekennings onder julle kantoor se mandaat val? Vertel asseblief van die ontwikkelinge rondom dié prys, en die uitbreiding daarvan na ander tale ook.

Daar is beslis ’n nuwe stuwing ter ondersteuning van tale by UJ, en my aanstelling (die pos was lank vakant) en die beplande uitbreiding van die dienste wat ons bied, getuig daarvan. Ons ken al die afgelope 21 jaar pryse toe vir kreatiewe tekste in Afrikaans en Engels. Die beleid bepaal dat ekwivalente pryse ook vir Noord-Sotho en Zulu toegeken moet word. Dit is egter vanjaar vir die eerste keer geïmplementeer. Die prysgeld vir al vier tale is presies dieselfde: R70 000 vir die hoofprys en R35 000 vir die debuutprys. Ook nuut is die prys vir Literêre Vertaling wat vanjaar afskop met R50 000 as prysgeld. Die doel met die instelling van die drie pryse is onder meer om UJ se verbintenis tot meertaligheid sigbaar te maak, om kreatiewe uitsette in Noord-Sotho en Zulu aan te moedig en te beloon, en om die bydrae wat vertalings tot die polisisteem van die Suid-Afrikaanse letterkunde maak, uit te lig en om uitmuntende vertalings te vier. Die sluitingsdatum vir inskrywings vir die drie pryse is 31 Mei en belangstellendes kan my by mpienaar@uj.ac.za kontak indien hulle meer inligting wil bekom.

Die UJ-prys was onder druk, as ek reg verstaan, en jy moes ’n nuwe borg vir van die pryse vind. Ek is saam met jou verheug dat die TAO aan boord gekom het as borg van die Afrikaans-prys. Is die situasie rondom die prysgeld nou veilig?

Weens die finansiële druk waaronder universiteite hulle tans bevind, was daar verlede jaar kommer oor die voortbestaan van die pryse en ook van die twee gedenklesings. Ek het die TAO genader en hulle het ingestem om as borg vir vanjaar se prys vir Afrikaans en die NP Van Wyk Louw-lesing in te staan – iets waarvoor ons werklik dankbaar is. Intussen het die situasie verander en het ons die versekering van die universiteit dat die finansiering van al die pryse en die twee gedenklesings vir die volgende drie jaar gewaarborg is.

Wie is jou kollegas by die Kantoor vir Meertalige Taaldienste? Vertel asseblief van hul werksaamhede.

Links: Corné Johl en Moroamofo Leshilo; regs: Esmé Grobler. (Foto: KMT, UJ)

Esmé Grobler is ons taalspesialis vir Engels. Daar is min aanvraag vir vertaling in Engels, maar wel ’n baie hoë aanvraag vir redigering – waarskynlik omdat die personeel uit ’n hoogs diverse taalagtergrond kom. Tisa Viviers het verlede jaar afgetree, maar help ons nog met redigering in Engels en Afrikaans. Corné Johl fokus merendeels op Afrikaans en gee ook voorgraads klas in die vakgroep Afrikaans. Van vanjaar af help Corné ook met die administrasie van die UJ-prys (Afrikaans) en die NP Van Wyk Louw-lesing wat voortaan as ’n dokumentêr saamgestel sal word. Moroamofo Leshilo is die spesialis vir Noord-Sotho. Van die vier tale waarin ons werk, is Noord-Sotho die moeilikste weens die gebrekkige taalhulpbronne wat beskikbaar is. Maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg, en hy het ook handjie bygesit vir die afhandeling van die vyftalige terminologielys Interpreting terminology / Terminologie van het tolken / Tolkterminologie / Mareo a botoloki / Amatemu okutolika waarvan ek en Eleanor Cornelius die outeurs was, en wat in 2018 by Sun Press verskyn het. Naas vertaling en terminologie-ontwikkeling doseer hy ook Noord-Sotho as vak. Nomusa Sibiya fokus op Zulu. Sy is die enigste personeellid wat al vier die tale waarin ons werk magtig is. Dit is veral ’n aanwins in die vertaalwerkswinkels wat ons aanbied. Nomusa doseer ook vertaalteorie in die Departement Afrikatale. Moroamofo en Nomusa werk ook hard om die nuwe pryse onder die publiek en uitgewers se aandag te bring. Ons was aanvanklik bekommerd dat ons nie ’n voldoende aantal inskrywings vir Noord-Sotho en Zulu gaan kry nie, maar die oes lyk belowend.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top