Heupvuur: Kerneels Breytenbach oor Crito

  • 0

Die LitNet-blogger Crito kry dit blykbaar reg om vele rolspelers in die Afrikaanse boekebedryf se nekhare te laat rys met sy "resensering van resensente". LitNet het ʼn aantal belanghebbendes in die boekebedryf met heupvuurvrae genader. Kerneels Breytenbach, skrywer en afgetrede uitgewer, lug sy mening.

1. Hoe voel jy oor die teenwoordigheid van ʼn kommentator soos Crito wat van agter ʼn skuilnaam kritiek lewer op resensente en boekeredakteurs?

Ek is die laaste persoon wat kan vinger wys. Ek het vier jaar lank onder die skuilnaam Braam Kleinhans vir Die Burger 'n restaurant-rubriek geskryf. Ek het LI Bertyn se termyn by Die Burger gereël en het sy skuilnaam verdedig. Ek sal huigel as ek fout vind met Crito se gebruik van 'n skuilnaam.

2. Wat dink jy van Crito se inskrywings op sy/haar blog?

Ek het nou weer in jul argief gaan teruglees, en ek is bevrees ek dink dis nie skerp genoeg nie. As mens dan 'n skuilnaam gebruik, moet jy gereeld uitflap. Ek wonder wat iemand soos LI Bertyn daarvan sou gemaak het. Crito behandel Gerrit Brand baie vriendelik - skynbaar is daar 'n onderliggende vriendskapsverband - en Brand reageer op sy beurt gemaak-kwaad. Dis 'n bietjie vervelig - as jy in Brand se Boekeblok teruggaan, sal jy sien dat daar by baie van die resensies nooit enige reaksie sou gewees het as Brand nie gespoeg-en-plak het van Crito se blog af nie. Crito se geluk is dat Brand net aangaan oor die skuilnaam en ander mense nie kan besluit of Crito manlik of vroulik is nie. Crito is fluks met vals leidrade oor sy/haar identiteit (vir al wat mens weet is dit Jessica, die Engel van die Akker), maar elke slag wat hy die boekeredakteurs in die visier kry en die skoot skiet, volg hy/sy nie op nie. Nou pas het hy/sy dit amper reggekry om Brand te laat erken sy keuse van 'n resensent vir die Johann de Lange-bundel was ondeurdag en verkeerd, maar toe los hy/sy die argument. Crito sal vir my groter waarde hê as hy/sy argumente tot hul uiteindes kan neem. In die algemeen sou ek wou sien dat Crito resensente konfronteer oor hul menings. Dit gaan baie sieldodend word as hy/sy net aanhou karring oor die resensie self.

3. Hoe voel jy oor die stand van resensies in Suid-Afrika?

Ek dink ons is in 'n oorgangsfase. Die swaartepunt van Afrikaanssprekende studente is besig om na die Universiteit van die Noordweste te verskuif, dus kan mens aanneem dat die insette van die akademici op Potchefstroom, tans en toekomstig, op die boekeblaaie sal toeneem. Ek is baie beïndruk met die mense van UJ wat besig is om sterk en substansiële bydraes as resensente te maak (Willie Burger, Thys Human), asook Louise Viljoen, Joan Hambidge en Andries Visagie. Neil Cochrane is onlangs deur Willem Pretorius en Crito gekarnuffel, maar dit is duidelik dat hy iemand is van wie ons nog baie sal hoor. Ek dink die relletjie verlede jaar tussen Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé was een van die interessantste dinge wat in 'n baie lang tyd rondom resensies gebeur het. Ek stem met Crito saam dat te veel resensies (vgl Cochrane syne) in 'n té akademies en swaartillende styl geskryf is. Ek moet byvoeg, ek het hier hoofsaaklik resensies oor literêre werke in gedagte. Resensies oor niefiksie-publikasies (van kookboeke tot leefstyl tot godsdiens tot geskiedenis en politiek) is gans 'n ander dier, om Elsa Naudé aan te haal. En dáár lê die veld nog braak.

4. En oor boekeredakteurs?

Wie bly oor? Rachelle Greeff en Gerrit Brand? Beeld het skynbaar afgeskaal sedert Elfra Erasmus se vertrek. Volksblad se blad is op baie klein skaal. En met die lotgevalle van Insig en Boeke-Insig het ons Elmari Rautenbach en Hettie Scholtz se ondervinding en wysheid ook verloor. Die nuwe verwikkelinge by Rapport, en die betrokkenheid van Rachelle Greeff en Danie Marais daarby, is vir my baie interessant en gee hoop. Ons sal moet wag en sien. Wat die oggendblaaie betref, dink ek het Crito een groot onthulling gemaak, en dit is hoe swak die boekeblaaie se kopie gesub word. My vraag is daarom hoe ernstig die boekeredakteurs dan met hul blaaie is as hulle nie hul werk doen en hul resensente bystaan met goeie ou subwerk nie. Miskien is ek outyds, maar 'n boekeredakteur, nes 'n kunsredakteur, moet sorg dat die bydraes op sy blad taalkundig en stilisties op 'n baie hoë peil is. Geen kopie is heilig nie - dít was nog altyd my opvatting.

5. Behoort, as gebrek aan ruimte in ag geneem word, Afrikaanse koerante soos Beeld en Rapport ook Engelstalige boeke te resenseer?

Behoort Sunday Times en Mail & Guardian nie meer Afrikaanse boeke te resenseer nie? Hul antwoord is nog altyd: Slegs wanneer só 'n boek groot nuuswaarde het. Dieselfde behoort myns insiens by Afrikaanse koerante te geld. Hulle behoort slegs boeke in die taal waarin die koerante verskyn, te bespreek, tensy die boek in 'n ander taal groot nuuswaarde het. Dit bring mens natuurlik terug by Crito se argument teen Brand se besprekings van Nederlandse publikasies wat nie in Suid-Afrika verkrygbaar is nie. Die probleem met sulke resensies is 'n ou een. Ongelukkig laat dit die joernalis se onderrok uithang. En in die Afrikaanse pers is dit die nuk om die lesers te wil "leer", hulle op te voed oor dinge waarvan hulle volgens die wyse joernalis se mening nie weet nie. Wyle Victor Holloway het altyd gesê onderwysers maak nie goeie resensente uit nie. Hy het een persoon in gedagte gehad, maar die gedagte tel. Dit sal Crito miskien die moeite loon om dit in gedagte te hou wat sy/haar blog betref.

6. Wat is die waarde van "citizen reviews", dit wil sê sogenaamde "gewone lesers" wat op blogs, in briewe en op ander fora boeke "informeel" resenseer?

Op sekondêre vlak het dit miskien waarde, maar ek is nie ten gunste daarvan dat boeke deel moet word van die Idols-kultuur nie. Neem mens in ag hoeveel moeite en tyd uitgewers daaraan spandeer om manuskripte publiseerbaar te maak en dan te publiseer, en hoeveel geld daarin belê word, en neem jy in ag watse geestelike en emosionele beproewing dit vir 'n kreatiewe mens is om sy/haar pennevrug deur 'n vreemdeling te laat beoordeel, dan dink ek is dit wenslik dat boekeredakteurs geskikte, ingeligte mense kry om resensies te skryf. Ek dink dit is deel van die protokol wat geld wanneer uitgewers boeke aan boekeredakteurs stuur vir oorweging. Crito en Brand se onlangse gesprek daaroor, en die riglyne wat Crito daaroor neergelê het (as mens dit so kan noem), was vir my een van die positiefste dinge wat uit Crito se blog gespruit het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top