Jannie Rossouw se navorsing oor Afrikaanse taalmonumente en gedenkstrukture het onlangs neerslag gevind in ’n artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe). Melt Myburgh het hom uitgevra oor die geskiedenis van dié vele gedenkstrukture, en hoe politiek die toekoms van hierdie strukture beïnvloed.

Jannie Rossouw (Foto: verskaf)
Jannie, jy is ’n akademikus wat eintlik in die veld van die politieke ekonomie spesialiseer. Waar kom jy aan jou passie vir Afrikaans en sy monumente?
Ek het nog altyd in die Afrikaanse taal belanggestel en dit is verder aangewakker sedert my verbintenis, in verskeie posisies, met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) wat sowat 10 jaar gelede begin het. Die feit dat een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875, PJ Malherbe, my oupagrootjie was, het ook my belangstelling aangewakker. Ek hou ook baie daarvan om te skryf.
Ons hoor dikwels dat Afrikaans die enigste taal in die wêreld is waarvoor daar ’n monument opgerig is. Is dit ’n mite?
Dit is tegnies nie heeltemal korrek nie. Die taalmonument in Burgersdorp is aanvanklik vir die Nederlandse taal opgerig, maar word tans as ’n Afrikaanse taalmonument beskou.
Die ATM is dikwels in die nuus, veral wanneer politici soos Nathi Mthetwa hulle oor dié baken in die Paarl uitspreek. Waar staan dinge nou? Is die waters darem effens kalmer?
Na die opskudding van verlede jaar het die debat oor ’n moontlike naamsverandering van die monument gelukkig gou vergete geraak. Tans is dinge kalm, maar dit kan natuurlik baie vinnig weer verander.
In jou LitNet Akademies-artikel gee jy, buiten die ATM, aandag aan vele ander Afrikaanse taalgedenkstrukture wat grotendeels vergete geraak het. Hoe kry ’n navorser al dié kosbare inligting in die hande?
Navorsers moet verskeie bronne tydens hul navorsing gebruik, byvoorbeeld die internet, biblioteke, bestaande literatuur en argiewe. Met die navorsing oor die taalgedenkstrukture was baie mense gelukkig gewillig om met inligting te help nadat ek die onderwerp in ’n koerantartikel en oor die radio aangeroer het. Ek sal egter nie selfvoldaan te kenne gee dat ek geen Afrikaanse taalgedenkstruktuur uitgelaat het nie. Hierdie navorsingsveld is ongelukkig vir te veel jare verwaarloos en daar kan dus op ’n latere tydstip nog inligting aan die lig kom.

Die taalgedenkstruktuur in Groblersdal (Foto: Kallie Schoeman)
Vir my is dit interessant dat die GRA destyds, toe daar nog op Afrikaans as “kombuistaal” neergesien is, drie “soorte” Afrikaners in die land geïdentifiseer het wat by hul visie en ideale ingepas het. As mens so kyk na die GRA se lysie in jou artikel, besef mens opnuut dat taal en politiek nie los van mekaar staan nie, en die GRA se spesifikasies is nóú verbind aan “immigrantepolitiek”. Hoe ervaar jy die taalpolitiek van vandag in vergelyking met die situasie van die GRA in die 1800’s?
Die GRA is gestig in ’n tydperk toe Afrikaans onder druk was en daar op die taal neergesien is, soos jy sê. Destyds moes Afrikaans teen Nederlands en Engels meeding. Vandag moet Afrikaans met al Suid-Afrika se amptelike tale meeding, met Engels wat toenemend die dominante taal word, veral in die sake-omgewing. Die uitdaging is dus om Afrikaans te handhaaf, byvoorbeeld in skole en by universiteite waar die voertaal Afrikaans is. As Afrikaanssprekendes nie hul taal gaan handhaaf nie, gaan niemand dit vir hulle doen nie.

Die Taalmonument in Burgersdorp (Foto: Jackie Grobler)
WA de Klerk het in die sewentigerjare geagiteer vir die oprigting van ’n Afrikaanse navorsingsinstituut eerder as ’n monument. Dink jy die politiek rondom die Taalmonument sou vandag minder plofbaar gewees het as De Klerk se voorstel aanvaar was?
Een van die probleme met De Klerk se voorstel was dat hy die ontstaan van Afrikaans vir die Paarl en spesifiek Dal Josaphat opgeëis het. Dit is histories verkeerd, want die wortels van Afrikaans is veel dieper en wyer. Die beoogde navorsingsinstituut sou dus ook omstrede gewees het as dit in Dal Josaphat opgerig was. Voorts het universiteite in die praktyk die navorsingsrol oorgeneem wat De Klerk vir die instituut beoog het. Die Afrikaanse Taalmuseum omarm ook sekere elemente van die navorsingsinstituut wat De Klerk in gedagte gehad het, dus is hierdie oogmerk is nie volledig laat vaar nie.
Jy verwys in die artikel na die ryk geskiedenis van omstredenheid rondom die Taalmonument en onder meer hoe Breyten Breytenbach dit as ’n “penis van beton” beskryf het. Ook na die kunstenaar Hardy Botha se beskrywing daarvan as ’n “mausoleum”, ’n “lifeless monstrosity” en ’n “disgusting thing”. As ’n mens wel kyk na die idees van die argitek, JC van Wijk, wat die ontwerp van die monument ten grondslag lê, klink die simboliek van die suile, boë, die brug en die waterpoel heel edel?
Dit is vir my moeilik om op die interpretasie van Jan van Wyk se ontwerp kommentaar te lewer. Daar is verskeie mense wat beter toegerus is om kommentaar uit die velde van simboliek, ontwerp en uitbeelding te lewer. Vir my is dit egter belangrik dat die ontwerp van die Afrikaanse Taalmonument teen Paarlberg reg laat geskied aan die historiese invloed van ander tale op Afrikaans se ontwikkeling.
Wat moet die ATM nog doen om volkome deur alle Suid-Afrikaners omarm te word?
Dit is moeilik om te oordeel wat die ATM bykomend kan doen om ’n inklusiewe beeld te verbeter. Die ATM staan binne ’n begrotingsbeperking. Nuwe en bykomende inisiatiewe moet dus binne hierdie beperking oorweeg word.

Die Afrikaanse Taalmonument in Aberdeen (Foto: Jackie Grobler)
Jy gee ’n baie interessante en belangrike oorsig oor die aantal Afrikaanse taalgedenkstrukture in Suid-Afrika en in Namibië. Hierdie strukture se ontstaan word dan dikwels gekoppel aan bepaalde gebeurtenisse, soos Die wonder van Afrikaans-fees in 1959, die Taaljaar (1975) en ’n taalfees wat in Namibië gehou is. Hoe belangrik ag jy die rol van Afrikaanse kuns-en-kultuur-feeste vandag in die viering en bevordering van Afrikaans?
Afrikaanse taal- en kultuurfeeste het ongelukkig na 1975 ’n omstrede saak geword. Die Soweto-skoolopstande van 1976 en die skeuring van die Nasionale Party (met die stigting van die Konserwatiewe Party) het die Afrikaner-sentiment verdeel, tot nadeel van taal- en kultuurfeeste. Een voorbeeld is die 150ste herdenking van die Groot Trek in 1988, toe meer as een simboliese trekherdenking plaasgevind het.
Die skending van monumente, veral tydens oorloë, het Suid-Afrika nie vrygespring nie, soos deur Britse troepe tydens die Anglo-Boereoorlog. Terselfdertyd sien ons hoe baie van dié gedenkstene vandag verwaarloos geraak het. Dit moet vir jou sekerlik ’n steen des aanstoots wees, Jannie?
Die verwaarlosing van taal- en ander gedenkstrukture is betreurenswaardig. Gevolglik moet onderhoud en instandhouding reeds tydens die beplanning om die struktuur op te rig, aandag kry. Gemeenskapsbetrokkenheid is die enigste wyse waarop die meeste van die bestaande gedenkstrukture vir die Afrikaanse taal se instandhouding verseker kan word. Die navorsing om die strukture aan te teken, is die eerste stap in hierdie rigting.
Die Christelike geloof speel telkens ’n deurslaggewende rol in die oprigting van gedenkstrukture vir Afrikaans. Om inklusiwiteit te bevorder sal mens vandag seker die geloofsaspek moet uitsluit of op ’n heel ander manier benader?
Geloofsaspekte het deur die jare meer omstrede geword wanneer taal- en kultuuraktiwiteite betrokke is. Die rol van geloof binne taal- en kultuuraktiwiteite sal deur die deelnemers bepaal word.
- Fokusprent by hierdie artikel deur Menán van Heerden, kopiereg: LitNet
Lees Jannie Rossouw se artikel oor gedenkstrukture vir Afrikaans in LitNet Akademies:
Verskeie Afrikaanse taalgedenkstrukture en een Afrikaanse Taalmuseum
Lees ook:
Presidentsverkiesing in die VSA: ekonomiese implikasies vir Suid-Afrika