...
Die monument is simbool van baie dinge – maar veral van die stryd en spanning tussen skrywers en politici.
...
Die persoon wat waarskynlik die meeste kan leer uit die geskiedenis van die Afrikaanse Taalmonument, is die man wat wil hê dat die naam daarvan verander moet word – minister Nathi Mthethwa, hy van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur. Die monument is simbool van baie dinge – maar veral van die stryd en spanning tussen skrywers en politici.
In die Taalmonument se geval was die politici die magshebbers van die jare sewentig – BJ Vorster se Nasionale Party – wat sekerlik min gelyke had as ongebreidelde misbruikers van mag en deur so baie skrywers beskou is as arrogante barbare weens die wyse waarop hulle sensuur gebruik het om Afrikaanse lektuur wat nie met hul opvattings gestrook het nie, te vernietig of van die leserspubliek weg te hou.
Engelse lektuur was ook kroonwild – die Raad van Beheer op Publikasies het selfs Black Beauty, ’n jeugboek oor ’n swart perd, te verbied.
Maar vir veral Afrikaanse skrywers was 1975, die jaar waarin die Taalmonument ingewy is, ’n baie bitter jaar waarin sake tot ’n breekpunt gedryf is. Dit het dan ook uitgeloop op hul teenkanting teen die monument.
Die aandag wat die monument die afgelope weke gekry het, het my onwillekeurig laat terugdink aan iets wat ek in 2002 beleef het.
In daardie jaar het ’n afvaardiging onder leiding van Hennie Conradie, die voormalige uitvoerende hoof: finansies van Nasionale Pers, my kom spreek oor die moontlikheid om ’n boek oor Jan van Wijk en die Taalmonument te publiseer. Ek was toe publikasiebestuurder van NB-Uitgewers, en ons het gesit in die raadsaal van ons perseel in die Wahlburg-gebou in Kaapstad. Die perseel was voorheen die standplaas van Tafelberg-Uitgewers, en teen die raadsaal se mure het foto’s gepryk wat in 1975 geneem is by ’n onthaal in die Van Donck-restaurant in die ou Heerengracht Hotel. Naas skrywers soos Berta Smit en George Louw is agt wenners van die Hertzogprys te sien: ID du Plessis (1937), WEG Louw (1934), J du P Scholtz (1943), Elise Muller (1957), Uys Krige (1974), PG du Plessis (1992), Adam Small (2012) en Hennie Aucamp (1982).
Die Van Donck-geleentheid is deur Danie van Niekerk, hoof van Tafelberg-Uitgewers, gereël as ’n teenvoeter vir die opening van die Taalmonument. In skrywersgeledere was daar baie sterk gevoelens teen die hele idee van die monument.
’n Sestal ander waardige figure het Hennie Conradie bygestaan in ons vergadering in 2002. Een van hulle was Jan van Wijk, die argitek wat die Taalmonument ontwerp het. Conradie het die agtergrond van die monument geskets – dat dit ’n inisiatief van die ou Afrikaner Broederbond was, na aanleiding van pleidooie deur Paarliete sedert die jare veertig, en dat die tyd ryp was vir ’n publikasie wat die geskiedenis en simboliek van die monument sou boekstaaf.
Jan van Wijk had ’n dik map met dokumente en tekeninge byderhand, en het daarvan op die raadsaal se tafel oopgesprei. Hy het die simboliek verduidelik, en hoe die monument aansluit by idees van Langenhoven en NP Van Wyk Louw. Hy het die band met die fisiese omgewing en geskiedenis van Afrikaans verduidelik.
Van Wijk se voorstel was dat die boek onder sy naam verskyn, en die formaat wat hy in gedagte had sodat dit die illustrasies en argitektoniese ontwerpe kon akkommodeer, was dié van Paul Bosman en Anthony Hall-Martin se The Magnificent Seven, wat Human & Rousseau in 1994 gepubliseer het, en wat swak in die handel gevaar het omdat boekwinkels nie die groot formaat kon hanteer nie.
Dit was gou duidelik dat uitgewer en outeur mekaar nie sou vind nie, en die idee het gesneuwel. Dit was ’n vergadering swanger met ironie. Agter Van Wijk het ek die gesigte gesien van Gladstone Louw en Adam Small, gewonder of ek hom moes vertel van die foto’s se konteks, en besluit om tjoepstil te bly.
Dit is belangrik dat mens die konteks verstaan waarin die Taalmonument opgerig en ingewy is.
Van skrywerskant is daar verskeie gebeurtenisse wat in gedagte gehou moet word. Breedweg beskou is NP Van Wyk Louw se botsings met Verwoerd, en die koms van die Sestigers, ’n goeie wegspringplek. Die teenkanting in konserwatiewe Afrikanersgeledere teen die toekenning van die Hertzogprys aan Etienne Leroux vir Sewe dae by die Silbersteins in 1964, BJ Vorster se inmenging met die toekenning van die CNA-prys in 1967 (aan Breyten Breytenbach vir sy Huis van die dowe) en die Vorster-regime se pogings om Breytenbach op gronde van ontug met ’n vrou wat nie ’n wit vel het nie, toegang sáám met haar tot sy geboorteland te weier, is in die jare sewentig gevolg deur toenemende sensuur op publikasies deur die aanvaarding van die drakoniese hersiene Wet op die Beheer van Publikasies van 1974, betreding van talle skrywers se lewens deur die Veiligheidspolisie, en uiteindelik die politieke stemmingmakery teen en uiteindelike verbod op André P Brink se Kennis van die aand op 29 Januarie 1975.
...
Dit is tekenend van die skeuring tussen Afrikaner-politici en Afrikaanse skrywers dat daar onmiddellik uit die geledere van die Afrikaanse Skrywersgilde stemme vir Breytenbach se vrylating opgegaan het.
...
Afrikaanse skrywers het hierop gereageer met die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde op 11 Julie 1975 buite Broederstroom. Dié liggaam het hom aanvanklik net met sensuur bemoei.
Einde Augustus 1975 word aangekondig dat Breyten Breytenbach die land onwettig onder die skuilnaam Christian Galaska binnegekom het en op Jan Smuts-lughawe (nou OR Tambo-lughawe) as terroris gearresteer is toe hy weer die land wou verlaat.
Dit is tekenend van die skeuring tussen Afrikaner-politici en Afrikaanse skrywers dat daar onmiddellik uit die geledere van die Afrikaanse Skrywersgilde stemme vir Breytenbach se vrylating opgegaan het; en met die tweede beraad van die gilde in 1976 was die brutale behandeling wat die digter moes verduur, die belangrikste besprekingspunt. Breytenbach was tóé, en bly steeds, die grootste skitterende lig aan Afrikaans se hemeltrans.
Vanaf 1965 was daar op ’n ander taalterrein ook dinge aan die gang. Lees ’n mens vandag op die FAK se webwerf die inligting oor die agtergrond van die Taalmonument, blyk dit dat die idee daarvoor in 1939 ontstaan het by die jong leraar PJ Loots (in die jare sewentig veral in die briewekolomme van Die Burger bekend as kenner van die Heilige Gees en sedebewaker extraordinaire) wat aanleiding gegee het tot die stigting op 26 September 1942 van die Afrikaanse Taalmonumentkomitee.
Dié komitee het sy bedrywighede teen ’n stadige pas verrig. In April 1965 het dit ’n boukundige prysvraag uitgeskryf vir die ontwerp van ’n Afrikaanse Taalmonument teen die suidhang van Paarlberg. Twaalf argitekte is genooi om daaraan deel te neem. Die sluitingsdatum was 31 Desember 1965, waarna die inskrywings beoordeel is deur WJ du P Erlank (die skrywer Eitemal), AL Meiring (hoof van Tukkies se argitektuurskool) en JDP van der Merwe (in Kaapse argitekskringe bekend as Hannes die Sloper, en ontwerper van die Nico Malan-kompleks, deesdae Artscape genoem, die Kaapstadse Burgersentrum asook die ou Sanlam Sentrum, deesdae die Media24-gebou).
...
Talle skrywers het die kritiek teen ’n monument in ’n tyd waarin skeppende skryfwerk van staatskant onderdruk is, sterk gesteun. Maar die monument is desondanks opgerig.
...
Die drie beoordelaars het Jan van Wijk as wenner aangewys. Fondse is ingesamel by die vier provinsiale owerhede en in die destydse Suidwes-Afrika (SWA, nou Namibië), asook skole, maatskappye en private donateurs, volgens die FAK-webwerf. Die Vorster-regering het ook ruim bydraes gemaak, en uiteindelik het dit R713 000 gekos om die monument te voltooi. (Sowat R35,2 miljoen teen vandag se koers, ’n bedrag wat ’n ontplooide ANC-kader se vrou kan laat drome droom.)
Voor en tydens die bouwerk, wat volgens die Taalmonument se webwerf van 1972 tot 1974 geduur het, het kritiese berigte daaroor in koerante verskyn, en veral op Die Burger se kunsblad. Talle skrywers het die kritiek teen ’n monument in ’n tyd waarin skeppende skryfwerk van staatskant onderdruk is, sterk gesteun. Maar die monument is desondanks opgerig.
Ek verlaat my op die FAK-webwerf vir ’n beskrywing van die inwyding:
Die inwyding, bygewoon deur 40 000 mense, is gehou in die naasliggende amfiteater op 10 Oktober 1975, ’n dag bó 14 Augustus 1975 (100 jaar na die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners) gekies omrede weersomstandighede.
’n Luisterryke program van spraak, koor, orkes en dans is in die loop van die dag en aand aangebied. Die onthullingsplegtigheid is in die namiddag by die monument waargeneem deur die Eerste Minister en Beskermheer sy Edele BJ Vorster. Sy wydingsrede die aand is afgesluit met die aansteek van die hooffakkel met die fakkels wat weke vroeër reeds vanuit SWA, Rhodesië en die vier provinsies gedra is. Hierin is hy bygestaan deur nasate van die Genootskap van Regte Afrikaners van 14 Augustus 1875.
In sy rede het advokaat Vorster die monument gesien as ’n simbool wat ons taal waardig is, en kragtige groei versinnebeeld. Die monument spreek van lewe, groei, bestaan en voortbestaan in die dae waarin ons leef – jou taal wat inhoud aan jou lewe gee. Dit gee stukrag en trots in die uur van jou oorwinning. Dit het stryd geken, was verag en is nie gedoog nie. Maar hy het bly leef, sy krag bewys en geseëvier. Vir so ’n taal is ’n mens lief, vir so ’n taal kan ’n mens ’n monument oprig – dié taal wat ons Afrikaans noem omdat dit in en uit Afrika is en behoort aan die hele Suid-Afrika. Afrikaans spreek die luidste vir ons reg om hier te wees, en Afrika aanvaar hierdeur onherroeplik dat ons ’n reg het in Suider-Afrika. Ons kaart en transport is in Afrikaans geskryf.
Oor die toekoms het die Eerste Minister hiermee afgesluit: “As u my sou vra wat is die antwoord op alles wat vandag gebeur, dan sê ek vir u in die taal van SJ du Toit en sy omstanders toe hulle hul volkslied geskrywe het, is die antwoord: ’n Ieder nasie het sy tyd om te groei en af te slyt. En soos die liewe Heer dit doet, so is dit altyd wys en goed. Daar kom ’n dag vir ons ook, ja, vertrou op God, Suid-Afrika! Want al die nasies het een God, Hy reël ieder Volk se lot. Hy het vir ieder volk sy taal, sy land, sy reg, sy tyd bepaal. Wie dit verag, sal sy straf dra. O God, beskerm Suid-Afrika!”
’n Mens kan jou indink hoe skrywers wat die nuwe publikasiewetgewing en die uitwerking daarvan op lewende Afrikaans moes verreken, op Vorster se woorde sou gereageer het. Nie dat enige van die Sestigers of die toonaangewende skrywers uit die jare veertig en vyftig teenwoordig was om dit aan te hoor nie.
...
Die Taalmonument se wankele status was, kan mens sê, collateral damage.
...
In die jare daarop, met die verbod op nuwe publikasies deur Etienne Leroux, Breyten Breytenbach, André P Brink, Welma Odendaal, André le Roux, John Miles en Dan Roodt, het die skrywers se agterdog oorgeslaan in permanente wantroue in die regering se begrip vir skeppende werk in Afrikaans. Die Taalmonument se wankele status was, kan mens sê, collateral damage.
’n Mens moet die gees van pessimisme en wantroue by die Afrikaanse skrywers ook sien uit ’n ander hoek – 1975 is die jaar waarin die FAK die regering gevra het om Afrikaans tot sy “regmatige plek” in die swart onderwys te bevorder. AP Treurnicht, die adjunkminister van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling, het aangedui dat Afrikaans en Engels op gelyke voet in gevorderde skole vir swart en Asiatiese kinders moet dien. Terwyl die skrywers in verset kom teen sensuur en die benepe geestestirannie van die apartheidregime, gee Treurnicht die swart bevolking alle rede om in opstand te kom, en agt maande ná die inwyding van die Taalmonument bars die onluste in Soweto los. Hoe graag Afrikaanssprekendes ook sal wil vergeet, kan ’n mens op geen manier ontken dat die Afrikaanse taal een van die heel grootste keerpunte in ons geskiedenis gebring het nie. Dis gewis nie iets wat Nathi Mthethwa sal vergeet nie. ’n Mens moet simpatie hê met diegene wat vandag probeer om die Taalmonument ’n wesentlike deel van alle bevolkingsgroepe se kultuurlewe te maak.
In die nadraai van die 1976-opstand was daar by skrywers ’n groter vasberadenheid om sensuur te beveg. Die kloof tussen skrywers en NP-politici het verder vergroot toe Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein ná ingryping deur Connie Mulder, minister van binnelandse sake, in November 1977 ongewens verklaar en verbied is. Die reaksie hierop, ook uit die geledere van geswore NP-ondersteuners, was só fel dat die apartheidregime sy hele benadering tot sensuur heroorweeg het.
Met die verslapping van sensuurwetgewing in 1980 het sake nie werklik sodanig verbeter dat die verhouding tussen Afrikaanse Skrywers en die NP-regering herstel is nie – politieke oorwegings het net meer openlik ’n rol gespeel wanneer boeke verbied is, soos die geval was met Brink se ’n Droë wit seisoen.
Dit is eers ná Februarie 1990, met FW de Klerk se aankondiging dat ingrypende politieke veranderinge ophande was, dat sensuur verslap het – dermate dat die Afrikaanse Skrywersgilde ontbind het, sy taak volbring. (Die Film- en Publikasieraad bestaan vandag nog, as deel van die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologie. Hulle het gelukkig nie meer ’n hoë profiel nie, maar dinge kan gou verander.)
...
Dié houding is egter uit tred met die werk wat die afgelope dekade gedoen word om te sorg dat die Taalmonument ’n meer inklusiewe kultuur bevorder. Ek vermoed dat minister Mthethwa nie heeltemal op hoogte is met wat in sy eie departement se uithoeke gebeur nie.
...
Dit sou baie jare duur voordat die Afrikaanse Taalmonument ’n vergaderplek sou word vir velerlei kulturele bedrywighede. Dis steeds in ’n mate ’n anomalie vir diegene wat glo dat die gebruik van ’n taal sy enigste monument kan wees – mens rig mos net monumente vir die dooies op. Dié houding is egter uit tred met die werk wat die afgelope dekade gedoen word om te sorg dat die Taalmonument ’n meer inklusiewe kultuur bevorder. Ek vermoed dat minister Mthethwa nie heeltemal op hoogte is met wat in sy eie departement se uithoeke gebeur nie.
Mthethwa se aandrang dat “Afrikaanse” verwyder moet word uit die naam van die Taalmonument het voorspelbare reaksies uitgelok. Of die kritiek daarteen enige wroeging by die agbare minister gaan ontlok, is te betwyfel. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, soos dit amptelik heet, is ’n agentskap van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur. En in Suid-Afrika doen ministers net wat hulle wil, nè?
Maar Mthethwa se aansien is die afgelope jare deur verskeie dinge geskaad. Die groot skandaal oor die landsvlag, wat deur die President gekelder is, was Mthethwa se mees opvallende struikeling. Van veel erger dimensie, en impak, is die manier waarop hy Suid-Afrikaanse skrywers en kunstenaars tydens die Covid-grendeltye versaak het. Deur sy lamsakkigheid het hy die kreatiewe substratum van ons land feitlik vernietig.
Dit sal hom betaam om nie te konsentreer op oppervlakkige, kosmetiese dinge soos naamsveranderinge nie, maar op die welsyn en voortbestaan van diegene wat taal, kultuur en skeppende kunste aan die lewe hou. Afrikaanse politici weet wat dit beteken as die hartslag van ’n kultuurgroep hul vertroue in jou verloor; Mthethwa kan seker wees hy het nóú met die argwaan van alle kultuurgroepe te make.
Lees ook:
Wit en bruin staan saam oor Afrikaans by ATM (Afrikaanse Taalmonument- en museum)
Mediavrystelling: Taalmonument vereer nuwe skrywers van Arabies-Afrikaans
Persverklaring: PEN Afrikaans oor die voorgestelde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument
Oor die Afrikaanse Taalmonument se voorgestelde naamsverandering: Danie van Wyk se mening
Kommentaar
'n Broodnodige uiteensetting van die geskiedenis en die aanloop tot die debat oor hierdie saak vandag.
Waar ek met Kerneels verskil is wanneer hy skryf, "Dit sal hom [Mthethwa]betaam om nie te konsentreer op oppervlakkige, kosmetiese dinge soos naamsveranderinge nie ..."
Naamsverandering en die regstelling van die simboliek wat daaraan gekoppel word, veral gegewe ons ongelukkige verlede, is allermins 'kosmeties'. Net soos die Verwoerd naam vir goeie rede in onbruik verval het as benaming van plekke en artefakte só, gegewe die sosiale impak wat 'n boustuk soos die Taalmonument in die breë Suid-Afrikaanse samelewing steeds het, sal die herbenaming van hierdie struktuur heel gepas wees.
Hoe inklusief en meesleurend sal 'n Nasionale Talemonument nie wees vir al elf tale nie!
Politici van destyds en vandag maak van Afrikaans 'n konsep waaraan hulle hul eie suksesse en mislukkings kan meet. Met die lewendige taal het dit weinig te doen.
Ek glo die minister probeer die taalmonument red deur die woordjie Afrikaans te verwyder. Hoekom nie. Vir Afrikaners sal dit die Taalmonument bly.
Die artikel herinner my aan Pieter-Dirk Uys se kostelike storie oor hoe hy destyds vir sy vriendin, Sophia Loren, gaan kuier het. Hy het SA-seëls vir haar seun, Milo, saamgeneem, een met die taalpale op. Toe hy aan die seun verduidelik dat dit 'n monument vir die taal Afrikaans is, was Loren se vraag: Hoekom? Is dit dan dood?
Dis goed dat die monument deesdae grootliks inklusief gebruik word. Ons moet dit egter nie uit die oog verloor dat dit, soos Kerneels Breytenbach so treffend verduidelik, aanvanklik grof eksklusief en verdelend was nie. Net soos Du Toit et al hulle organisasie Die Genootskap van *Regte* Afrikaners genoem het in wat neerkom op die diefstal van die taal van die eerste mense wat Afrikaans gepraat en geskryf het. Mense wat grootliks nié wit was nie.