Wit en bruin staan saam oor Afrikaans by ATM (Afrikaanse Taalmonument- en museum)

  • 6

Die Afrikaanse Taalmonument (Foto: Menán van Heerden)

As die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, een ding reggekry het met sy voorneme om die woord “Afrikaanse” moontlik uit die Afrikaanse Taalmonument- en museum (ATM) se naam te probeer verwyder, dan was dit om Afrikaanssprekende mense van uiteenlopende oortuigings en agtergronde saam te snoer oor hul taal soos selde tevore.

Politieke partye wat mekaar gereeld in die hare vlieg, nieregeringsorganisasies, belangegroepe uit wit en bruin geledere, kunstenaars en individue wat sterk voel oor Afrikaans het Saterdag net een boodskap in die Paarl gehad vir die minister: Los Afrikaans uit.

Die ATM se raad het die afgelope week twee dae lank vir die eerste keer in die Paarl vergader nadat berigte van ’n voorgestelde naamsverandering vir die instelling die lig gesien het.

Die publiek het Saterdag, 28 Mei, in die gees van Internasionale Museumdag, wat jaarliks op 18 Mei gevier word, die geleentheid gehad om self hul stemme te laat hoor en insae te lewer rakende ’n moontlike naamverandering vir die ATM en die pad vorentoe.

Anders as op 14 Augustus 1875, toe net ’n klein groepie wit Afrikaanse mans die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die hartjie van die Paarl gestig het in dieselfde huis waar die Afrikaanse Taalmuseum vandag gehuisves word, was daar Saterdag ’n kaleidoskoop van kleure, geslagte en ouderdomme in die Paarl se Strooidakkerk se saal teenwoordig om vir Afrikaans in die bres te tree.

Gryskop wit Afrikanermans wat eenmaal gedink het feitlik net die Broederbond en die Nasionale Party praat namens Afrikaans, het Saterdag skouer aan skouer met bruin Afrikaanse aktiviste uit die destydse UDF-dampkring hul stemme dik gemaak teen Mthethwa se skynbare planne om die ATM se naam moontlik te verander.

Van die partye en organisasies wat in die Strooidakkerk se saal byeengekom het, sluit in: die DA, Vryheidsfront Plus, DAK Netwerk, FAK, Afrikanerbond, AfriForum, die onlangs gestigte Kaapse Forum en talle individue en kleiner organisasies.

Nog nooit tevore was daar soveel belangstelling tydens ’n byeenkoms van Internasionale Museumdag nie, het die ATM se direkteur, Michael Jonas, tydens sy verwelkoming aan die gehoor gesê.

Die ATM se direkteur, Michael Jonas (Foto: Menán van Heerden)

Die hoofrede is gelewer deur Beverley Thomas, die direkteur van die Amazwi Suid-Afrikaanse Letterkundemuseum in Makhanda in die Oos-Kaap, wat self ’n naamsverandering ondergaan het. Amazwi (wat “stemme” beteken) is die nuwe naam van die Nasionale Engelse Letterkundige Museum. Die museum het nou ’n mandaat om literêre artefakte van “die inheemse tale” van Suid-Afrika te versamel.

Beverley Thomas, die direkteur van die Amazwi Suid-Afrikaanse Letterkundemuseum (Foto: Menán van Heerden)

Sy het gepraat oor die mag van museums en haar eie museum se transformasieproses. Die gehoor was egter daar om self te praat, nie soseer om te luister nie. Die raadslede van die ATM het langs mekaar op die verhoog gesit en luister terwyl spreker na spreker onomwonde gesê het hulle is nie te vinde vir die minister se skynbare “ononderhandelbare” plan met die Taalmonument se naam nie.

DAK Netwerk se uitvoerende voorsitter, Danie van Wyk, het die monument tydens sy spreekbeurt bestempel het as ’n monument wat in sonde ontvang en gebore is. Van Wyk en sy organisasie het die afgelope tyd al hoe meer op die voorgrond getree as vegters vir Afrikaans. Hy het egter geen geheim gemaak van die Taalmonument se omstrede verlede nie. In die 1980’s en 1990’s was hy deel van verskeie protesaksies teen die destydse apartheidsbedeling. 

Die kultuurorganisasie DAK Netwerk se uitvoerende voorsitter, Danie van Wyk (Foto: Menán van Heerden)

DAK Netwerk se naam verwys na drie taalvaardige Khoi-leiers wat simbolies is van bruin mense se herkoms en erfenis: Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa. Die “Netwerk”-element in die naam gee erkenning aan breë Afrikaansheid en verbintenisse tussen alle Suid-Afrikaners en Afrikaansgebruikers.

“Ek is nie ’n Afrikaner nie, maar ek is onbeskaamd Afrikaans,” het Van Wyk gesê. Hy het geen doekies omgedraai dat die Taalmonument ’n inisiatief van die apartheidsregering was nie. Mense soos hy was heeltemal uitgesluit daarvan. Bruin Afrikaanssprekers is nie eers uitgenooi na die inwyding van die monument in 1975 nie, en hulle kon die monument ook nie besoek nie.

Iéts moes gebeur met hierdie monument wat in sonde ontvang en gebore is, en dit het reeds gebeur, het Van Wyk gesê. Vandag is die ATM ’n baken van inklusiwiteit en meertaligheid. Afrikaans is lankal nie meer die taal van die onderdrukker nie; dit is ook die taal van bevryding, het hy gesê.

Van Wyk was een van verskeie sprekers wat wou weet of die minister al ooit die Taalmonument besoek het en of hy bewus is van die inklusiewe aard daarvan. “Afrikaans is ook ons erfenis en ons is ernstig oor ons erfenis,” het Van Wyk gesê.

Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus het gesê politiek hoort eintlik nie eers by ’n saak soos dié nie, maar daar word nie oop kaarte met die publiek gespeel nie. Iemand jok, volgens Mulder. Terwyl die ATM in ’n verklaring gesê het die minister beskou dit as “ononderhandelbaar” dat die ATM sy naam moet verander om meer inklusief te wees, ontken die betrokke staatsdepartement se direkteur-generaal, vermoedelik, dat die monument se naam in gedrang is, “Iemand jok vir ons en ek dink ek weet wie dit is, want ek glo nie dit is die ATM se raad nie,” het Mulder gesê.

Hy sê die minister het geen benul waarvan hy praat wanneer hy sê die ATM moet meer inklusief word nie. “Daar is altesaam 22 tale wat op die ATM se webwerf erkenning geniet, waaronder al 11 amptelike tale in Suid-Afrika, plus nog 11 ander tale van regoor die wêreld. Dit sluit in tale soos Duits, Frans Spaans, Portugees, Maleis, Arabies, Chinees en Grieks.

Mulder sê ingevolge wet het die minister geen bevoegdheid om die ATM se naam self te verander nie. Die onus rus by die ATM se raad om so ’n aanbeveling te maak indien hulle sou wou. “Daar is niks meer bevrydend as om nee te kan sê nie, en ons sê hard en duidelik nee vir die minister se voorstel,” het Mulder sy betoog afgesluit.

Selfs Ferdinand Rabe, wat veral bekend is daarvoor dat hy in 2001 die eerste wenner van die TV-realiteitsprogram Big Brother in Suid-Afrika was, en die dikwels omstrede bruin politikus uit die dae van Driekamerparlement en voormalige burgemeester van Kaapstad, Pieter Marais, was daar om hul stemme te laat hoor.

Marais, wat deesdae lid is van die Vryheidsfront Plus, het uitgevaar teen wat hy beskou as ’n tendens om alles te wil “ver-Xhosa”. Hy sê as iets nie ’n Xhosa-naam het nie, dan is dit deesdae nie van toepassing nie. “Ons leef in ’n tyd waar die tirannie van die meerderheid aan die orde van die dag is en sommige dink hulle kan maak wat hulle wil solank jy pikswart is.”

’n Hele paar lede van die DA het ook hulle liefde vir Afrikaans verklaar. Die DA-parlementslid Kobus Marais het die gehoor daarop gewys dat Afrikaans een van die mees gesproke tale in die land is en dat dit nie net die taal van wit mense is nie.

Heel links (bo): Pieter Marais; heel links (onder): Ferdinand Rabe; middel: Catherine Snel (International Council of Museums South Africa [ICOM organiseer die jaarlikse Internasionale Museumdag]) en Hybré van Niekerk (kultuur-toergids [Paarl Historical Walk and Tours]); heel regs (bo): Danie van Wyk en Kobus Marais; heel regs (onder): Corné Mulder (Foto’s: Menán van Heerden)

’n Vryheidsfront Plus-stadsraadlid van Drakenstein-munisipaliteit, waarin die ATM geleë is, André Fourie, sê hy was geskok toe hy as raadslid in die DA-beheerde stadsraad waar verreweg die meerderheid mense Afrikaans is, van die DA moes hoor die spreektaal in die stadsraad is slegs Engels tydens vergaderings. Hy vind dit onverstaanbaar dat daar in ’n munisipaliteit soos Drakenstein, waaronder die Paarl val en waar 75% van die mense Afrikaanssprekend is, slegs Engels gebruik word tydens raadsvergaderings.

Die DA en die VF het in Paarl, net voor, en tydens, die Internasionale Museumdag-gesprek, teen die moontlike naamsverandering betoog. (Foto’s: Menán van Heerden)

Die enigste stem in die gehoor wat die deur op ’n effense skrefie oopgelaat het vir ’n moontlike nuwe naam vir die ATM, was Heindrich Wyngaard van Kaapse Forum. Hy wou by die ATM se raad weet hoe hulle die minister verstaan wanneer hy sê “Afrikaanse” moenie deel van die monument se naam wees nie. Wyngaard sê hoewel hy ook gekant is teen enige plan om die naam te wil verander, moet daar ook onder Afrikaanse mense gedink word wat hulle dit sou wou noem as daar dan wel ’n ander naam moet wees.

Volgens hom is Afrikaanse mense kreatief genoeg om iets anders uit te dink as dit dan moet gebeur.

Heindrich Wyngaard, die uitvoerende voorsitter van die nuwe Kaapse burgerregteorganisasie Kaapse Forum (Foto: Menán van Heerden)

Die raad van die ATM het dit deurgaans duidelik gemaak dat hulle gekom het om na die mense te luister en sê hulle sal die saak van hier af verder voer.

Van links: Heidi Erdmann (raadslid: ATM), Gerrie Lemmer (die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur), Michael Jonas, Lionel Adendorf (raadslid: ATM), Anne-Marie Beukes (uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en ATM-raadslid) en Eureka Barnard (direkteur van SASNEV [Suid-Afrikaanse Sentrum Vir Nederland en Vlaandere]) (Foto: Menán van Heerden)

Die raad se voorsitter, Jean Meiring, het gesê hulle bly gefokus op die bevordering van maatskaplike samehorigheid, Afrikaans en ander inheemse tale asook veeltaligheid, en die rol wat hulle in die groter dekolonialiseringsproses speel.

Die ATM-raad se voorsitter, Jean Meiring (Foto: Menán van Heerden)

Die raad se vergadering van die afgelope week is volgens hom in ’n gees van wedersydse respek en met ’n positiewe gesindheid gehou. Geen besluite is geneem nie, en daar sal verdere skakeling met die departement wees. Meiring sê die Taalmonument neem kennis van die openbare sentimente wat die afgelope week en tydens Saterdag se byeenkoms uitgespreek is.

  • Foto’s en video: Menán van Heerden
  • 6

Kommentaar

  • Soos die een spreker gesê het, is die Afrikaanse Taalmonument “in sonde gebore”.
    So ook apartheid, en dié moes gaan en plek maak vir ’n inklusiewe, demokratiese en transformerende bestel wat nie een groep staanmaak teenoor ’n ander nie.
    Gesien buite sy regionale konteks, is Afrikaans ’n lewendige en dinamiese taal wat al wyer uitkring in sy veelheid van dialekte. Inderdaad praat meer nie-wittes vandag die taal en is dit derde op die ranglys van gebruikte tale eie aan Suid-Afrika.
    Dit gesê, hoekom dan ’n monument oprig vir ’n kultuuritem soos ’n taal wat steeds vol lewe en gesond blyk te wees? Is monumente nie vir afgestorwe gebeure en mense nie?
    Die oorsprong van hierdie sarkofaag-tipe vinger wat die hemele penetreer, was só omstrede dat die bestaansreg daarvan vandag deur sommige bevraagteken word.

    John Stephens skryf in Vrye Weekblad:
    “As dit [Afrikaans] in onbruik verval kan mens dalk ’n monument oprig ter herinnering daaraan, maar soos meeste tale, byvoorbeeld Latyn, verval dit nooit in onbruik nie, dit ontwikkel en verander totdat die sprekers nie meer die ouer weergawe verstaan nie. Italiaans is maar moderne Latyn, en moderne Engels is die nuwer weergawe van Chaucer se Engels. Die taal het net nie ’n naamsverandering ondergaan nie, maar die verskil tussen Chaucer se Engels en moderne Engels is net so groot as die verskil tussen Cicero se Latyn en Italiaans.
    My punt is dat ’n monument vir ’n taal is onvanpas.
    Eintlik is dit maar net self-verheerliking.
    ’n Monument deur ons vir onsself, om ons te verlos van ons minderwaardigheidsgevoel, seker.”

    Soos Stephens is ek nie bewus van ’n Venda-, Sotho-, isiXhosa-, Zoeloe- et al taalmonument nie, en is die enigste gevolgtrekking dat die oprigters van hierdie “monument” destyds ’n politieke boodskap van Afrikaner-hegemonie en -nasionalisme wou uitbasuin. Dit was immers opgerig in die bloeitydperk van apartheid en ’n verlengstuk van die dogma en inspirasie van Afrikaner-Nasionalisme wat destyds die Afrikaner-gemeenskap besiel het.
    Dit is moeilik om iets wat só ’n ongure oorsprong gehad het te transformeer en te omskep in ’n samebindende krag ten goede van almal. Ek is nie oortuig dat dit haalbaar is nie.
    Die enigste moontlike opsie wat ’n kans op sukses sou hê en ’n verenigende simbool van alle tale in Suid-Afrika kon weerspieël, is om die struktuur te herdoop as die Nasionale Talemonument.
    Nou dít sal inklusief wees!

  • Uitstekende opsomming deur Jean Oosthuizen van die gebeure/menings van Saterdag by die Strooidakkerk. Geeneen van die sprekers was ten gunste van 'n naamsverandering nie.

    Oor Charl Adams se historiese relaas: Ons het nie meer krag /lus om na sy verbale diarree oor alles onder die son te luister nie.

    Langenhoven sou wou sê: Hoe weelderiger die woord, hoe skraler die gedagte.

  • Ek stem saam, Charl.

    Argitektonies ook laat dit veel te wense oor.

    'n Kreatiewe Khoisan-naam?

  • Hendrik Scheepers

    Slaan die monument plat en bou met die rommel 'n reuse grafsteen vir Afrikaans. Die huidige sprekers/gebruikers verwoes die taal.

  • Barend van der Merwe

    Dit was ’n aangename geleentheid ter viering van Internasionale Museumdag. Kom ons vergeet nie dat dit nie net oor ’n monument gaan nie, maar ook ’n museum. Oor die stommiteit dat monumente slegs vir dooie mense gebou word, hoef mens jou amper nie eens uit te laat nie. Daar is hordes monumente op aarde wat nie oor dooie mense handel nie. Doen bietjie huiswerk. Monumente vertel ons amper ook meer van die gemeenskap wat dit oprig as van die onderwerp van die monument. Monumente is ook ’n wyer konsep as net maar ’n standbeeld. Kerke en ander historiese geboue tel ook as monumente.

    Bykans alles wat die politici herbenoem gaan in elk geval ten gronde. Daar is geen duidelikheid hoe die voorgestelde naamsveranderinge die dorp en die streek gaan affekteer nie, veral ekonomies. Hierdie kabinet hou hulleself met nonsens besig terwyl Rome brand. Daar sal seker ook baie tenders betrokke wees, want elke naamsverandering kos ’n klein fortuin.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top