’n Aangepaste weergawe van ’n voordrag gelewer as die derde Danny Titus-gedenklesing van DAK Netwerk op Saterdag 21 Mei 2022 in die New National Hotel, Parow, Kaapstad. My dank aan Danie van Wyk en die DAK Netwerk-direksie vir hul vriendelike uitnodiging.
I
Jare gelede vlieg ek vanaf New York na Mexikostad. Die vlug is volgepak met terugkerende Mexikane en toeriste. Ek onthou daardie vlug vir ’n voorval wat begin met ’n man wat onbedaarlik huil en niemand, nie die vlugpersoneel of enige iemand anders, kon hom onder bedwang bring nie. Langs my sê my medepassasier in my rigting, "Solo puede ser la muerte" – "Dit kan slegs die dood wees."
Ek het net genoeg Spaans om my oor die ergste hekkies by die doeane in en uit te kry, en al wat ek kan antwoord, "Si." Maar hy is lus vir gesels.
"Eres Cubano," vra hy. Is jy ’n Kubaan?
"No." Nee, ek is nie ’n Kubaan nie.
"¿Eres brasileño?" Is jy ’n Brasiliaan?
"No soy brasileño?" Ek is nie ’n Brasiliaan nie. "Soy sudafricano." Ek is ’n Suid-Afrikaner.
"No," sê hy laggend, beslis."No pareces sudafricano." Jy lyk nie soos ’n Suid-Afrikaner nie.
Ek trek my skouers op en verseker hom ploeterend dat ek inderdaad ’n Suid-Afrikaner is. "No, de hecho soy sudafricano."
’n Tweede soortgelyke voorval vind plaas by die doeanepunt op die lughawe in Nieu-Delhi, Indië. Ek stoot my paspoort oor die toonbank vir die stempel. Die doeaneman kyk op en vra nie soos andere dikwels: "Het jy jou besoek geniet"? of iets dergeliks nie, maar "From where in Kerala are you?" Kerala is ’n deelstaat aan die suidwestelike kus van Indië.
"I'm not from Kerala," sê ek.
"No, you are from Kerala. There are people who look exactly like you in Kerala."
Hy is nie verkeerd nie. Een van my grootvoorvaders aan my ma se kant kom inderdaad van Tamil Nadu, die oostelike buurstaat van Kerala, waarvan Chennai, vroeër Madras, die hoofstad is. Toentertyd het my ma se mense in die Kaap en omstreke as Madras More bekend gestaan.
Daar is ook ’n derde voorval wat ek met Danny gedeel het. Met ons oorgang na demokrasie word ek by ’n span ANC-gesinde taalkenners betrek. Ons is gevra om ’n voorlegging oor ’n toekomstige talebestel aan die bevrydingsbeweging se onderhandelingspan te maak. Ons hou verskeie vergaderings. Na weke en na veel druk kom ons uiteindelik na vore met die kompromie van die 11-tale-bedeling. Tydens ons werk het ons – mense uit verskillende uithoeke – goed saamgewerk. Aanvanklik het ons mekaar nie geken nie, maar ons as kamerade gerig op die vooruitsig van ’n gedeelde gemeenskaplikheid waar ons agtergronde van minder belang sou wees. Toe ons uiteindelik oppak en ek ’n man wat ’n goeie makker geword het, groet, was sy afskeidswoorde "Man, as a Coloured ..." Die res van die groet kan ek nie meer onthou nie. Wat ek wel onthou, is my reaksie. Na die maande van saamwerk, debatteer en kompromieë was sy blywendste herinnering aan my "... as a Coloured .."
Ek is seker dat u almal soortgelyke staaltjies kan vertel. Vir Danny was dit altyd interessant dat hy in Nederland as ’n Antilliaan, ’n Surinamer of ’n Italianer aangesien is. "Je naam Tie-tús vertelt me dat je Italiaans of Grieks bent," het hy eenkeer van so ’n ervaring vertel.
"Nee, mijn achternaam vertelt je dat een van mijn voorvaderen een slaaf was," was sy antwoord. "Ik ben Zuid-Afrikaans."
Baie dankie vir u uitnodiging om die derde Danny Titus-gedenklesing te lewer. Dit is vir my ’n besondere voorreg.
II
Die sin van selfdefinisie en assosiasie – die vrae: Wie is ek en waar pas ek in? – word gevorm deur die anekdotes, die stories, die metafore, die dade, die kulturele belewings, en ervarings van ons lewens. Selfs die grappe wat ons vir mekaar vertel, en wat ons toelaat om vir mekaar te vertel, vorm daardie identiteit, ook hoe andere jou beskou. Hoe hulle na jou kyk en waar hulle jou in hulle boksies plaas. Net so word daardie identiteit en plek gevorm deur dit wat nié gesê word nie, of die erkenning wat van jou weerhou word.
"Ek is ’n Suid-Afrikaner" of "Ik ben Zuid-Afrikaans" of "Soy sudafricano" is uitings wat veel méér sê as net die sinne self. Net soos "Man, as a coloured …" Dié uitings is pregnant met betekenisse, affirmasies en ontkennings, en diep sosiale en persoonlike geskiedenisse. Sulke geskiedenisse is nooit net eenduidig nie, maar altyd uiteenlopend en in die smeltkroes van ons samelewing gevorm.
Die afgelope tyd het daar van owerheidsweë verskeie aksies uitgegaan wat my laat wonder het oor die vrae "Wie is ek?", "Wie is ons?" en "Hoe is ons Suid-Afrikaans?" Veral die status van Afrikaans en Afrikaans as ’n inheemse taal waarvoor DAK Netwerk hulle beywer, het op my agenda beland. Hierdie vrae hou verband met die vraag: "Wie is die nasie?" Dit is enersyds ’n maklike vraag, maar terselfdertyd ook een met soveel aannames, versteekte vooropstellings en subtiele en minder subtiele uitsluitings. Die vraag na inheemsheid is een daarvan. Ek wil hierdie woord en sy onderliggende assosiasies ’n bietjie lostorring en kyk of ek by die vraag oor die nasie kan uitkom.
III
Ek en Danny kom uit wat die sosioloë "dieselfde sosiale formasie" sou noem. Ons is in apartheid gebore en het met apartheid rondom ons grootgeword. Ons kom uit dieselfde agtergrond, dieselfde buurt en dieselfde skool. Trouens, van standerd 6 tot matriek was ons in dieselfde klas aan Esselenpark Hoër in Worcester. Ons het saam in 1976 as regstudente aan die Universiteit van Wes-Kaapland begin studeer. Ek is op ’n dag na vier maande jonger as Danny, en soos die toeval dit wil hê, sterf hy op my verjaarsdag. Oor die loop van ons vriendskap van meer as 50 jaar het geskilpunte oor identiteit, plek, die aard van Suid-Afrikanerskap en ons sosiale formasie dikwels in ons gesprekke opgeduik.
Vir jongmense wat hul weg deur die lewe moes baan, was Worcester ’n interessante plek om op te groei. Dit was die toonbeeld van ’n apartheidsdorp. Durbanstraat, Leipoldtlaan en die R60, die Worcester-Robertson-pad, was die groot skeidslyne. Noord van Durbanstraat en dele van Leipoldtlaan was die wit bodorp; suid was die bruin onderdorp; en oos, oorkant die R60, die lokasie, Zwelethemba. Ek onthou nog die beroeringe toe, in die laat 1960's, die sittende volksraadlid vir Worcester besluit het dat sy party, die Nasionale Party, te links is en weggebreek het om die Herstigte Nasionale Party te vorm.
In Worcester het mense fiets gery of geloop van huis na werk. Hulle het gearbei, meesal as werknemers by die munisipaliteit, in fabrieke, in die openbare en private dienssektore. Vir die werkloses was daar die seisoenale uitkoms van stukarbeid op plase. Talle was bediendes, tuinjongens en handearbeiders. Daar was diegene wat as bou-aannemers, winkeliers, koekverkopers, skoenmakers, kleremakers of haarkappers hul eie potjie gekrap het.
Worcester het besonder ryk sport- en kultuurtradisies wat tot ons vorming bygedra het. Sommige van daardie tradisies is standhoudend en mense keer jaar na jaar terug om dit te vier, want die meeste Worcesteriete ken net één dorp. Hulle is uit hierdie stuk Afrika-grond. Hulle kom van nêrens elders nie. Hier is hulle en hulle voorouers se naelstringe begrawe. Hulle is deur bloed en deur die geskiedenis geanker aan hierdie plek.
Hulle ken net hierdie dorp van berge. "Worcester is surrounded by mountains," het ons in die Engels-klas in die laerskool geleer. Oos, die Keeromberge; noord, die Hexrivierberge; noordwes, die Limiet-, Elandskloof-, Klein Drakenstein- en Slanghoekberge; en wes, die Du Toitskloof-bergreeks. Trouens, van my durende herinneringe aan Danny is ons matriekafskeid in die Brandwachtberge en hoe ons in die wintermaande op ons fietse gereeld na die oorstroming van die Breederivier gaan kyk het.
Worcester was ’n dorp met toonaangewende opvoedkundige inrigtings en ’n onderwyskorps wat die kern van ’n relatief beduidende middelklas gevorm het. Die onderdorp was ’n plek met teenstrydige politieke onderstrominge wat gestrek het van uiters links tot uiters regs met leidende gemeenskapsleiers op talle gebiede. Daar was godsdiensgenootskappe met doelbewuste anti-apartheidsingesteldhede.
Vir meelewende jongmense was daar veel om te leer en te beleef. Alhoewel dit seker nie met alle jongmense die geval is nie, was dit hier waar ons geleer het om bewustelik anti-apartheid te probeer leef. Uit die uitsprake en optredes van onderwysers of gemeenskapsleiers wat bande met die Non-European Unity Movement gehad het, het ons geleer dat alle mense gelykwaardig is en dat die praktyk van rasklassifikasie bestry moes word. By die Federale Party het ons gehoor dat die stelsel tot ons voordeel is. Uit die monde van die leiers van die Arbeidersparty het ons gehoor dat jy teen apartheid kan wees, maar steeds aan die stelsel kan deelneem. In die Black Consciousness-era het ons ’n ingesteldheid van trotse selfdefinisie en selfhandhawing geleer, terwyl die enkele ondergeduikte lede van die African National Congress ’n gewapende militantheid probeer aanwakker het. In Worcester het ons ook die beperkings van ons omgewing besef, en uitgereik – nie sonder risiko nie – om gemene saak te maak met die mense aan die ander kant van die Worcester-Robertson-pad.
Uit al hierdie dinge, die belewinge en invloede het ons geleer. Sommige het ons aangeneem en omarm, maar van andere afstand gedoen. Wie en wat ons in ons latere lewens sou word, is regstreeks terug te voer na hierdie sosiale formasie, die plek, die streek en die ervarings wat ons gevorm het. Worcester was en is oor al die geledinge van sy bevolking grootliks Afrikaans. Is dit enige verrassing dat beide ek en Danny ons in ons latere lewens met Afrikaans sou bemoei? Dit is ons wêreld. Ons spruit uit daardie rooibruin, klipperige aarde met sy Afrikaanse mense. Dit is uit hierdie stukkie aarde dat Danny kon sê: "Ik ben Zuid-Afrikaans."
IV
Vandag word algemeen aanvaar dat dit wat ons "ras" noem, nie biologies verantwoordbaar is nie, ’n insig wat die Unity Movement-voorstanders reeds in die jare vyftig en vroeër wyd verkondig het. Maar rassisme bestaan inderdaad. Dit is ingebed in die ordening van ons samelewing, in die beelde, woorde en begrippe wat ons vir onsself het en wat ons in ons verhoudings met andere waarneem of verkondig. In ons teenstand teen rassisme en apartheid moes ons leer om ánder beelde en begrippe te vorm.
Carl Linneaus het die mensdom geleer om die natuurlike wêreld te klassifiseer. Om te klassifiseer is om te orden. Dit is eers wanneer ons geklassifiseer het dat ons betekenis kan genereer. Klassifikasie gee aanleiding tot verdere aksie – "’n hele klomp goed vind hulle plek," sê die kultuurteoretikus Stuart Hall.i Daar is egter ’n tweede belangrike punt, naamlik die uitoefening van mag. Die stelsel van klassifikasie word die objek van mag. Die een groep word beklee met meer positiewe waarde as die ander. Verskille en ooreenkomste word gebruik om te klassifiseer en so een groep op ’n voordelige manier te behandel en andere uit te sluit of daardie middele te ontsê. Ons almal het bittere ervarings van koloniale en apartheidsgeskiedenisse van klassifikasie.
Dit bring my by die huidige gesprek oor die inheemsheid van Afrikaans. Volgens die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se taalraamwerk wil hulle "Bantoetale" as akademiese tale bevorder. In ’n omslagtige beskrywing word inheemse tale beskou as "tale wat hul erfeniswortels in Afrika het en waarna in die literatuur en sommige beleidsdokumente verwys word as Afrikatale en (wat) behoort aan die Suid-Bantoe-taalfamilie met 'Bantoe' wat bloot as ’n linguistiese begrip gebruik word." Dan gaan die omskrywing voort: "’n Inheemse taal is ’n taal wat inheems is aan ’n streek of land en deur inheemse mense gepraat word."
Volgens mediaberigte is die verantwoordelike minister intussen geadviseer dat Afrikaans en Khoitale inderdaad inheems is. Ons moet egter nie dink dat sodanige advies die probleem van gelykberegtiging vir Suid-Afrikaanse tale gaan oplos nie, want die klassifikasie van "inheems" en "nie-inheems" is ’n manifestasie van iets dieperliggends. Die laaste sin van die omskrywing is sprekend: "’n Inheemse taal is ’n taal wat inheems is aan ’n streek of land en deur inheemse mense gepraat word." Hier gaan dit dan nie nou net meer oor taal as sodanig nie, maar word die waarde van inheemsheid uitgebrei na die bevolking, die mense. "Inheemsheid" kry nou ’n dubbele buffer: nie net die taal nie, maar ook die mense.
Die stelsel van klassifikasie word die objek van mag, sê Hall. Die taalraamwerk as ideologiese instrument skep die eenvoudige tweedeling: die inheemses teenoor die nie-inheemses. In die uitoefening van staatsmag word die eerste kategorie met positiewer waardes beklee as die ander. Wat oënskynlik ’n eenvoudige begrip is, omvat soveel bybetekenisse en ondertone. "Inheems" is om ’n inlander, ’n inboorling te wees; om te behoort tot ’n besondere streek; om geheel en al aan, in hierdie geval, tot die kern van ’n taal te behoort. Maar betekenis word nie net gevorm deur dit wat uitgesê of opvallend teenwoordig is nie, maar ook dit wat nié gesê word nie. Dit wat afwesig is. Dit is die betekenisse van "nie-inheems", naamlik om uitlands of ’n uitlander te wees, om ’n indringer te wees, om nie te behoort nie, om nie suiwer te wees nie, om nie tot die kern te behoort nie.
Die Departement van Hoër Onderwys reken dat die metafoor "inheems" se betekenisinhoud stabiel is. Dit is egter nie stabiel nie. Gewoon die assosiasie "inboorling" roep kolonialisme en apartheid in sy volle geskiedenis en omgang op. Dink aan die konsepte wat oor die jare daarmee geassosieer is: woorde en name soos "onbeskaaf", "barbaars", "Hêrrie", "Doman", "Eva", "Hottentot", "Bosjesman", "kaffer", "native", "Bantoe". Betekenisse vergly en verander. Die woord is nie eenduidig nie. Dis reg. Ons kan nie een betekenis saniteer en dink dat die res van die betekenisse, in dié geval, betekenisse van verdrukking, nie oombliklik as skimme saampraat nie. Ons moet dit verreken, en waar nodig bestry, maar dit ignoreer of onderdruk kan ons nie.
Die departement wil hê dat "inheems" assosiasies soos "outentiekheid", "suiwerheid" en "smetteloosheid" moet oproep, maar daar is min suiwer aan die inheemse. ’n Mens het slegs nodig om op die oppervlak te krap om te weet dat inheemsheid net ’n rofie diep lê. Dink maar net aan woorde soos "pen" of "potlood" wat uit Europese tale oorgeneem en in "die Suid-Bantoe-taalfamilie" omvorm is. In die Sothotale heet ’n pen onder meer pene; in Tshivenda peni; in Xitsonga phene. Na aanleiding van die Engelse pencil heet ’n potlood in die Ngunitale ipensela of ipensile; in die Sothotale phentsele of phensele; in Tshivenda penisela en Xitsonga
pensele. Uit Middelnederlands via Afrikaans en Engels het hierdie tale die woord boec oorgeneem en omvorm. In die Sothotale heet "boek" puku of buka; in Tshivenda bugu; in Xitsonga buku. Die meeste tale in die "Suid-Bantoe-taalfamilie" het hul woorde vir "tafel" oorspronklik uit Afrikaans omvorm. Die klanke verraai telkens daardie herkoms: itafula (Ndebele), itafile (Xhosa), itafula (Zoeloe), tafola (Sepedi), tafole (Sesotho), tafole (Setswana), litafula (Siswati) en tafula (Tshivenda en Xitsonga).
In al hierdie gevalle dra inheemsheid die spore – die besoedeling – van die nie-inheemse. Die inheemse het verword, en is nie suiwer of outentiek nie. Die inboorling en die indringer staan penregop langs mekaar in dieselfde sin. Die indringer het trouens aangepas tot ’n inboorling. Het nie-inheemsheid inheems geword? Waar lê die grense van inheemsheid dan, want suiwer is nie meer suiwer nie?
Geld wat vir tale geld, ook vir mense? Kan die mense van Worcester hulle naelstringe uit die klipperige, rooi grond opgrawe en elders verplant? Kan Suid-Afrikaners van gedeeltelike nie-Suider-Afrikaanse herkomste hulle lang geskiedenisse ophef en verplaas?
Die bevordering en intellektualisering van plaaslike tale is nastrewenswaardig en noodsaaklik. In die gewone gang van sake kan "inheemsheid" bloot ’n klassifikasie wees, omdat dit ’n toestand of ’n stand kan aandui. In die hande van die regering het dit egter ’n uitsluitende magsinstrument geword. Die kategorie "inheemsheid" het ’n poort tot staatshulpbronne en bevoordeling en ’n maatstaf vir uitsluiting geword.
V
Daar bly nog die dieperliggende vraag, naamlik: Hoe is ons Suid-Afrikaans? Is inheemsheid ’n voorwaarde vir Suid-Afrikanerskap? Hoe lyk die nasie dan? Wie word ingesluit en wie word uitgesluit? Die fundamentele vertrekpunt van ons Suid-Afrikanerskap is die Grondwet wat gelykwaardigheid vir alle burgers waarborg. Talle mense uit die rooibruin grond van Worcester oor al sy geledinge heen het, soos miljoene ander, konstant ’n eerbare stryd om gelykwaardigheid, geregtigheid en regverdigheid in hierdie land gevoer. Hoekom is dit dat ons toenemend daarop moet aandring dat die edele beginsels van gelyke burgerskap behou en uitgebou moet word?
Die soeke na ’n uitsluitende "inheemsheid" is teen die wese van ons Grondwet. Niemand van ons kon ons oorspronge kies nie. Hoe mense wil identifiseer en met wie hulle vir assosieer is ’n fundamentele reg. Ja, die regering het die dure plig om reg te maak, te herstel en uit te bou. Ons kan en moet ons verbintenis tot ’n gemeenskaplike toekoms werklik nastreef. Dit beteken egter nie die aktiewe ondermyning, verwaarlosing en demonisering van wat individue en kulturele groeperings as waardevol en dierbaar beskou nie. Hoe ons ons as Suid-Afrikaners uitdruk, sal nooit stabiel wees nie, maar ons gemeenskaplikheid berus in respek vir ons diverse geskiedenisse.
Dit is onrusbarend dat ons toenemend die kruipende tentakels van ’n eng etnonasionalisme sien posvat. Eers in enkele opmerkings, dan in beleidsfluisteringe, dan in klein en groterwordende aksies, dan in staatsadministrasie totdat dit as die natuurlike gang van sake gesien en beleef word. Etnonasionalisme is ’n bron van vervreemding, uitsluiting en helaas, vreemdelingehaat. Om ’n Suid-Afrikaner te wees, beteken nie eenselwigheid nie.
In die suide van Afrika het ’n slaaf uit die hartland van Tamilsprekende Indië ’n heenkome gevind en ’n nageslag nagelaat, net soos voorvader Titus wat in sy naam die geskiedenis van verdrukking dra. Ons kan op uiteenlopende maniere Suid-Afrikaans wees, en daarvoor is inheemsheid nie ’n voorwaarde nie. Suid-Afrika behoort aan ons almal. Dit is waarvoor ons ons moet beywer.
Eindnota:
i Daar is egter ’n tweede belangrike punt, naamlik die uitoefening van mag. Die stelsel van klassifikasie word die objek van mag. Die een groep word beklee met meer positiewe waarde as die ander. Verskille en ooreenkomste word gebruik om te klassifiseer en so een groep op ’n voordelige manier te behandel en andere uit te sluit of daardie middele te ontsê. Ons almal het bittere ervarings van koloniale en apartheidsgeskiedenisse van klassifikasie.
Kommentaar
Dan dink ek nou aan eind paragraaf, om ander uit te sluit en te klassifiseer. Deesdae is jy uitgesluit as jy "wit is uit vorige bevoordeelde verlede"? Dink aan regstel aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kanseleer kultuur ens ens.
Die ideale reënboognasie sal nooit realiseer nie, selfs met geforseerde etniese amalgamasie nie, waarna wetgewing en sosiale bewegings neig deesdae.
Dankie Professor Hein Willemse! Iemand moet die artikel vertaal in Engels en dit aan Minster Blade Nzimande stuur. Dié is ons grootste probleem. Wanneer jy in Afrikaans skep, praat of skryf, preek vir die bekeerdes en jy bereik nie die's wie eint'ik bereik moet word nie soos die huidige bestel hulle wie nou in beheer is nie. Hulle sien ons Afrikaanses as 'n klomp Boereboeties of Meelopers. (Die tweetalige woorde boek sê dit is wat 'n collaborator in Afrikaans genoem word.) Daar is foto's van DAK Netwerk se optog - ons opmars na die kantore van Blade Nzimande in Pretoria wat ironies vanaf die Anglikaans Katedraal St Albans begin het. Die plakkate was almal in Afrikaans en weet nie of dit 'n impak op die minister gemaak het nie. Want selfs ons versoekskrif wat deur 'n personeellid in ontvangs geneem is het geen reaksie uitgelok nie. Ons is tot op dese nog geen antwoord ryker nie. Hy vee hom daaraan af! Selfs die nuusberig op E-Nuus het ook niks uitgelok nie!
Die "Wie is ek"-vraag het seker al deur die kop van Pieternella (dogter van Krotoa) gemaal met haar 50% inheemse en 50% Europese gene. Miskien nog erger by haar kinders, 66,6% Europees teenoor 33.3% inheemse gene.
Teen 2010, na 'n genoomwye ontleding deur die Mediese Navorsingsraad se sentrum vir Molukulêre en Sellulêre Biologie te Stellenbosch, is die bevinding: "Bruinmense van Suid-Afrika is een van die geneties mees diverse groepe ter wêreld.
ONOMKEERBAAR vermeng, nie eers ystervarkpenne kan die situasie omkeer nie. Die bloed van die nasies van die wêreld vloei deur ons are (reeds VERSOEN).
Ons is ALMAL se familie!
Ons Goddelike roeping; die rekonsiliasie van nasies met die WARE GOD (nie die son of die feniks of die piramied of die lotusblom, wat as simbole van afgodery, bokant ons afbeeldings, binne die kosmiese eier, "easter egg", geplaas is nie)! Ook die rekonsiliasie van nasies met mekaar.
IDENTITEIT is die belangrikste skakel wat enige indiwidu of volk het met sy verlede, toekoms en Goddelike roeping. Ingebou in ons identiteit is ons "Redemptive Calling".
Ons durf dit nie mis nie!