Danny Titus (19 Mei 1957 – 18 September 2020)

  • 7

Esselenpark Hoër, 10B. Danny Titus (tweede ry, tweede van links); Hein Willemse (derde ry, derde van regs); Abe Glam (derde ry, vierde van links); Valerie Fortuin (tweede ry, eerste van regs) - foto: Mildred van der Ross

Nadat Danny Titus op 28 Julie in ’n koma verval het, het ons, ’n klomp van sy jeugvriende, gereeld nuus geruil en navraag by sy familie gedoen. Ons het op ’n ander uitkoms gehoop, tog het ons stilweg geweet dat die einde onvermydelik is. Nogtans was die berig wat ons laataand, 51 dae later, op 18 September 2020 gekry het, ’n skok.

“Ek het Danny Titus op 11 Januarie 1972 ontmoet. Hoekom is ek dan so hartseer?” Dit is ’n WhatsApp-boodskap van Trevor Puley. Ook Brian Wilson se woorde is sprekend. Daar is “‘n diepe droefheid en gemis wat moeilik verduidelik kan word … gemeng met ’n gevoel van eensaamheid.” Dis twee van Danny se oudste vriende.

Ook ek het ’n lang pad met Danny geloop. Die oggend na sy dood het ek kiekies uit 1975, ons matriekjaar, bekyk. Die meeste is uit fokus, maar op die enkeles staan hy duidelik uit, meesal as voorbok. Op ’n swart-en-wit klasfoto wat ek met die hulp van my klasmaats Abe Glam en Valerie Appollis in die hande gekry het, staan ons vroom in ons skooldrag. Ons, 10B, die leerlinge van die akademiese baan op Esselenpark Hoër. (Destyds was 10A die tegniese baan en 10C en 10D die handelsbaan).

Al die mense op ons klasfoto het nuttige burgers geword, nie net plaaslik nie, maar ook elders. Die meeste het naskoolse kwalifikasies verwerf, meer as twee-derdes is universiteit toe. Hulle het hul paaie deur die lewe geloop as onderwysers, onderwysadministrateurs, akademici, verpleegsters, uitvoerende amptenare, sakemense, sekretaresses, versekeringsagente, predikante, maatskaplike werkers, advokate en prokureurs. Tog, ten spyte van ons entoesiasme, het nie een dit egter op die verhoog gewaag nie. Daar bestaan darem bewyse van Danny.

In sy rol as Laertes in ons matriekopvoering van Hamlet onder spelleiding van ons klasonderwyseres, Mariëtta Nel. (Foto: Dezlin Lourens)

Onder ons was Danny reeds ’n leier van formaat, standvastig, dikwels omstrede, maar altyd bereid om sy standpunte te verdedig.

Reeds voordat ons in standerd ses (nou graad 8) in dieselfde klas beland het, het ons mekaar geken, as gedugte opponente: die span van Afrika-, Buitekant- en Lynersstrate teen dié van Hartwig-, Söhnge- en Van Zyllane. Ons het rugby op die groen vlak voor Danny-hulle se huis gespeel en krieket op die gruisvlak neffens Esselenpark se sportgrond, ons tuisveld. Vir die krieket op ons gruisvlak was skoene nodig, maar g’n mens speel vlakkierugby met skoene nie. Ons het nie veel tyd gehad vir sissiespele soos sokker nie. Meesal het die kompetisie gelyk verloop, behalwe die keer toe die Strate se openingskolwers, insluitende die uwe, 136 onoorwonne lopies aangeteken het. Met die tanende son en Danny-hulle wat nog nie gekolf het nie, het een van sy manne besluit om sy kolf en bal te vat en aandete te gaan eet. Die volgende middag het dit ernstige onderhandeling gekos om die Lane terug te kry met die belofte dat hulle eerste kon kolf ongeag die loot. Ons het dié keer gesorg vir ons eie kolwe en tennisbal.

Danny Titus en skoolmaats, 1975a

In Danny se ouerhuis, op die agterstoep naas die seunskamer, het ons veerpyltjies gegooi, en op die voorstoep, kaart, domino’s en kerim gespeel. By ons huis was daar plek in die garage vir tafeltennis met Pat Strauss en Danny wat dikwels onoorwonne was. By die Van Wyke het ons nuuskierig om ’n tafel saamgedrom om te kyk of die gees inderdaad die glasie skuif en vreeslik teleurgesteld huiswaarts gekeer toe oom Dawid die lig aanskakel. Toe ons ouer word, was daar huisdanse en partytjies oral in die buurt, by die Hornes, die Solomonse, die Wilsons, die Van Wyke, die Titusse, die Ortells, die Groves. Later moes die huispartytjies plek maak vir langarmdanse. Daar was altyd ’n geleentheid tot stywing van fondse vir ’n sport- of ’n toerklub of een of ander vereniging. Saterdae was tyd vir klubrugby en klubkrieket, of alternatiewelik, die double features in die Maywood wat die Makadams langs die munisipale swembad opgerig het. Dit was ook die plek waar ’n yo-yo-kampioen soos Aubrey Solomons sy tolle walkies kon laat doen, swaaie geswaai of tou kon laat klim het. Danny het opgegaan in sy kerk se jeugvereniging, en saam met die Van Wyk-susters het hulle sangaande gereël — soos gebruiklik tot stywing van fondse. By een van dié het Brian Wilson selfs Elvis oortref met sy roerende weergawe van “The wonder of you”.

Danny Titus en Brian Wilson tydens die toekenning van Worcester se ereburgerskap aan Danny, 2019

Ons was rou tieners toe die politiek op Worcester aangeland het met Sonny Leon wat sy Arbeidersparty se beleide kom verkondig het. Tom Swartz van die Federale Party het hom nie verwerdig om Worcester se stof op sy skoene te kry nie. In die verwarrende tye van die Verteenwoordigende Kleurlingraad-verkiesings het ons spannetjie maats na Leon, die afgetrede regiment-sersant-majoor van die Kaapse Korps, in die gemeenskapsaal gaan luister. Ons het saamgestem: dié man het sy saak oortuigend gestel. Die volgende dag moes ons egter uit ander oorde verneem dat hy eintlik ’n quisling is. Wat ons betref, kon ’n quisling iets soos kasterolie of purgasie gewees het. Nie dat die aankondigers van dié oordeel self geweet het waarvan hulle praat nie. In heftige debatte kon ons in die weke daarna met jeugdige bravade ons oordeel fel: Sonny Leon, Tom Swartz, die hele VKR-spul is quislings!

In ons debatte het Danny gedink dat ons die Arbeiders moes uitluister, want van die voorste Arbeiders was gesiene mense in Worcester. In die openbaar was die Teachers’ League of South Africa- (TLSA-) manne stil. Dié formuleerders van quisling het in die geheim gekoukus. Hulle beleid van non-surfacing help nie, het Danny gesê, hulle sit nie hulle kaarte op die tafel nie. Met nabaat was dit te begryp. Vir die TLSA-mense was die nasleep van die verbanning van Willem van Schoor, hul leier en ’n lektor aan Söhnge Opleidingskollege op ons dorp, RO Dudley, en die jare lange vonnis van Neville Alexander en sy Yu Chi Chan-makkers nog vars in die geheue.

Danny Titus en skoolmaats, 1975b

Reeds op hoërskool, maar veral op universiteit, het ’n wêreld van teenstrydighede vir ons oopgegaan. Ons plattelanders, die boejongens van die Boland, moes vinnig leer aanpas in die stad. Ons wat nog nie eens ’n behoorlike politieke taal- of sosiale identiteit verwerf het nie, moes ’n nuwe versetstaal en identiteit aanleer. Danny het op LitNet geskryf oor sy universiteitervarings en sy betrokkenheid by die Swartbewustheidsbeweging (wat terloops ’n akkurater vertaling vir “Black Consciousness Movement” as “Swartbewussynbeweging” is). Daardie oorgang het ons hele geslag getref, maar spesifiek ook dié van ons wat na die Universiteit van Wes-Kaapland is. Wat as ’n “universiteit vir Kleurlinge” opgerig is, is verwerp, net soos die apartheidsbeleid. Dit is juis daar waar ons anders moes leer dink.

Niks hiervan was ’n gegewe nie, want ons is werklik die eerste geslag van apartheid. Die dorp wat ons geërf het, was een van volmaakte segregasie. ’n Dorp volmaak in die apartheidsregering se Kleurlingvoorkeurbeleid. Hier het die wit mense in die bodorp gewoon. Die bruin mense en die Indiërs is verskuif na die onderdorp, onderkant Durbanstraat, met net die NG Sendingkerk en -pastorie, Rocksole se skoenmakery en Naratam se apteek oorkant die wit Lutherse Kerk as oorblyfsels van ’n vorige era. Die swart mense is uitgerangeer na Zwelethemba tussen die spoorlyn, die Worcester-Robertson-pad en die Evkomkragstasie (voordat Evkom ’n ploeterende, korrupte Eskom geword het). In die 1960’s en 1970’s was daar min mense wat die geskiedenis van die werkersopstand van 1930 onthou het. Niemand meer kon die name of stories van leiersfigure soos Arnold Plaatjies, Bransby Ndobe, Elliot Tonjeni of James Thaele herroep nie.

Op universiteit moes ons ’n nuwe woordskat aanleer om anderkant apartheidisolasie te kom. Woorde van verset soos quisling, wat ons op Worcester geleer het, het deel van ons groter politieke woordeskat geword. In Worcester het ons, ’n aktivistegroepie wat Danny ingesluit het, in weerwil van ’n besoekverbod selfs Zwelethemba gaan besoek. Ons moes leer sin maak van wat dit beteken om anti-apartheid en inklusief te wees, om oor die grense van etniese afsondering te reik.

Tog het ook dié tyd sy eie kontradiksies gehad. Die meeste van ons wat universiteit of onderwyskollege toe is, was beurshouers – meesal staatsdiensbeurshouers. Regstudente soos ek en Danny, en ander van ons Esselenpark-klasmaats, kon vir ons LLB-studie ’n Departement van Justisie-beurs kry wat uiteindelik daartoe sou lei dat ons vir ’n paar jaar as staatsaanklaers moes werk. Vir my was dit nie ’n opsie nie. Danny het na voltooiing van sy LLB-graad as aanklaer in Boksburg begin werk, ’n verskuiwing wat van meet af aan sy eie uitdagings gehad het. Met een van sy eerste sake het hy laat en uitasem by die hof opgedaag met ’n klagstaat wat hy kwalik onder oë gehad het. In sy haas het hy net die frase “the victim alighted from the bus” raakgelees. Toe die landdros vra waaroor die saak handel, antwoord hy blykbaar met aangeplakte selfvertroue, “My Lord, my matter deals with the arson of state property.” Die Afrikaanse landdros moes hom toe daar en dan reghelp: “Meneer Titus, ‘alight’ het niks met vuur te doen nie … die man het van die bus af-ge-klim.”

Die vergissing was beslis nie vanweë Danny se taalonvaardigheid nie. Inteendeel, hy was wel ter tale. Op skool was hy een van juffrou Ria Ricketts (later Olivier) se beste Duitse studente, en hy het Afrikaans en Engels welluidend gepraat en geskryf. Op ’n stadium het hy selfs Zoeloe-klasse geneem. Ek was verbaas toe ek en my vrou in die vroeë 1990’s by hom en Lynda in Leiden gaan kuier, hoe hy binne die eerste maande Nederlands stromend met ’n opgewekte ritme gepraat het. “Jy moet net die wysie aanleer,” het hy aanbeveel.

Sy studie aan die Universiteit Leiden het vir hom en Lynda nuwe wêrelde oopgemaak. Lynda het opgegaan in die werkinge van Montessori-onderwys en later terug in Suid-Afrika in Roodepoort haar eie traumaberadingspraktyk bedryf. Danny het ’n kwalifikasie in internasionale verhoudinge en diplomasie en sy Drs Juris, gelykstaande aan ’n LLM, verwerf. Vir sy LLD-proefskrif skryf hy oor “The applicability of the international norms of human rights to the South African legal system – with specific reference to the South African Judiciary” (1993).

Ek onthou dat hy met geesdrif gepraat het oor sy Geneefse verblyf, waar hy by die Verenigde Nasies regstreeks die aandrang vir erkenning van inheemse mense oor die wêreld heen ervaar het. Dit is in Leiden waar Danny sy sensitiwiteit vir die erkenning van “eerste nasies” en inheemse bevolkings opgeskerp het. In die magspel van politieke regimes ook in Suid-Afrika gebeur dit met reëlmaat dat die reg op waardigheid en gelykheid van diegene onderdruk word.

Dit is sy jare lange verblyf in Johannesburg, maar veral sy ervaring van internasionale menseregte, wat na sy terugkeer regstreeks gelei het tot sy duideliker fokus op menseregte in die algemeen. Veral “die belange van bruin mense” het sy aandag geverg, omdat hulle langer as enige groepering in die land verguising en onderdrukking ervaar. ’n Toestand wat hy gemeen het in die huidige staat tot verwaarlosing en agteruitgang op vele gebiede gelei het. Vandag is dit een van die geledinge van sy openbare lewe wat mense onthou. Tereg skryf Lionel Harper, een van ons mederegstudente: "You also made us think deeply about our origins, our identities and our cultural and historical tracks, thereby developing flexible perspectives, moving us away from seeing our world only in black and white.”

Die laaste dekade van sy lewe het hy gewy aan die bevordering van menseregte, die DAK-netwerk en veral sy rol as leidende figuur in die ATKV. Ek onthou dat hy my in die loop van 2008 gebel het om ’n afspraak te reël, en ons oor koffie voor die Aula op die kampus van die Universiteit van Pretoria gepraat het. “Vertel my van die binnepolitiek van Afrikaans,” het hy gesê. “Wat dink jy van die ATKV? Het jy vir my alternatiewe leesstof?” Die res is geskiedenis. Die meeste huldeblyke die afgelope paar dae gee blyke van wat hy sedertdien bereik het. Ook in sy geboortedorp het hy die aandag getrek en ontvang hy in 2019 hul ereburgerskap.

Sy familie en kinders, Dalene en Neriska, het ’n sorgsame broer en pa verloor. Ons het ’n goeie vriend verloor. ’n Mens het nie nodig gehad om met Danny saam te stem om sy leierskap, welsprekendheid en skerp intellek te waardeer nie.

Ek sluit af met die woorde van Lionel Harper: “Your compassion for the marginalised … is a torch that shall never be dimmed. It will burn brightly in our minds and hearts. Silahlekelwe yintsizwa – we lost a strong and formidable warrior”; Trevor Puley: “Danny was ’n lekker mens om te ken, interessant in doen en late, maar gestaan waarvoor hy gestaan het”; en  Cecyl Esau: “Ek koester sy nagedagtenis. Mag sy strewe vir ’n menswaardige lewe vir almal nagestreef word. SALUTE!”

Kleinkrantz, Wildernis

20 September 2020

  • Foto’s verskaf

 

  • 7

Kommentaar

  • Mildred van der Ross NEE Kleintjes

    Pat Strauss 3de ry, 1ste van links.
    Mildred Kleintjes 1ste ry, 3de van links.
    My foto van ons matriekklas travel nou ver, nè Hein.

  • Francis Charles Sonn

    Dankie, Hein, vir ’n voortreflike blik op die lewe van Danny. Hierdeur het ek voorwaar ’n duideliker beeld verkry van die groot gees wat ons verloor het. Mag sy siel in vrede rus...

  • Pragtige huldeblyk, prof Willemse, soos net jy kan. Die lewe voel armer sonder Danny. 😢

  • Raymond Modicaine

    Pragtig gestel. Ek het in 1975 op Esselenpark aangekom as standerd 7 en ken bietjie van die leerders. Dis vir my ’n voorreg.

  • Die huldeblyk erken 'n groot Gees wie se nalatenskap altyd respekteer sal word. Ek onthou die ontslapene vaagweg by een van ons onderwysforum vergaderings iewers in die laat 80s, in die Paarl, as ek reg is. Hy was toe die spreker en het toe al uitgestaan... My innige simpatie met sy dogters, familie en vriende.

  • Avril Fillies

    Ek het Danny in 1974 ontmoet toe hy en Madge Rooskrantz Esselenpark en ek en Samuel Fortuin John Ramsay by die leierskapskursus by Schoonspruit in Malmesbury dit bygewoon het. Ek het hom in Maart saam met een van sy dogters by die Tygervallei-sentrum gekry toe ek saam met Rasta Rasivhenge gaan eet het. Deur die jare het ons per e-pos of tydens sy besoeke aan Rapport in Kaapstad gesels en hy kon nie verstaan hoekom ek nou eintlik 'n joernalis met 'n passie vir rugby geword het nie, want hy het my as 'n dosent/juffrou gesien. In 1976 het ek hom weer as eerstejaar ontmoet en hy is en was dieselfde mens wat ek in 1974 ontmoet het. Ek moes hom tydens sy besoek aan Kuilsrivier laat weet wanneer ek weer in Pretoria vir sport is, dat ek vir hom kon kom kuier by sy huis. Rus sag Danny. oogoperasie ondergaan

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Dankie Professor Williemse. Ek stem saam met Dianna Ferrus! 'n Huldeblyk soos net JY kan! Ek het baie hieruit geleer van die Danny met wie ek menigmale mee kon verkeer. Hy was my en my Drama Groep Anthony Wilson Produksies wat nou nog Teater in Die Opvoeding (TIO) produksies doen en opvoer by die Hoërskole baie goedgesind. Hy’t ons altyd met fondse, Raad en hulp gesnel en nie geskroom wanneer ek gevra het nie. Hy was enig in sy soort. Ek is bly dat ek hom beter uit jou huldeblyk leer ken het veral omdat hy ‘n kranige akteur in Shakepspeare nogal was. Nes hy het ek Hamlet self gespeel van hier tot in die Oos Kaap. Dit is nog steeds een van my gunsteling Shakespeare produksies. Mag hy in vrede rus. Soos ons in die Anglikaanse kerk altyd reageer wanneer die predikant sê,"May he rest in peace!” en ons respons is dan, “And rise in glory!" Till we meet again Danny Titus! Dis net soos Michael Jackson sing,"Gone too soon!" Maar God weet beter ons wik maar net. Dalene en Neriska - Sterkte! Mag die grootste trooster julle troos en help deur dié moeilike tyd. Glo my al die hartseer SAL eendag oorgaan in tere en mooi herinneringe! Strongz!!! Dankie Professor Williemse.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top