Ons het ons verlede vergeet

  • 3
dannytitus650

Danny Titus (foto: Naomi Bruwer)

Mens kan die toesprake al vooruit voorspel: 16 June 1976; Madibadag; Vrouedag; Menseregtedag, wat vir talle nog maar net Sharpeville-dag gebly het. Die dominante tema in almal is die struggle; neem die spies op ("seize the Spear"). Die dae waar ons sulke prominente persone en gebeurtenisse herdenk, is gewoon besig om onder ons uit te groei. Dit het lekker vakansiedae geword. Ons braai, woer en rumoer sonder 'n sprietjie van 'n gedagte oor die bedoeling met die dae. Maar selfs op die politieke fronte is dit so helder soos daglig: ons het 16 Junie 1976 vergeet; ons het Madiba tot die vergetelheid gaan vasspyker. Wat ook al die toesprake en die kospakkies, die T-hemde en die busse, die musiek en die danse, dis verby. Maar wat duidelik omkrap, is die bewuste uitvee van ons geskiedenis. "Airbrushing" word dit in Engels genoem.

russelbotman2013

Russel Botman (foto: Chrizane van Zyl)

Spesifiek die betrokkenheid van bruin studente in die Wes-Kaap. Wie dink nog aan die werk in die struggle by die UWK, Pentech, Bellville Kollege (BOK), Hewat en die Oudtshoornse Opleidingskollege, OKSK? "Mr Chairman, I propose a week of mourning," was die voorstel in 'n gepakte N7 van Ike Grant, die meneer van die South African Students' Organisation (SASO). Waarop die tokkelok Russel Botman met die klein Afro reageer: "Vir wat moet ek bid?" Die massavergadering boe hom in alle toonaardes. In Engels het ons dit die "mass meeting" genoem. Vir ons uit die platteland was dit sommer die "mês". Vasberade kom Russel terug, sy hand in die lug vir die aandag van die voorsitter. "'n Revolusionêr het nie gebede nodig nie, hy het aksie nodig!"

Die "mês" is heeltemal oortuig.

Die tokkelokke het hul leierskap stadigaan begin vestig, en die eens magtige swartbewussyn-SASO het op die agtergrond begin skuif. Wie onthou nog die stewige leierskap van Leonardo Appies, die koelkop tokkelok. Ja, die tokkelokke het sterk leiding geneem. Duidelik die teken van die dinamika van Christenwees onder 'n verdrukkende regering en heersende kerkorde.

Die politiek van die dag was sterk gelei deur die Arbeidersparty. Daar was selfs die Federale Party wat die apartheidsregering van die Nasionale Party ondersteun het. Dit was hoofsaaklik in die bruin gemeenskap. Die regering was so stewig in die saal dat die naam Mandela nêrens genoem is nie. Die staat was 'n erge polisiestaat waar die parlement, die howe en al die regsgeleerdheid van die universiteit weinig sin gemaak het. Die party was in beheer. Wit heerskappy was aan die orde van die dag en om daarteen op te staan was om jou lewe te waag teen 'n magtige polisiemag en 'n nog magtiger veiligheidspolisie. Alles om die land in wit hande te hou.

Die NG Kerk was 'n voorloper van die regverdiging van die onchristelike bestel. Die regeringgesinde universiteite het allerlei akademiese fundamente vir rasseskeiding uitgekraam. Vandag word die rassiste van vroeër besing vir hul goeie deugde vanuit afgetrede historici en uitgediende politici. Vir die slagoffers van die onmenslike stelsel was hulle gewoon bewuste oortreders en skenders van fundamentele menseregte.

In die konteks van mag het ons studente begin opstaan, teen onreg en vir geregtigheid. Cecyl Esau het ons op Worcester begin voorberei reeds van graad 9 (standerd 7) af vir 'n politieke bewustheid wat ons rustige, onskuldige jeug vroeg reeds die finale nekslag toegedien het. Dis gewoon onvoorstelbaar hoe die skille stuk vir stuk van ons oë begin afval het. Een vir een het ons begin sien hoe ons ouers verneder word, hoe ons waardigheid dag vir dag geskend word, hoe ons skole benadeel word, ons onderwysers vergoed word op grond van hul velkleur. En tog het ons bly presteer, voortdurend geglo in ons menswees, veral in ons Christenwees. Dat jy in die gevangenis gestop kan word, maar dat jy steeds bevry is in jou kop terwyl die tronkbewaarder eintlik die gevangene is.

'n Nuwe bewussyn het ontwaak. Ons arme ouderlinge, konserwatiewe dominees, onderwysers en skoolhoofde moes dit behoorlik ontgeld. Ons het ons vryheid begin proe te midde van die hardste onderdrukking en polisiëring. Ons het hartstogtelik begin lees, en veral boeke wat verban is, soos die Martin Luther King-boeke, die Algerynse stryd teen kolonialisme, geskrifte van Steve Biko. Op skool was daar struggle-gesinde onderwysers wat ons kon vertel: dis wat julle vir die departement moet leer, maar dis waaroor ons geskiedenis werklik gaan. "Gutter education doesn't educate, gutter education frustrate," het ons later gesing. Alhoewel ek heimlik geweet het my onderwys was van die hoogste gehalte met toegewyde onderwysers op wie ek vandag steeds baie trots is. Cecyl Esau kon in sy verhoor in 1986 aan die regter sy struggle-lewe met trots uiteensit. Hy is tot 12 jaar gevangenisstraf op Robbeneiland gevonnis en tog kon hy met oorgawe NP Van Wyk Louw se Lojale Verset aanhaal: "Dis nie 'n skande as 'n rebellie misluk nie, dis wel 'n skande as een geslag sonder rebellie verbygaan."

Dit was die geslag van 1976 wat nie sonder 'n rebellie kon verbygaan nie. Die polisie het op die kampus kom amok maak. Ons mede-Worcesteriet Hein Willemse is behoorlik gebliksem met daai knuppels en geweerkolwe. Hy is per ambulans Tygerberg-hospitaal toe. Ons "hike" toe hospitaal toe, in vrees dat Hein in die hospitaal gearresteer kan word deur die magsbeluste polisie. Die hospitaal is in rep en roer. Vir ander was dit deel van die onluste. (“Onluste” is daardie Afrikaanse woord wat nie in ons woordeskat was nie, “opstande” wel. “Onluste” was die Afrikaans van die maghebbers.) Ons is tussen die gewondes, die nurste en die dokters. Dis soek en soek, en vra en soek, en beduie. Eindelik kom ons by 'n suster wat Hein behandel het. Hy is OK, sê sy, en ons haal beter asem.

Maar hy't homself uitgeboek en is hier uit. Die ervaring was dat pasiënte sommer in die hospitaal gearresteer is, want wat maak hulle in elk geval daar. Ons loop toe maar van Tygerberg-hospitaal deur Bellville na die universiteit. Hoop hy's veilig. Die paaie is afgeblokkeer; ons glip agter die trein verby die polieste.

Net voor ons die pad oorsteek na die tokkelokke-koshuis, word ons voorgekeer deur privaatklere-veiligheidspolisie. Hulle was altyd in privaatklere, die bliksems. "Is jy Cecyl Esau?" vra hulle. "Ja," sê Cecyl. "Kom saam met ons." Jy voel die magteloosheid. Die donners het soveel mag. Cecyl moes sy skoene uittrek. Ons staan eenkant en kyk. Die sisteem slaan toe voor ons oë. Dis lank nie meer 'n gesiglose monster nie. Hulle is van vlees en bloed, in staatsdienspakke, en hulle ry weg met hom. Hiermee het Cecyl se pad met die veiligheidspolisie begin. Hy was maar tweede jaar regte. Hulle sou hom nie met rus laat nie. Hy kon sy studies in ontwikkeling voltooi eers nadat hy jare daarna van Robbeneiland gekom het.

Daar is baie Cecyls. “The struggle is my life," het Mandela gesê. "I did not join the ANC to be poor," sê een van die party se voormanne. Die onvoltooide revolusie noem mense dit. Die revolusie vreet haar eie kinders op, sê ander. Die UWK raak stil, die Vorster-boewe het toegeslaan. Leonardo Appies, Cecyl Esau, Johnny Issel, Wilmot James, die UWK-leierskap is in Victor Verster-gevangenis; die ander kampusse het stil geraak. Nuwe leiers staan op. Abe Visagie uit die leierskap van die Vereniging vir Christenstudente (VCS) en andere begin die skerwe op te tel. "Ouens, as ons nie voortgaan nie, gaan hulle dink hulle het nou die belhamels." 'n Nuwe leierskap het oorgeneem. Die studente raak tog 'n bietjie voos. Maar dan begin die organisering in die res van die Wes-Kaap, en die Wes-Kaap ontbrand met 'n passie.

Tog, wanneer oor 16 Junie 1976 gepraat word, word die Wes-Kaap en ander dele in ons land heeltemal geïgnoreer. Vandag praat die heersende party met groot selfvertroue van "blacks in general, and Africans in particular". 'n Gapende kloof met die ideale van 1976. Dit was die tyd toe die jongmense opgestaan het teen 'n magtige sisteem van bevoordeling, van rassisme, van brutaliteit.

Vandag is ongeveer 17 miljoen Suid-Afrikaners onder die ouderdom van 20 jaar; twee derdes van ons 52 miljoen is onder 35 jaar. Ons het baie om ons jongmense te bied. Die erkenning van die groter geskiedenis kan gewoon nie kwaad doen nie. Trouens, ons is dit aan die jeug verskuldig.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Titus noem nie of hy in sy hoedanigheid as hoof van kultuur by die ATKV of as menseregtekommissaris geskryf het nie. Myns insiens is hy nie geskik om enige een van die twee poste te beklee nie.

  • Avatar
    George Bekker

    Danny, ek kritiseer nie graag 'n man se taalgebruik nie, maar iets hinder in die volgende stelling: "ons het Madiba tot die vergetelheid gaan vasspyker."

    Jy wys ook op die ongelykheid tussen swart en minder swart. Was die doel van die struggle nie om alle ongelykhede uit te skakel nie of minstens almal 'n gelyke kans te gee? Weet nie of dit uit versigtigheid of moedeloosheid is nie, maar jou oplossing(??) is om voor te stel dat die geskiedenis aan jong mense vertel word, want: “Ons het baie om ons jongmense te bied.” Dis goed en wel, en daarna? Gaan hulle jou nie dalk stilmaak en sê hulle stel nie in stories van lank gelede belang nie, maar wil werk en gelyke werksgeleenthede hê? (soos jy tereg aandui daar is miljoene jongmense.)

    Is jy bewus daarvan dat die huidige regering hard probeer om (uit onkunde) werksgeleenthede verder te verminder? Dis sake wat ons moet aanspreek.

  • Avatar
    Jurgens Hendriks

    Dankie Danny vir die herinnering aan Russel Botman en sy rol. As wit dosent aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch het ek ons finalejaars gereeld na die VGK in Wynberg geneem waar Russel hulle sy storie vertel het en waar baie van ons se oë oopgegaan het vir wat werklik aan die gebeur is. Vriendskap en vertroue oor die apartheidgrense het in die jare daarna interessant uitgespeel.
    My oortuiging is dat ons die daadkrag van destyds nodig het om die gemors wat tans in die land aan die gang is, aan te spreek. "Waarvoor bid ons nou?" Dis 'n groot uitdaging wat in baie opsigte 'n tipe wedergeboorte vra om post-rassisties die uitdagings van ons tyd aan te spreek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top