Afrikaans kan die taal van versoening wees deur die verskillende herkomste van ons taal te vier en te koester; daarom ook gedenk die Afrikaanse Taalmonument en -museum die vrylating van ons slawevoorouers en hulle bydrae tot die skepping van ons taal.
Op 3 Desember 2020 het die Afrikaanse Taalmonument en -museum tydens ’n herdenkingsbyeenkoms vir die vrylating van die slawe aan die Kaap die wenners aangekondig van die kompetisie om Afrikaans se Arabiese herkoms te vier.
Slawerny is op 1 Desember 1834 amptelik afgeskaf, maar daarna moes die slawe nog vir vier jaar as “vakleerlinge” vir hulle vorige eienaars werk. Dit beteken dat 1 Desember 1838 eintlik eers die dag was waarop slawe vry geword het.
Janine Brown, ‘n museumbeampte, het almal verwelkom en verduidelik waarom die Afrikaanse Taalmonument en -museum hierdie datums gedenk.
Ná haar verwelkoming is ’n oomblik van stilte gehandhaaf, waarna die slaweklok gelui is.
Marissa van Mollendorf het gesing.
Chantelle de Kock, kurator van die Afrikaanse Taalmuseum, het verduidelik hoe verweef die geskiedenis van slawerny is met die herkoms van Afrikaans en hoe belangrik die invloed van Arabies-Afrikaans is. Die fonetiese aard van die geskrifte in Arabies-Afrikaans gee aan navorsers ’n idee hoe die Afrikaans van die Moslems in die negentiende eeu geklink het.
Riana Dempers het daarna die Arabies-Afrikaans-kompetisie se wenners bekendgemaak.
Gasan Kriel is bekroon met die eerste prys van R5 000.
Mogamat Alexander is ‘n naaswenner wat R2 500 ontvang het.
Tasneem Chilwan is die tweede naaswenner, wat ook R2 500 ontvang het.
Hein Willemse, redakteur van Die Afrikaans van die Kaapse Moslems, het daarna sy toespraak gelewer. Die volledige teks is aan LitNet verskaf. Lees dit hier: Tuan Guru en die aartappelboer – oor Afrikaans en versoening.
Voorbeelde van die inskrywings wat ontvang is.
Weens die ernstige toename in COVID-19-gevalle is streng veiligheidsmaatreëls getref. Tafels en stoele is ver uitmekaar gepak en die talle sprekers het maskers gedra, soos die foto’s duidelik laat blyk. Kospakkies, streng halaal, en koffiekoppies is individueel aan gaste verskaf om kontak sover moontlik te voorkom.
Lees ook:
Tuan Guru en die aartappelboer – oor Afrikaans en versoening
Fotoblad: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems-bekendstelling
Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap
Die vrystelling van slawe: Pniël-gemeenskapsmuseum – "Ons storie"
Kommentaar
Baie geluk - aan die wenners en aan die inisiatiefnemers met die kompetisie!
Jy sê,
" Op 3 Desember 2020 .... om Afrikaans se Arabiese herkoms te vier".
Hy sê,
"Afrikaans was in sy kern ‘n Hollandse dialek wat mettertyd ‘n beperkte mate van kreolisering of afwyking van die basiese Hollandse struktuur ondergaan het¹ ” (Die Afrikaner, Gilomee, p 42, Tafelberg 2004).
So wie is reg, of verstaan ek "herkoms" verkeerd?