Tuan Guru en die aartappelboer – oor Afrikaans en versoening

  • 2

Foto van Hein Willemse: Naomi Bruwer. Alle ander foto’s is deur die skrywer verskaf.

LitNet publiseer graag Hein Willemse se toespraak wat hy op Donderdagaand, 3 Desember 2020, by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument gelewer het.

Tuan Guru en die aartappelboer – oor Afrikaans en versoening1


Ten allereerste, my hartlike gelukwensing aan die wenners van die Afrikaanse Taalmuseum se Arabies-Afrikaanse-kompetisie. Hierdie is inderdaad ’n unieke viering van die verskeidenheid van oorspronge van Afrikaans, die verskillende skryfwyses en die uiteenlopende maniere om Afrikaans te wees. Dit sal u interesseer dat jare gelede Achmat Davids teenoor Muhammed Haron die moontlikheid geopper het om so ’n beweging aan die gang te sit. Niks het egter daarvan gekom nie, hoofsaaklik omdat die idee nie verder gevoer is nie. Hulle het gedink dat met toenemende verengelsing daar nie veel belangstelling sou wees nie. Hierdie geleentheid toon dat daar inderdaad moontlikhede bestaan. Ek wil u en u deelnemers en ondersteuners bedank vir hierdie sonderlinge inisiatief.

Na aanleiding hiervan, en ter herinnering aan Slawevrystellingsdag op 1 Desember, wil ek hulde bring aan diegene wat onder dwang na hierdie wêrelddeel gebring is – onder meer as slawe, ingeboektes, ballinge en ander. Talle het nie die reise oor land en die oseane oorleef nie. Meesal het hulle kontak met hul gebiede van oorsprong, gemeenskappe, tale en kultuurpraktyke verloor. Dié wat oorleef het, moes jare en dekades van dwang en lyding deurmaak. Hulle moes hier leer aanpas en vandag is ons die draers van daardie geskiedenis. Ons huldig hulle.

Een van die aandoenlike stories in ons Afrikaanse mondelinge tradisie is die verhaal van Tuan Guru en die aartappelboer. Dit word vertel dat Tuan Guru eendag tydens ’n veiling op Groentemarkplein navraag gedoen het oor die sakke groente op ’n boer se wa. "Wat het jy vandag gebring?" het hy gevra terwyl hy met sy kierie ’n steekhoutjie na ’n sak maak.

"Klippe," antwoord die boer, ergerlik met die nuuskierige ou man. Toe tik Tuan Guru die sakke en stap verder tussen die veilingsgoedere deur en later terug na sy huis op Dorpstraat 37.         

Toe dit die boer se beurt is om sy goedere op te veil, is daar inderdaad net klippe in die sakke. Die boer was kennelik nie bewus van Tuan Guru se bomenslike vermoëns nie. Dit gee ’n geskarrel af om die ouman met die kierie in die hande te kry, want as hy nie vandag sy goedere verkoop nie, besef die boer, sit hy en sy gesin sonder ’n inkomste. En die veiling is besig om af te loop. Na ’n soektog kry hy Tuan Guru.

"’Seblief," pleit die boer, "daar was aartappels in die sakke. Aartappels, nie klippe nie. Bring asseblief my aartappels terug," pleit die man.

Tuan Guru, in sy wyse vergewensgesindheid, loop toe af, terug na Groentemarkplein, met die boer al ylend agterna.

Sonder om ’n woord te sê, het Tuan Guru op elk van die sakke getik, en die klippe het weer aartappels geword.

Dit is ’n verhaal wat reeds 200 jaar bestaan. In die verhaal hoor ek die versugting van onderdrukte mense wat ’n voorspraakmaker en beskermer in Tuan Guru sien. Iemand wat bereid is om op te staan teen afjakkery, die kleinboetie van sosiale en politieke verdrukking. Tuan Guru het ’n legende geword en sy dade het mitiese afmetings aangeneem.

Tuan Guru het 226 jaar gelede, die eerste masjied, die eerste amptelike Moslem-aanbiddingsplek, in Dorpstraat 37 in die Bo-Kaap, begin. Drie jaar tevore het die vrygestelde slaaf Coridon van Ceylon ’n pakhuis vir ’n madressa, die eerste skool vir Moslem-geloofsonderrig, beskikbaar gestel.

Onder die bewind van die Verenigde Oost Indische Compagnie (die VOC) kon slegs die Christelike godsdiens in die openbaar beoefen word. Ander godsdienste, onder meer Islam, het nie dieselfde erkenning geniet nie. Alhoewel Islam as tradisie onderdruk is, is dit geduld. Die gelowiges moes egter in die geheim byeenkom. Hierdie byeenkomste is dikwels gehou aan huise van Vryswartes, dit wil sê vrygestelde slawe.

Aan die Kaap het Islam reeds in 1693 beslag gekry met die aankoms van die balling sjeg Joesoef van Makassar. Tog is dit nie altyd beoefen volgens die neergelegde konvensies wat elders in Moslem-samelewings gegeld het nie. Die rede daarvoor was voor die hand liggend: Die slawe of vrygestelde slawe was meesal nie blootgestel aan formele godsdiensleierskap of -onderrig nie. ’n Honderd jaar na die aankoms van sjeg Joesoef sou dit Tuan Guru wees wat formele opleiding begin aanbied het. Sy geskrif Marifat al-Islam wal-Imān (Kennis van Islam en die Geloof), geskryf tydens sy ballingskap op Robbeneiland, is volgens kenners sy belangrikste nalatenskap. Vir Moslemgelowiges het die boek, geskryf in Arabies met Maleise en Boeginese vertalings, in die laat 18de en 19de eeu, sekerheid oor geloofsake en -gebruike gebring.

Wie was hierdie Tuan Guru? Sy naam was Abdullah ibn Qadi Abd ul-Salam, ook genoem die Prins van Tidore. Tidore is ’n eiland in die oostelike Mollukke-eilandgroep wat vandag deel is van Indonesië. Die titel Tuan Guru is ’n eretitel, wat in goeie Afrikaans vertaal sou kon word as "Meester" of selfs "Groot leermeester". Dit is natuurlik ’n algemene titel vir ’n onderwyser, maar in die Kaap het dit ’n eretitel geword – een wat Tuan Guru as grondlegger van Moslem-onderwys in ons land gestand gedoen het.

Hy beland op Robbeneiland nadat die VOC hom en drie ander makkers eers na Ceylon (vandag Sri Lanka) en later na die Kaap verban het. As adviseur van die Sultan van Tidore was hy ’n invloedryke man, omdat hy hom teen die VOC verset het. In 1780 land hier hy aan boord van die seilskip De Zeepard. So bang is die owerhede dat hy sy invloed ook in die Kaap sou laat geld dat hulle hom en sy makkers onmiddellik ná hulle aankoms na Robbeneiland verskeep. Hy was 68 jaar oud toe hy op die eiland in ballingskap gaan. Vir Tuan Guru was die Kaap ’n plek van eensaamheid en, in sy eie woorde, ’n "plek van hartseer". Hy sou nooit weer sy gesin en familie of die Tidore-gemeenskap sien nie. Hy het twee afsonderlike periodes van ballingskap op die eiland deurgemaak voordat hy uiteindelik vrygelaat is. Hy was 79 jaar oud toe hy finaal ’n vry man geword het.

Die Kramat van Tuan Guru in die Tana Baru, Bo-Kaap

Aan die Kaap het hy ’n nuwe gemeenskap gevind. Hy is ingeneem deur Coridon van Ceylon. Kort na sy vrystelling trou hy met Keija van de Kaap en hulle sou twee seuns hê. Hy begin sy madressa in 1793, pas na sy vrylating. Hy agiteer ook vir die reg om in ’n masjied te aanbid. Sy petisie aan die Hollandse owerhede is verwerp, maar heeltemal na sy aard bring hy gelowiges byeen in die uitgewerkte Bo-Kaapse steengroef, wat sommige kenners as die begin van die eerste moskee sien. Twee jaar later, in 1795, neem die Britte die Kaap die eerste keer in, en die politieke klimaat verander. Die Britse bevelvoerder laat groter godsdiensvryheid toe. Dit is toe dat Tuan Guru amptelik die pakhuis ook as ’n masjied begin gebruik.

En so kom die Auwal-masjied tot stand en kry Islam ’n formele instelling wat Tuan Guru voorspel "sal bestaan, vir solank as wat die wêreld bestaan". Dit is ’n verhaal wat onlangs weer vertel is in Shafiq Morton se From the Spice Islands to Cape Town. The Life and Times of Tuan Guru (2020).

Toe Tuan Guru in 1807 in sy 95ste jaar, sterf, was daar 375 leerlinge in dié insluitende madressa, meesal slawe en kinders van slawe en Vryswartes. Die onderrig was aanvanklik in Maleis, maar dit het baie gou geblyk dat die geskikste onderrigtaal die taal van die werkende mense was, naamlik Kaaps-Hollands. Teen 1832 was daar twaalf sulke godsdiensskole in die Kaap wat later naas godsdiensonderrig in die Arabiese skrif ook rekene en skryfkuns in Kaaps-Hollands en Engels sou aanbied.

Dit is Tuan Guru wat ’n tradisie van Moslem-geletterdheid aan die Kaap verdiep het wat daartoe gelei het dat met die vrystelling van slawe in 1834, en meer bepaald teen die 1840’s, ’n aantoonbare tradisie van onderrig in Kaaps-Hollands posgevat het. Uit die leerlinge se koples- of aantekeningboeke wat tot ons beskikking is, toon kenners aan dat die taal nie metropolitaanse Nederlands was nie, maar die vorm van Kaaps-Hollands wat in die onderklasse gepraat is en later Afrikaans genoem sou word.

Die graf van Abu Bakr Effendi, Tana Baru, Bo-Kaap (foto: Hein Willemse)

Teen 1856, verneem ons, het die drukker MC Schonegevel ’n kort teks met die titel Gablomalien gedruk. Die titel is blykbaar ’n verwringing van Kitab al-Qawlu ’l-Matin fi Bayan Umur al-Din (Die boek van die ferme uitleg met betrekking tot sake rakende die geloof), ’n werk van Achmad al-Isjmoeni. Ons het plaaslik nie toegang tot ’n eksemplaar nie, maar na wat berig word, bestaan ’n mikrofiche-weergawe in die biblioteek van ’n Indonesiese instituut op die eiland Java, Tembaga Kemboedajaan Indonesia. In 1869 het die Turkse geleerde Abu Bakr sy Bayan al-Din (Uiteensetting van die Geloof) in Arabies-Afrikaans voltooi. Teen 1894 het sy seun Hisham Neamatollah Effendi drie kinderboeke die lig laat sien. Dit is in hierdie ortografie dat imam Achmat van Bengalen, die direkte opvolger van Tuan Guru, die eerste Kaaps-Hollandse vertaling van die Koran oorgeskryf het.

Uit: Humanities100, 1919–2019, bl 80

Die verhaal van die eerste madressa en masjied of moskee is ’n verhaal wat nie oral bekend is nie. Tuan Guru was in alle waarskynlikheid geen vlot spreker van die plaaslike Kaaps-Hollands nie. Dit sou waarskynlik eers na sy dood in 1807 wees dat die taal onder die leiding van die plaaslike imams, die vrygestelde slawe Achmat van Bengalen en later Jan van Boegies deurlopend in die Auwal- en Palmboommoskees as onderrigtaal gebruik is.

Omslag van Brandel-Syrier se vertaling van Bayan ud-Din (foto: Hesham Neamtollah Effendi)

Tog is hierdie verhaal van die edelman van Tidore vir ons almal van belang, omdat sonder sy insig, aandrang en aktivisme die onderrig van Islam, die instelling van Kaaps-Hollands as onderrigtaal vir soveel jare uitgestel sou word of miskien glad nie sou plaasvind nie. Sy verhaal en dié van mense met soortgelyke persoonlike geskiedenisse gee vir ons ’n insig in die vele dimensies van ons land: van onderdrukking en verset, van deursetting en oorwinning, van versiendheid en die gevolge daarvan. Dit gee ons ook ’n omvattender beeld van die taalgeskiedenis van Afrikaans.

Eerste blad van Bayan ud-Din (foto: Hesham Neamtollah Effendi)

Daar bestaan ook ’n ander verhaal oor die opkoms van onderrig in Kaaps-Hollands, later genoem Afrikaans. Dit is ’n bekender verhaal, een wat waarskynlik in elke Afrikaanse taalgeskiedenisboek oorvertel word – dikwels in volledige besonderhede. Ses jaar na die oprigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 in Gideon Malherbe-huis hier langsaan het die Gedenkschool der Hugenoten tot stand gekom. Op die plaas De Kleijne Bos is die skool in 1883 in ’n wynkelder opgerig, met as eerste onderwyser DF du Toit, ook bekend as die Patriot-skrywer Oom Lokomotief.

Vir kultuurhistorici is dit die plek waar die Eerste en Tweede Taalbewegings beslag gekry het, waar Die Patriot en Ons Klyntjie vorm aangeneem, waar SJ du Toit gewoon en gewerk het. So ook sy seun, die digter en Bybelvertaler Totius. Dit is die plek waar verskeie bekende vroeër skrywers, soos DF Malherbe en AG Visser, hul skoolloopbane begin het. Ek het egter nie nodig om dié geskiedenis in besonderhede te vertel nie, want die meeste Afrikaanssprekendes wat iewers op skool, kollege of universiteit Afrikaans studeer het, sal onthou dat die Hugenote Gedenkskool in Daljosafat as die eerste Afrikaanse skool beskou word. Dit is die enigste verhaal wat aan hulle voorgehou is.

Ek bied jaarliks ’n kursusmodule aan wat ek "’n Inleiding tot Swart Afrikaanse skryfwerk" noem. Onlangs het ek ook ’n video, Die versteekte geskiedenisse van Afrikaans, vrygestel wat ek aan my studente vertoon. Ek is telkens verbaas dat die meeste by die aanvang van die module slegs één verhaal van die opkoms van Afrikaans ken. My studente is egter nie uitsonderlik nie. Die meeste van hul eweknieë het dieselfde gapings in hulle kennis. Dankie tog dat daar tekens is dat ’n omvattender verhaal stadig maar seker besig is om neerslag te vind. Ons is immers op pad na die derde dekade van die 21ste eeu.

Waarom het die algemene publiek vir so lank hoofsaaklik hierdie een verhaal geken? Is dit omdat die inligting nie bekend was nie? Is dit omdat dié soort inligting slegs onlangs ontdek is? Of is dit omdat vir so lank slegs een verhaal op skool en in onderwyskolleges, universiteite en die media oorvertel is? Is dit omdat ’n voller omvang van die verhale van Afrikaans onderbeklemtoon of gewoon doodgeswyg is?

Dit is merkwaardig dat  algemene kennisname vir so lank gebrekkig gebly het, want teen die 1960's was daar reeds afdoende bewyse om ons gebrekkige kennis aan te vul. Die eerste Afrikaanse vakkundige publikasie Arabies-Afrikaanse Studies I: 'n Tweetalige (Arabiese en Afrikaanse) Kategismus van Adrianus van Selms, 'n Semitiese geleerde, is reeds in 1951 bekendgestel, PJ Nienaber in sy Bibliografie van Afrikaanse boeke in 1943 maak melding van dié soort Afrikaanse tekste. Abu Bakr Effendi rig in 1862 die Ottomaanse Teologiese Skool op. Teen 1869 onderrig hy sy studente aan die hand van sy Bayan ud-Din. MK=J de Goeje vermeld die publikasie in sy artikel "Mohammedaansche propaganda" in De Nederlandsche Spectator. Die datum is 1881, twee jaar voor die oprigting van die Hugenote Gedenkskool. Wat meer is, Piet Meiring skryf hieroor in Die Burger op 25 November 1960, Mia Brandel-Syrier se Engelse vertaling van Bayan al-Din verskyn in 1960 en Van Selms se transliterasie volg in 1979. Daarbenewens volg in die 1960's en 1970's verskeie studies van die Duitse arabis Hans Kähler. Ook die Afrikaanse taalkundiges Rembrandt Klopper, Ernst Kotzé, Fritz Ponelis en Theo du Plessis lewer daarna studies oor onder meer Arabiese Afrikaans.

Dit is dus verbasend dat hierdie kennis nie reeds in die 1960’s, of selfs die 1970’s, tot ons algemene Afrikaanse taalkennis deurgesypel het nie. Ons kan slegs tot die slotsom kom dat ’n omvattender taalgeskiedenis ónderbeklemtoon is omdat dit nie ingepas het in die oorheersende storie van Afrikaans nie. Die verhaal wat aan ons leerlinge en studente oorvertel is, gerugsteun deur bepaalde interpretasies van die Christelike godsdiens en ’n plaaslike taal- en politieke nasionalisme, is eensydig. Afrikaans word voorgestel as ’n taal wat in die 20ste eeu gevorm en beskerm word deur één deel van die Afrikaanssprekende bevolking, en waartoe die res van die bevolking slegs agterryers of bystanders is.

Die gevolg van hierdie oorbeklemtoning van ’n gemeenskaplike geskiedenis het ’n verreikende uitwerking gehad waarvan die slagspreuk "Afrikaans is the language of the oppressor" die ekstreme gevolg is. Selfs mense wie se moedertaal Afrikaans is, het ten diepste vervreemd gevoel. Geleidelik het hulle afstand van hul moedertaal geneem – om welke redes ook al: oor die politiek, of ’n gestigmatiseerde aksent, of vanweë ’n ervaring van ontheemding.

Maar daar is ook ’n ander manier om vreemd gemaak te word. Dit is wanneer jou bydrae tot die taalgeskiedenis, jou aksent of uitspraak tot eksotika verklaar word. Wat beteken dit om eksoties te wees? Dit is om nie in die patroon te pas nie. Dit is om ’n vreemdeling te wees wat eiesoortig aandoen. Dit is om nie te voldoen aan die vereistes van die binnestander nie. Dit is om as anders, as gebrekkig, kleurvol of belaglik beskou te word. Dit is wanneer jou kleredrag, tradisies en oortuigings as randverskynsels gemerk word. Dit is wanneer jou naam as vreemd en geheimsinnig bestempel word. Dit is om nie tot die kern te behoort nie. In kort: Eksoties is wanneer jy nie deel van ons is nie.

En dit is waar ons ons na soveel jaar bevind. Versoening in ons sosiale en politieke lewe beteken egter nie om dit wat oor soveel eeue tot onreg en agtergesteldheid gelei het, te vergeet nie; om voor te gee dat dit wat ook al verkeerdgeloop het, nie gebeur het nie. Of om skeldwoorde oor minderwaardigheid te uiter en dan voort te gaan met vorme van meerderwaardige besitname nie. Dit beteken om daadwerklike erkenning te gee, om die onreg uit te wys en uit te daag, om geleenthede te skep wat toegang geredeliker maak. Dit beteken om tot ’n omvattender insig te kom oor die pad vorentoe, oor ons gedeelde toekoms.

Tuan Guru is wesenlik vir ons almal se geskiedenis. Sy geskiedenis is een van lyding en opoffering, van ’n stoere geloofsinisiatief en die onvoorsiene gevolge vir Islam en vir Afrikaans. Dit is ’n geskiedenis van inklusiwiteit en ’n verbintenis tot sosiale geregtigheid. Selfs die legendes en versinsels van sy bomenslike vermoëns is deel van ons verhaalskat. Tuan Guru en die aartappelboer is deel van ons. Hulle ís ons.

Ek dank u.

1 ’n Toespraak gelewer op uitnodiging by die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument, Paarl op 3 Desember 2020.

  • Alle foto’s en grafika is deur die skrywer verskaf.
  • 2

Kommentaar

  • Mogammad Amien Baderoen

    Lees "Footprints" deur skrywer M.A. Baderoen vir ’n meer omvattende verhaal, insluitende die aankoms van Tuan Guru aan die Kaap sowel as sy verbintenis met die vissersgemeenskappe aan die Valsebaaikusgebiede oor die geskiekundige periode vanaf c.1780 tot 1994.

  • Mogammad Amien Baderoen

    Read "Footprints" by author M.A. Baderoen, available from Timbuktu Books and as eBook on the internet via Barnes &Noble, for a more detailed narrative including the influence of Tuan Guru and other "Bannelinge" on the Falsebay Fishing Communities, Stellenbosch and Paarl, etc. and their Struggle for freedom in our Land, South Africa.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top