Fotoblad: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems-bekendstelling

  • 0

Op Saterdag 15 Desember 2018 het die bekendstelling van die Afrikaanse verwerking van Achmat Davids se boek, The Afrikaans of the Cape Muslims1 by die Historium Trust funksie- en konferensiesentrum in Paarl plaasgevind.

Die boekbekendstelling is deur Die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), tesame met die Afrikaanse Taalmuseum se slawedagviering, aangebied.

Hein Willemse is die redakteur van die verwerkte Afrikaanse weergawe, Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (SBA, 2018). Die vertaler is Danie C Botha.

Menán van Heerden het foto’s geneem.

  • Kyk hier na die fotoblad van die bekendstelling van The Afrikaans of the Cape Muslims in 2011 by Timbuktu Books, Kaapstad. 
  • Kyk hier na ’n keuse uit LitNet-materiaal oor die rol en invloed van slawe en hul afstammelinge.

Van links: Marlene le Roux (voorsitter: SBA), Fatima Allie (direksielid: SBA), Michael Jonas (direkteur: Historium Trust en Afrikaanse Taalmuseum- en monument), Ria Olivier (programbestuurder: Afrikaanse Taalraad), Hein Willemse (redakteur, Die Afrikaans van die Kaapse Moslems) en Jacob Meiring (projekleier: SBA)

Hein Willemse, Michael le Cordeur (SBA-direksielid), Fatima Allie, Anroux Marais (Wes-Kaapse Minister: Kultuursake en Sport), Hesham Neamatollah Effendi (die agter-kleinseun van Abu Bakr Effendi**), Steward van Wyk (SBA-direksielid), Dirk Brand (ondervoorsitter van die SBA) en Michael Jonas

**Wie was Abu Bakr Effendi?

’n Uitstalling van die geskiedenis van Arabiese-Afrikaans by die Afrikaanse Taalmuseum. Die figuur regs is Abu Bakr Effendi.

Abu Bakr Effendi, ’n teoloog gebore in Turkse Koerdistan, het Uiteensetting van die  godsdiens geskryf. Hierdie 1869-teks is ’n Kaaps-Hollandse vertaling van Bayān al-Dīn (Exposition of the religion) en is binne die Kaapse Moslem-gemeenskap versprei.

Effendi is in 1862 deur die Kaapse regering na die Kaap gebring as ’n godsdienstige raadgewer (rakende meningsverskille tussen plaaslike imams in die Kaapse howe).

Effendi se boek is die eerste gepubliseerde Arabiese Afrikaanse boek. Hierdie boek is in 1869 voltooi en in 1877 in Turkye gedruk. Lees meer hier: “Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap”.

Hein Willemse verwys na Effendi in sy Die Afrikaans van die Kaapse Moslems-bekendstellingstoespraak, byvoorbeeld:

Davids het die omvang van [Kaaps] ‒ die oudste [Afrikaanse] variëteit ‒ aangedui, maar veral aangetoon hoe die Turkse geleerde Effendi en ander imams op vindingryke wyse die Arabiese skrif aangepas het om die gesproke Kaaps-Hollands of vroeë Afrikaans weer te gee. Dit is die eerste keer dat skrywers op ’n deurlopende wyse probeer het om Afrikaans te skryf.

  • Interessantheidshalwe

’n Oorspronklike kopie van die gepubliseerde Arabiese Afrikaans-boek deur Abu Bakr Effendi (in 1869 geskryf en in 1877 in Turkye gedruk) was te sien by die Treasure House of Knowledge-uitstalling vroeër vanjaar by die National Library of South Africa (NLSA) in Kaapstad.

’n Oorspronklike kopie van die gepubliseerde Arabiese Afrikaans-boek deur Abu Bakr Effendi (in 1869 geskryf), Uiteensetting van die  godsdiens

Volgens Achmat Davids is Arabiese Afrikaans die Kaapse Moslem-variëteit van Kaapse Afrikaans (’n gekreoliseerde Nederlands) wat in Arabiese skrif geskryf is.

Teen 1815 het Afrikaans vir Maleis as die onderrigtaal in Moslemskole (madrassas) vervang, en teen die 1840’s was Arabiese Afrikaans in hierdie skole goed gevestig as onderrigmedium. Lees meer hier (artikel I en artikel II).

Hein Willemse en Marlene le Roux

Voor van links: Jurie Saal (Die Afrikaanse Taalmuseum- en monument-raadslid), Faadiel Solomons (familie van Achmat Davids), Marlene le Roux, Janap Solomons (familie van Achmat Davids), Fatima Allie, Amira Brown, Amila Ernstzen en Hein Willemse. Middel van links: Niel le Roux (bestuurshoof, SBA), Mogamat Kammie Kamedien (familie van Achmat Davids), Gaironesa Sameuls (familie van Achmat Davids), Anroux Marais, Shahiem Davids (familie van Achmat Davids), Hesham Neamatollah Effendi, Chantelle de Kock (kurator van die Afrikaanse Taalmuseum) en Michael Jonas. Agter van links: Mogamad Sameuls (familie van Achmat Davids), Michael le Cordeur, Steward van Wyk, Dirk Brand, Jacob Meiring, Halim Gençoğlu en Johan van Lill

Hein Willemse lewer sy bekendstellingstoespraak.

Halim Gençoğlu lewer sy toespraak oor Abu Bakr Effendi se bydrae tot die ontwikkeling van Arabiese Afrikaans

Van links: Yoesrie Abrahams (Paarl Muslim Jamaa' komitee-lid), Halim Gençoğlu, Marlene le Roux, Natalie Gabriels (fotograaf wat die voorbladfoto van Die Afrikaans van die Kaapse Moslems geneem het), Hesham Neamatollah Effendi en Zaahir Samaai (Paarl Muslim Jamaa' komitee-lid)

Lede van die Cape Protea Sporting Club (Kaaps-Maleise koor)

Dorpstraat Madrassa, Bo-Kaap (die eerste Moslemskool/madrassa in Suid-Afrika en waar Afrikaans die eerste keer in Arabiese skrif onderrig is). Tuan Guru het die Dorpstraat Madrassa gestig. Hierdie foto is deel van die uitstalling. Lees meer oor Tuan Guru, die Auwal-moskee (die eerste moskee in die suidelike halfrond) en die Tana Baru-begraafplaas hier.

Met vergunning van die kurator van die Afrikaanse Taalmuseum kon ek in die argief hierdie dokument besigtig, naamlik ’n bladsy uit ’n Arabies-Afrikaanse oefeningboek/koplesboek (met Arabiese skrif in inkpen geskryf). Oorspronklik handgeskrewe met die Afrikaanse vertaling in balpuntpen. Watermerk op papier met 1860. ’n Koplesboek is ’n oefenboek waarin kinders die skrifgedeeltes en tekste uit die Koran oorgeskryf het. Die skryfoefeninge is in Kaapse Afrikaans gedoen, maar met die Arabiese alfabet.

’n Voorbeeld van Arabiese Afrikaans (in Romeinse skrif) met vertaling in standaard Afrikaans

Eindnota

1 Hein Willemse en Suleman Dangor (reds.), Pretoria: Protea Boekhuis, 2011

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top