Op Saterdag 15 Desember 2018 het die bekendstelling van die Afrikaanse verwerking van Achmat Davids se boek, The Afrikaans of the Cape Muslims1 by die Historium Trust funksie- en konferensiesentrum in Paarl plaasgevind.
Die boekbekendstelling is deur Die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), tesame met die Afrikaanse Taalmuseum se slawedagviering, aangebied.
Hein Willemse is die redakteur van die verwerkte Afrikaanse weergawe, Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (SBA, 2018). Die vertaler is Danie C Botha.
Lees hier Hein Willemse se bekendstellingstoespraak van die boek:
Bekendstelling van Achmat Davids se Die Afrikaans van die Kaapse Moslems Historium, Afrikaanse Taalmonument, Paarl
Dames en Here,
As-salaam-aleikoem!
Baie dankie vir u uitnodiging om deel te wees van hierdie verrigtinge. Vir my is dit meer as ’n voorreg. Ek weet dat Achmat eers na Bo dankie sou sê ‒ Bismilāhir al-Rahmān al-Rahīm ‒ en daarna almal sou bedank wat betrokke is by hierdie projek. Hy sou ook dankie gesê het dat u hier op die vooraand van die gróót dae die moeite gedoen het om sy boekbekendstelling by te woon.
Voorheen was die werk wat ons vandag bekendstel slegs in Engels beskikbaar, aanvanklik as ’n verhandeling wat eers in 2011, twintig jaar na voltooiing, gepubliseer is. Vandag, vier ons ’n verwerkte Afrikaanse weergawe daarvan: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems. Vandag is ’n besondere geleentheid omdat Achmat Davids se navorsing nou vir die algemene publiek in toeganklike taal beskikbaar gemaak word. Daarvoor moet ons die SBA en die Historium Trust bedank.
Achmat Davids se belangstelling in die Afrikaans van die Kaapse Moslems het nie as ’n streng taalhistoriese studie begin nie. Daarom sou ons dit ewegoed onder verskillende noemers kon klassifiseer: as taalkundige studie, as geskiedskrywing of as kultuurstudie. Dit het begin as ’n stuk gemeenskapsnavorsing rondom die gebruik van die taal in die Boorhaanol-moskee in die Bo-Kaap.
Achmat het dikwels self die storie vertel. Die imam het in 1985 ’n preek in Engels gelewer wat onmiddellik tot groot onenigheid gelei het. Die ouer gemeentelede was taamlik ontstoke. Hulle was gewoond daaraan dat die tale van hul moskee Arabies en Afrikaans was. Die Koran is ge-batja en doa’s is gemaak in Arabies, en die preke is in Afrikaans gelewer. Met sy Engelse preek het die imam ’n tradisie van meer as 150 jaar verbreek. Hy is geforseer om terug te gaan op die ou weë en Achmat, die geskiedskrywer, is gevra om vas te stel wat die verhouding tussen die moskee, Bo-Kaap en Afrikaans was. Dit was die begin van ’n belangstelling wat hom tot met sy dood besig sou hou.
Die spanning in die tale van die moskee was die gevolg van politieke en sosiale verandering. In veral die sentrale dele en die noorde van die land was Afrikaans sonder ’n woord van teenspraak getipeer as die “die taal van die verdrukker”. Die gevolg was dat mense hulle oraloor aktief daarvan wou weerhou — ook politiek-bewuste Afrikaanssprekers. Hulle wou niks met die taal te doen hê nie. Hulle het ‒ in goeie Kaapse Afrikaans ‒ hulle “skaars gehou”. Dit bly ’n striemende aanklag teen ’n taal. Maar soos alle slagspreuke of stereotipes is dié kentekening maar één faset van die verhaal. Die slagspreuk is nie die volle storie nie.
Die ouer mense het ’n komplekser beeld van hul geskiedenis en van hulle taal gehad. Hulle het geweet dat Afrikaans se aanwesigheid in die Bo-Kaap nie net die gevolg van onlangse politieke beleidsrigtings is nie, maar dat dit diep-diep gesetel is in die gemeenskap. Hulle het geweet dat die Afrikaans wat hulle en hulle ouers gepraat het, gevorm is in die monde van mense wat van oral gekom het. Van Europa, ja, ook van Afrika, en beslis ook van Suidoos-Asië. In hul monde kon hulle die woorde proe wat hulle oorsprong nie net in Europese tale gehad het nie, maar ook in Afrika- en Asiatiese tale.
Al kon hulle nie tale soos Boeginees, Maleis, Tamil, Soenda en Soelawesie by die naam noem nie, het oorblyfsels van die tale in Afrikaans neerslag gevind. Alledaagse woorde, woorde waarmee ons grootgeword het en alombekend is: woorde soos barakát, djámang, kánalla, káfang, labárang, maaf, maníeng-al, mantra, poewasá, slamát, tramákassie. Dit is woorde wat destyds nie in algemene Afrikaanse woordeboeke opgeteken nie, maar dit is Afrikaans in hart en niere — uit dié aarde met ’n tikseltjie Oosterse speserye. Afrikaans, het die ouer mense geweet, het nie net ’n eenduidige, onlangse geskiedenis nie, maar daar is ’n lang aanloop van aanpassing en versnyding.
Dit is dié Afrikaans wat Achmat Davids moes navors. Toe sy eerste bevindings in koerantberigte en akademiese joernaalartikels verskyn het, moes hy hom dikwels verset teen ’n kultuurnasionalistiese ingesteldheid om te besit, te beheer en af te skerm. Hy het die polemieke geniet en dikwels gesê: “ek het hulle pak gegee”. Maar hy het voet by stuk gehou: Afrikaans het ontstaan in kontak. Dit is die gevolg van sosiale en ekonomiese wisselwerking, en kulturele aanpassing. Dit is die gevolg van die interaksie van diverse sprekers, dikwels in intieme persoonlike verhoudings. Afrikaans, het hy gesê, behoort nie aan één sosiale groep nie: dit is die produk van almal wat die taal praat en beleef.
Wie is hierdie Achmat Davids? Hy kom uit ’n groot gesin van tien kinders en regdeur sy lewe sou hy deernis hê met kinders, die wese, die armes en die geringstes. Alhoewel hy en sy vrou, Karima, geen eie kinders gehad nie, is die blywendste herinnering wat die mense van die Bo-Kaap aan die Davids-gesin het, waarskynlik die kinders wat dikwels letterlik van die straat af ingeneem, gevoed en geklee is.
Achmat volg vroeg sy passie vir gemeenskapswerk en verwerf ’n Diploma in Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad in 1964, waarna hy begin werk by die nieregeringsorganisasie, Kupungani, en later dien as die direkteur van die Moslem Assembly se Maatskaplike Dienste. Trouens in sy lewensloop kan ’n mens sy konstante betrokkenheid as stigter, trustee of medewerker van maatskaplike organisasies, voorskoolse en volwasse onderwys uitlig, óf dit nou die Boorhaanol kleuterskool, óf die Voorskoolse Assosiasie, óf die Skiereilandse Kinderwelsyn óf die Masjid-ul Quds óf die Islamic College of Southern Africa (ICOSA), óf talle ander liggame was. Hy was onder meer betrokke by die Schotsche Kloof Burgerlike organisasie, die Bo-Kaap Trust (1990-98) en in 1994 het hy die leiding geneem met die Sjeg Joesoef Drie-eeue Herdenking van Moslem-vestiging in Suid- Afrika. Daarom was sy bynaam “Apatjie” ‒ pa ‒ die vader van die Bo-Kaap, so gepas.
Soms was sy keuses vir gemeenskapsbetrokkenheid nie oral gewild nie en sou dit in ’n tyd van politieke verset in die 1980’s en 1990’s met daardie skeldwoord collaboration afgemaak kon word soos byvoorbeeld sy vroeë betrokkenheid by die Stigting vir Afrikaans wat indertyd beskou is as die “gesig van vriendelike Afrikanernasionalisme”. Maar Achmat het altyd gekies vir gesprek, dikwels oor die harde sosiale grense heen wat ons samelewing (steeds) kenmerk.
Tussen sy gemeenskaps-bedrywighede deur het Achmat Davids toenemend belangstelling begin toon in die geskiedenis van die Kaapse Moslems. Alhoewel hy nooit formeel as geskiedskrywer opgelei is nie, het hierdie leemte hom nie gestuit nie. In die Kaapse Argief en die Suid-Afrikaanse Biblioteek in die Tuine, wat om die draai van Bo-Kaap is, het hy die rykdom van hierdie argivale bronne opgediep. Hierdie ontdekking het in 1977 gelei tot sy eerste geskiedkundige publikasie, “The Early Cape Muslims, 1652–1800”.
Sy verdere navorsing gee aanleiding tot The Mosques of Bo-Kaap ‒ A Social History of Islam at the Cape (1980), wat ’n belangrike mylpaal in gemeenskapsnavorsing is, en toe die begraafplaas in Bo-Kaap bedreig word, het Davids sy aktivisme nie net in gemeenskapsvergaderings of in die koerante gevoer nie. Hy het sy tweede boek daaroor saamgestel, weer eens gestaaf uit argivale bronne. So het The History of the Tana Baru ‒ The Case for the Preservation of the Muslim Cemetery at the Top of Longmarket Street in 1985 tot stand gekom. (Ek kan my goed indink dat Achmat hom vandag midde-in die stryd om die bewaring van die Bo-Kaap sou bevind.)
Nietemin, hierdie twee boeke het Davids gevestig as die voorste kenner van die vroeë Bo-Kaapse geskiedenis. Niemand kon sy kundigheid ontken nie en enigiemand wat iets van die Bo-Kaap, sy mense, hul geskiedenis, hul kultuur of hul taal wou weet, het geweet dat die wyse man van Langmarkstraat 302, ’n onontbeerlike informant was.
Ek het Achmat dikwels in die Suid-Afrikaanse Biblioteek raakgeloop waar hy bril in die hand dokumente van naderby bekyk en per geleentheid selfs oor die leestafels een of ander interessantheid gedeel het, of buite in die Tuine waar ons gesels het terwyl hy hard gesuig het om sy kwota van dertig sigarette per dag in te haal.
Terwyl hy besig was met sy Boorhanol-navorsing wil die toeval dit hê dat hy te hore kom van Theo du Plessis se Taal in beweging (1986). ’n Kennis wat by Clyson Drukkers in Maitland gewerk het waar die boek gedruk is, het ’n eksemplaar aan Achmat gegee. Dié geskenk lei tot jarelange korrespondensie en ’n vriendskap met die skrywer wat uiteindelik uitgeloop het op sy meesterstudie. In 1991 voltooi Davids met lof onder Du Plessis se studieleiding “The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915: A sociolinguistic study” aan die Universiteit van Natal. Dit is in talle opsigte ’n oorspronklike studie wat om daardie rede ’n doktorsgraad verdien het. Volgens Du Plessis, het slegs die streng opvattings van die eksamenpaneel hulle verhoed om die studie tot ’n doktorsgraad op te gradeer.
Talle van Davids se insigte uit sy vorige studies het in The Afrikaans of the Cape Muslims neerslag gevind. Dit is egter veral sy bevindings oor Afrikaans wat hier van groot belang is. Alhoewel Arabies-Afrikaanse skrywers soos Abu Bakr Effendi en sy godsdienstige handleiding Bayan ul-Din of ook Bajaan Oedien van 1869 (1877) bekend was en enkele proefskrifte reeds oor Kaapse Afrikaans verskyn het, is dit Davids wat die omvang en geworteldheid van die Arabies-Afrikaanse spraak- en skryftradisie aangetoon het. Hy het ’n deurlopende narratief en ’n insigryke godsdienstige en kulturele band tussen die taal van die Bo-Kaap en sy omstreke geslaan — ’n konteks waarvan van die ander navorsers nie eens bewus was of indringend kommentaar op kon lewer nie. Dit is die voorloper van daardie taalvariëteit wat vandag bekend staan as Kaaps (of die Kaapse Skiereilandse Afrikaanse Vernakulêr, om die tegniese term te gebruik).
Hy het voorts aangedui dat taalkundiges wat hulle met Afrikaans bemoei het, nie Arabies magtig was of dit nie behoorlik kon lees nie, en dus die beskikbare data nie ten volle kon ontgin nie. Daar is natuurlik ook ander meer aktivistiese kultuurnasionalistiese redes, maar dit is nie die plek om vandag daaroor te praat nie. Davids het die omvang van hierdie Afrikaanse taalvariëteit ‒ die oudste variëteit ‒ aangedui, maar veral aangetoon hoe die Turkse geleerde Effendi en ander imams op vindingryke wyse die Arabiese skrif aangepas het om die gesproke Kaaps-Hollands of vroeë Afrikaans weer te gee. Dit is die eerste keer dat skrywers op ’n deurlopende wyse probeer het om Afrikaans te skryf.
Met sy navorsing het Davids die mite blootgelê dat Arabiese Afrikaans, en met uitbreiding die geskiedenis van slawerny, slegs ’n mindere aandeel in die wording van Afrikaans het. (Terloops: by die Taalmonument op Paarlberg word “die Maleise bydrae” as ’n aparte kort kolommetjie op die hoof-trapaantrede aangedui. Davids se navorsing bewys dat so ’n simboliese interpretasie ’n growwe wanvoorstelling is.) Die bydraes van Afrikaanse sprekers wat hul oorsprong in Suidoos-Asië gehad het, is fundamenteel, wesenlik tot wat ons vandag Afrikaans noem — nie ’n aparte stroming of gering nie.
Die vorme van Kaaps-Hollands wat die inheemse mense, die slawe en hulle nakomelinge gepraat het, is in die 19de eeu verguis en belaglik gemaak. Die Kaapse elite en buitestanders het dié vorme van die onderklasse se vroeë Afrikaans “Hottentot-Hollands” of “Kombuis-Hollands” genoem om dit te onderskei van die opperklasse se “Burger-Hollands”. Davids toon aan dat die sprekers nooit hulle eie taal ‒ hul enigste voertaal ‒ belaglik gemaak het nie maar dit met waardigheid bejeen het. Naas Arabies, die taal van die Koran, het die imams hierdie verguisde taal in hulle preke en godsdienstige tekste gebruik — ’n groter waardigheid vir enige taal kan jy nie kry nie.
Achmat Davids het internasionale erkenning vir sy taal- en geskiedkundige navorsing gekry. Hy het later byvoorbeeld navorsingstermyne aan Yale- en Harvard-universiteite in die VSA deurgebring en voorlesings in Europa en Asië gelewer, en die Islam Syek Yusuf Universiteit in Tangerang in die provinsie Banten, Indonesië het ’n eredoktoraat aan hom toegeken.
Bo-Kaap net soos ander ou buurte soos Distrik Ses, is ’n hutspot, net soos Afrikaans ’n hutspot van uiteenlopende invloede is. Dit is hier waar die agtergronde, kulture, tale en godsdienste van die Kaapse inwoners omvorm, verbaster en versmelt is. Afrikaans dra inherent die tekens van daardie verbastering. Dit is daarom nuttig om kennis te neem van Davids se uitspraak dat “Die taalmonument vir Afrikaans eerder in die moskee in die Bo-Kaap moet wees as in die Paarl”. Maar: Achmat was ’n man van versoening en binding en hy sou verheug gewees het dat ons vandag die verwerkte, verkorte Afrikaanse vertaling van sy boek hier by Gideon Malherbe-huis in die Paarl bekendstel.
Voor ek afsluit: Achmat Davids het ’n ryk aar vir navorsing raakgeboor, en sy werk moet voortgesit word. Ek vertrou dat hierdie uitgawe van sy boek sal lei tot die popularisering daarvan sodat jong linguiste en geskiedskrywers aangemoedig sal word om sy werk op verbeeldingryke wyse voort te sit. “Alhámdoeliélah”, sou Achmat waarskynlik byvoeg.
Ek moet al die raads- en personeellede van die SBA, en in besonder doktore Marlene le Roux, Neil le Roux en Jacob Meiring, bedank vir hulle inisiatief om Die Afrikaans van die Kaapse Moslems te vertaal en uit te gee. My persoonlike dank ook aan mnr Danie Botha wat die vertaling gedoen het en me Bianca Greeff wat dinge altyd betyds en puik reël. My dank ook aan die mense agter die skerms wat stil-stil hul bydrae tot die uitgee van die boek en die reëling van hierdie funksie gemaak het: mejuffroue Natalie Gabriels en Tania Bester, menere Gershwin Cupido en Ivan Ndevu, en mnr Michael Jonas, direkteur van die Taalmuseum, en sy personeel.
Ten slotte, volgende jaar sal Achmat Davids se tagtigste geboortejaar wees. Ek het reeds na sy oorlye in September 1998 in ’n huldeblyk in die Cape Times hierdie wens uitgespreek: “Cape Town has lost a decent South African and a man with a remarkable generosity of spirit. As always a prophet is not honoured in his own land. If I can make a plea: Achmat Davids deserves the highest civil honour this country can offer, even if posthumously.” 2019 sal ’n geskikte jaar vir daardie eerbewys wees.
Dankie, dames en here — baie tramákassie, soekran.
Desember 15, 2018
1 Hein Willemse en Suleman Dangor (reds.), Pretoria: Protea Book House, 2011
Lees ook
Fotoblad: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems-bekendstelling
Kommentaar
Dankie Hein. Soos altyd leer ek elke dag iets nuuts by jou. Ek is ontsettend lief vir Afrikaans en toesprake soos hierdie intensifiseer net daardie trots. Baie dankie ook vir jou leeue-aandeel vir die posisie waarin die Taal hom tans bevind. Trots op jou.👏👏👏
Baie insiggewend Hein en wonderlik om so toevallig op ’n artikel soos die af te kom. Toevallig, omdat ek pas ’n KykNET-episode van Prontuit gevolg het, daar van Achmat Davids se bydrae tot Afrikaans in die Bo-Kaap gehoor het en deur te google op jou toespraak afgekom het. Ek het in 1980 Afrikaans op UWK gedoen onder Prof Jakes Gerwel en jy was my senior. Ek weet van die projek waar jy navorsing in Namibië wou doen maar onverrigtersake moes terugkeer toe jou materiaal in ’n motor-inbraak in Windhoek gesteel was. Sal graag wil hoor of daar ’n toekoms vir daardie projek oor Namibiese Afrikaans is. Bestes.