Presidentsverkiesing in die VSA: ekonomiese implikasies vir Suid-Afrika

  • 1

Jannie Rossouw (foto: YouTube)

Op die oorwig van waarskynlikhede lyk dit tans asof Joe Biden van die Demokratiese Party die presidentsverkiesing in die VSA gewen het.[i] Donald Trump beveg egter steeds die uitslag.[ii] Trouens, hy het reeds voor die verkiesing aangedui dat hy nie die uitslag sal aanvaar as hy verloor nie.[iii]

..........

Trump se optrede bring algemene twyfel oor die doeltreffendheid van demokratiese stelsels as ’n wyse waarop kiesers hul voorkeure uitspreek, en herinner aan diktatorskappe waarvan die wêreld reeds te veel gesien het. Trump se optrede benadeel pogings om demokratiese stelsels in ander streke van die wêreld te vestig of te versterk.

............

Trump se optrede bring algemene twyfel oor die doeltreffendheid van demokratiese stelsels as ’n wyse waarop kiesers hul voorkeure uitspreek, en herinner aan diktatorskappe waarvan die wêreld reeds te veel gesien het. Trump se optrede benadeel pogings om demokratiese stelsels in ander streke van die wêreld te vestig of te versterk.

Finale sekerheid oor die verkiesingsuitslag sal eers op 14 Desember 2020 volg, na stemming deur die Presidensiële Kieskollege.[iv] Weens Trump se optrede sal die 2020-presidentsverkiesing vir al die verkeerde redes onthou word. Moet ons nie liefs nou na die Verdeelde State van Amerika verwys nie?

Biden se eerste uitdaging na ampsaanvaarding op 20 Januarie 2021 is dus introspeksie oor ’n verdeelde land. Introspeksie, hereniging (reuniting) en vrede (peace, maar ook tevrede(nheid)) oor die hele politieke spektrum sal na COVID-19 die tempo van ekonomiese herstel in die VSA bepaal. Soos baie ander lande is ook die VSA in ’n resessie in 2020 weens die impak van COVID-19, met groot ekonomiese verskille tussen die Demokrate en die Republikeine oor die beste strategie vir ekonomiese herstel. Hierdie uitdaging herinner aan John Maynard Keynes se boek ná die Verdrag van Versailles in 1919, The economic consequences of the peace.[v] Biden moet vrede tussen die Demokrate en die Republikeine bewerkstellig, wat die tempo van ekonomiese herstel in die VSA sal bepaal.

Die Demokrate propageer ’n uitgebreide sosialeveiligheidsnetwerk (social security network) vir diegene wat nie deur die party se strewe na gelyke ekonomiese geleenthede bevoordeel word nie. Die party se beleid fokus dus op uitgebreide sosiale toelaes en welsynsprogramme ter ondersteuning van die sosialeveiligheidsnetwerk, asook hoër minimum lone, omvattende gesondheidsorg en openbare onderwys, en gesubsidieerde behuising vir huishoudings met lae inkomste binne ’n gemengde ekonomie. Volgens die Demokratiese Party moet hierdie kostes en uitgawes bekostig word deur hoër belastings, onder meer deur skerp belastingprogressie (hoër belastings vir diegene met groot inkomste en welvaart).[vi]

Hierteenoor propageer die Republikeinse Party vrye markte en individuele prestasies as die hoekstene vir ekonomiese welvaart. Die fokus is op persoonlike verantwoordelikheid, eerder as op welsynsprogramme en ander sosiale steun. Die Republikeine propageer laer inkomstebelastingkoerse in die verwagting dat dit ekonomiese groei sal verhoog, wat tot hoër belastinginkomste sal lei. Voorts is dié party van mening dat private besteding meer doeltreffend as staatsbesteding is.[vii]

Sukses al dan nie word bepaal deur ekonomiese groei in die praktyk deur verskillende administrasies, eerder as deur ekonomiese beleid. Op hierdie basis is die Demokrate meer suksesvol as die Republikeine. Sedert die Tweede Wêreldoorlog was die VSA se jaarlikse gemiddelde ekonomiese groei sowat drie persent per jaar. Daar was 13 presidente in hierdie tydperk.

..........

’n Vergelyking van die gemiddelde ekonomiese groeikoers onder die 13 administrasies toon twee verskillende neigings. Gemiddeld was ekonomiese groei meer as vier persent per jaar met Demokrate aan bewind, teenoor gemiddelde ekonomiese groei van sowat 2,5 persent per jaar terwyl Republikeine aan bewind was.

...........

’n Vergelyking van die gemiddelde ekonomiese groeikoers onder die 13 administrasies toon twee verskillende neigings. Gemiddeld was ekonomiese groei meer as vier persent per jaar met Demokrate aan bewind, teenoor gemiddelde ekonomiese groei van sowat 2,5 persent per jaar terwyl Republikeine aan bewind was.[viii] Toevallig is dit ook ongeveer die ekonomiese groeikoers vir die eerste drie jaar van die Trump-administrasie (2017 tot 2019), maar die statistiek vir sy totale bewind sal natuurlik totaal verwring word weens die impak van COVID-19 op ekonomiese bedrywighede in 2020.

As die geskiedenis herhaal word (sonder om die naskokke van en statistiese aanpassings weens COVID-19 in ag te neem), sal die ekonomie in die VSA onder Biden dus vinniger groei. Omdat die ekonomie van die VSA byna 25 persent van die globale ekonomie verteenwoordig, sal vinniger Amerikaanse groei alle lande, insluitend Suid-Afrika, tot voordeel wees.

In die ontleding van ekonomiese voordeel vir Suid-Afrika onder ’n Biden- of Trump-administrasie is dit egter nodig om verder te kyk as die politieke partye onder wie se vaandel hul verkies is. Trump het immers tussen 2001 en 2009 die Demokratiese Party as sy politieke affiliasie aangedui.[ix] Persoonlikhede en persoonlike sienings van presidente van die VSA speel ook ’n rol in internasionale verhoudings.

Die impak van ’n Biden- of Trump-administrasie op Suid-Afrika moet ook binne die konteks van Afrika en van presidensiële voorkeure oorweeg word. Op hierdie vlak is ’n Biden-administrasie verkieslik, want dit was immers Trump wat onder meer na Afrikalande as s***hole countries verwys het.[x] Bloot op grond van hierdie stelling, wat duidelik geen respek vir Suid-Afrika, ander buurlande en Afrika in die geheel toon nie, behoort alle Suid-Afrikaners Biden se verkiesing te steun.

..........

As die geskiedenis herhaal word (sonder om die naskokke van en statistiese aanpassings weens COVID-19 in ag te neem), sal die ekonomie in die VSA onder Biden dus vinniger groei. Omdat die ekonomie van die VSA byna 25 persent van die globale ekonomie verteenwoordig, sal vinniger Amerikaanse groei alle lande, insluitend Suid-Afrika, tot voordeel wees.

............

Suid-Afrika sal onder ’n Biden-administrasie sekerlik ten opsigte van beoordeling beweeg vanaf ’n “s***hole”-land na ’n land wat sy regmatige plek in die internasionale samelewing inneem. In sigself is dit ’n reusestap in die regte rigting.

Terwyl die Trump-administrasie se beleid toenemend die VSA van die res van die wêreld geïsoleer het, sal ’n Biden-administrasie fokus op groter intergrasie van die VSA met die res van die wêreld. Die VSA sal weer sy regmatige plek op die internasionale toneel inneem.

Te midde van Biden se bewindsoorname staar die Suid-Afrikaanse ekonomie groot uitdagings in die gesig. Die fiskale posisie is uiters benard en Suid-Afrika se internasionale kredietgradering is pas dieper in rommelstatus afgegradeer. Die enkele grootste uitdaging is dus hoër ekonomiese groei om werkloosheid te verminder en die belastingbasis te vergroot.

Terwyl Trump dikwels die indruk skep dat internasionale handel ’n nulsom-spel tot nadeel van die VSA is, verstaan Biden dat internasionale handel tot voordeel van alle deelnemers strek. Op grond van hierdie verskil in uitgangspunt sal ’n Biden-administrasie vir Suid-Afrika tot groter voordeel wees as ’n Trump-administrasie. Suid-Afrika sal internasionale handelsgeleenthede kan benut om plaaslike ekonomiese groei te stimuleer.

............

Suid-Afrikaners moet dus ’n Biden-administrasie verwelkom, want die land sal ten minste met meer respek deur die VSA bejeën word. Dit skep ’n beter basis vir plaaslike ekonomiese herstel.

...........

Suid-Afrikaners moet dus ’n Biden-administrasie verwelkom, want die land sal ten minste met meer respek deur die VSA bejeën word. Dit skep ’n beter basis vir plaaslike ekonomiese herstel.

[i] Sien byvoorbeeld https://www.theguardian.com/us-news/ng-interactive/2020/nov/19/us-election-results-2020-joe-biden-defeats-donald-trump-to-win-presidency.

[ii] Sien byvoorbeeld https://www.cbsnews.com/video/why-the-trump-campaign-continues-to-fight-election-results-despite-court-losses.

[iii] Sien byvoorbeeld https://www.nbcnews.com/politics/2020-election/trump-has-signaled-he-won-t-accept-election-loss-many-n1245304.

[iv] Sien byvoorbeeld https://www.itsuptous.org/blog/2020-presidential-elections.

[v] Keynes, JM. The economic consequences of the peace. Londen: Macmillan.

[vi]  Sien byvoorbeeld https://web.archive.org/web/20150320195530/http://www.democrats.org/issues/economy_and_job_creation.

[vii] Sien byvoorbeeld https://www.economist.com/briefing/2011/09/24/diving-into-the-rich-pool.

[viii] Sien byvoorbeeld https://econlife.com/2020/02/comparing-presidential-economic-performance/ of https://www.hudson.org/research/12714-economic-growth-by-president.

[ix] https://www.politifact.com/factchecks/2015/aug/24/jeb-bush/bush-says-trump-was-democrat-longer-republican-las.

[x] https://issafrica.org/iss-today/president-biden-would-have-to-take-africa-much-more-seriously.

Lees ook:

VSA-verkiesing 2020: Wie ook al wen, gaan verloor

VSA-verkiesing uit die oog van "gewone" mense

VSA-verkiesing 2020: Doodsake

  • 1

Kommentaar

  • robert barrie

    Goeie artikel met waardevolle bewys ... MAAR ... in konteks van die SA word groei verwring deur die ANC beleid deur 'red tape' en dan die onproduktiewe swak gekwalifiseerde staatsbestel. Die demokrasie in die SA konteks beteken dat die belastingbetaler geminag word; die massas in armoede stil gehou word met karrige toelaes met hope liegtoesprake deur die ANC vir 'n beter lewe wat na 26 jaar nie daar is nie terwyl die ANC gierigers in weelde leef deur diefstal. Die land is maar net nog 'n tipiese 4e-wêreld Afrikastaat misbruik deur die bende

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top