VSA-verkiesing 2020: Wie ook al wen, gaan verloor

  • 4

Foto van Jaco Kirsten: kykNET/Megaboere; foto van Donald Trum: wikimedia

Om die pas afgelope Amerikaanse presidentsverkiesing beter te kan verstaan, moet jy omtrent vyf jaar in tyd terugreis. Die charismatiese Barack Obama se tweede termyn as president was aan sy einde. Soos soveel organisasies wat gelei word deur ’n charismatiese leier, was daar ’n leierskapsvakuum. Joe Biden, sy visepresident, het in 2008 probeer om die Demokratiese Party se nominasie te kry, maar kon slegs 0,22% van die party se stemme kry – teenoor Obama en Hillary Clinton se 49% en 47% onderskeidelik.

Biden, wat visepresident onder Obama was, was dus nie iemand wat met sukses vereenselwig sou word nie. Toe hy in 1984 probeer het om die Demokratiese kandidaat te word, het hy ’n volle 0,0% van die stemme gekry en in 1988 ’n opwaartse kurwe getoon met ’n stewiger 0,1% van die stemme.

Toe die party dus vir die 2016-verkiesing begin voorberei het, was dit nie moeilik vir Hillary Clinton om uiteindelik die nominasie te kry nie – hoewel baie waarnemers glo die party het toutjies getrek sodat die veel gewilder en radikaal linkse Bernie Sanders nie die nominasie kry nie. Die rede was voor die hand liggend: Gematigde Demokrate sou die party die rug toekeer.

Die media was van die begin af versot op Hillary. Daar is ge-swoon oor die moontlikheid van ’n eerste vrouepresident, dit net na die eerste swart president.

Intussen het die Republikeine weggespring met ’n totaal van 16 kandidate. Dit was ietwat chaoties, met geen ooglopende gunsteling nie. Een van hulle was die eiendomsmagnaat en werklikheidstelevisiester Donald Trump. Daar is gelag en gegiggel oor Trump. Hoekom het hy hom nie liewer by sy lees gehou nie? Die politiek is mos vir eerlike mense. En wat weet hy in elk geval van politiek?

Soos die stryd vir die Republikeinse nominasie toegeneem het, het een ding al hoe meer opvallend geraak: Trump is nie daar om speletjies te speel nie. Sy teenstanders, onder wie Jeb Bush, die seun van oudpres George Bush, en broer van oudpres George W Bush, moes geskok toesien hoe Trump hom soos ’n vlieg eenkant toe wegveeg met ’n tot toe ongehoorde verbale aanslag en die troetelnaam Low Energy Jeb. Skielik was Jeb se mojo weg. Trump het met sy infantiele belediging ’n aar raakgeboor. Niemand het al ooit so met Jeb Bush gepraat nie. Jeb het nie ’n antwoord gehad nie en deur die loop van die veldtog het hy, nes al die ander aspirantkandidate, voor die Trump-stoomroller geswig.

En in die proses het Trump hom ook vervreem van die Republikeinse establishment wat geglo het jy moet jou gedra asof jy in ’n country club se sitkamer sit. Trump, ’n boorling van Queens in New York, het hom afgevee aan die Queensberry rules. Hy’t kaalvuis en vuil baklei. En hy het in elk geval ’n paar van sy eie country clubs besit.

Toe die verkiesing aanbreek, was dit duidelik dat Clinton en Trump heeltemal verskillende veldtogte sou voer. Trump, die wheeler dealer van New York, het ’n populistiese aanslag gevolg. Uit ’n bemarkingsoogpunt was sy veldtog eenvoudig, dog uiters effektief. Rooi kepse en ’n maklike, dog kragtige leuse: “Make America Great Again." Dit was die teenoorgestelde van “Slaan jy nog jou vrou?" Want wie wil nie Amerika sien floreer nie? Sy linkse kritici het aangevoer dat Amerika nog nóóit groots was nie. En net daar het jy ’n filosofiese en ideologiese skeur so groot soos die Grand Canyon.

Dit bring ’n mens by ’n ander punt: Trump se kritici voer aan dat hy Amerika verdeel het. Dis ’n baie miopiese beskouing. Trump is nie die oorsaak van ’n verdeelde Amerika nie; hy’s net nog een simptoom. En dis waarom hy so vinnig so gewild geraak het. Want hy’t iets aangespreek waaroor niemand meer durf praat het nie: die wit werkersklas se toenemende vervreemding in Amerika.

Terselfdertyd het die Clinton-veldtog geglo dat die verkiesing ’n formaliteit sou wees. Sy, as Clinton, was immers bestem om te wen. Miskien het dit haar futlose veldtog verklaar. Haar running mate was ene Tim Kaine. (Tim wie?) En haar veldtog se leuse ... Kan enigiemand onthou? “I’m with her." I kid you not.

Intussen het die Demokraties-gesinde media tot die verkiesing geglo dat Hillary ’n 97% kans het om te wen. En toe die uitslag uiteindelik bekend gemaak is, was almal verslae. Daar is gehuil, geskree en verslae na TV-skerms gekyk. Wie is hierdie vark? Hoe durf hy?

Trump, met geen ervaring in die politiek nie, het groot flaters begaan met van sy eerste aanstellings. Jeff Sessions moes nooit prokureur-generaal gewees het nie. Tot groot kritiek van sy teenstanders – en mense in die Republikeinse establishment – het hy sy dogter en skoonseun as adviseurs aangestel. Die media het soos piranhas op hom toegesak. Elke woord is uitmekaargetrek. En ja, sy neiging om in hiperbool te praat en spaarsamig met die waarheid te wees, het mense gou op hol gehad.

Waar hy hom egter onderskei het – en selfs sy mees geharde vyande moet dit erken – is die feit hy die meeste van sy groot verkiesingsbeloftes nagekom het. Beginnende by die ekonomie. Onder Trump het die Amerikaanse ekonomie tot rekordhoogtes gegroei. Die laagste werkloosheidsyfers in die geskiedenis, ook vir swart en Spaanssprekende Amerikaners. Die Amerikaanse ambassade in Israel is na Jerusalem verskuif. Die muur teen die Meksikaanse grens is grootliks gebou (en nee, Meksiko het uiteindelik nie daarvoor betaal nie). China is aangevat oor hulle grootskaalse diefstal van Amerikaanse intellektuele eiendom en uitbuiting van Amerika met handel. Handelsooreenkomste is herbeding. Isis is binne maande vernietig. Iran se meesterbreinterroris, Qassim Suleimani, is geëlimineer. Vanjaar kondig verskeie state aan dat hulle, met aanvoorwerk van Amerika, vredesverdrae met Israel onderteken het. En soos hy heel aan die begin belowe het, sou hy konserwatiewe regters vir die hooggeregshof nomineer. Regter Amy Coney Barrett was die derde aanstelling van die Trump-presidensie – ’n rekord vir enige Amerikaanse president.

Maar nóg belangriker: Amerika tree vir die eerste keer in dekades nie toe tot nuwe oorloë nie.

Sy kritici kan aanvoer dat hy Amerika uit die Paryse Klimaatsooreenkoms laat onttrek het. Sy ondersteuners kan aanvoer dat die ooreenkoms Amerika gekniehalter het, terwyl dit China vrypas gee. Hollywood het hom met ’n passie begin haat. Kanale soos CNN en MSNBC het hulle hele nuusaanbod gebaseer op ’n filosofie van “Orange Man Bad". Van meet af is daar uitasem verklaar dat Trump met Rusland saamgeweer het om die verkiesing te wen. Nie net het die Mueller-ondersoek die bewerings weerlê nie, maar gedeklassifiseerde materiaal het onthul dat John Brennan, die indertydse CIA-baas, vir Obama in 2016 ingelig het dat Hillary Clinton ’n verkiesingspropagandaplan goedgekeur het om Trump van samewerking met Rusland te beskuldig om die aandag van haar e-pos-skandaal af te lei. Die hoofstroommedia het ook Trump se onskuld geïgnoreer. Wat die “Russiese sameswering"-leuen aanbetref, is daar daagliks uitasem berig “the walls are closing in (on Trump)"; “this is the beginning of the end!", ens. ’n Span joernaliste van die New York Times het selfs Pulitzer-pryse gewen vir hulle dekking van die “Russiese sameswering". Tot vandag toe het hulle geen verskoning gepubliseer oor hulle herhaling van hierdie verkiesingspropaganda nie. Nie een van die mense, soos George Papadopolous, genl Flynn, Michael Cohen of Paul Manafort, is vervolg oor enigiets wat met beweerde Russiese sameswering uit te waai gehad het nie. Die FBI het hulle eenvoudig geteiken met die hoop dat hulle “die waarheid" oor Trump sou onthul. Gedeklassifiseerde materiaal het ’n skokkende vlak van polities-gedrewe optrede van die FBI teenoor Trump onthul. Hofaansoeke om op die Trump-veldtog te spioeneer is onder valse voorwendsels verkry.

En die hoofstroommedia? Tjoepstil.

Hollywood se neurote en narsiste het saam ingespring. Die komediant Trevor Noah het ook die anti-Trump gaping gevat en ontaard in een van die mees onsnaakse individue duskant ’n dokter wat op die punt is om jou prostaat te ondersoek. Op sosiale-media-platforms soos Twitter het linkses daagliks apoplekties geraak oor enigiets wat Trump kwytraak. As jy na die media en sosiale media gekyk het, was die duidelike indruk dat die land regeer word deur ’n mini-Hitler wat mense in treintrokke na gaskamers wil laat aanry. Die ironie dat al hierdie kritiek deur ’n “diktator" toegelaat word, was te veel vir diegene met terminale Trump Derangement Syndrome om te kon verstaan.

Teen Januarie 2020 was sy herverkiesing egter ’n bykans uitgemaakte saak. Die Demokratiese Party, soveel as wat hulle hom verag het, kon nie ’n teenvoeter kry vir sy skouspelagtige ekonomiese sukses nie.

En toe tref COVID-19 Amerika. Eers het politici aan beide kante dit afgemaak. Nancy Pelosi het mense aangeraai om steeds ’n fees in NY se Chinatown by te woon “om te wys dat ons nie bang is vir Chinese nie". Toe Trump vlugte uit China verbied, is hy beskuldig van xenofobie. Kort voor lank het dit ooglopend geraak dat die siekte ’n wil van sy eie het. Trump, die sakeman, moes effektief die ekonomie sluit. Sy grootste herverkiesingswaarborg was effektief in sy peetjie in. En ja, hy het paniekerig begin raak. Trump, die politikus, het die virus afgemaak as iets wat gou sou verdwyn. Maar dit het nie.

Sy instink, wat sin maak in ’n federasie soos Amerika, was om die state self oor hulle eie Covid-programme te laat besluit. Sy kritici voer aan dat dit nie behoorlik gekoördineer was nie. Dit was politieke manna vir die Demokratiese Party. Dit maak nie saak wat Trump gedoen het of nie gedoen het nie, die opposisieparty kon dit kritiseer. Die Demokratiese goewerneur Andrew Cuomo van New York se besluit om duisende Covid-pasiënte in tehuise vir bejaardes te laat isoleer, het tot die dood van duisende gelei. Tot vandag toe het niemand hom in die media daaroor aanspreeklik gehou nie. Aan die ander kant het die Demokratiese media volgehou dat Trump verantwoordelik is vir die dood van elke slagoffer. Twee dinge val op met hierdie redenasie: Eerstens is Amerika se Covid-sterftesyfer, so tragies soos dit is, per kapita min of meer dieselfde as dié van die meeste Wes-Europese lande. En tweedens: Onder linkses is daar ’n opvatting dat Trump ’n fascis, Nazi en outokraat is. Wel, indien dit so is, is hy ’n bra swak een, want Hitler sou nooit besluitnemingsmagte na plaaslike vlak afgewentel het nie. Onthou: Amerika bestaan uit 50 outonome deelstate, elkeen met sy eie wette, leier, geskiedenis en demografie. Só kan ek hier in Colorado, wat ’n uiters liberale staat is, dagga in my tuin kweek of dit by verskeie winkels in die buurt gaan koop. Dis 100% wettig. Maar ry ek ’n uur noord na Wyoming, sal ek in die tronk beland as ek daarmee betrap word. ’n One-size-fits-all-benadering kan nie hier werk nie.

Maande gelede het ’n Amerikaanse waarnemer opgemerk dat die 2020-verkiesing eintlik maar op ’n COVID-19-referendum sou neerkom.  Dit was waar woorde.

Want toe die 77-jarige Joe Biden uiteindelik aangewys is as Demokratiese kandidaat, was sy strategie baie duidelik: Speel die “goeie ou" en kritiseer Trump se hantering van die pandemie. Ongeag sy fisieke of geestesgesondheid. Joe, die ou wat al vir 47 jaar in die politiek doenig was, sonder om enigiets van substansie te kon bereik, sou Amerika regruk ná Trump.

Trump se filosofie met betrekking tot herverkiesing was onveranderd: groot byeenkomste. “Maak Amerika weer Groot. Ek sal die ekonomie herstel." Biden s’n was video-uitsendings waarin hy onder andere Trump se byeenkomste gekritiseer het. In wese het hulle onderskeie boodskappe op die volgende neergekom: Trump het gesê: “Moenie worry nie, ek gaan die ekonomie weer aan die gang kry", terwyl Biden s’n was: “Trump is ’n nare ou en ek gaan ons uit die Covid-gemors kry." Tydens die eerste televisiedebat tussen die twee het dit gelyk of Biden ’n punt beetgehad het. Trump was bombasties en het dunvellig voorgekom. Maar in die tweede debat het ’n meer besadigde Trump weer die oorhand gehad, hoewel ’n mens gevoel het dat die skade reeds gedoen is.

’n Ander interessante wending was die onlangse onthulling van ’n skootrekenaar van Biden se seun Hunter waarop skokkende inligting onthul is oor die Biden-gesin se sakebelange in die Oekraïne, China en Rusland. Hunter, ’n dwelmslaaf, het dit by ’n rekenaarwinkel ingedien, maar nooit gaan afhaal nie. Die Demokratiese media het dit óf geïgnoreer óf afgemaak as “Russiese disinformasie". Die probleem was dat die FBI bevestig het dat daar nie met die rekenaar gepeuter is nie. Die inligting was dus eg. Nog ’n probleem was dat Tony Bobulinski, ’n vennoot van die Bidens en ’n Demokratiese donateur, in onderhoude die egtheid van die e-posse – waarvan hy self deel uitgemaak het – in besonderhede bevestig het. Jy kan jou net indink hoe die media sou gereageer het indien sulke inligting van Donald Trump jr iewers ontdek sou gewees het.

Die meningspeilings en politieke ontleders het almal ’n Biden-tsunami voorspel. Trump neuk immers mos die land op. Hy’t duisende vermoor. Hy’s ’n liegbek wat niks bereik het nie, nie waar nie? Daarom het die werklike uitslag almal verbaas – en frustreer. Want ongeag die uiteindelike uitslag, het Trump vanjaar die hoogste hoeveelheid steun onder swart en Spaanssprekende kiesers gekry in die geskiedenis van die Republikeinse party. Hoe verklaar jy dit? Of was Joe Biden reg toe hy tydens die veldtog gesê het: “If you don’t vote for me, you ain’t black"?  

Vinnige grappie: Wat is ’n politieke ontleder? Dis ’n persoon wat vir jou mooi vertel wat gaan gebeur – en wanneer dit voorspelbaar genoeg nie gebeur nie, vir jou mooi vertel hoekom dit nie gebeur het nie.

Maar nóg meer betekenisvol: Die Republikeinse Party het onder Trump ideologies plekke met die Demokrate omgeruil. Die Republikeine is nou die party van die werkersklas van alle rasse, terwyl die Demokrate gemuteer het tot ’n koalisie van radikale sosialiste, radikale feministe, akademiese marxiste, coastal elites, en Silicon Valley- en Hollywood-“sterre".

En so hier sit ons nou, ’n paar dae na die Amerikaanse verkiesing. En ons weet steeds nie wie gewen het nie. Hoofsaaklik weens die gebruik van posstemme, waarvan sommige ná stemdag by hulle bestemmings uitgekom het of wat in sommige state eers ná kiesdag begin tel mag word. Ons is nou by ’n herhaling van die Bush/Gore-verkiesing in 2000, toe ’n hofsaak uiteindelik ’n hertelling beveel het. Dié slag lyk dit of die Trump-veldtog dit wil laat doen in Pennsilvanië, Michigan en Wisconsin. Net die tyd sal leer.

Wat wel waar is, is dat Amerikaners in rekordgetalle gestem het. Dat daar, projeksies en voorspellings ten spyt, na vier jaar van Trump, geen “Blou Tsunami" van Demokratiese stemme was nie. Inteendeel, die uiteindelike uitslag balanseer op ’n mespunt. As jy na vier jaar van negatiewe dekking van die Demokratiese-media-establishment verbaas is oor die uitslag, moet ’n mens jou afvra of die dekking regtig objektief was. En of jy as toeskouer werklik weet wat in Amerika aangaan.

Wie ook al die verkiesing wen, gaan nie ’n maklike taak hê nie.

Indien Trump wen, veral na hofsake, gaan Demokrate weer aanvoer dat sy verkiesing nie legitiem is nie. Maak jou dus reg vir nog onluste en vier jaar van verdagmaking deur die Demokraties-gesinde media. En dit gaan morsig raak – soos die BLM/Antifa-optogte en -betogings die afgelope paar maande in Demokratiese stede bewys het.

Indien Biden se oënskynlike oorwinning bevestig word, gaan hy ’n ontnugtering of twee hê. Eerstens lyk dit of die Republikeine die Senaat gaan behou. Wat beteken dat al sy groot beloftes, soos gratis gesondheidsorg, die Green New Deal, die skep van ekstra deelstate (om meer Demokratiese senatore te verseker), die vergroting van die bank van die Hooggeregshof (om ’n meerderheid Demokraties-gesinde regters te kan aanstel), asook die skrap van die filibuster (waarvolgens minstens 60 lede van die Senaat toestemming moet gee voordat iets na stemming mag oorgaan), onmoontlik gaan wees om deur te voer. Boonop het die Republikeine weer vyf ekstra setels in die Huis van Verteenwoordigers gekry. Wat die Demokratiese meerderheid nóg kleiner maak. Maak hulle die kiesers die josie in, kan die Republikeine in 2022 weer beheer van die Huis terugkry.

En, miskien die belangrikste van alles: Die kiesers gaan nou die kans hê om te sien wat presies ’n Joe Biden-administrasie gaan doen om van Covid ontslae te raak. Tot dusver het Biden se “plan" geklink presies soos die een wat die Trump-administrasie tans volg. Soos hy egter gaan agterkom, kan jy nie ’n virus beheer nie. Dis bo amptenare en politici se pay grade. Jy kan hoogstens die impak daarvan probeer bestuur. Tot op ’n punt.

Met ander woorde, dit maak nie saak wie wen nie, hy gaan op ’n sekere vlak verloor. En dit maak nie saak wie verloor nie, hy gaan op ’n sekere vlak wen.

Lees ook:

VSA-verkiesing 2020: Doodsake

2020 USA election: The countdown to the apocalypse?

2020 USA election: How did it come to this?

 

  • 4

Kommentaar

  • Mooi, Jaco. Jy en Jaco Kleynhans van Maroela Media is baie in die kol met jul ontleding van die situasie in Amerika.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Dankie, Jaco. Jy verskaf perspektief wat in die plaaslike hoofstroom-inligtingsmedia ontbreek. Daardie waarnemers is nie in staat om tussen Trump as persoon en sy beleid te onderskei nie. Die Biden/Harris-beleid gaan baie van hulle ontnugter.

  • Leopold Scholtz
    Leopold Scholtz

    Interessante artikel, goed geskryf deur iemand wat goed met woorde kan omgaan. Net een ding, Jaco, wat die "Russiese inmenging" van 2016 betref: Jy het klaarblyklik nooit kennis geneem van die Mueller-verslag nie, wat bevestig dat die inmenging wel deeglik plaasgevind het. Wat meer is, Trump-hulle was aanvanklik ontvanklik vir die Russiese aanbod, maar dit het uiteindelik op niks uitgeloop nie.

  • Avatar
    Melvyn Minnaar

    Trump-kampers soos hierdie handhaaf die boelie-tipe argumente en vergeet gerieflikheidshalwe die man se seksisme en rassisme. En, ja, sommige van die feite.
    Lees assblief Rita Barnard se ervaring "Doodsake" hiernaas as teenpool...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top