VSA-verkiesing 2020: Doodsake

  • 4

Rita Barnard (foto: https://upenn.academia.edu/RitaBarnard)

Toe Van Jones van CNN begin huil het uit pure verligting oor die verkiesingsuitslae, het hy uitdrukking gegee aan wat die meerderheid hier – tot verskillende mate, afhangende van ons ras en afkoms en beroep – ook gevoel het. As jy ’n Moslem was, of ’n immigrant, of swart, of ’n klimaatwetenskaplike, of ’n diplomaat, of selfs iemand – soos ek – wat die apartheidsera en die teleurstelling van Zuma se korrupsie deurleef het, was die afgelope vier jaar bitter moeilik. Ons emosionele lewenskragtigheid, soos Jones ook verduidelik het, was geduring getap deur die gevoel van weerloosheid, weersin, en walging, en ’n groeiende gevoel van loutere vrees, toe die pandemie die laaste maande hand uitgeruk het. Jones het die frase "I can’t breathe" aangehaal: die laaste woorde wat die arme Eric Garner kon uitkry toe die New York-polisie hom in 2014 vasgepen het in ’n wurggreep. ’n Frase wat nou ook resoneer met die lyding van George Floyd en van duisende geïsoleerde, verstikkende COVID-19-pasiënte. Met Biden se oorwinning – wat miskien op die ou end nie so naelskraap sal wees nie – kan meer mense weer asemhaal, gedagtes ’n bietjie laat swewe, minder bekommerd voel oor watter vulgêre spoggery, onnoselheid, krasheid, gemeenheid, of aanslag op demokratiese grondreëls ons daagliks gaan tref. ’n Mens se gees sal dalk nie meer gedurig hoef te koes nie. Joe Biden het deurgaans gesê dat hierdie verkiesing ’n stryd was vir die siel van die nasie – maar dit was eintlik ’n stryd om asem en lewe. Dit was doodsake, want sonder ’n gekoördineerde nasionale plan om die Covid-epidemie onder beheer te bring, staar ons werklik (soos die entstofspesialis Rick Bright gewaarsku het) die donkerste winter in moderne geskiedenis in die gesig. Die doemprofeet wat hierdie somer in ’n swart kostuum met ’n gruwelike ystersens op Florida se strande geparadeer het, se boodskap is darem uiteindelik deur genoeg mense gehoor.

Hierdie jaar was die verkiesing natuurlik nie net een dag nie – dit het uitgestrek vir weke voor 3 November – en vir vier spanningsvolle dae daarna. (40 miljoen mense het alreeds gestem toe die finale debat tussen Trump en Biden plaasgevind het.) Tog was die amptelike datum belangrik. Dit was net na ’n veel ouer feesdag: die Dìa de los Muertos wat hier gevier word deur die ongeveer 30 miljoen mense van Meksikaanse afkoms. Daar het die verkiesing eintlik vir my begin: met die video’s uit Arizona van mense wat rou en onthou en die afgestorwenes vir nog ’n vlugtige dag terug verwelkom. In sonnige, stowwerige Phoenix het mense hulle altaartjies uitgesit met kos en blomme en foto’s van familielede wat teen die virus verloor het. Hulle het stories van hulle geliefdes se heengaan vertel: my dad, my auntie, my dear baby sister.

Die einde van die verkiesing, soos ek dit beleef het, was Saterdagoggend in Old City Philadelphia, digby die elegante baksteengeboutjie waar die Declaration of Independence en die Grondwet in 1776 onderteken is. Ek was in ’n haarsalon. Toe die nuus deurkom – van Associated Press en toe ook CNN – dat Philly eintlik die verkiesing vir Biden gewen het, het elke enkele mens in die salon in hulle maskers en swart kabaaie begin dans. Later op straat het ’n man gebulder: "The nightmare is over!" En toe ek vir die eerste keer in maande by ’n straatkafee gaan sit, was die atmosfeer rustig, die glasie vonkelwyn verfrissend. Maar toe ’n oop sportmotor verbyry met toeters aan die blaas het almal om my weer gejuig en vuiste vrolik in die lug geskud. ’n Hond met ’n Biden-Harris-serpie het kom groet; ’n vrou met ’n "This Pussy Grabs Back"-T-hemp het gaaf geposeer vir ’n foto. Hoog teen ’n gebou in die mooi blou lug het ’n plakkaat verkondig: TRUMP AND PENCE OUT!

In New York City het skares gejuig vir die posmanne in hulle werksvoertuigies: USPS! USPS! Gepas: Die impak van stemme deur die pos, wat ons wel langer as gewoonlik op ons senuwees laat bly het, sal die hele ritueel van verkiesings tot diep in die toekoms wysig – en waarskynlik meer demokraties maak. ’n Avengers-styl-video het dadelik gewild geword. Dit wys eers vir Biden, braaf en bewapen, maar alleen en ’n bietjie oorweldig in sy geveg teen sy knorrige teenstander. Maar – siedaar! – van alle kante kom gespierde supervegters te voorskyn om hom by te staan – Stacy Abrams, Keisha Lance Bottoms, Barack Obama ... haai, en daar is die heldhaftige Pete Buttigieg, en Andrew Yang, en die mooi AOC, en, ja, selfs – uit die donker aarde – wyle John Lewis, Ruth Bader Ginsberg, en Sean Connery. Maar miskien was die werklike helde die mense wat gesorg het dat ons stembriewe (my eie ingesluit) darem by die verkiesingsentra aangekom het: dit teen die sameswering van hulle norse baas, die korrupte en vreugdelose Louis DeJoy.

Die snaakste storie van die dag was natuurlik die perskonferensie van Trump se komieklike regspan, met die gekke Rudy Giuliani as voorbok, wat om misterieuse redes verskuif het van die Four Seasons Hotel in Center City na die Four Seasons Total Landscaping Center op ’n saai blok van Philadelphia se State Street. Daar, in ’n glorielose parkeerterrein, digby die Delaware Valley Cremation Center en die Fantasy Island Adult Book Store (waar ’n "Dildo Madness"-uitverkoping aan die gang was) het die handlangers probeer om ’n desperate strategie van ontkenning en onwerklikheid te verkoop. Dit teen die gejubel van omstanders en die getoet van motors wat verby ry. Die hele middag het Fantasy Island oproepe gekry van mense wat wou weet of Rudy daar was. So, humor van alle soorte was in die lug – van karnavaluitbundigheid tot Day-Glo Carl Hiaasen-satire. En tog was die dood nie ver nie – die krematorium was immers regoor die straat.

Ek dink nou al vir jare aan Trump se minagting vir die dood, ’n houding wat ons miskien die eerste maal gesien het toe hy die familie van kaptein Humayun Khan, wat heroïes gesneuwel het in Irak, so lelik bespot het. Vir Trump het afgestorwenes geen betekenis nie – miskien omdat die lewens van andere maar yl by hom registreer. Selfs sy eie lewe – sonder smaak of kuns of humor – ’n lewe wat saak maak net in terme van uiterlike reputasie – moet tog soms vir hom leeg en onwerklik voel. Geen wonder dat die duisende soldate wat by Aisne-Marne in hulle grafte lê, vir hom net "losers" and "suckers" was en dat hy op die einste dag waarop die COVID-19-dodesyfer die 200 000-mylpaal gehaal het, kon verklaar dat bykans niemand geraak is deur die virus nie.

Maar hier moet ’n mens ook dink aan die mense wat desnieteenstaande vir die narsis gestem het. Dalk het Lucian Truscott IV dit raak as hy sê (in Salon): "All those people who cast votes this week for Donald Trump can read. They can count. They can add. They know how many of their fellow Americans have died. But just like Derek Chauvin was just another cop on the beat before he knelt on George Floyd's neck and killed him, every Trump voter was just another citizen before they marked their ballots and put their knees on the neck of our country and endorsed the deaths of hundreds of thousands of their fellow citizens and the man who killed them. Make no mistake. A vote for Trump was a vote to kill at least another 100,000 Americans, the number experts say would remain alive between now and the end of the year if there were a national mandate to wear masks in public." 

Harde woorde. Sielkundiges sê dat in tye wanneer mense skielik hulle sterflikheid moet konfronteer, is daar ’n neiging om ander groepe te demoniseer: Vyande, aldus Ernst Becker, help ons om van die dood vergeet. Het Trump se sukses in 2016 – selfs voor die aankoms van die virus – dalk iets te doen gehad met die groot getalle "despair deaths" in die land: sterftes deur selfmoord, opiate, oorwerk, en alkohol? Lewensverwagting in the VSA is jare al laer as in enige ander gevorderde demokrasie. Was die apokaliptiese skoppensboer met sy lang sens al lank voor hierdie somer in ons midde? Eksistensiële skok – wat ons almal tans beleef – kan lei tot ’n ontkenning van die werklikheid. Dit is die aard van pandemies, sê Nicholas Christakis in sy nuwe boek, Apollo’s Arrow – of dit nou die plaag is, of die Spaanse griep, of Vigs, daar is altyd leuens, daar is altyd ’n weerspreking van feite.

Maar Trump se maskerlose rallies is tog ’n rare verskynsel. ’n Stanford-studie reken die massageleenthede het gelei tot ongeveer 700 sterftes en 30 000 infeksies. Hierdie rooi skares bestaan uit mense wat letterlik liewers sal sterf as om andere in hulle gemeenskap te verwelkom, wat weier om iets te deel, weier om hulle gedrag te verander ter wille van die gemenebes. (Wat ’n outydse woord!) Die Ierse joernalis Fintan O’Toole het onlangs briljant geskryf oor hierde einste sake: Trumpism, sê hy, is ’n narratief van dood en wederopstanding – maar die wederopstanding van ’n zombie. Trump het gepreek dat hy vervloë dinge – 'n produksie-ekonomie, steenkool, ou waardes, ou witheid – sal laat herleef. Die American Dream, het hy gesê, het afgesterf, maar hy, nekromant, sal dit weer besweer, weer laat wandel op ons aarde. Sy drie dae in Walter Reed-hospitaal, sê O’Toole, was soos ’n parodie van Christus se dood en wederopstanding, en sy aanhangers het genoeg geglo om daarin krag en selfopoffering, eerder as domastrantheid te sien. Hulle is miskien mense wat rou, maar vir wie die rouproses nie verder kan beweeg as ontkenning, pyn, and woede nie.

In my dorpie in Maryland was daar wel Trump-ondersteuners, so drie families. Hulle plakkate en baniere was groot, vaandels het gewapper in die herfswind. Daar is iets ’n bietjie pateties aan hulle, veral die oues. Ronnie Valentine en sy vrou, reg agter my, hou hulle huisie netjies; die oompie sny sy grasperk meedoënloos. Daar is geen struike of blomme in die erf nie; hy besproei al langs die heinings met gif. Die tannie praat nogal hard op die foon – partykeer luister ek onwillekeurig af. Sy klets oor vervelige koeitjies en kalfies en ook oor die liberale media en oor swart mense wat oukei is as hulle hulle plek ken en nie protesteer nie. Die tannie het eendag verklaar toe sy ons geile tuin bekyk, sy haat bome. In die aand as ons ’n drankie op die agterstoep maak, sien ons die ou paar se TV. Hulle kyk na die Flintstones en dan na Fox News: ja, daar is Tucker Carlson se selfvoldane gevreet. Die nag van die verkiesing was dit Andy of Mayberry, en toe het hulle maar vroeg gaan slaap.

Wat gaan hulle nou doen?

Verander? Skaam voel? Opruk stadsaal toe? Maar as hulle bang is vir onkruid en bome, is hulle seer sekerlik ook bang vir Baltimore en sy inwoners. Maak dit vir hulle saak dat daar vuurwerke in Londen was en dat die kerkklokke in Parys gelui het?

Ja-nee, ons ken nou ons bure. Ronnie-hulle, maar ook Cindy Mann: sy met die slordige blou huis met pers vensterrame. Sy wat haar eie amateuragtige teken in pers en blou op individuele plankies geverf het. Eers was dit:

BIDEN HARRIS

SCIENCE IS REAL

BLACK LIVES MATTER

LOVE POSTOFFICE LOVE

TRUTH OVER LIES

WEAR A MASK

VOTE.

Maar sy het dit op datum gehou, nog plankies bygevoeg:

TRUMP PAID $750 IN TAXES

223,000 DEAD.

En dit sal meer word.

Maar daar is vandag se hoofopskrif in the New York Times: BIDEN IS OUR NEXT PRESIDENT. BREATHE.

  • Rita Barnard, University of Pennsylvania

Lees ook:

VSA-verkiesing 2020: Wie ook al wen, gaan verloor

VSA-verkiesing uit die oog van "gewone" mense

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Lang storie, nog nie als gelees nie maar Biden, eintlik sy hanteerders (hy's maar net die front) en die res van die demokrate is hand-om-die-blaas met die ANC en die ANC is BAIE vyandig teenoor ons ou volkie.

  • Johannes Comestor

    Rita suig propaganda soos 'n spons op. Die "gekke" Rudy Giuliani het misdaad in New York City doeltreffend bestry en dit 'n meer leefbare plek gemaak.

  • Chris Erasmus

    Ek lees jou hartstogtelike brief. Daar is altyd drie kante van 'n saak. My kan jou kant en die waarheid. Ek hou nie van Trump nie. Ek ken hom glad nie persoonlik nie en daarom kan ek ek nie die man veroordeel nie. Een ding weet ek vir 'n feit hy laat hom nie om om die bos lei deur diplomate, staatsamptenare en agterryers nie. Hy is 'n sakeman. Hy bestuur die VSA soos 'n besigheid. Hy het meer vir die massas en verontregtes in die VSA gedoen as al die ander presidente voor hom. Hy het die VSA ekonomie uit die Sjinese hande geruk. Hy het "vrede" in die midde-ooste bemiddel. Die VSA is tans in geen oorlog met enige land nie. Die mense hou nie van hom nie want hy trap op tone van die liberale vryedenkers. Die mens is tans die enigste spesie wat nie aan reels, orde en geregtigheid onderwerp wil word nie. Indien die Biden knaap in bewind gaan kom, sien ek swarigheid vir die VSA.

  • Chris Erasmus ek stem net met een ding wat jy sê nie saam nie en dit is waar jy praat van 'liberale vrydenkers' want 'n liberaal is alles behalwe 'n vrydenker; hy's 'n kuddedier aan die neus gelei deur die hoofstroommedia.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top