VSA-verkiesing uit die oog van "gewone" mense

  • 6

Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)

In 2004 was ek as deel van ’n Rotary-uitruilgroep in Washington, die staat, nie die politieke setel nie. Op pad vanaf Sea-Tac-lughawe het ’n paar voertuie in die verbygaan gehoet en ons die middelvinger gewys.

Ek kon dit aanvanklik nie verstaan nie, want sover ek kon sien, het die bestuurder van ons bussie die verkeersreëls gevolg. Een groot bakkie was besonder volhardend. Die bestuurder het ons van agter ingejaag, langs ons stadiger gery en toe ’n stuk karton met die woorde “Fuck W” teen die venster gedruk sodat ons kon lees. Die bestuurder van ons bussie was blykbaar gewoond aan sulke optrede. Eers by ons eerste stop, toe ek en een van my mede-Suid-Afrikaners so onopsigtelik moontlik reg rondom die bussie loop, het ek die groot plakker gesien wat steun vir George W Bush aandui. Daarna het ek maar in my sitplek afgeskuif elke keer as ons in daai bussie moes ry.

Ek weet tot vandag toe nie of daai Demokraat die plakkaat in sy kar gereed gehou het, en of hy spesiaal vinnig iets moes uitskryf toe hy ons sien nie. Washington het immers nog altyd sterk Demokraties gestem.

Hoekom vertel ek hierdie storie? Woede en sterk emosies rondom verkiesings is nie vreemd aan die Amerikaanse psige nie. Onder Trump was geweld net vir die eerste keer openlik en onbeskaamd aangemoedig.

Die verkiesing is nou verby vir almal behalwe die mees geharde Trump-ondersteuners (en die kandidaat self). Wat nou oorbly, is vir gewone mense om die skerwe op te tel en aan te gaan met ’n lewe wat so normaal as moontlik is. Met feitlik 71 miljoen Amerikaners wat aangedui het dat hulle Trump se leuens, rassistiese retoriek, ondersteuning vir wit supremacists, onbevoegde hantering van die Korona-pandemie en algemene minagting vir demokratiese beginsels goedkeur, is die morele gaping vir baie dalk net te wyd om te oorbrug.

Ek het drie Amerikaanse inwoners van uiteenlopende agtergronde uitgevra oor hoe hulle die verkiesing ondervind het. Raymond Wisniewski is ’n mediese praktisyn en pasiëntadvokaat, oorspronklik van Philadelphia. Die afgelope aantal jare bly hy en sy man in Cape May, New Jersey. Annemarie Toebosch is die direkteur van Nederlands en Vlaamse Studies aan die Universiteit van Michigan. Sy is ’n Nederlandse immigrant wat die afgelope 25 jaar die VSA haar tuiste maak. Ava Homa is ’n uitgeweke Koerdiese skrywer wat die afgelope ongeveer twee jaar in Kalifornië woonagtig is. Homa kon uiteraard nie stem nie.

Wisniewski beskryf sy buurt as ’n Trump-mekka waar sy plakkate op feitlik elke grasperk pryk. Tog was daar min konflik tydens die verkiesing. Hy skryf dit hoofsaaklik toe aan die feit dat die dorp ’n vakansiebestemming is. In Philadelphia, aan die ander kant, waar hy vandaan is en wat omtrent net 90 minute reistyd ver is, het baie winkels alreeds voor die verkiesing hul vensters toegespyker uit vrees vir moontlike gewelddadige protes. Hy sê verder: “With the election folks are getting really upset. On both sides. The Democrats have been out protecting those counting the votes and the Republicans have been out literally trying to force themselves in at sites where the voting continues.”

Toebosch beskryf ’n staat waar spanning alreeds vir maande hoog loop. ’n Komplot deur gewapende milisie om die Demokratiese goewerneur, Gretchen Whitmer, te ontvoer en om die lewe te bring wat ’n maand gelede gefnuik is, het spanning tot hoogty gebring. In die laaste week voor die verkiesing het Trump sy verkiesingsveldtog in Michigan-Wes beëindig. Hierdie area is waar sy Nederduitse Gereformeerde basis woon. Tydens sy besoek is Joodse grafte met pro-Trump-boodskappe onteer.

Sy beskryf haar tuisdorp, Ann Arbor, as ’n bevoorregte liberale kollegedorp, maar selfs daar is inwoners nou baie meer versigtig. Sy sê: “There is no cause for celebration in this state and in this country. Trump has been the dog-whistler for White violence, it has been actively mobilized here in Michigan, and we feel that, I feel that.”

Ook Homa dui aan dat sy bekommerd is oor geweld tydens en na die verkiesing. Vir haar was Trump se opdrag aan die Proud Boys om op bystand te wees, tesame met die kettingwinkel Walmart se besluit om vuurwapens en ammunisie van hul vertoonvloere te verwyder uit kommer oor moontlike gewelddadige protes, rooi ligte wat flikker. Soos sy dit stel: “This was déjà vu. I wondered if I migrated from boiling violence in Iran to a simmering one in America.” Sy kwalifiseer dit dan ook dadelik deur te sê dat Kalifornië baie meer verlig is, en dat daar nie in haar onmiddellike omgewing dieselfde dreigemente van geweld is nie.

Hoekom dink hulle het Trump so goed gevaar in die verkiesing?

Al drie stem saam dat ras en die wyse waarop hy verdeeldheid onder mense gebring het, die verhaal van hierdie verkiesing was. Trump se steun onder wit mense het toegeneem. Toebosch sê, verwysend na Stacey Abrams se aktivisme om stemreg te verseker vir veral swart kiesers: “This is the story of this election for me, an election centered squarely around race. Where more white people doubled down and voted for naked white power than in 2016, the significant changes come from new minority representation. So many firsts from across many states: first time trans representation, first time non-binary, indigenous and gay male black representation. One way to look at this election is then this tug of war between two old white men, the other is the building of small power shifts on the ground.”

Homa stel dit so: “He appeals to primal fear and hatred, powerful forces in humans who lack the education and awareness to realize how (self-)destructively they behave, how to replace lazy/easy answers to challenges with nuanced complicated answers.”

Wisniewski draai nie doekies om nie. Hy sê: “Many people like Trump because he speaks his mind. Many of those are uneducated and ignorant. Their travels don’t take them far.They are secluded people. No respect for people of color. Only the color of money. These are the same people who don’t believe in mask-wearing. He has a following of angry white men who adore him because of his support of white men. I am not meaning all white men. There are just those who truly are racist. They seem to show their true colors lately.”

Wisniewski merk verder op dat selfs al het Trump die verkiesing verloor, hy gewen het deurdat hy daarin geslaag het om ’n Hoër Hof met ’n konserwatiewe meerderheid daar te stel. Vroue en gays ervaar alreeds die ysingwekkende effek daarvan.

Biden het in sy oorwinningstoespraak genoem dat hy nie die president van blou state of rooi state is nie, maar van die Verenigde State. Hy wil brûe bou. Dis makliker gesê as gedaan, met ’n swak verloorder wat tussen nou en 20 Januarie alles in sy vermoë sal doen om die land te destabiliseer. Boonop is daar binne sy eie party intense binnegevegte aan die gang tussen die gemiddeldes en die progressiewes.

Daar lê harde werk voor. Amerika sal moet diep introspeksie hou oor wie hulle as ’n nasie is. Dis nie net die werk van politici nie, dis die werk van gewone mense uit elke laag van die samelewing. Dis die werk van die boer, die onderwyser, die polisiebeampte, die aktivis, die huisvrou en die intellektueel.

Maar vir eers kan daar herstel word van die verkiesing. Homa vertel dat mense in die strate ronddans met vlae; voertuie blaas hul hoeters en daar is ’n algemene gevoel van feestelikheid. Vir Wisniewski voel dit asof ’n vrag bakstene van sy bors verwyder is. Uit die videogrepe wat hy met my gedeel het, is dit duidelik dat heelparty van sy landgenote ook so voel. Mense dans, hulle maak musiek, hulle deel drukkies uit met vreemdelinge.

Hulle vier asof ’n diktatorskap omvergewerp is, en dalk is dit. En vir nou, vir hierdie oomblik voordat die groot taak om ’n nasie te herbou, begin, is dit genoeg.

Lees ook:

VSA-verkiesing 2020: Doodsake

2020 USA election: The countdown to the apocalypse?

2020 USA election: How did it come to this?

VSA-verkiesing 2020: Wie ook al wen, gaan verloor

  • 6

Kommentaar

  • Johann Basson

    Eerstens: die grootte van die steekproef in hierdie artikel om 'n menings te vorm laat maar veel te wense.
    Tweedens: Laat ons maar beskeie bly en nie ons uitlaat oor die VSA-politiek nie tensy u in etlike dele van die VSA vir etlike jare gewoon het en omvangryke blootstelling gehad het aan al die kultuurgroepe.

  • Gustaf Claassens

    Daar is geweldig baie te sê oor hierdie effe skeefgetrekte en oorvereenvoudigde bydrae. Vir balans sal dit dus net goed wees as die 'anderkant' se siening wat 71 miljoen kiesers getel het, ook verreken word. Sien die skakel hieronder.

    Natuurlik het elke mens sy voor-en-afkeure en die reg om die Party en kandidaat van sy/haar keuse te stel. Maar, mens sou hoop op 'n bietjie balans. Persoonlik is ek verstom om te dink dat Trump, Pence, Biden en Harris die beste is wat Amerika kan bied. Hierdie bydrae is egter blote anti Trump retoriek. Niks meer en niks minder nie.

    Ironies genoeg is dat Trump en die Republikeine se optrede om die uitslag te betwis erg gekritiseer word. In die jaar 2000 egter het Al Gore en die Demokrate presies dieselfde gedoen in 'n hofsaak wat om en by 37 dae geduur het. Hulle het toe dieselfde argumente gebruik as Trump en die Republikeine vandag. Toe is dit deur almal goed gepraat met CNN aan die voorpunt. Die enigste verskil is dat CNN en die Demokrate hierdie keer ook die steun van magtige instellings soos Google, Facebook en Twitter gehad het en ten spyte van die feit dat hulle meningspeilings 'n oorwinning van tussen 7 en 11% vir Biden hulle voorspel het was die uitslag 52% teenoor 48%. Soos altyd ver van die kol net soos in die geval van Brexit.

    Genoeg vir eers. Hier is 'n skakel wat die ander helfte se sienings belig en weerspieël. Dis elke individu se reg om dit te verwerp maar, dis belangrik dat mense weet hoekom hulle verskil en waaroor. Elkeen kan dus sy eie mening opmaak. Die video uittreksel is getiteld: " What we know so far " deur Tucker Carlson. https://fb.watch/1FTIFs4h9H/

  • Gustaf Claassens

    Ter wille van balans.

    Daar is geweldig baie te sê oor hierdie effe skeefgetrekte en oorvereenvoudigde bydrae. Vir balans sal dit dus net goed wees as die anderkant se siening wat 71 miljoen kiesers getel het, ook na geluister word. Sien die skakel hieronder.

    Natuurlik het elke mens sy voor-en-afkeure en die reg om die Party en kandidaat van sy/haar keuse te stel. Maar, mens sou hoop op 'n bietjie balans. Persoonlik is ek verstom om te dink dat Trump, Pence, Biden en Harris die beste is wat Amerika kan bied. Hierdie bydrae is egter blote anti Trump retoriek. Niks meer en niks minder nie.

    Ironies genoeg is dat Trump en die Republikeine se optrede om die uitslag te betwis erg gekritiseer word. In die jaar 2000 egter het Al Gore en die Demokrate presies dieselfde gedoen in 'n hofsaak wat om en by 37 dae geduur het. Hulle het toe dieselfde argumente gebruik as Trump en die Republikeine vandag. Toe is dit deur almal goed gepraat met CNN aan die voorpunt. Die enigste verskil is dat CNN en die Demokrate hierdie keer ook die steun van magtige instellings soos Google, Facebook en Twitter gehad het en ten spyte van die feit dat hulle meningspeilings 'n oorwinning van tussen 7 en 11% vir Biden hulle voorspel het was die uitslag 52% teenoor 48%. Soos altyd ver van die kol net soos in die geval van Brexit.

    Genoeg vir eers. Hier is 'n skakel wat die ander helfte se sienings belig en weerspieël. Dis elke individu se reg om dit te verwerp maar, dis belangrik dat mense weet hoekom hulle verskil en waaroor. Elkeen kan dus sy eie mening opmaak. Die video uittreksel is getiteld: " What we know so far " deur Tucker Carlson.

    https://fb.watch/1FTIFs4h9H/

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Bettina, ek het gehoop om van jou te hoor oor die gebeure in Brackenfell omdat ek weet jy 'n gebalanseerde en regverdige verslag sou gee want ek vertrou jou! In dié land is daar resensente en joernaliste wat ALTYD 'n agende het en hulle doen verslae en artikels van hulle perspektief en nie ons s'n nie. Jy en Jason Lloyd is vir my die enigste mense wie se artikels en analise ons opinies en insigte baie meer bloot lê en aan die groot klok hang en sê dat ons s'n ook sin en saak maak! Dankie!

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Ek het die Amerikaanse verkiesing tot satwordens gevolg en is bly dat 'n bewese rasis uit die stoel gelig is. Ek het altyd vermoed dat Trump 'n goeie besigheidsman en CEO sal wees maar NIE die leier van die vrye wêreld nie daarvoor is hy te eng in sy opvatting. En kyk watse slegte verloorder is hy nie? Niks presidensieël omtent hom nie! BLY HY IS UIT!!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top