Suid-Afrika se staatskuld

  • 0

Suid-Afrika se staatskuld is onlangs in die nuus na ’n aankondiging deur Enoch Godongwana, die minister van finansies, oor die toename in skuld oor die afgelope vyf jaar van 2017 tot 2022. Volgens Godongwana se verklaring, wat in Engels gepubliseer is, het die vlak van staatskuld met “R1 800 trillion” toegeneem, van “R2 500 trillion” na “R4 300 trillion”.

Bedrae van hierdie omvang is moeilik om tussen Engels en Afrikaans te vertaal. Godogwana het die toename in Engels beskryf as R1,8 trillion, maar die woorde billion en trillion vertaal vreemd tussen verskillende tale. In Afrikaans vertaal die Engelse en Amerikaanse gebruik van billion verskillend, maar dikwels as miljard, terwyl die Afrikaanse vertaling van trillion ook wissel. Die omskrywing “R1,8 trillion” as “R1 800 miljard” in Afrikaans word dus in hierdie oorsig gebruik om enige onsekerheid te vermy. Uitgeskryf in syfers beloop dit R1 800 000 000 000.

Hierdie toename in staatskuld is te wyte aan die feit dat die regering jaarliks vir ’n tekort begroot. Staatsuitgawes oorskry staatsinkomste. Die regering befonds jaarlikse tekorte deur die geld te leen. Oor die afgelope vyf jaar het hierdie lenings R1 800 miljard bedra.

Dit bring totale staatskuld op R4 300 miljard te staan. As Suid-Afrika se totale bevolking 60 miljoen mense is, beteken dit staatskuld van sowat R71 700 per persoon, ongeag ouderdom, inkomste of ekonomiese omstandighede.

Totale staatskuld sal bly toeneem solank as wat die regering se jaarlikse uitgawes die inkomste uit belastingbronne oorskry. Dit is vergelykbaar met ’n huishouding waarvan die jaarlikse uitgawes die jaarlikse inkomste oorskry.

Die vernaamste bronne van inkomste vir die regering is persoonlike inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde (BTW) en maatskappybelasting. Elk van hierdie bronne maak reeds groot bydraes tot staatsinkomste, met min ruimte vir hoër belastings. Die enigste stap wat vinnig meer belastinginkomste kan lewer, is ’n verhoging van BTW, byvoorbeeld van 15 persent na 16 persent.

Persoonlike inkomstebelasting kan beswaarlik verhoog word, omdat hoër belasting emigrasie aanmoedig. Oor die afgelope vyf jaar het die groeikoers van hoë-
inkomstegroepe in Suid-Afrika gedaal, onder meer weens emigrasie in reaksie op hoër persoonlike inkomstebelasting.

Hoër maatskappybelasting maak dit aantreklik om besighede buite Suid-Afrika te vestig, eerder as in die land. Op hierdie wyse gaan beleggings en werksgeleenthede verlore.

Volgens die begrotingsyfers van Oktober 2021 en Februarie 2022 sal die regering se uitgawes vir ten minste die volgende drie fiskale jare groter as die belastinginkomste wees. Staatskuld sal dus oor hierdie tydperk bly groei.

Omdat die ekonomiese omstandighede van lande verskil, word die verhouding van staatskuld tot die bruto binnelandse produk (BBP) van ’n land as maatstaf van vergelyking gebruik. In Suid-Afrika se geval het staatskuld as persentasie van BBP van minder as 30 persent teen 2007 toegeneem tot ’n huidige vlak van sowat 73 persent. Hierdie verhouding neem jaarliks toe omdat die regering se tekort voor lenings groter is as Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers. Oor nog drie jaar kan staatskuld soveel as 75 persent van die BBP beloop.

Die toename in staatskuld lei tot ’n toename in die rentelas van die regering. In die huidige fiskale jaar (1 April 2022 tot 31 Maart 2023) gaan die regering sowat R300 miljard aan rente op staatskuld spandeer. Rentebetalings is ’n jaarlikse las wat uit belastinginkomste bekostig moet word. Groter skuld lei tot meer rentebetalings, wat ander uitgaweprioriteite verdring.

Hierdie ontleding toon duidelik dat die regering nie onbeperk kan voortgaan om jaarliks geld te leen teen dieselfde tempo as in onlangse jare nie. Die staatskuld word té groot, terwyl die rentelas dienooreenkomstig groei en in sigself ’n bestedingsbeperking op die regering plaas.

Die oplossing vir hierdie skuldvalstrik van die regering is hoër ekonomiese groei en laer besteding. Die regering moet meer ruimte vir die privaatsektor laat om nuwe ondernemings te begin en om mense in diens te neem. Dit sal lei tot ekonomiese groei en groter belastinginkomste vir die regering.

Terselfdertyd moet die regering onnodige uitgawes besnoei. Daar is baie voorbeelde van waar die regering kan besnoei, maar weens ideologiese faktore nalaat om dit te doen. Die onmiddellike fokus moet op groot uitgawe-items wees. Dit beteken dat die regering hulp aan mislukte staatsondernemings soos die SA Lugdiens, Denel en Alexkor moet staak.

Daar is geen rede hoekom Suid-Afrika ’n lugredery onder beheer van die owerheid moet behou nie. Dit is bloot ’n ydelheidsprojek van die regering wat belastingbetalers baie geld kos.

Dieselfde is waar vir Denel en Alexkor. Die regering moet nie die eienaar van ’n bankrot wapenvervaardiger soos Denel en ’n bankrot diamantmyn soos Alexkor wees nie. Gee eenvoudig ondernemings soos Denel, Alexkor en SA Lugdiens weg, want dit sal baie geld bespaar en bydra om die groei in staatskuld te beperk.

Dit is ook nodig om die omvang van Suid-Afrika se ontwikkelingshulp aan buurlande te heroorweeg. Botswana, Eswatini, Lesotho en Namibië word bevoordeel deur die ontwikkelingshulp wat Suid-Afrika deur die Suider-Afrikaanse Doeane-unieooreenkoms en die muntloonverdelingsooreenkoms in die Gemeenskaplike Monetêre Unie betaal. Gegewe die skerp toename in Suid-Afrika se staatskuld kan die land nie langer bekostig om só vrygewig met ontwikkelingshulp te wees nie.

Terselfdertyd dra korrupsie en staatskaping ook by tot besteding en dus die vlak van jaarlikse lenings en staatskuld. As korrupsie hokgeslaan kan word, sal dit onmiddellik tot laer besteding en dus ’n kleiner jaarlikse leningsbehoefte lei. Staatskuld sal gevolglik stadiger groei.

Die regering leen geld vir die befondsing van die jaarlikse begrotingstekort by die privaatsektor. In die praktyk beteken dit dat die regering jaarliks skuldinstrumente soos skatkiswissels en staatseffekte verkoop om kontant in te vorder om uitgawes bo belastinginkomste te dek.

Omdat totale staatskuld die gevolg is van al die jare se lenings, beteken dit dat die privaatsektor die eienaars van staatskuld is. In die geval van Suid-Afrika word sowat 10 persent van die staatskuld van R4 300 miljard deur buitelanders besit. Buitelandse beleggers het hierdie staatskuld gekoop en koop jaarliks steeds Suid-Afrikaanse staatskuld omdat die rente-opbrengs vir hulle aantreklik is.

Die binnelandse privaatsektor is die eienaars van die oorblywende sowat 90 persent van staatskuld. Soos die buitelanders, koop die binnelandse privaatsektor insgelyks die staatskuld omdat die rente-opbrengs aantreklik is. Die regering moet dus rentekoerse op staatskuld aanbied wat dit vir beleggers aantreklik maak om die skuldinstrumente aan te koop.

Binnelandse beleggers sluit banke, versekeraars en pensioen-, voorsorg- en aftreefondse in. Die regering se skuldinstrumente (spesifiek staatseffekte) verteenwoordig dikwels ’n belangrike deel van die beleggingsbates van pensioen-, voorsorg- en aftreefondse, wat hierdie skuldinstrumente as laerisikobeleggings met konstante opbrengs beskou.

Lede van pensioen-, voorsorg- en aftreefondse “besit” dus staatskuld, natuurlik op ’n indirekte wyse. Lede van hierdie fondse het elkeen ’n belang in die bates van hul fondse, wat verteenwoordig word deur verskeie beleggingsbates van hierdie fondse. Hierdie bates sluit die skuldinstrumente van die regering in.

Dit is dus in die belang van alle lede van pensioen-, voorsorg- en aftreefondse dat die regering staatskuld omsigtig moet bestuur en rente op staatskuld moet betaal. Die bestuur van staatskuld behels egter meer as net jaarlikse lenings en rente op al die skuld. Alle skuldinstrumente soos skatkiswissels en staatseffekte het ’n termyn, waarna die betrokke lening afgelos moet word. Weens die jaarlikse tekort van inkomste bo uitgawes, beteken dit dat die regering elke jaar ook geld leen om skuld wat verval, af te los.

As die regering in gebreke bly om rente te betaal of skuldinstrumente op die vervaldatum af te los, bestaan die gevaar dat pensioen-, voorsorg- en aftreefondse
bankrotskap in die gesig kan staar. Lede van die fondse sal dan geen voordele by aftrede ontvang nie.

Die toename van R1 800 miljard in staatskuld sedert 2017 verteenwoordig bykomende bedrae wat die regering oor hierdie tydperk geleen het. Dit sluit egter nie bedrae in wat die regering geleen het om staatskuld wat verval het, te herfinansier nie.

Die regering kan nie voortgaan om teen hierdie tempo geld te leen nie. Die rentelas op staatskuld word eenvoudig té groot en ander noodsaaklike kapitaalbesteding soos aan paaie en damme word verdring. Suid-Afrika het die punt bereik waar belastingbetalers ernstige vrae moet vra oor die korrupte regering wat teen ’n onverantwoordelike tempo geld leen. Kan Suid-Afrikaanse belastingbetalers die regering bekostig?

Jannie Rossouw
Besoekende professor, Wits Besigheidskool

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top