Augustus is vrouemaand. Tans skaaf drie jong vroue in Somerset-Oos aan hul dramatekste wat in 2022 by die Suidoosterfees gaan debuteer. Melissa Myburgh, Heloine Armstrong en Jane Mpholo is deel van die fees en die Jakes Gerwel Stigting se Jong Sterre-projek. Melt Myburgh het by hulle ingeloer om uit te vind watter uitdagings hulle as vroue wat aan die begin van opwindende loopbane in die kunstebedryf staan, die hoof moet bied. Hulle het ’n sterk boodskap vir die mense van Suid-Afrika.

Heloise Armstrong, Jane Mpholo en Melissa Myburgh is drie van die Suidoosterfees en NATi se Jong Sterre wat tans by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos aan hul debuutdramas werk. (Foto’s: verskaf)
Melissa Myburgh
Melissa Myburgh (22) is ’n akteur en skrywer. In 2020 het sy ’n honneursgraad in teksskryf aan die Universiteit Stellenbosch behaal nadat sy voorgraads in drama studeer het. Omdat die teaterbedryf deur die Covid-19-pandemie op sy knieë gedwing is, lê sy haar toe op die TV- en filmbedryf. “En in my aftyd skryf ek. Ek werk nou aan ’n kortfilm wat ek hoop om voor die einde van die jaar klaar te hê,” sê sy.

Melissa Myburgh in aksie (Foto’s: verskaf)
Met liefde, Vincent is die drama waaraan sy vir die Jong Sterre-projek werk. Melissa beskryf dit as “’n absurde tragikomedie oor ’n kunstenaar wat besluit om selfdood te pleeg”. Sy verken die konsep van die sogenaamde tortured artist in die stuk.
“Remmie is ’n kunstenaar. Hy het twee jaar gewerk aan ’n skildery van ’n vrou wat hy nooit geken het nie, maar geen kunsgalery stel belang daarin om sy werk aan te koop nie. In reaksie op hierdie teleurstelling besluit hy om ’n einde aan alles te maak. Maar dan verskyn Vincent van Gogh aan hom, en dinge raak skielik baie gekompliseerd.”
Melissa is optimisties oor haar loopbaan wat besig is om vorm aan te neem, maar sy is reeds deeglik bewus van die uitdagings waarmee vroue in die kunstebedryf worstel. Sy het dit al aan eie lyf ervaar. “In vorige projekte waar ek as regisseur opgetree het, was dit moeilik, want as jong, vroulike kunstenaar het ek gevoel dat mense dikwels jou besluite ondermyn en jou legitimiteit bevraagteken.
“Vroue in die bedryf word gereeld teenoor mekaar afgespeel. En ek weier om deel daaraan te hê. Ek wil alles doen om seker te maak ek ondersteun my medekunstenaars in enige hoedanigheid. Ons vroue is nie in kompetisie nie. Ons is hier om mekaar op te bou en te ondersteun.”
Melissa besef dit gaan ekstra harde werk kos om haarself te bewys, dalk meer as wat dit vir ’n man sal verg, maar sy is gereed vir die uitdaging. Sy word geïnspireer deur vroue soos haar ma en die aktrise Tinarie van Wyk Loots (wat hier skitter in LitNet se Stemme-projek). “Ek weet dit klink na ’n cliché, maar my ma is al deur so baie, en deur dit alles het sy goedhartig, beleefd en vol lewenslus gebly. Sy het my geleer hoe om seker te maak jy skyn deur wanneer die wêreld jou wil breek. My ma het nooit ’n slegte woord te sê oor enigiemand nie. Dít is waarna ek streef.”
By Tinarie van Wyk Loots het Melissa baie geleer, veral hoe om sterk te bly staan wanneer haar besluite as vroueregisseur ondermyn word. “Sy is werklik die wonderlikste mens wat ek ooit ontmoet het. Sy het my geleer hoe om die mense in die bedryf te hanteer. Wat dit beteken om hard te werk.”
Vir jong vroue wat soos sy aan die begin van ’n opwindende loopbaan staan, het Melissa die volgende boodskap: “Daar gaan altyd mense wees wat probeer verskonings uitdink vir hoekom jy suksesvol is, en soms self krediet vir jou idees neem. Maar hou jou oë na vore gerig en fokus op jou werk. Want as mense agter jou rug begin praat, weet jy jy doen iets reg, en hulle is presies waar hulle hoort – agter jou!”
Heloine Armstrong

Heloine Armstrong aan die werk in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis (Foto: verskaf).
Heloine Armstrong (32) kom van O’Kiep in Namakwaland, waar sy die afgelope twee jaar betrokke is by die Garage Dance Ensemble. Sy werk ook as fondswerwer vir die kunste en is passievol oor skeppend skryf.
Tydens die Jong Sterre-skrywersverblyf in Somerset-Oos skaaf sy aan haar verhoogteks met die titel Maanskyn en dorings. In die teks word poësie, kortverhale, musiek en kontemporêre dans gekombineer. “Dit gaan oor die stormagtige verhouding tussen ’n ma en haar dogter en hulle stryd met mans en mental illness. Eintlik is dit ’n kreatiewe verkenning van die reis na vrouwees en die soeke na ’n plekkie in die son.”
Vir Heloine is dit belangrik dat vroue te alle tye as gelykes en met respek behandel word – in die kunsbedryf, maar ook in alle bedrywe. “En as dit nie die norm is nie, dan beteken dit ons elkeen het ’n persoonlike verantwoordelikheid as kunstenaars, as professionele mense en bloot as mense, om verandering teweeg te bring.
“Ons almal behoort feministe te wees: jonk, oud, wit, swart, bruin, ryk, arm, man, vrou, ensovoorts.”
Die sterk familievroue in die gemeenskap waar Heloine grootgeword het – Rosemore in George – het haar geleer om sonder apologie vrou te wees. “My ouma, my ma en klomp aunties het my view van die wêreld geshape. Dan is daar ook twee van my hoërskool-onderwysers: juffrou Retha Smit, wat iets in my raakgesien het, en juffrou Melinda Maartens, wat my so te sê onder haar vlerk geneem het. Hulle is stunning vroue en het my altyd gemotiveer om ’n beter mens te wees, hoog te mik en om groot te droom.”
Vroue in die plaaslike kunstebedryf wat as pioniers die weg vir jong kreatiewe geeste gebaan het, is op Heloine se inspirasielys: Shaleen Surtie-Richards, June van Merch, Denise Newman, Vinette Ebrahim en Dawn Langdown. “Hulle het dit vir fenomenale mense soos Quanita Adams en Lee-Ann van Rooi moontlik gemaak om te kan hardloop sodat iemand soos ek nou kan vlieg.”
Heloine se raad aan vroue: “Kyk verby ou omstandighede en gryp geleenthede en die lewe aan, met ope arms en met al twee hande. Vra jouself gereeld af: If not us, if not YOU, who? And if not now, when?”
Jane Mpholo

Jane Mpholo in The island (Foto: verskaf)
As professionele teatermaker word Jane Mpholo (32) se tyd in beslag geneem deur toneelspel, vervaardiging, afrigting en die fasilitering van kunsteprojekte. In 2019 is sy vir twee kykNET Fiësta-toekennings benoem, onder meer as beste belowende akteur in Jerry Mofokeng wa Makhetha se produksie van The island. Vanjaar debuteer sy met twee digitale produksies by die Vrystaat Kunstefees se Snelstroom-inisiatief: Sehlabelo and Cleanse.
In Somerset-Oos werk sy aan The dawn, ’n multidissiplinêre teaterstuk waarin daar vanuit ’n jong meisie se perspektief gekyk word na geslagsgebaseerde geweld. The dawn ondersoek die wyse waarop mense vasgevang bly in die siklus van patriargale misbruik. “Ek is verskriklik opgewonde oor die stuk en ek kan nie wag om dit op die planke te sien nie,” vertel Jane. “Abduragman Adams, ons mentor hier in Paulet Huis, lewer saam met die ander Jong Sterre belangrike insette om die teks te ontwikkel. Ek het nog nooit voorheen as skrywer so gekoester en bemagtig gevoel soos met hierdie skrywersresidensie nie.”
Die feit dat daar nog oor vroueregte in hierdie wêreld gepraat moet word, is vir Jane hartseer. “Die samelewing is alreeds so afgestomp oor kwessies wat vroue raak dat hulle nie eens meer sien hoe vroue se stemme gesmoor word nie.”
Jane sê sy is sielsmoeg vir mense wat vroue aanprys omdat hulle “sterk” is. Vroue se krag behoort in die eerste plek nie getoets te word nie. “As ’n vrou wat in die vermaaklikheidsbedryf werk, is ek al blootgestel aan die wrede omstandighede waar talent net mooi niks beteken as mens op jou eie integriteit aanspraak maak nie. Soms word daar van vroue verwag om seksuele gunsies aan te bied in ruil vir rolle of die befondsing van projekte.”
Misbruik is iets waaraan Jane as kind reeds blootgestel was. “Op 14 is ek verkrag en ek het my suster 11 jaar later verloor toe sy die slagoffer van ’n manslag/selfdood-voorval was. En in die albei hierdie gevalle het die samelewing beskuldigende vingers na my en my suster (die vroue) gewys.”
Vir Jane is die idee dat vroue hulle lewe lank daarna moet streef om beter oor hulleself te voel, ’n afgryslike gedagte. Al waarvoor sy vra is regverdigheid en respek.
Haar oorlede suster en hulle moeder is ’n bron van respek en inspirasie. “Hulle is die onbaatsugtigste mense wat ek ooit teëgekom het,” sê sy. “Interessant genoeg, wat my loopbaan betref, is ek die meeste beïnvloed deur ’n man wat passievol is oor die bevordering van vroueregte – Jefferson J Dirks-Korkee. Hy is vierkantig agter my ambisie om stories oor die lewens van vroue te vertel.”
Jane moedig vroue aan om in hulle talente te belê en om genadig met hulleself te wees. “Daar mag dae kom dat jy in jouself begin twyfel, maar laat die vuur binne jou al jou onsekerhede wegbrand. Jy is menswaardig en daar is ’n rede waarom jý jou pad stap. Absorbeer die dinge binne jou soos wat ’n spons water opneem, en vul jou gedagtes met die goed wat werklik saak maak en jou sal laat groei.”
Lees ook:
Persverklaring: Suidoosterfees se nuwe NATi Jong Sterre aangekondig
Persverklaring: NATi Jong Sterre-projek bied groot geleenthede vir opkomende dramaturge
Nuwe groep liriekskrywers meld aan vir mentorskap deur Suidoosterfees en Jakes Gerwel Stigting

