LitNet se Stemme is ’n reeks van 10 kort, kragtige monoloë, geskryf deur gevestigde en opkomende dramaturge, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi.
In Rafiek Mammon se Verspring vertolk Tinarie van Wyk Loots die rol van ’n middeljarige aktrise wat ’n sprong die toekoms in waag. Fred Abrahamse het die regie waargeneem.
Kyk hier na ’n kort gesprek tussen Fred Abrahamse en Tinarie van Wyk Loots oor Verspring:
Verspring
Dit is oujaarsaand en die 40-jarige werklose aktrise skep haar eie “gehoor” met mense wat onder in die straat saamdrom om ’n heildronk op die nuwe jaar in te stel. Sy is op die dak van ’n toringgebou en maak gereed om na haar dood te spring. Haar naam: Evalina … verspringkampioen van Milnerton Hoërskool en die heel eerste baba wat in 1981 gebore is.
Die polse-affêre was ’n moerse mislukking … maar wat verwag jy? Ek was maar net 20. Wat weet ’n kat nou juis van saffraan en ’n mol van kaas? Ek het tóg geweet dit sou nie werk nie. Ek het so gesny (wys hoe sy oor die polse gesny het) en nie op nie, lengthwise! So leer mens … kyk self op YouTube! Die dwarssny-een is aandag soek, die ander een … die opsny-een … dit beteken jy mean business! Anders mag jy maar net sowel jou polse met ’n pap Pro-Vita of ’n Marie biscuit sny!
Komaan, Evalina … jy kan dit doen. Jy het belowe … op jou 40ste verjaarsdag, onthou? Dit was tog die ooreenkoms … en jy word 40 in ... (kyk op haar horlosie) oor ’n paar minute. Dis maklik … Spring! Spring net! Milnerton Hoërskool se verspringkampioen … van 19-voetsek! Jou naam’s nou nog op die mure van die gimsaal. Jy weet jy kan spring! Jy spring gedurig na conclusions! Ja-nee, daarvan weet jy alte goed.
Hulle sê jy voel tog niks … la-a-a-nkal dood soos jy nog val na jou “ewigheid”. Iets te doen met die mens se asemhalingstelsel wat nie die rush van suurstof kan hanteer nie, of iets ewe banaal! Hou van daai woord … banaal!
Ding is, ek wíl iets voel … anders, wat is die punt? Dink mooi, Evalina! Onthou, die tabletkelkie van 64 Panado’s wat jy met die vier Valiums en die twee Grand-Pa’s gemeng het op die vooraand van jou 30ste was ook ’n failure vir die boeke! Hulle het my gevind, my soos ’n waansinnige behandel; my maag gepomp … Sies, ek proe nou nog daai geskuim in my mond! Om daai smaak uit jou mond te kry moet daar nog ’n tandepasta ontwerp word! Die enigste voordeel van daai sirkussie is dat ek vir twee maande nie één hoofpyn gehad het nie!
Maar ek was net 30! Onward, upwards … ouer, wyser … 40. Hulle sê die lewe begin op 40. Dan het ek mos die reg om wat ook al te beëindig wat ek die afgelope 39 jaar gedoen, of nié gedoen het nie. My lewe! My keuse. Wie’s die “hulle” wat die reëls maak waarby ons sterflikes moet lewe? Terwyl ek my gat af probeer om die stippels van my gebroke lewe te verbind … wie is julle?
My regte ma is dood. Sy was swak, my ma. Eva. Gee geboorte aan my en sterf af … Haar laaste asem word my eerste! Ek enter, sy exit. Hoe werk dit? Sekondes na middernag … op Oujaarsaand! Instant fame! Voorbladfoto: Eerste baba gebore in 1981 … Evalina Verwey! Ek!
My lewe: een lang “to-do list”. Soekend na antwoorde … teenoorgesteldes wat teen mekaar veg. Sonder teenoorgesteldes kan mens nie vorentoe nie. So sê Blake. My siel is so donker soos lig. So sê ek. Kon nooit verstaan hoe gedigte werk nie: Verhef simpel woorde om meer verwarring te veroorsaak. Sê ’n ding soos dit is. Call a bitch a spade! Parallelle lyne ontmoet nooit. Liefde het altyd voorwaardes. Altyd. “Unconditional love” is die snert wat hulle aan jou verkoop soos tandepasta of assuransie en three-ply kakpapier met aloe fokken vera … Asof jou gat nou minder soos kak en meer soos vars plante gaan ruik!
Ons het meesters geword om pyn van mense weg te steek … almal te besig om van hul eie pyn weg te hardloop op soek na ontwykende geluk. (Soos sy afkyk:) Daar onder is wat my hier boontoe, na dié dak, gedryf het. Kyk hoe lyk hulle. Little dots … stippels … stof … wat niemand kan connect nie! Opperman se jassies met hul gesiggies. En onder die oppervlak? ’n Stank van jare en jare se gevrot. Net onder die vloerborde van ons siele. Hulle kyk en kyk met hul neuse op in my gat … Hulle maak hul oë skeel en beweeg om my asof ek ’n Baartman-beeld is; ’n 3D-prent … wat bestaan uit stippels. En niemand kan my uitfigure nie! Ek kan my nie uitfigure nie! (Klank van toeters en gejuig van mense. Dis middernag …)
40. Wat is 40 anyway? Wag tot julle sien wat ek in die mou voer vir 50. Iets klassiek, stylvol. Wat van naak in die bad? Met polse … Nee, dit was toe ek 20 was. Gif? Arsenic? ’n Kelkie, miskien? Nee, te Romeo en Juliet! Sterker pille? Ek weet … ek sal die see inloop … soos Ingrid Jonker en Virginia Woolf. Wat van … elektriese skok? Ja, dit sal almal laat praat … rillings … Ek voel dit nou al … rillings en poedelnakend? Kop omhoog, soos Norma Desmond en Blanche du Bois. Soos die klok middernag slaan … soos die toeters en die fluitjies en die vuurwerke afgaan … soos die mense mekaar omhels en druk en soen en geluk toewens vir nog ’n klug van ’n nuwe jaar … soos my ma haar exit gemaak het … op daai presiese oomblik! 50. My einde! (Ligte doof skielik uit)
***
Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.
Al die Stemme-monoloë word oor die volgende 10 weke op hierdie blad vrygestel:
Lees hier meer oor die Stemme-projek:
Stemme: LitNet se monoloogprojek met Suidoosterfees, KKNK en NATi
Kommentaar
Dit is 'n donker stuk wat my intrek. Dit laat my 'n bietjie down voel. Ek wens daar was 'n ander uitweg. Of miskien iets wat sê daar is hoop. Maar miskien is dit net 'n klein deel van 'n veel groter storie.