Stemme: LitNet se monoloogprojek met Suidoosterfees, KKNK en NATi

  • 1

Stemme, LitNet se monoloogprojek, word in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi aangebied. Tien Afrikaanse dramaturge is genader om kort, kragtige monoloë te skryf. Agt van die monoloë word op 19 Junie 2021 vanaf 17:00 in die Iziko Slawemuseum in Kaapstad deur LitNet se fees- en teatervennote opgevoer en verfilm. Al tien Stemme-monoloë sal weekliks vanaf Julie 2021 as tekste en video’s op LitNet vrygestel word.

Nicola Hanekom, Rafiek Mammon, Saartjie Botha, Ingrid Winterbach en Breyten Breytenbach (Foto's: verskaf en deur Naomi Bruwer)

LitNet het dramaturge uitgenooi om monoloë van 3 tot 5 minute vir die projek te skryf, en die Suidoosterfees en KKNK het saamgewerk om van die voorste akteurs en regisseurs aan boord te kry. Veteraandramaturge soos Breyten Breytenbach, Ingrid Winterbach, Saartjie Botha, Rafiek Mammon en Nicola Hanekom, vanjaar se Hertzogpryswenner vir drama, het ingestem. Hulle deel die platform met die volgende jong dramaturge wie se vernuf onder leiding van NATi en die Jakes Gerwel Stigting geslyp is: Carlo Daniels, Stephren Saayman, Dianne Albertze, Veronique Jephtas en Andrico Goosen. Dié jong stemme het in die verlede met verhoogstukke by die Suidoosterfees gedebuteer as deel van die fees se NATi Jong Sterre-projek, ’n ontwikkelingsinisiatief wat help om talentvolle nuwelinge ’n vastrapplek in die bedryf te gee.

Stephren Saayman, Andrico Goosen, Veronique Jephtas, Carlo Daniels en Dianne Albertze (Foto's: verskaf)

Marthinus Basson, Lee-Ann van Rooi, Andrew Buckland, Fred Abrahams en Nicole Holm is van die regisseurs wat tans werk om die Stemme-produksies vir die verhoog gereed te kry. Die volgende akteurs neem deel: Antoinette Kellermann, Albert Pretorius, Khadija Heeger, Tinarie van Wyk Loots, Geon Nel, Eldon van der Merwe, Hein Poole, Carlo Daniels, Ivan Abrahams en Liandé Valentyn.

Antoinette Kellermann en Albert Pretorius speel in onderskeidelik Breyten Breytenbach se Teenstemtweespraak en Ingrid Winterbach se ’n Seereis, waarvan Marthinus Basson die regisseur is. Breytenbach en Winterbach se monoloë sal eksklusief as video’s op LitNet vrygestel word. Fred Abrahams behartig die regie van Rafiek Mammon se Verspring, wat handel oor ’n middeljarige werklose aktrise, vertolk deur Tinarie van Wyk Loots, wat ’n finale sprong die toekoms in waag. Geon Nel en Eldon van der Merwe vertolk onderskeidelik Saartjie Botha en Nicola Hanekom se Leë nagte en Olke bolke, met Nicole Holm en Lee-Ann van Rooi as die regisseurs.

Holm regisseer ook Andrico Goosen se Kon ek ook maar ’n hond gewees het? met Ivan Abrahams op die verhoog, terwyl Van Rooi ook in die regisseurstoel is vir Veronique Jephtas se Revelations oppie pot met Hein Poole. Andrew Buckland neem as regisseur vir Carlo Daniels onder hande in Daniels se Weg, waarin hy self optree. Die NATi Jong Sterre Dianne Albertze en Stephren Saayman neem die regieleisels met hul eie stukke – Soebat met Khadija Heeger op die verhoog, en Alles lê in die lengte van jou hare met Liandé Valentyn.

Stemme word aangebied met die ondersteuning van die LW Hiemstra Trust, ATKV, Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport. Die oogmerk van die projek is tweeledig. Brian Figaji, direksievoorsitter van die Suidoosterfees, verduidelik: “Hierdie sinergieprojek met LitNet en ons vennote in die teater- en feestebedryf bied kunstenaars die geleentheid om skeppend te werk tydens die COVID-19-pandemie. Terselfdertyd gee dit aan opkomende kunstenaars wat reeds by ons en NATi se Nuwe Sterre-projek gebaat het, die kosbare geleentheid om ’n verhoog met legendes in die bedryf te deel.”

Etienne van Heerden, LitNet se hoofredakteur, sê: “Baie dankie aan Rooksana Omar van die Iziko Slawemuseum, LitNet se Melt Myburgh, Jana Hattingh en Rafiek Mammon van die Suidoosterfees, Cornelia Faasen van NATi, Hugo Theart van die KKNK, en al die deelnemende skrywers – die veterane én die jong partisane – akteurs en regisseurs, asook tegnici wat met hierdie wonderlike projek lugtyd gee aan skeppende stemme.”

Agt Stemme-produksies word op 19 Junie 2021 vanaf 17:00 in die Iziko Slawemuseum in Kaapstad opgevoer. Kaartjies kos R120 en kan by Computicket bespreek word.

 

  • 1

Kommentaar

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Sterkte met hierdie wonderlike projek! Mag dit selfs NOG groter groei!

    Art transcends all - it will be around centuries after our curtains have come down and we've stopped acting, dancing, painting, singing, after we've stopped ... making ART!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top