Persverklaring: NATi Jong Sterre-projek bied groot geleenthede vir opkomende dramaturge

  • 0

Abduragman Adams (Foto verskaf)

Die NATi Jong Sterre-projek, wat by die pas afgelope Suidoosterfees in Kaapstad sewe uitstekende debuutproduksies gelewer het, bied ’n uitsonderlike geleentheid aan jong dramaturge om hul toneelstukke onder professionele mentorskap te verfyn. Dié inisiatief word gesamentlik deur NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief), die Jakes Gerwel Stigting, die Suidoosterfees en Kunstekaap aangebied. Hierdie instansies beskou die ontwikkeling en bevordering van jong talent as ’n prioriteit en nooi derhalwe alle opkomende dramaturge wat aan die begin van hul loopbane staan en nog nuut in die dramabedryf is, om vir die mentorskapprogram aansoek te doen.

Belangstellendes moet teen 1 Junie 2021 die volgende inligting per e-pos na theo@jgf.org.zastuur: ’n nuutgeskrewe dramateks of ’n uittreksel daaruit, tesame met bondige biografiese inligting, asook ’n motiveringsbrief oor hoe die aansoeker by die projek sal baat. Geen bestaande werk wat voorheen opgevoer is sal oorweeg word nie.

Suksesvolle kandidate kry die geleentheid om van 26 Julie tot 15 Augustus 2021 in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-skrywershuis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap te skryf. Dié sjarmante ouwêreldse huis met sy ruim kamers, leefvertrekke en lowergroen tuin bied die ideale omgewing om ongestoord kreatief te kan werk. Nuwelingskrywers se reis- en verblyfkostes sal deur die stigting gedra word en die Suidoosterfees sal, met die ondersteuning van NATi en Kunstekaap, die werke na afloop van die mentorskapprogram verder ontwikkel om in 2022 by die fees te debuteer.

Abduragman Adams, ervare akteur, dramaturg en regisseur, sal as mentor optree. Buiten die mentorskapsprogram in Somerset-Oos waar daar intensief aan die dramatekste gewerk sal word, sal kandidate ook leiding in produksie-ontwikkeling van die teatermaker Rafiek Mammon ontvang. Dit sluit onder meer die opstel en bestuur van ’n begroting in, bemarking, en hoe om met kunstenaars en regisseurs te onderhandel.

Hierdie projek gee gestalte aan wyle prof. Jakes Gerwel se passie om talentvolle individue, wat andersins nie die geleentheid sou hê nie, deur mentorskap te onderskraag. Gerwel het ’n sleutelrol gespeel in die totstandkoming van die Suidoosterfees, wat daartoe verbind is om inklusiwiteit in die kunste te bevorder. Die stigting is in die lewe geroep om Gerwel se nalatenskap as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en sakeman deur relevante projekte uit te bou. Paulet-huis is na sy dood deur sy weduwee, Phoebé, aan die stigting geskenk met die doel om dit as skrywershuis in te rig.

Die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) is ’n nie-winsgewende, selfstandige organisasie, befonds deur Die Dagbreek Trust, wat hom beywer vir die bevordering van Afrikaanse teater en toneel op ’n inklusiewe grondslag, tot voordeel van die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top