Op Woensdag 22 September 2021 bied die Hessequa Harmonie-kunstefees ’n boekpraatjie oor Dalene Matthee aan: “Dalene Matthee – Die meisie van Riversdal”. Amanda Botha en Suzette Kotzé-Myburgh neem op Heidelberg (Wes-Kaap) aan dié gesprek deel, ’n klipgooi van Riversdal, waar die skrywer gebore is. Melt Myburgh het vir Amanda en Suzette uitgevra oor wat feesgangers te wagte kan wees wanneer hulle oor een van Afrikaans se gewildste skrywers gesels.
***
Toe Dalene Matthee in 2005 in die ouderdom van 66 aan hartversaking oorlede is, het Charles Fryer, een van die uitgewers wat ten nouste met haar saamgewerk het, gesê: “Dalene (’n afstammeling van die skrywer sir Walter Scott) was waarskynlik die mees geliefde skrywer naas Langenhoven in Afrikaans. Na haar skielike dood het ’n gevoel van volslae ongeloof onder haar aanhangers geheers. Met haar vitale teenwoordigheid was hierdie oervrou, hierdie wyse ‘ou siel’, ’n tydlose mens” (Insig, Mei 2005).
Oor Matthee se gewildheid is daar geen argument nie. Sy was bekend as die enigste Afrikaanse skrywer van wie meer as een miljoen boeke in Afrikaans in Suid-Afrika verkoop is. Ena Murray en Deon Meyer is twee ander skrywers wat heel waarskynlik by hierdie prestasie bygereken kan word. Etienne Bloemhof van NB-Uitgewers sê dat hy “geld daarop sal verwed” dat al drie – Ena, Dalene en Deon – al die miljoenkerf verbygesteek het. “Ons het destyds hard probeer vasstel presies hoeveel boeke Ena verkoop het, maar onversoenbare rekenkundige stelsels, so oor die dekades heen, asook die feit dat sy by verskillende uitgewerye gepubliseer het, het dit eenvoudig ’n onbegonne taak gemaak.” As daar na die getal Deon Meyer-titels en die gemiddelde drukoplae van sy Afrikaanse boeke gekyk word, “is dit ook ’n veilige aanname om te maak”, sê Etienne.
Dalene Matthee het 13 boeke geskryf, en haar vier Bosboeke, Kringe in ’n bos, Fiela se kind, Moerbeibos en Toorbos, het van haar ’n legende in haar eie leeftyd gemaak. Haar romans is wyd vertaal en sy het internasionale erkenning geniet. Nelson Mandela het haar werk op Robbeneiland gelees. Toe Pieternella van die Kaap verskyn, het Madiba vir Dalene gebel om haar geluk te wens. (Lees meer hieroor op die Dalene Matthee-webwerf.)
Suzette Kotzé-Myburgh en Amanda Botha se paaie het op verskillende maniere met Dalene Matthee s’n gekruis. As redakteur het Suzette aan Dalene se laaste twee boeke, Toorbos en Die uitgespoeldes, gewerk. Kort voor die verskyning van Toorbos het Suzette die Paasnaweek van 2003 by Dalene aan huis deurgebring.
Amanda het die skrywer in 1982 leer ken toe haar debuutbundel kortverhale, Die Judasbok, die lig gesien het. In daardie tyd was Amanda die sekretaresse van die Afrikaanse Skrywersgilde, en sy het vir Matthee genooi om lid te word. “Sy was gretig om betrokke te raak en het in 1984 aan die veelbesproke Gordonsbaai-skrywersberaad deelgeneem saam met ander sogenaamde Tagtigers – Koos Prinsloo, Dan Roodt, Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel), André Letoit (later Koos Kombuis) en Etienne van Heerden.”
Vir die Skrywersgildeberaad het Dalene, wat toe op Hartenbos gewoon het, per trein na die Strand gereis. “Ek het haar op die Strand-stasie ontmoet en haar na Gordonsbaai geneem,” vertel Amanda. “Ons ontmoeting was vriendelik en hartlik en ons het dadelik ’n goeie aanvoeling vir mekaar gehad.” Dalene het met ’n tas en ’n OK Bazaars-inkopiesak wat sy haar “aktetas” genoem het, gereis. “Hoewel sy onbekend aan die ander skrywers was, was sy wel bekend met die werk van teenwoordiges soos André P Brink, Etienne Leroux, Elsa Joubert, Jan Rabie, Klaas Steytler en Chris Barnard.”
Tydens die eerste aandete het Dalene aan tafel min gepraat en is vroegerig na haar kamer. Vroeg die volgende oggend het Amanda saam met haar op die strand gaan stap. “Wat ek uit ons gesprek op die strand onthou, was dat sy vertel het van haar kennis van en liefde vir musiek en dat sy musieklesse gegee het. En veral dat sy ’n gholfbal kon moker – sy het gespog dat sy die Ladies Country Open van die Rondebosch-gholfklub gewen het.”
By die beraad was Dalene een van die nuwelingskrywers op die toneel, saam met ander debutante soos TT Cloete en Annesu de Vos. Tussen die groot literêre kanonne het die nuwelingskrywers versigtig getrap. Amanda vertel dat Dalene nie juis aan besprekings deelgeneem het nie, maar noukeurig aantekeninge gemaak het. Soos die gebruik was, het die “inkommers” ’n spreekbeurt gekry om te vertel waarmee hulle doenig is.
Toe Dalene aan die woord kom, het sy vertel dat “sy nie skryf soos die ander ‘beroemdes’ in die vertrek nie. Sy vertel stories en sy vertel dit só dat almal dit wíl en sál lees.” In die OK Bazaars-sak was ’n stapel kladboeke, vertel Amanda, met alles daarin in potlood geskryf – ook haar volgende boek waarvoor sy nog nie ’n uitgewer gehad het nie. Daardie manuskrip in die sak was Kringe in ’n bos, die eerste van vele romans waarmee sy die wêreld sou verower. En so, met ’n beskeie gevroetel in ’n plastieksak, het Dalene Matthee die bestaan van Kringe vir die eerste keer aangekondig.
In 1984 het die frase “betrokke literatuur” in literêre skrywers se monde gegons. Om as skrywer ernstig opgeneem te word, was politieke inhoud teen die establishment amper ’n vereiste, verduidelik Amanda. Die misdaad van apartheid moes deur skrywers in hul boeke aan die kaak gestel word.
“Tydens haar spreekbeurt, net voor teetyd, het Dalene gesê hoe belangrik dit is om stories te vertel, stories wat op werklikhede gegrond word en die gemoed en die hart aangryp,” onthou Amanda. “Dalene was beslis in haar siening dat sy nie alleen deur ’n handjievol letterkundiges gelees wou word nie; sy skryf haar stories vir almal.”
Charles Malan, destyds dosent aan die Universiteit van die (Oranje-) Vrystaat, het vir Dalene gevra wat die bydrae van sulke verhale binne die Afrikaanse politieke konteks dan sou kon wees. “Sy het die vraag omseil met iets in dier voege van ‘Mense is politiek en politiek is mense.’”
Na teetyd is daar dadelik onder beraadgangers gepraat van ’n ander genre waarin “hierdie soort stories” moes pas, vertel Amanda. En dit is hier waar die woord “middelmoot” as beskrywing ontstaan het vir die etiket wat akademici jare daarna aan Dalene se werk sou hang. “Onnodig om te sê, sy het haar nie die minste daaraan gesteur nie!”
“Middelmootlektuur” sou volgens die hekwagters ondergeskik wees aan die hogere letterkunde enersyds, en andersyds ’n kop hoër as klubboekskrywers staan. “In daardie stadium het niemand eintlik veel meer van Dalene as skrywer geweet as dat sy met ’n kortverhaalbundel gedebuteer het nie,” verduidelik Amanda.
Suzette plaas dié omgang met die “middelmoot”-etiket in perspektief vir vandag se lesers: “Die moderne tydperk was gekenmerk deur onder meer vaste beskouings oor ‘hoë’ en ‘lae’ literatuur, terwyl daardie soort streng kategorisering in die postmoderne wêreld begin verval het. Vandag word literêre waarde baie meer gesien as ’n kontinuum, eerder as twee uiterste pole. Na my mening was Dalene werklik uniek in Afrikaans deurdat sy daardie sweet spot tussen ‘laag’ en ‘hoog’ net reg kon tref, veral met haar twee groot boeke, Kringe in ’n bos en Fiela se kind.
“Met ander woorde, die gewone mens wat net lees vir die lekker, kon haar boeke verstaan en geniet, terwyl daar ook ’n diepere, simboliese laag aan haar werk was wat die meer literêr ingestelde leser kon bevredig.”
Dalene Matthee was ’n gebore storieverteller – ’n talent wat nie alle skrywers, selfs dié wat met die gesogste pryse kan spog, beskore is nie. Amanda sê: “Uitmuntende verteller en herskepper van verhale wat sy was, of jy dit nou van haar self gehoor het of in haar boeke gelees het, het die karakters mense geword wat jou binneste bevolk het. Sy het vir haar karakters ’n innige deernis en opregte respek gehad. Sy was maar te bewus van hul broosheid en feilbaarheid. Ek het hierdie innige meelewing met haar karakters altyd bewonder.”
Die skrywer se gawe om stories te vertel het volheid bereik deur haar wye, omvattende wêreldbeskouing en haar verbintenis tot deeglike navorsing. Suzette sê: “By ’n groot skrywer is dit wat jy uiteindelik in die boek lees, ’n distillaat van daardie skrywer se denk- en gevoelswêreld, en dié is baie meer as wat moontlik is om op papier te plaas. Die bron ontgaan my, maar ek het ’n paar jaar gelede ’n stuk gelees waar Dalene self aan die woord was oor haar skrywerskap. Daar het sy met stelligheid gesê dat elke skrywer ’n goedgedefinieerde wêreldbeeld moet hê wat ágter hul woorde staan. Dit bepaal wat jy éintlik aan die leser wil oordra en jy kan nie daarsonder skryf nie.”
Volgens Amanda het Dalene altyd ’n plan gehad. “Terwyl sy aan een boek skryf, het sy geweet waaroor haar volgende twee sou gaan.”
Matthee se werkroetine en dissipline was verstommend, en sy was geheimsinnig oor haar stories voordat dit gepubliseer is. “Haar nuuskierigheid het haar gedryf; ’n mens kan dit die rede noem vir haar gedetailleerde navorsingswerk. As sy ’n skroef moes beskryf, moes sy dit sien en in haar hand hê. Kortpad was nie haar styl nie; sy wou te alle tye in beheer van haar skryfwerk wees en was dit ook. Dit was outentiek en oorspronklik, feitelik en tot in besonderhede korrek.”
Van hierdie ingesteldheid by Dalene Matthee, en die enorme sukses wat vir haar om die draai gelê het, was die literêre swaargewigte by die Skrywersgildeberaad in 1984 salig onbewus. “Trouens, haar spreekbeurt was soos ’n donkieskop op die maermerrie van die ‘uitgelese’ gehoor,” reken Amanda. Die manuskrip in haar inkopiesak sou “die mees gelese boek” in Afrikaans word. “By hierdie beraad het dit nie veel opwinding gebring nie. Dit was net nóg ’n boek en net nóg ’n astrante skrywer.”
Toe Amanda en Dalene mekaar na afloop van die beraad groet, het Dalene die handgeskrewe notas vir haar toespraak vir Amanda gegee, en ’n blywende band tussen hulle is gevestig. “Ek het sedert die publikasie van Kringe in ’n bos elke roman persoonlik van Dalene ontvang. Met al haar boeke het ek onderhoude of gesprekke met haar gehad. Boeiende vertellings, skreeusnaaks en dikwels met deernis wat byna tasbaar was.”
Suzette verduidelik wat Dalene Matthee so sonderling as mens en as skrywer gemaak het: “Sy was ’n diep spirituele mens wat kom uit die Afrikaanse era van eng, streng, Calvinistiese godsdiens. Sy het ’n werklik mistieke band met die natuur gehad, sy het geglo in reïnkarnasie en allerhande esoteriese onderwerpe soos astrologie, palmlees en die invloed van die maan op alles op aarde, mense ingesluit. Dalene sou byvoorbeeld na die maanstande kyk om te besluit op die regte tyd om ’n operasie te ondergaan, want afhangend daarvan sal jy minder of erger bloeding hê.”
“Sy het ’n sterk bewustheid gehad van haar afhanklikheid van God,” sê Amanda. “Psalm 25, het sy gesê, was vir haar geskryf.”
Te midde van haar roem en gewildheid was Matthee streng op privaatheid gesteld. In ’n onderhoud met Insig in April 2000 sê sy: “En die skrywersirkus rondom ’n boek staan my nie aan nie.” Suzette vermoed dat Dalene wys genoeg was om te weet hoe ’n tweesnydende swaard roem is, en daarom het sy jaloers oor haar persoonlike ruimte gewaak. “As ’n mens onderhoude met haar lees, val dit op hoe sy haar grense gestel het en wegbeweeg het van vrae wat indring op plekke waar sy nie indringing wou hê nie.”
As geniale storieverteller en komplekse kreatiewe gees kon Matthee sekerlik nie aldag die maklikste mens gewees het om mee oor die weg te kom nie. As tiener was sy immers bekend as “die stoutste kind op Riversdal”. In haar ATKV|LitNet-Skrywersalbum word genoem dat sy maar altyd die “swart skaap” van die gesin en familie was. Haar unieke perspektief op die mensdom het haar bepaald as eksentriek laat oorkom.
“Sy het beslis haar nukke en grille gehad – soms het mense dit sommer ‘onbeskof’ genoem – maar ek het altyd gedink dat dit ’n fasade was vir ’n diep gevoelige mens wat werklik kon liefhê. Sommige sê Dalene was plein hardkoppig en beneuk. Hoe dié kant van haar gelyk het, het ek nie self beleef nie. Wat ek weet, is dat sy graag vertel het dat sy as skoolmeisie op Riversdal al eie giere gehad het en dat dit glo nie maklik was om met haar huis te hou nie.”
Mense wat met Dalene te doen gekry het, deel interessante staaltjies . In 2003 het die skrywer vir Suzette met groot plesier vertel hoe sy as ’n grap kursusgangers se palms gelees het by ’n skryfskool of skryfdag waarby sy betrokke was. “Sy het met die sameroeper afgespreek dat sy saam met hom of haar by die tafel sit soos die mense inkom om te registreer, en as deel van die registrasie moet sy ook elkeen se palm lees om te sien of hulle genoeg skryftalent vir die kursus het. Sy het selfs mý palm gelees met daardie besoek.”
Amanda onthou dat Dalene graag van haar dobbelwinste vertel het. “Sy het van dobbel gehou en ’n punt daarvan gemaak om veral met haar Kaapse besoeke ’n aandjie of meer se spel in te kry.” Een van Dalene se groot liefdes was teddiebere. “Sy het ’n redelike versameling gehad – sommige met pedigrees wat benydenswaardig was. Hulle was vir haar ’n reële teenwoordigheid. Elke dag is hulle aangetrek vir watter geleentheid dit ook al mag wees. Die laaste keer wat ek haar gesien het, het sy gekla dat die een teddie so vloek dat sy genoodsaak was om ’n Kinderbybel te koop wat sy langs hom staangemaak het.”
Dalene Matthee moes uiteraard skatryk uit die opbrengs van haar topverkopers geword het. In die laat tagtigerjare het sy op Stellenbosch vertel hoe ’n Hollywood-rolprenthuis vir haar duur poppe met ’n privaatstraler laat aflewer het (of wou laat aflewer) om die filmregte vir Fiela se kind te bekom. “Sy het sekerlik baie goed verdien,” bevestig Suzette, “maar aan haar as persoon en aan haar huis kon ek geen vertonerigheid van groot rykdom sien nie. Die geld het haar wel in staat gestel, veral later in haar loopbaan, om oral heen te reis om navorsing te doen vir haar boeke, en ook om professionele navorsers te betaal om te help.”
Oor hoe sy oor haar roem en rykdom gevoel het, met herdrukke wat reeds oor geslagte heen lesers bly aangryp, weet niemand nie, maar Amanda raai dat dit haar sou geval het. “As ek dink aan die selfvertroue waarmee sy by daardie skrywersberaad oor die Kringe-manuskrip in die plastieksak ‘gespog’ het, sou sy dalk vandag heel uitdagend sê: ‘Ek het mos gesê. En nou moet julle maar jul woorde sluk en erken dat niemand ’n storie soos Matthee kan skryf nie!’”
- Die Hessequa Harmonie-kunstefees vind van 21 tot 25 September 2021 op Heidelberg plaas. Amanda Botha en Suzette Kotzé-Myburgh is die oggend van 22 September aan die woord, met Elsabé Daneel as gespreksleier. Klik hier om die fees se webtuiste te besoek, en bespreek jou plek hier.
Lees ook:
Dalene Matthee se ATKV|LitNet-Skrywersalbum
Die amptelike Dalene Matthee-webwerf
Video’s oor Dalene Matthee op YouTube.
Kommentaar
Dalene Matthee het Oranje Meisieskool se hoof Mariehetta Matthee geïnspireer om leerlinge die "Kringe"te laat stap. Jaar na jaar het haar leerders gestap en beleef en oor Saul gefilosofeer ... Mariehetta het nou haar kring voltooi en haar leerders sal die twee Matthees so nimmer as te nooit vergeet nie.
Wat 'n heerlike stukkie lees was dit nou vir my.
Ek het sedert 1987 (my matriekjaar toe ek met die verbystap die begaafde Dalene herken het as die skrywer van my voorgeskrewe matriekboek) tot die jaar van haar oorlye jaarliks Desembers op uitnodiging by haar in Hartenbos ingeloer vir 'n geselsie oor tee - en elke jaar het 'n ander teddiebeer met 'n ander lewensverhaal op die bankie naby die voordeur verjaar ...🐻