Dames en here van die Ingrid Jonker-pryskomitee, beoordelaars
Dit is vir my ’n voorreg om hierdie prys, met sy assosiasie van Ingrid Jonker se uitsonderlike digterlike nalatenskap, in ontvangs te neem.
Om dit te ontvang uit die hand van Caro Wiese, wie se ondersteuning van die poësie en geleenthede soos hierdie van voddedraers digters maak, is ’n voorreg des te meer.
Vir my suster Karen en haar kinders, Janke en Hugh, wat vanaand hierdie geleentheid met my deel: baie dankie. Julle is my bloed en laat my voel ek behoort.
by die ontvangs van die ingrid jonker
vir die oomblik wat jy jou rug op die twaalf apostels keer
kan ek sien
hoe die wind beitel aan jou profiel
om jou enkels skuim ’n tsunami van drif
jou skadu ontwerp deur maanlig
ek weet, daarso waar jy staan
sal jy sien hoe Koeberg se ligte
aanflikker in die mis
jou saam met my verbeel
hoe terrasse oortrek met anemone
duidelik raak met elke tree dieper in die mis
aanskou hoe die kragsentrale se buitelyne gelade nader skuif:
koepels blink tussen minarette
in marmer: ’n mausoleum vir die liefde!

