Melt Myburgh deel sy indrukke van die Musiekindaba-program wat van 30 November tot 3 Desember op Stellenbosch plaasvind, en lig hoogtepunte uit.

Die Musiekindaba wat van 30 November tot 3 Desember op Stellenbosch gehou word, spog met ’n program wat groot byval by liefhebbers van Afrikaanse musiek gaan vind. Afrikaanse sangers en liedjieskrywers wat legendestatus geniet, is op die verhoog met optredes en gesprekke oor hul kleurryke loopbane.
Maar dié feestelike geleentheid is veral belangrik vir rolspelers in die bedryf. Of jy ’n amateurkunstenaar is wat met ’n blikkitaar jou voete probeer vind, en of jy tuis is op die troon van sukses, Musiekindaba is ’n noodsaaklike geleentheid vir mense in die Afrikaanse musiekwêreld om hul vaardighede en loopbane op te skerp en om te netwerk. Enigiemand wat op of agter die Afrikaanse musiekverhoog bedrywig is, gaan waardevolle insae by suksesvolle rolspelers kry oor hoe dinge nou eintlik werk. Daar is selfs akademici wat oor interessante navorsingsresultate kom gesels.

Karen Meiring, direkteur van Musiekindaba
Karen Meiring staan aan die stuur van sake. En soos mens kan verwag, het sy haar vinger op die pols. As jy na die samestelling van die program kyk, is dit ’n “teksboek”-voorbeeld van hoe iemand wat self ’n skitterende loopbaan as sanger, feesorganiseerder en bestuurder van kultuuraktiwiteite op groot skaal agter die blad het, se ondervinding en kennis ’n skerp geïntegreerde fokus op die bedryf laat val. Sy nooi besoekers aan die indaba uit om hulle vir ’n paar dae in die Eikestad aan ’n spesiale geleentheid oor te gee:
In die lang nasleep van die COVID-19-pandemie is daar nie ’n beter tyd as nóú om te besin oor die pad vorentoe vir die Afrikaanse musiekbedryf nie. Musiekindaba is die ideale geleentheid vir mense voor, langs en agter ’n mikrofoon, instrument of mengbank om vorm te help gee aan die toekoms van Afrikaanse musiek. En die publiek, die mense wat Afrikaanse musiek liefhet en kunstenaars se sukses met hul ondersteuning verseker, word spesiaal verwelkom.
Die program lees lekker en maklik, sonder fieterjasies. Belangstellendes sal sommer dadelik sien watter items in hul behoeftes en smaak voorsien.
Op die webwerf val die program in die volgende afdelings uiteen:

Daar is ook die Musiekspyskaart, propvol musiekproduksies en interessante gesprekke, en ’n chronologiese dagprogram sal voornemende besoekers help om hul beplanning sonder hoofpyn te doen.
Forte
Om ’n idee te kry van die indrukwekkende gehalte van deelnemers aan die Forte-program, kan jy net na die CV van iemand soos John Fishlock kyk. Fishlock, wat oor musiekkopiereg en die beskerming van komponiste se intellektuele eiendom kom praat, het sy loopbaan in die musiekbedryf in Surrey, Engeland begin. Eers was hy ’n motorfietskoerier vir ’n maatskappy wat musiek vir die rolprent-, TV- en advertensiebedryf geskep het. Later het hy saam met internasionale kunstenaars soos George Martin, Hans Zimmer, Paul McCartney, Fairground Attraction, Lighthouse Family, Fat Boy Slim en Van Morrison gewerk. Hy was ook betrokke by Wet Wet Wet se grootste treffer ooit, “Love is all around” in die rolprent Four weddings and a funeral.

John Fishlock
In 1996 het John na Kaapstad verhuis, waar hy ’n belangrike rol gespeel het in meganiese digitale onderhandelinge en die stigting van Capasso by Universal. Daarna het hy kragte met die legendariese Kosie van Niekerk saamgesnoer en die onafhanklike musiekpublikasie-onderneming Active Music Publishing gestig wat nou, twaalf jaar later, as ’n formidabele krag in Suid-Afrika gereken word.
Akademici van verskeie tersiêre instellings kom gesels met indabagangers oor hul navorsing. Onder die sprekers op die Forte-program is akademici soos Johan Fourie, skrywer van Our long walk to economic freedom, wat gedagtes kom deel oor finansiële sake; Schalk van der Merwe, wie se navorsing tans fokus op die impak van musiekstroomplatforms op populêre jeugkultuur in Afrika; en Mzikantu Zungula Dizu Plaatjies, stigter en voormalige leier van Amampondo en tans professor in Afrika-dans en -musiek aan die Universiteit van Kaapstad, wat kom gesels oor tradisionele, neotradisionele en oorspronklike Afrika-liedjies.

Johan Fourie, Adam Haupt en Jolyn Phillips
Adam Haupt, direkteur van die UK se Sentrum vir Film- en Mediastudies, lewer ’n toespraak oor verwikkelinge rondom die Drietalige Woordeboek van Kaaps, en hy ondersoek die vraag: Wat is die verskil tussen Afrikaans en Afrikaaps/Kaaps, en hoekom maak dit saak? Die digter-akademikus Jolyn Phillips is ook teenwoordig met ’n interessante blik op die lewens van twee Afrika-jazz-komponiste: Sathima Bea Benjamin, bekend vir haar albums Windsong en Africa, en Winston Monwabisi Mankunku Ngozi, bekend vir sy epiese lied “Yakhal’ inkomo”.
Die Afrika-kultuuraktivis, kunstebestuurder en -administrateur, André le Roux, rapporteer oor sy navorsingsbevindinge oor regstreekse stroommodelle en strategieë vir digitale mobiliteit. Heidi Edeling, wat jare gelede saam met Karen Meiring lid van Cutt Glas was, vertel oor haar navorsing wat die wisselwerking tussen kreatiwiteit en musiekvaardighede in ’n oudiovisuele projek ondersoek.
Lizabé Lambrechts, argivaris en buitengewone professor by die US se Africa Open Instituut, gesels met Paula Fourie, skrywer van die Taliep Petersen-biografie, Mr Entertainment, oor hoe die potensiaal van materiaal in argiewe vir nuwe skeppende werk ontsluit kan word. Carla de Beer lig die sluier oor Suid-Afrika se sosialemedialandskap en hoe kunstenaars hul reputasie veilig en binne die reg behoort te bestuur.

Karen Zoid
Groot name in die bedryf is ook teenwoordig om kennis en ervaring te deel: David Kramer praat oor die skep van musiekteater; Karen Zoid, op haar dag ’n busker in Melville se strate, deel geheime oor hoe kunstenaars hulself as handelsmerke kan vestig en finansieel sukses kan behaal; en Louis Heyneman besin oor die vraag of tegnologiese vooruitgang ’n ontploffing van kreatiwiteit gaan meebring, en of dit verdere vervlakking en verdomming in die hand gaan werk.
Brendan Jury, bekroonde skepper van oorspronklike klankbane vir die musiek in internasionale dokumentêre films vir National Geographic en Discovery USA, kom deel sy kennis, en Julita Kok, bekend vir die groot Christelike musiekfeeste wat sy aanbied, verteenwoordig die gospelmusiekmark.
Presto-Presto
Tydens die interaktiewe paneelgesprekke op die Presto-Presto-program kan vrae uit die gehoor direk aan kenners gestel word. Coenie de Villiers lei gesprekke met rolspelers in die bedryf wat besin oor die huidige stand van Afrikaanse musiek, die manier waarop musiek ’n brug tussen verskillende kulture kan slaan, en hoe om as ’n onafhanklike kunstenaar suksesvol te wees.

Adolf Vorster, Jessica Latham en Henco Harmse neem saam met Denise Barnes en Henru deel aan die paneelgesprek, Digitale platforms, met Danie Marais as gespreksleier
Danie Marais speel gasheer tydens gesprekke met kunstefeeshoofde oor die rol van musiek in hul programsamestelling, die toekoms van groot nasionale en internasionale konserte in Suid-Afrika, bemarking en hoe om platforms soos TikTok en Spotify suksesvol te behartig.
Frazer Barry lei gesprekke oor nuwe tendense in musiekteater, die mark vir hip-hop en rymklets, en maniere waarop gesoute musiekvervaardigers uitdagings in oplossings omskep. Frazer vra ook verteenwoordigers van musiekregte-organisasies soos Samro, Capasso en Risa uit oor waar dinge skeefloop wanneer kunstenaars nié hul tantième ontvang nie.
Onderwerpe soos finansiële bestuur en musiekregte word deur Eugene Meyer en Henco Kruger tydens paneelsessies onder die vergrootglas geplaas, en Saartjie Botha lei ’n gesprek oor die welsyn van kore in Suid-Afrika.
Klik hier om te sien wie almal aan die paneelgesprekke gaan deelneem.
G-sleutel
Die wyse waarop kunsmatige intelligensie en ontwikkeling in tegnologie die ganse musiekbedryf oor jare heen verander het, is hoog op die agenda van werkswinkels wat tydens die Musiekindaba aangebied word. Gevestigde kunstenaars en nuwelinge in die bedryf gaan ewe veel baat by dié aanbiedings, wat feitlik elke aspek van ’n musiekloopbaan of die aanbieding van musiekproduksies dek – van loopbaanbestuur, gesonde finansiële oordeel en tegniese aspekte tot stemhigiëne en verantwoordelike omgang op sosiale media.
Denise Barnes en Louise Crouse, wat al aan die stuur was, of steeds is, van mense soos Chris Chameleon, Kahn Morbee, Francois van Coke, Fokofpolisiekar, Jack Parow en Angie Oeh se loopbane, lewer aanbiedings oor effektiewe onafhanklike kunstenaarsbestuur. Hulle deel wyshede oor onderwerpe soos ’n besigheidsmodel wat werklik wérk, belangrike regsaspekte wat in gedagte gehou moet word, registrasie, musiekopnames en -uitreiking en bemarking.

Emo Adams
Heidi Edeling, wat vir bykans 30 jaar in diens van uitvoerende musiekkunstenaars se drome en ideale staan, fokus in haar werkswinkel op maniere waarop mens jou kreatiewe visie in ’n besigheidsmodel kan laat realiseer, en Lourens Rabé deel wenke oor hoe mense in die bedryf hul besigheid moet opstel om optimaal voordeel daaruit te trek, en hoe om vir finansiële onafhanklikheid te spaar.
Advies deur deskundiges oor tegniese en inhoudelike sake word verskaf. Emo Adams en Danie du Toit van Spoegwolf gee leiding in hoe om die regie, musiekregie en uitvoering te benader wanneer keuses vir verhoogopvoerings en digitale inhoud gemaak word. Magriet Groenewald, ’n kenner van sosialemedia- en digitalebemarkingsbestuur, maak indabagangers touwys oor hoe ’n handelsmerk uitgebou kan word deur die kundige gebruik van sosialemediaplatforms en veral Instagram. Early B brei hierop uit deur die fokus op inhoud vir platforms soos Facebook, Instagram, Twitter en TikTok te skep, terwyl Henco Harmse, die Afrikaans-spesialis by Spotify, alles wat mens van Spotify kan en móét weet, kom vertel.
Aan spesialiste in die musiekbedryf gaan daar geen tekort by Musiekindaba wees nie. Eugene Meyer, wat die Recue-stelsel – beskou as die standaard vir musiekgebruikverslaggewing by MultiChoice en Supersport – ontwikkel het en in stand hou, gaan verduidelik hoe Recue optimaal benut kan word om effektiewe verslae vir tantième-invordering te bekom.
Jaco Pienaar is die brein agter Pear (Professional Evaluation and Research) se massamedia-ontledingsruimte, en Charl Nel is die man agter die tegniese bestuur van tegnologieë wat deur Pear ontplooi word. Hierdie twee kundiges gaan musiekmense onderlê in die fynere kuns om tegnologie, analise en medianavorsing tot voordeel van hul loopbane in te span.
Jaconell Mouton, wat al met die Grammy-benoemde saksofoonspeler Dave Koz saamgewerk het, verduidelik hoe om lewensvatbare oudiobane en ander toepaslike oudio-opnames vir digitale inhoud te skep, spesifiek vir sosiale media. Shaun Johannes, wat homself as kind leer baskitaar speel het en vandag dosent in elektriese baskitaar by UK is, gee inligting oor maniere waarop kunstenaars eenvoudige maar effektiewe backing tracks kan maak met behulp van bekostigbare hulpbronne.

Pieter-Jan Kapp, oftewel “Kappie”
Pieter-Jan Kapp, alombekend onder Suid-Afrikaanse feesgangers as Kappie, is ook in die aanbiederstoel oor produksievereistes en tegniese sake. “Goeie tegniese beplanning is deel van die sukses van enige produksie en is die fondament vir kunstenaars om hulle kuns sorgvry uit te leef,” sê Kappie, wat in 1992 aan plaaslike en internasionale produksies begin werk het as beligtings-, vuurwerke- en installasietegnikus. Deesdae tree hy as konsultant op en voorsien in die tegniese behoeftes van projekte soos die bou van teaters, skoolsale en winkelsentrums.
Die stemafrigter Amanda Luyt se kliënte sluit Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Francois van Coke, Andriëtte Norman en Majozi in. Sy gaan sangers by Musiekindaba onderrig in optimale stemgebruik deur die toepassing van korrekte tegniek en stemhigiëne.
Musiekspyskaart

Op die Musiekspyskaart – Bo: Loki Rothman, Dizu Plaatjies (foto: Siphiwe Mhlambi) en Coenie de Villiers; onder: Anton Goosen, Amanda Strydom (foto: Nardus Engelbrecht) en Early B

Musiekliefhebbers kan uitsien na produksies wat in verskeie smake voorsien. Benewens ’n straatfees in die hart van Stellenbosch waar verskeie musikante langs oop kroeë op verhoë gaan optree, kan besoekers aan Musiekindaba na dié geregte op die Musiekindabaspyskaart uitsien:
Altyd immer met Tarryn Lamb, Coenie de Villiers, Anton Goosen, Gian Groen en Robert Bolton
Hoe ons voel met Amanda Strydom, Coenraad Rall en Frank Freeman
Ramon Alexander: Ode aan Goema met die Ramon Alexander-sekstet met Nicolas Miso
Kaapse jol met Emo Adams, Gavin Roman, Quinton Manuels, The Cultural Entertainers en die Kaapse jol-band
Boeremusiek en mirrorballs met Rocco de Villiers en musikante
Dean Balie: Toonsettings van die digters met Dean Balie en Collin Meyer
Hip-hop, bop & pop met Jack Parow, Early B, Loki Rothman, Kurt Darren en die Blake Hellaby-kwintet
Rock & rumba met Arno Carstens, Hassan’adas en Sima Mashazi
The Notes of the Ancestral Spirits met Dizu Plaatjies en Ibuyambo
Waar die hart is met Neil Sandilands, Andriëtte Norman, Louis Mhlanga, Sima Mashazi, Albert Frost en Schalk Joubert

Besoek die Musiekindaba-webwerf hier, registreer en bespreek vir jou toegangskaart.
Onthou, die Musiekindaba is ’n kontantlose geleentheid. Hou die groen blare vir die motorwagte en swaai jou debiet- of kredietkaart, of gebruik SnapScan.
Klik onder vir Musiekindaba se Swart Vrydag-aanbod om jou kaartjies teen 50% afslag te kry. Spring gou, dié aanbod geld net van 23 tot 28 November!
Persverklaring: Spesiale afslag vir konsertkaartjies by die Musiekindaba
- Die foto’s in hierdie artikel is deur Musiekindaba verskaf.

