
Paula Fourie en Athol Fugard
Op die vooraand van die Toyota US Woordfees (10 tot 16 Oktober 2022 op Stellenbosch) gesels Melt Myburgh met Paula Fourie oor die bekendstelling van haar boek Mr Entertainment – the story of Taliep Petersen, en haar en Athol Fugard se drama Concerning the life of Babyboy Kleintjies.
Babyboy Kleintjies
Paula, is jy gereed vir ’n baie besige Woordfees wat vir jou voorlê? Een van die grootste hoogtepunte in die fees se bestaan was toe jou man, Athol Fugard, in 2013 ’n eregas in sy 81ste jaar by die fees was. Ek onthou met groot plesier dat jy ook teenwoordig was. Sedertdien het Stellenbosch jul tuiste geraak. En jy het onlangs ma geword! Jy moet seker op ’n manier verlig voel dat die boek en die nuwe drama nou in die mark inbeweeg?
Ja, jong, ek moet bieg ek is geweldig verlig. Albei hierdie projekte is al jare lank in die pyplyn. Ek het in 2011 Taliep se lewe begin navors, en Athol het reeds in 2017 Concerning the life of Babyboy Kleintjies begin skryf. Terloops, ons het ook ’n outobiografiese roman, Dry remains, wat vroeg volgende jaar in die VK verskyn, geskryf – ook dáárdie boek kom al meer as tien jaar saam met ons. Al hierdie projekte neem al lank spasie op in my brein – ek sien nou daarna uit om ruimte te maak vir nuwe werk.
Soos jy tereg opmerk, is ek ook ’n splinternuwe ma. Om te sê dit gaan op die oomblik wild is nie ’n oordrywing nie. Ek sit en beantwoord jou vrae met ’n slapende sewe week oue Halle Fugard Fourie op my bors.
In die Woordfeesprogram word genoem dat dié drama die uitvloeisel is van ’n plegtige belofte wat Athol meer as 60 jaar gelede gemaak het. Vertel asseblief van dié belofte en hoe die drama dit uiteindelik gestand doen.
Die eintlike oorsprong van hierdie stuk lê 60 of so jaar in die verlede toe Barney Simon vir Athol gevra het om ’n openbare lesing van ’n gedig van Bertolt Brecht te doen. Die gedig se titel is “Concerning the infanticide, Marie Farrar” en gaan oor ’n jong, arm, werkende vrou wat swanger word en haar baba uiteindelik vermoor omdat die vereistes van haar werk as skoonmaker dit onmoontlik maak om ook nog na ’n baba te kyk. Barney het in die sestigerjare instinktief geweet dat die gedig die potensiaal het om tot die realiteite van talle swart en bruin Suid-Afrikaanse vrouens te spreek. Athol sê altyd: “I completely botched the reading, but that poem has stayed with me ever since.”
Die belofte is een wat Athol eintlik aan homself gemaak het. Hierdie toneelstuk is sy poging om reg te laat skied aan Barney se instink soveel jaar gelede om die Brecht-gedig in ’n Suid-Afrikaanse spasie te laat resoneer. Om die konneksie met hedendaagse Suid-Afrika te maak is nie moeilik nie – Athol word keer op keer aan die gedig herinner as hy ’n koerant optel en ’n opskrif oor ’n weggooibaba raaklees. Meer wil ek op hierdie stadium nie verklap nie.
Maar hul lewens is hul eie, en hulle staan ongeërg teenoor die “white gaze”. People are living there, soos Athol dit eenkeer gestel het.
Babyboy Kleintjies speel af onder ’n brug oor die Eersterivier in Stellenbosch. Vertel van die proses hoe die drama tot wasdom gekom het.
’n Ander inspirasie vir die stuk lê in ons agtertuin en die voetpad wat langs die Eersterivier verbyloop. Sedert ons in 2016 hierheen getrek het, beteken hierdie wêreld baie vir ons. Dis ’n voetpad wat lewe, waarlangs talle werkers, haweloses en deesdae ook meer en meer drawwers en hondestappers dag vir dag op en af beweeg. As sulks is dit een van die min plekke in die dorp wat deur ál sy inwoners gebruik word.
Daar is ook verskeie plekke langs die rivier, veral onder die brûe, waar Stellenbosch se hawelose bevolking skuiling vind. Daar word onder die formele inwoners van die woonbuurte wat teenaan die rivier grens, gereeld gepraat oor hoe die informele inwoners verskuif moet word, maar daar word baie min gepraat oor presies waarhéén daar van hulle verwag word om heen te gaan. Hul tuiste is juis die oewer van die Eersterivier, ’n plek waar mense sekerlik al vanaf die vroegste tye woon, lank voor eiendomsbesit uitgedink is.
Min mense weet ook dat die gebied wat vandag Die Boord genoem word, eens ’n bruin woonbuurt ingesluit het met die naam Roesdorp voordat die Groepsgebiedewet ingetree het en die inwoners verskuif is. Huise in Roesdorp se Krige Cottages en Rhodes Cottages in Aan de Wagenweg, en “Die Bos” teenaan die rivier van Roesdorp is so laat as 1971–1972 ontruim. As sulks is versoeke aan die munisipaliteit om mense onder die brûe te verwyder ’n ongemaklike herhaling van die geskiedenis.
Die informele inwoners van die Eersterivier het ’n moeilike bestaan, met koue en hongerte en behoeftigheid daaglikse realiteite. Maar hul lewens is hul eie, en hulle staan ongeërg teenoor die “white gaze”. People are living there, soos Athol dit eenkeer gestel het. Hierdie toneelstuk is ’n poging om hierdie realiteite te verken. Maar maak geen fout nie – hier wys ons die vinger natuurlik ook na onsself – ons sit juis in daardie gemaklike huise wat op die fondamente van Roesdorp staan.
Ek, wat sy liefde en arbeid elke dag dopgehou het, kon nie daarmee saamlewe dat die toneelstuk, wat toe nog die naam The beggars gehad het, nooit voltooi sou word nie.

Voor die Babyboy Kleintjies-verhoog: Patrick Curtis (stelontwerp), Athol Fugard (dramaturg en regisseur) en Mannie Manim (beligtingsontwerp)
Hoe gebeur die skryfwerk wanneer jy en Athol saamwerk? Wie skryf wat?
Athol het die toneelstuk aanvanklik in 2017 begin, maar het iewers vasgehaak. Ek onthou hy het altyd gesê hy kan nie vir Marie duidelik gesien kry nie. Sy is die hoofkarakter, en so het die toneelstuk in Athol se middel-80’s byna vergete in ’n laai beland. Skryf raak natuurlik op hierdie ouderdom ook moeiliker. Athol het einde 2016 ’n beroerte gehad wat die linkerkant van sy lyf aangetas het. Vandag kan mens dit skaars agterkom. Maar rekenaartik het vir hom moeiliker geword, en so ook die fasiliteit – vir etlike jare vanselfsprekend geneem – om ’n hele drama se verloop vlot en lewend in sy kop te hou.
Ek, wat sy liefde en arbeid elke dag dopgehou het, kon nie daarmee saamlewe dat die toneelstuk, wat toe nog die naam The beggars gehad het, nooit voltooi sou word nie. So het ek in 2019 besluit ek gaan die stuk opdiep en hom as amenuensis bystaan. Ek het al die verskillende weergawes daarvan bymekaar gemaak en in sy notaboeke gaan krap vir verdere fragmente en toe die beste daarvan in een dokument aanmekaar gelas.
Dis tóé dat Athol my gevra het om die toneelstuk te neem en klaar te skryf. En so het ek die karakter Marie en ook Vink geskep, en die drama begin voltooi. Ek het uiteraard vir hom begin voorlees wat ek geskryf het, en mettertyd het ons samewerking meer verweefd geword, waar ons gedeeltes van die stuk saans voor die kaggel saam geskryf het.
Ons proses deesdae is baie organies – ons lees die stuk vir mekaar voor, en as een van ons ’n idee kry, bespreek ons dit en ek gaan dan weg om dit te skryf. As ek reg is om my werk te deel, kom ons dan weer bymekaar en lees en lees en lees weer.
Ons woon as lovers en kunstenaars saam, en deel alles met mekaar, of dit nou pyn, planne, drome en nagmerries is, of dit wat ons vandag in ons notaboeke geskryf het.
Ek dink enige mens in die wêreld wil weet, terwyl hulle die gevaar loop om un-PC te klink: Hoe voel dit om mededramaturg saam met een van die wêreld se heel grootste teater-ikone te wees – ’n man wat al deur Time die “grootste lewende dramaturg” in die Engelssprekende wêreld genoem is, en van wie daar in ’n stadium meer dramas regoor die wêreld as van Shakespeare opgevoer is. Toe Stephanie Nieuwoudt in 2013 in haar LitNet-blog vir Athol daaraan herinner, het Athol uit sy maag gelag. Vandag, op 90, steur Athol hom seker nóg minder aan sulke akkolades?
Ja-nee, hy is eintlik allergies vir enige so iets. Hy was nog altyd ’n beskeie man; trouens, ek dink hy sou heeltemal opgedroog het as skrywer as hy sulke akkolades ooit werklik ernstig opgeneem het. Maar in sy negentigerjare het hy al hoe minder tyd vir ’n gehamer op sy reputasie en herinneringe aan alles wat hy in die verlede vermag het.
Maar ek verstaan jou vraag – hoe voel dit om saam met hom te werk, gegewe sy agtergrond en die resepsie wat sy werk geniet? Daar is baie maniere om jou vraag te beantwoord. Hier is een van hulle: Ek en Athol is al meer as tien jaar saam en al meer as ses jaar getroud. Uiteindelik is hy maar ook ’n mens met sy vreugdes, vrese, vaardighede en gebreke. Ons woon as lovers en kunstenaars saam, en deel alles met mekaar, of dit nou pyn, planne, drome en nagmerries is, of dit wat ons vandag in ons notaboeke geskryf het.
Natuurlik leer ek by hom. In die eerste plek oor dramaskryf, want my forté is eintlik prosa. Die belangrikste is seker dat Athol oor die jare heen my oor en oog vir klank en teks, en eintlik ook vir die beauty wat in beide die lig en die donkerte van die wêreld lê, geweldig verskerp het.
Maar hy leer ook iets by my. Jy sal hom moet vra wat dit is. Maar die punt wat ek wil maak, is dit: As die admirasie en awe net een kant toe gevloei het, as ons mekaar nie kon aanvul as mense en as skrywers nie, sou ons verhouding darem maar baie lopsided en ongesond (en kort van duur) gewees het. Ek is dankbaar om te kan sê dat dit geensins die geval is nie.

Jason Jacobs
Vertel van julle samewerking met die akteurs in Babyboy Kleintjies: Carlo Daniels, Elton Landrew, Loren Loubser en Marlon Swarts.
Ons geniet ’n besonderse tyd met ons akteurs en ons mederegisseur, Jason Jacobs. Elkeen van ons akteurs is sterk spelers en ook mense wat hard dink oor hul werk. Saam met hulle en met Jason het ons baie ryk gesprekke – oor haweloosheid, oor Stellenbosch se geskiedenis, oor armoede, oor basiese menslike waardigheid.
Ons samewerking met die akteurs het veral gehelp om ons teks te verfyn – vir ons is ’n toneelstuk onvoltooid totdat dit getoets is in die lywe en monde van die mense wat lewe moet skenk aan die karakters wat ons op papier probeer skets het. Ons het, soos wat maar gebeur, ’n familie geword. Elke dag kom ons dogtertjie Halle saam met ons repetisies toe, en daar is baie hande om haar vas te hou. Eendag sal ek haar vertel dat sy werklik in die teater gebore is.

Marlon Swarts , Elton Landrew, Carlo Daniels en Loren Loubser op die repetisieverhoog van Concerning the life of Babyboy Kleintjies
Mr Entertainment: Taliep Petersen
Paula, Mr Entertainment is die uitvloeisel van jou doktorale navorsing aan die Universiteit Stellenbosch meer as ’n dekade gelede. Jy kom dus nou al jare en jare aan met hierdie belangrike materiaal. Herinner ons lesers aan hoe jy op die onderwerp van Taliep Petersen se lewe en werk as jou navorsingsfokus gekom het.
Ek het ’n kooragtergrond, en het as jong doktorale student in die begin van 2011 belang gestel om oor die Maleierkore van die Kaap te werk. Een van die boeke wat ek besig was om te lees was Charles van Onselen se The seed is mine: the life of Kas Maine, a South African sharecropper 1894–1985. Dit het ’n reuse-indruk op my gemaak, hoe mens die lewenstorie van ’n individu kon vertel deur geduldige speurwerk, en selfs belangriker, wat so ’n storie kon vertel oor die breër tyd en plek waarin so ’n mens beweeg het.
Eendag het iemand tydens ’n Maleierkoorkompetisie in die Good Hope Sentrum na ’n leë stoel iewers agter my gewys en gesê: “Taliep Petersen het altyd daar gesit.” Daardie leë stoel het hard gepraat in die vol saal. Dit was ’n terloopse opmerking, maar een oggend kort daarna het ek wakker geword met “Taliep Petersen” klokhelder in my kop – ’n naam wat soos ’n seepbel na die oppervlak van my onderbewussyn gedryf het. Met alles wat ek geleer het by Van Onselen en by Kas Maine in my agterkop, het ek dadelik die rigting van my studie verander en my aandag toegespits op ’n biografie van Taliep. Meer as tien jaar later het dit in ’n boek neerslag gevind.
’n Biografie is maar altyd ’n storie – akademiese skryf hoef ook nie vervelige skryf te wees nie.
Eerstens is dit ’n enorme uitdaging om akademiese navorsing te omskep in ’n “meer verteerbare” narratief wat in boekformaat gaan verskyn. Vertel van jou benadering om hierdie genreskuif in die aanbieding van die materiaal te laat gebeur.
My proses is baie organies en nie verskriklik formeel georganiseerd nie – dit moet dit sekerlik wees, want soos ek hier sit, kan ek skaars onthou hoe dit gebeur het. Ek moet darem begin deur te sê dat ek nog altyd ’n boek aan die einde van my PhD gesien het. Trouens, my redes om die graad in die eerste plek na te streef, het meer te doen gehad met die gretigheid om ’n teks te skep en minder met ’n behoefte aan die kwalifikasie self.
’n Biografie is maar altyd ’n storie – akademiese skryf hoef ook nie vervelige skryf te wees nie. As ’n mens gaan kyk na my tesis, is groot stukke daarvan dus eintlik nie so ver weg van wat die boek nou is nie. Tog, as ek nou terugkyk, besef ek daar was etlike jare se herskryf en nuutskryf.
My tesis was amper uitsluitlik gefokus op Taliep se ontwikkeling as komponis en performer, op sy kulturele legacy, en op dit wat sy lewe kon vertel oor die Suid-Afrikas waardeur hy beweeg het. Dit was ook gemoeid met die konstruksie van lewenstories en herinneringe, met ’n ondersoek na hoekom en hoe mense bepaalde stories oor hulself en die verlede vertel. Dit alles is steeds in die teks teenwoordig, en ek glo dit word op so ’n manier aangebied dat dit nie-akademiese lesers sal boei en aanmoedig om oor hierdie kwessies na te dink. Dit is beslis ’n boek wat die leser nie onderskat nie.
Van die belangrikste aspekte wat bygekom het met die boek is dat ek met Taliep se kinders gepraat het en sy familielewe meer en meer ingebring het in die teks.
As die teks ’n “meer verteerbare narratief”, soos jy dit stel, geword het, het dit ook iets te doen met my ontwikkeling as skrywer oor die afgelope tien jaar. Ek is ook ’n digter, en dit wat ek leer oor poësie vind neerslag in my skryf; só ook dít wat ek leer as skrywer van dramas. Laasgenoemde is sekerlik deels daarvoor verantwoordelik dat dialoog in die vorm van mondelinge geskiedenis al hoe belangriker geword in die boek – ek glo hierdie aspek en my hantering daarvan dra by tot die genot wat lesers uit Mr Entertainment sal kan put.
Ek het ook, voordat LAPA in die prentjie ingekom het, oor en oor ander belangstellende uitgewers se versoeke om my interviewees se Afrikaans in die teks te vertaal of te “standaardiseer”, van die hand gewys.

Medewerkers David Kramer en Taliep Petersen in 1998 tydens die openingsaand van Kat and the Kings op Londen se West End. (Foto uit Paula Fourie se LitNet Akademies-artikel, gebruik met toestemming van David en Renaye Kramer)
Was dit ’n uitdaging om as wit Afrikaanse vrou die lewe van ’n bruin/swart man en ’n gemeenskap se musiekgeskiedenis as navorser en skrywer te verreken?
Uiteraard.
’n Aanvanklike beweegrede om Taliep se lewe en werk na te vors, was om hierdie materiaal in ’n historiese wit Afrikaanse universiteit in te bring en spesifiek in ’n musiekdepartement wat geweldig toegespits was op Westerse kunsmusiek en dit bo alle ander musiek geskat het. Ek wou wys dat Taliep se werk net soveel akademiese aandag kon en móés geniet as Bach se verlore Markuspassie, wat terloops die onderwerp van my meestersgraad was.
Kwessies van kulturele appropriasie en die etiek van navorsing, van wie toegelaat word en die vermoë besit om ’n storie te vertel en hoekom, was in daardie jare minder prominent. Sedertdien het dit natuurlik al hoe meer op die voorgrond getree, en dit is kwessies waaroor ek al baie lank hard moes dink.
Hierdie uitdaging is juis een van die redes hoekom dit my meer as tien jaar gevat het om die boek te skryf. Dis ’n geweldige verantwoordelikheid om die storie van iemand se lewe te vertel (hoe kan ’n boek ooit reg daaraan laat geskied?), never mind die storie van iemand wat onderduk en gemarginaliseer is deur wit Afrikanerdom, juis dít waar jy vandaan kom. As dit gedoen kán word, kan dit net ná bloed sweet en baie hard dink oor die kwessies gebeur. En so het ek telkens gevoel ek het nog te min navorsing gedoen. Soms het ek gedink ek is amper klaar, en dan net besef dat ek eintlik eers deur nóg dokumente moet werk, nóg meer boeke moet lees, na méér musiek moet luister, en met méér mense moet praat.
Een strategie was om die illusie van enkele outeurskap te destabiliseer deur juis die stemme van my interviewees op die voorgrond te plaas. Hulle is die medeskeppers van die teks, en verantwoordelik vir die rykheid en die polifoniese aard daarvan – in hierdie bladsye word Taliep as’ t ware kollektief geskep deur ’n koor van unieke stemme. Ek het ook, voordat LAPA in die prentjie ingekom het, oor en oor ander belangstellende uitgewers se versoeke om my interviewees se Afrikaans in die teks te vertaal of te “standaardiseer”, van die hand gewys.
Iets wat my ook moed gegee het vir die taak, is dat Taliep vir die grootste gedeelte van sy lewe aktief probeer het om kleurgrense te oorskry en af te breek – ek glo hy sou nie wou gehad het ek moet terugstaan voor die uitdaging omdat ek wit en Afrikaans is nie. Ek het ook ag geslaan op die woorde van Kwame Anthony Appiah waar hy hom uitlaat oor die reg om oor die ervarings van ander te skryf: “Writing [...] will be justified if what you write has value.”*
Deur die jare het ek natuurlik elkeen van Taliep se familielede beter leer ken, en hulle ook vir my.

In 1999 is die Fleur du Cap-medalje aan Taliep Petersen oorhandig, maar tydens ’n seremonie jare later vervang nadat die oorspronklike medalje gesteel is. Lees die berig in LitNet se argief.
Jy geniet die ondersteuning en samewerking van Taliep se gesin en familie. Sy dogter is ook op die Woordfees-verhoog wanneer die boek bekendgestel word. Taliep se pa het voor sy dood saamgewerk tydens jou navorsing. Vertel van jou ervaring met Taliep se familie.
Ek het aanvanklik kontak gemaak met Taliep se pa deur ’n brief te stuur na sy huis in Manenberg. Daarna is ek deur Taliep se broer, Igsaan, genooi om met hom en met Taliep se familie te kom praat. Teenwoordig was ook sy susters en sy kinders. Jy sal vir hulle moet vra wat hulle van my gedink het, maar ek vermoed hulle was bang dat ek nóg iemand was wat ’n sensasionele storie oor Taliep wou vertel, wat op sy dood en op sy tweede huwelik wou fokus.
Ek dink dis toe hulle besef het dat ek ’n storie wil vertel oor Taliep se lewe en oor sy werk dat hulle my ingelaat het in sy wêreld. Igsaan het vir my afsprake gemaak met mense wat hy gedink het ek mee moet praat en het my ook toegelaat om deur Taliep se papiere te werk, dokumente wat vandag die Taliep Petersen-versameling uitmaak by die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) by Stellenbosch-universiteit se Musiekbiblioteek.
Deur die jare het ek natuurlik elkeen van Taliep se familielede beter leer ken, en hulle ook vir my. Toe ek vanjaar die nuus met hulle kon deel dat my projek uiteindelik in boekvorm gaan uitkom, was hulle, soos ek, verheug. Nie dat ek dink dat dit vir enige van hulle maklik is om deur die teks te lees nie – dit sal tyd vat om hul geliefde pa en broer se lewe so te verken, en ek hoop van harte dat dit ’n teks is waarop hulle trots sal wees.
Een van die uitdagings wat ek tans ervaar, is dat publisiteit vir die boek en die uittreksels wat oor die afgelope maand in Suid-Afrikaanse tydskrifte en koerante verskyn het, oorwegend fokus op die tien persent van die boek wat gaan oor Taliep se tweede huwelik en oor sy dood.
Taliep se voortydige dood, en die tragiese omstandighede waarin dit gebeur het, moes sekerlik ook uitdagings meegebring het?
Ek het tydens die skryf van my proefskrif die kwessie van Taliep se dood eintlik doelbewus op die agtergrond gedruk. Daar is reeds soveel daaroor geskryf en ek wou juis fokus op dit wat hy in sy lewe vermag het. Ek was as gevolg daarvan nie geweldig bewus van enige uitdagings wat hierdie aspek meegebring het nie.
As ek nou terugdink … sekerlik het dit beteken ek moes my interviewees met medelye en sensitiwiteit benader, maar énige navorsingsonderwerp verlang tog dieselfde. Moontlik het dit mense aanvanklik huiwerig gemaak om met my te praat, maar soos ek hier bo uitgebrei het: Ek dink sodra hulle besef het wat die fokus van my werk was, hulle gespring het om my te help om Taliep se lewe in geskrewe teks te eer en te vier.
Een van die uitdagings wat ek tans ervaar, is dat publisiteit vir die boek en die uittreksels wat oor die afgelope maand in Suid-Afrikaanse tydskrifte en koerante verskyn het, oorwegend fokus op die tien persent van die boek wat gaan oor Taliep se tweede huwelik en oor sy dood. Ek vind dit frustrerend. Ek kan net hoop dat dit ten minste help om die boek in mense se hande te kry en hulle dan kan lees oor alles wat dit voorafgegaan het, materiaal wat baie meer interessant is.
* Kwame Anthony Appiah, “I witnessed a murder. Is it wrong to write about it?”, New York Times, 24 Mei 2022. https://www.nytimes.com/2022/05/24/magazine/true-crime-ethics.html.
- Tensy anders vermeld, is alle foto’s in hierdie artikel deur Paula Fourie, die Toyota US Woordfees en Penguin Random House (LAPA) verskaf.
Moenie Paula Fourie misloop tydens hierdie Woordfees nie.
Koop jou kaartjies vir die bekendstelling van Mr Entertainment – the story of Taliep Petersen hier.
En wikkel om hier vir Paula en Athol se Concerning the life of Babyboy Kleintjies te bespreek.
Klik hier om vanjaar se feesprogram af te laai.
Klik hier om vanjaar se volledige boekeprogram af te laai.
Ook op LitNet:
Athol Fugard is 90: A portrait of the artist as a man who jumped at opportunities
Happy birthday, Athol Fugard | Verjaardagwense aan Athol met sy 90ste
Herinnering op die verhoog: performatiwiteit in David Kramer en Taliep Petersen se Kat and the Kings
Kommentaar
Wonderlik! Mens wil bewoë buig en net ‘dankie’ sê - vir Paula, haar man, Taliep, David … En die kleinding net so 'n méns-mens lewe toewens. Dink net aan die rykdom van eerbaarheid wat sy erf. En van suiwer kreatiwiteit!