Gaasitwe Setshedi en Liziwe Ndalana, twee van die vyf aspirant-tydskrifverhaalskrywers wat tans LitNet, Huisgenoot en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool in Somerset-Oos bywoon, vertel van die geletterdheidsinisiatiewe wat hulle in hul gemeenskappe op die been gebring het voordat die Covid-19-pandemie ’n stok in die wiele kom steek het. Dié twee Kommadagga-kandidate is duidelik nie bang om hul moue op te rol en ’n verskil in hul gemeenskappe te maak nie. Hulle het vir Melt Myburgh van hul ervarings vertel.

Die Kommadagga-slypskool is tans in volle gang, en duur tot 31 Oktober 2022 met Rachelle Greeff en Niq Mhlongo as mentors vir vyf opkomende tydskrifverhaalskrywers. Die kandidate is Danie Kriek (voor) en van links: Ywinn Kraukamp, Esmé Cupido, Gaasitwe Setshedi en Liziwe Ndalana. (Foto: Danie Kriek)
Gaasitwe Setshedi is in Mabopane, Tshwane gebore. Haar loopbaan as aktrise het begin toe sy gemeenskappe as ’n veldwerker met opvoedkundige teaterstukke bedien het. Sy het saam met StageFright Edutainment ook die land vol getoer met opvoedkundige produksies vir kinders. In 2014 het sy ’n geletterdheidsprogram, gemik op die ontwikkeling van leerders se lees- en begripsvaardighede, by Marula Primêre Skool in haar geboortedorp gestig.

Gaasitwe Setshedi (Foto: Danie Kriek)
“Ek het altyd gewonder hoekom ongeletterdheid so ’n groot impak op Suid-Afrikaners van ’n spesifieke (finansiële) agtergrond het,” vertel sy. “Die vraag wat by my gespook het, was of geld die enigste bepalende faktor is.”
Uiteindelik het Gaasitwe tot die gevolgtrekking gekom dat die gehalte van onderwys die grootste invloed op lees en geletterdheid in gemeenskappe het. “Met die geletterdheidsprogram het ek van die vertrekpunt uitgegaan dat dit ’n opvoedkundige bydrae moet lewer sonder om die bestaande stelsel te ontwrig. Daarom is die aktiwiteite aanvullend tot wat kinders op skool leer, aangebied, eerder as iets wat heeltemal op sy eie staan.”
Gaasitwe het haar teaterervaring ingespan om lesse aan te bied, en natuurlik was gestruktureerde speel-aktiwiteite ’n kernkomponent. “Om te lees en te skryf is basiese vaardighede, en daar het vir my, omdat ek kan lees en skryf, baie deure oopgegaan, en nie noodwendig omdat ek die ‘beste’ was nie.
“Lees speel ’n belangrike rol in my bewussyn oor myself. Dit rig my denke. Om deel te kan neem aan gesprekke, formeel en informeel, is bevrydend. En hoe meer ’n mens lees, hoe meer leer jy. En so ontwikkel jy sonder dat jy noodwendig daarvan bewus is.”
Vir mense wat dit oorweeg om lees- en geletterdheidsprogramme in hul gemeenskappe van die grond af te kry, het Gaasitwe dié raad: “Wees geduldig, want dit neem tyd voordat resultate begin wys. Moenie so hard probeer om te ‘onderrig’ nie; kyk eerder na moontlikhede oor hoe om terloopse leer in aktiwiteite te inkorporeer.
“Die beste idees het ek by my leerders gekry deurdat ek hulle aandagtig dopgehou het. Pas dus jou program aan om in die behoeftes van jou leerders te voorsien. En berei jouself daarop voor om ‘juffrou’ genoem te word!”

Foto: Liziwe Ndalana (Foto: Danie Kriek)
Liziwe Ndalana beskryf haarself as ’n aktivis vir geletterdheidsontwikkeling. Sy is ’n vryskutskrywer en blogger wat haar avonture as stapper en koffiewinkeljagter in die kuberruim deel. Voordat sy voltyds sakevrou geword het wat ’n wasgoedonderneming bedryf, het sy Dream Factor in Nyanga op die been gebring – ’n klub wat geletterdheid onder kinders en volwassenes bevorder.
“Ek het die projek begin toe ek agtergekom het dat baie van die kinders nie leesboeke in hulle huise het nie,” vertel Liziwe. “Aanvanklik het ek die kinders na my huis toe gevat en vir hulle geskikte stories en berigte uit tydskrifte en koerante voorgelees. Hulle het Saterdae vir twee ure in my huis bymekaargekom.”
Nie lank daarna nie het Liziwe ondersteuning van Nal’ibali en FunDza ontvang. Dié organisasies het vir haar kinderboeke gestuur. “Dit het my baie gehelp, en ek het vir die kinders boeke gegee om huis toe te vat en daar te lees.”
Liziwe sê sy self het in ’n omgewing waar daar nie boeke was nie, grootgeword. “Toe ek later met boeke kennis maak, het ek wêrelde ontdek wat ek my in my verbeelding nie kon voorstel nie. Ek wens ek kon vroeër in my lewe aan boeke blootgestel word.”
Met die stigting van Dream Factor wou Liziwe daardie wêreld, wat so lank nie vir haar beskore was nie, vir die kinders in haar omgewing skep.
Haar raad aan mense wat op die gebied van leesgeletterdheid ’n verskil in hul omgewing wil maak? “Kry die ouers van die begin af betrokke by jou projek. En moenie skaam wees om vir ondersteuning aan te klop by organisasies wat ’n helpende hand uithou nie.”

Lees hier wie is wie:
En kyk hier na die foto’s van die eerste Kommadagga-week op Somerset-Oos:

