Aangebied deur LitNet, die Jakes Gerwel Stigting en Huisgenoot
Vyf aspirant-tydskrifverhaalskrywers kwalifiseer vir LitNet, Huisgenoot en die Jakes Gerwel Stigting se derde Kommadagga-slypskool, wat van 10 tot 31 Oktober 2022 op Somerset-Oos aangebied word. Altesaam 64 aansoeke vir deelname is ontvang, en ná baie kopkrap is die volgende kandidate deur ’n paneel kundiges gekeur: Danie Kriek, Esmé Cupido, Gaasitwe Setshedi, Liziwe Ndalana en Yuwinn Kraukamp.
Vanjaar fokus die Kommadagga-slypskool op vaardighede vir die skryf van tydskrifverhale, met Huisgenoot as ’n spesiale vennoot van die projek. Rachelle Greeff en Niq Mhlongo is die aanbieders wat die opkomende skrywers in Afrikaans en Engels touwys gaan maak oor die fynere kunsies van dié genre.
Die kandidate en hul mentors sal vir drie weke in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-skrywershuis in Somerset-Oos tuisgaan.
Etienne van Heerden, LitNet se eindredakteur, sê: “Wat ’n fassinerende laboratorium gaan hierdie nie wees nie. Die twee mentors en die suksesvolle kandidate kom vanuit diverse agtergronde en met uiteenlopende geskiedenisse en leesrepertoires na LitNet se Kommadagga-slypskool en die skeppende vonke gaan sekerlik spat. Baie dankie aan almal wat die projek tot hier gebring het, en voorspoed aan die skrywers.”
Theo Kemp, direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, sê dat dit iets besonders is om te aanskou hoe die projek oor die afgelope jare gegroei het. “Dit meet ’n mens aan die suksesse wat intussen deur vorige jare se deelnemers bereik is, asook die wye verskeidenheid en oorweldigende aantal aansoeke wat ons vanjaar ontvang het. Hierdeur doen ons gestand aan die Jakes Gerwel Stigting se doelwit, naamlik om nuwe stemme te hoor en onvertelde stories te laat vertel.”
2022 se Kommadagga-kandidate
Danie Kriek
Danie Kriek is gebore op ’n plaas naby Harrismith wat eens aan sir Percy FitzPatrick, skrywer van Jock of the Bushveld, behoort het. Hy het aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer en later ’n diploma in Filmproduksie en Uitsaaiwese verwerf. Nadat Danie ’n graad in Engels behaal het, het hy vir ’n tyd lank in Sjina skoolgehou. Intussen het hy ’n passie vir die gesondheid- en fiksheidsbedryf ontwikkel, en deesdae leer hy mense om goeie gesondheidskeuses te maak. Tydens sy studie aan die filmskool het Danie ’n klompie kort draaiboeke geskryf, maar hy hoop om tydens die Kommadagga-slypskool sy vaardighede in die skryf van tydskrifverhale te laat gedy.
Esmé Cupido
Esmé Cupido is in 1972 op Clanwilliam gebore, en sy is een van vyf kinders. In haar ouers se slaapkamer was ’n houtboekrak waarin Westerns, Heinz Konsaliks en liefdesromans gepryk het. Esmé het haar liefde vir lees van haar pa geërf, en as laerskoolkind het sy dié boeke verslind. In standerd vyf, toe sy die eerste keer toegang tot ’n biblioteek gekry het, het Esmé jeugreekse soos Saartjie en Die uile ontdek. Esmé het op Malmesbury gematrikuleer en ’n BA (HOD) aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal, waarna sy op verskeie dorpe skoolgehou het. Vandag is sy ’n onderwyser in Mitchell’s Plain, getroud met Malcolm en die ma van ’n 20-jarige dogter. Kortverhale en rubrieke uit haar pen het al in Kuier en Son verskyn.
Gaasitwe Setshedi
Gaasitwe Setshedi is in Mabopane, Tshwane gebore. Sy het toneelspel aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie gestudeer, met Opvoedkundige Teater, Fisieke Teater en Teksskryf as fokusareas. Gaasitwe se professionele loopbaan het begin toe sy gemeenskappe as ’n veldwerker met opvoedkundige teaterstukke bedien het. Later het sy saam met StageFright Edutainment die land vol getoer met opvoedkundige produksies vir kinders en korporatiewe instellings. In 2014 het sy ’n geletterdheidsprogram, gemik op die ontwikkeling van leerders se lees- en begripvaardigheid, by Marula Primêre Skool van stapel gestuur. Gaasitwe se groot droom is om deur haar skryf- en toneelwerk ’n bydrae te lewer tot die verbetering van onderwys in Suid-Afrika.
Liziwe Ndalana
Liziwe Ndalana is ’n vryskutskrywer en blogger, en sy het al as radio-aanbieder en inhoudsbestuurder vir Fin24 gewerk. In 2007 het sy ’n diploma aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie verwerf. Liziwe het haar eie YouTube-kanaal en is aktief op sosiale media met verskeie projekte. Sy blog onder meer oor haar avonture as stapper en koffiewinkel-jagter. Sy is die stigter van Dream Factor, ’n klub wat geletterdheid onder kinders en volwassenes in Nyanga bevorder. As ’n aktivis vir geletterdheidsontwikkeling het sy bande met Nal’ibali en die FunDza Literacy-stigting. Liziwe bedryf ook haar eie wasgoedonderneming in Nyanga.
Yuwinn Kraukamp
Yuwinn Kraukamp (28) het op Overberg Agulhas in die Wes-Kaap grootgeword. Hy beskryf homself as iemand wat “kreatiwiteit met moedersmelk ingekry het” en skryf radiodramas, verhoogstukke, gedigte, kortverhale en artikels. Nadat hy aan Hoërskool Bredasdorp gematrikuleer het, het Yuwinn ’n graad in Engels en Linguistiek aan die Universiteit van die Wes-Kaap behaal. Vroeër vanjaar het hy ’n toekenning vir een van sy kortverhale ontvang toe hy ’n Kalifornië-gebaseerde skryfkompetisie gewen het. Voorheen het hy ook ’n kompetisie van die nasionale Departement van Opvoeding gewen met ’n dramateks oor klimaatsverandering. Yuwinn beskou skryfwerk as ’n roeping en glo dat die Kommadagga-slypskool hom gaan help om ’n groter gehoor te bereik met kortverhale van uitstekende gehalte.
Die mentors
Rachelle Greeff is die skrywer van kortverhaalbundels, romans, essaybundels en kinderprenteboeke. Die toneelstukke Die naaimasjien en Rondomskrik het uit haar pen verskyn. Haar werk is meermale in verskillende genres bekroon, en sy was sedert die Kommadagga-slypskool se ontstaan aanbieder van dié slypskool.
Niq Mhlongo is in The New York Times beskryf as “one of the most high-spirited and irreverent new voices of South Africa’s post-apartheid literary scene.” Hy het al verskeie literêre toekennings ontvang, en die boeke op sy kerfstok sluit in: Dog eat dog, After tears, Affluenza, Soweto, Under the apricot tree, Black tax, Paradise in Gaza en Hauntings.
Kommadagga-alumni
Kyk wie het in 2020 en 2021 deelgeneem aan die eerste en tweede Kommadagga-slypskool:
- LitNet se deelname aan die Kommadagga-projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die LW Hiemstra Trust.
Kommentaar
What an awesome experience that was?!?