LitNet se Kommadagga-slypskool vir tydskrifverhaalskrywers, aangebied saam met die Jakes Gerwel Stigting en Huisgenoot

  • 0

Aangebied deur LitNet, die Jakes Gerwel Stigting en Huisgenoot

Click here for the English version of this announcement.

LitNet en die Jakes Gerwel Stigting verwelkom vanjaar vir Huisgenoot as nuwe projekvennoot van die Kommadagga-slypskool wat sedert 2020 jaarliks aangebied word.

Die derde slypskool vind vanjaar van 10 tot 31 Oktober 2022 by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-skrywershuis op Somerset-Oos plaas. Rachelle Greeff en Niq Mhlongo is die aanbieders tydens die residensie van drie weke, en die fokus sal op die ontwikkeling van tydskrifverhale val.

Rachelle Greeff is die skrywer van kortverhaalbundels, romans, essaybundels en kinderprenteboeke. Die toneelstukke Die naaimasjien en Rondomskrik het uit haar pen verskyn. Haar werk is meermale in verskillende genres bekroon, en sy was sedert die Kommadagga-slypskool se ontstaan aanbieder van dié slypskool.

Rachelle Greeff en Niq Mhlongo (Foto’s: Bernard Jordaan – bo; onder: deur die skrywer verskaf)

Niq Mhlongo is in The New York Times beskryf as “one of the most high-spirited and irreverent new voices of South Africa’s post-apartheid literary scene.” Hy het al verskeie literêre toekennings ontvang, en boeke op sy kerfstok sluit in: Dog eat dog, After tears, Affluenza, Soweto, under the apricot tree, Black tax, Paradise in Gaza en Hauntings.

Belangstellendes wat hulle met die skryf van tydskrifverhale besig hou en graag hul talent en tegnieke wil verfyn, moet teen Vrydag 10 Junie 2022 aansoek doen vir keuring. Aansoekers moet ’n kortverhaal van 2 000 woorde in Afrikaans of Engels na Theo Kemp by theo@jgf.org.za stuur. Die kortverhaal moet vergesel word van:

- ’n inskrywingsvorm (hier beskikbaar)

- ’n kort motiveringsbrief oor hoe jy sal baat vind by die mentorskap

- ’n kort biografiese beskrywing van jouself.

Verhale wat voorgelê word, kan oor enige onderwerp handel, maar ons is op soek na stories van mense, ervaringe en plekke wat nog nie voorheen gehoor is nie. 

Voornemende deelnemers moet ook onthou dat die verhale tot ’n gesinsmark moet spreek.

’n Paneel van onafhanklike lesers sal die aansoeke evalueer, waarna ’n kortlys van tien skrywers in die week van 15 Augustus 2022 bekend gamaak sal word. Nadat onderhoude met kortlyskandidate gevoer is, sal die vyf kwalifiserende skrywers deur ’n paneel met verteenwoordigers van LitNet, die Jakes Gerwel Stigting en Huisgenoot teen einde Augustus 2022 aangekondig word.

Belangstellendes moet asseblief hierdie riglyne in gedagte hou wanneer hulle hulle aansoeke indien:

  • Inskrywings word slegs van opkomende skrywers oorweeg wat nog nie vantevore gepubliseer het nie.
  • Geen daaglikse toelae word betaal nie, maar suksesvolle kandidate se reiskoste (vlugte en vervoer van en na die lughawe), maaltye en verblyf word deur die Jakes Gerwel Stigting gedek.
  • Geen gedigte, rubrieke of meningstukke word aanvaar nie.
  • Geen handgeskrewe tekste word aanvaar nie, en alle inskrywings moet per e-pos ingestuur word.
  • Die formaat van inskrywings is dubbelspasiëring, 12-punt, Times New Roman.
  • Suksesvolle kandidate se verhale sal deur Huisgenoot en LitNet gepubliseer word, en kandidate moet bereid wees om onderhoude aan LitNet en Huisgenoot toe te staan.
  • Kandidate moet bereid wees om vrywaringsvorms wat deur die vennote voorsien word, te teken.

Dié Kommadagga-slypskool vir belowende Afrikaanse en Engelse skrywers wat hulle met die kortkuns besig hou, sluit aan by die vennote se strewe om nuwe skryfwerk aan te moedig, om die Suid-Afrikaanse letterkunde te verryk en te verruim, om nuwe perspektiewe en ervaringswêrelde te laat opklink, en om opkomende skrywers wat ’n storie te vertel het, te onderskraag.

Hou LitNet dop vir meer inligting. Kyk hier wie het in 2020 aan die Kommadagga-slypskool deelgeneem, en watter kandidate in 2021 by die projek gebaat het.

 

Die LW Hiemstra Trust ondersteun LitNet om die Kommadagga-slypskool te help moontlik maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top