Ontmoet ons nuwe Kommadagga-kandidate

  • 1

Deelnemers aan LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se tweede Kommadagga-slypskool, wat van 5 tot 26 Oktober 2021 onder leiding van Rachelle Greeff op Somerset-Oos aangebied word, is pas bekendgemaak.

Die slypskool is in 2020 vir die eerste keer aangebied toe hierdie aspirantskrywers by die projek gebaat het. Vanjaar gaan deelnemers ook vir drie weke lank tuis in die Stigting se skrywerswoning, Paulet Huis, aan die voet van die skaduryke Bosberg in Somerset-Oos. Ná Jakes Gerwel se dood op 28 November 2012 is Paulet Huis deur sy weduwee aan die Stigting geskenk.

Die skrywer en dramaturg Rachelle Greeff sal weer as mentor optree. Rachelle se bekroonde toneelstukke Die naaimasjien en Rondomskrik is landwyd opgevoer en The sewing machine is in 2012 op die Edinburgh Festival op die planke gebring. Van haar skryfwerk, wat romans en kortverhale insluit, is ook in Duits, Nederlands en Deens vertaal.

Etienne van Heerden, LitNet se eindredakteur, sê: “Wonderlik dat LitNet en die Jakes Gerwel Stigting weer ’n lekker groep skrywers na die Oos-Karoo kan bring. Mens dink aan die ou wysheid van die eerste mense wat oor die springbokke, wat met ’n hoogspring lekker oor die vlaktes pronk, gesê het: ‘Die bokke drink die wind.’ Ek hoop dat elkeen van hierdie talente die wind in groot happe gaan drink. Mag julle vlieg.

“Dankie aan LitNet se Melt Myburgh, die Jakes Gerwel Stigting se Theo Kemp, en natuurlik ons inwonende mentor, Rachelle Greeff.”

Die deelnemers

Anna-Karien Otto

Anna-Karien Otto (Foto: verskaf)

Anna-Karien Otto skryf in Afrikaans en Engels. Sy het in Grahamstad (nou Makhanda) grootgeword, “omring deur briljante, eksentrieke karakters”. Anna-Karien woon deesdae in die Paarl waar sy haar potjie as vryskutskrywer krap. Sy is opgelei as ’n spraak-en-drama-onderwyser en het voorheen as subredakteur gewerk. “’n Verblyf van twee maande in Graaff-Reinet het die vonk vir my lewenslange passie om te kook laat ontvlam,” sê sy, “en ek het kosrubrieke begin skryf wat op my webwerf annakarien.com verskyn.”

Toe sy die goeie nuus ontvang dat sy vir vanjaar se Kommadagga-slypskool gekeur is, was sy oorstelp. “Skryf is ’n eensame bedryf en dit is ontmoedigend om sonder rigting, aanmoediging of ondersteuning artikels uit te stuur en dan dikwels geen terugvoering te ontvang nie. Die kontak met ander skrywers is vir my goud werd. En om deur Rachelle Greeff gementor te kan word, was nog altyd ’n droom. Maar hierdie keer gaan die droom waar word!”

As kind het Anna-Karien die skrywer Jan Rabie geken en tydens ’n kuier by Rabie ook vlugtig vir Jakes Gerwel ontmoet. “Wat hierdie twee groot geeste gemeen gehad het, was ’n diep liefde vir Afrikaans.” Tydens ’n skooltoer deur die Karoo het Anna-Karien en haar klasmaats by die Walter Battiss-museum in Somerset-Oos aangedoen. “Dit was daar, oorkant die museum, dat ek vir die eerste keer Jakes Gerwel se pragtige ou huis gesien het. Ek voel bevoorreg dat hierdie tingerige konneksies ’n soort sirkel kan vorm wat tydens die Kommadagga-slypskool voltooi gaan word.”

Daylen Tobias

Daylen Tobias (Foto: verskaf)

“Skryf is die masjien wat my aan die lewe hou,” sê Daylen Tobias, ’n 19-jarige inwoner van Gansbaai. “My passie het reeds in my kinderjare begin toe ek oor my vakansie moes skryf.”

Die tydskrif Kuier het al van Daylen se kortverhale gepubliseer. Tans is sy besig om Wiskunde en Fisiese Wetenskappe aan te durf met die oog om tydens vanjaar se eindeksamen beter punte daarin te behaal. Vir ontspanning skryf sy kortverhale en gedigte. “Ek is ook fanaties oor speurverhale, jeugromans en grillerige stories wat die hare laat rys!”

Daylen beskryf haarself as ’n kaalvoetkind wat deur boeke en skrywers op reis geneem word. Wanneer sy in fiksie ontvlug, bestaan die wêreld glad nie.

“Toe ek sien daar is ’n boodskap van Theo Kemp af, het my hart kliphard teen my ribbes gestamp. My oë het lank na die email gestaar, té onseker om dit oop te maak.” Maar toe sy uiteindelik die moed bymekaarskraap om die boodskap te lees, was haar vriend Jakob daar om die vreugde te deel. “Ek kon nie help om kliphard te skree en op te spring nie. Jakob het ook ingeval, alhoewel hy nie geweet het wat aangaan nie. Ek moes twee keer seker maak ek is nie in droomland nie. En nou sit ek onnodig met stompgekoude naels.”

Kenny Williams

Kenny Williams (Foto: verskaf)

Kenny Williams beskryf homself as “’n doodgewone outjie” wat al vir 32 jaar in die onderwys is. “Ek skryf al van skooldae af, maar het nog nie gepubliseer nie. Ek beplan egter om binnekort my eerste bundel uit te gee. Kenny skryf in AfriKaaps, meestal oor sy moeilike grootwordjare. “Ek is ’n Flatse boytjie wat in die hartjie van Afrikaans gebore is – die Paarl.

“Ek skryf wat ek wil en noem myself ’n ‘vryheidskrywer’ wat nie bang is om sensitiewe onderwerpe aan te vat nie,” sê Kenny. “Ek het al oor die 70 gedigte geskryf en het nou die kortverhaalgenre betree. Dit was opwindend toe Marita van der Vyver my vir ses weke onder hande geneem het. Sy het my geleer dat ek nie net op gedigte moet fokus nie.”

Volgens Kenny voel dit of hy hom nou “in vreemde water” begeef met die kortverhale, maar hy weet dat hy nou in ’n posisie is waar hy hom beter kan uitleef omdat hy baie wyer met die taal kan omgaan.

Vir Kenny is dit ironies dat hy juis net twee maande gelede Zelda la Grange se Goeiemôre, mnr. Mandela gelees het, waarin sy onder meer Jakes Gerwel se bydrae tydens die Mandela-era besing. “Ek het weereens besef wat ’n reus Gerwel was, en nou word ek genooi deur die stigting wat sy naam dra. My ma se trane het vrylik geloop en met my kinders se reaksie het ek gedink ek het die Nobelprys vir Letterkunde gewen. Die gevoel binne my is onbeskryflik en ek weet dat ek baie gaan leer in Somerset-Oos.”

Die goeie Kommadagga-nuus het, te midde van al die doom en gloom oor die COVID-19-pandemie, sommer weer ’n “huppel in my knuppel” gesit, lag Kenny. “Afrikaans my nou! Afrikaans my vir altyd! Afrikaans my tot die kis sak!”

Jodie Groener

Jodie Groener (Foto: verskaf)

Die 25-jarige Jodie Groener werk tans as ontvangsdame in Humansdorp, maar “’n ietwat ambisieuse streep” dryf haar om nog die wêreld vol te reis en baie te skryf. Sy het in die Oos-Kaap grootgeword en sy was vir ’n rukkie ’n nuusleser op Kouga FM. Jodie skryf kortverhale en geniet dit ook om haar hand aan historiese fiksie en rubrieke te waag.

In 2015 het sy nasionale kleure in die uitvoerende kunste verwerf. Kort daarna het sy skerm as sportsoort opgeneem en die ranglyste van Fencing South Africa en die FIE gehaal. “Dit was nogal ’n hoogtepunt in my lewe,” vertel sy, “en ek het die Jeffreys Bay Fencing Club in provinsiale en nasionale kompetisies verteenwoordig. Ek moes dit ongelukkig vir ’n wyle staak, want soos vele ander sportsoorte is skerm ’n duur storie en kry dit nie genoeg befondsing nie.”

Jodie sê dat, toe sy aansoek gedoen het vir die Kommadagga-slypskool, sy haar voorgeneem het om gemaklik te voel met wat ook al die uitkoms is. “Maar toe die tyd aanbreek dat die organiseerders moes besluit wie vanjaar gekies sou word, was ek ’n senu-bol.”

Sy glo dat die slypskool nie net haar skryfwerk na ’n volgende vlak gaan neem, maar dat dit ook haar denke oor skrywerskap gaan verruim. “Woorde kan nie beskryf hoeveel die geleentheid vir my beteken nie. Dit gee my geweldige hoop.”

 

Lees ook:

LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se tweede Kommadagga-slypskool

LitNet and the Jakes Gerwel Foundation’s second Kommadagga writing workshop

Jakes Gerwel se soet nalatenskap vir Afrikaans

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top