Jakes Gerwel se soet nalatenskap vir Afrikaans

  • 3

Jakes Gerwel as jong man tydens sy studies in Europa (Foto: Jakes Gerwel Stigting)

Jakes Gerwel was ’n groot Suid-Afrikaner.

Sy prestasies op vele gebiede is wyd bekend. Hy het uitgeblink as akademikus, denker, UWK-rektor, sakeman en later direkteur-generaal in Nelson Mandela se presidensie. Vir Madiba was Jakes Gerwel hooftoespraakskrywer, vriend, raadgewer en vertroueling. In die sakewêreld het Gerwel die voortou geneem by die oprigting van verskeie besighede en hy het in die rade van groot, selfs internasionale maatskappye gedien.

Jakes Gerwel en Nelson Mandela (Foto: Jakes Gerwel Stigting)

As bemiddelaar en onderhandelaar het Gerwel ’n belangrike rol in die wêreldpolitiek gespeel, dikwels agter die skerms. Hy het dit onder meer beding dat die Libiërs wat vir die Lockerbie-lugramp verantwoordelik was, na baie jare aan die Skotse owerhede uitgelewer word. Zelda la Grange, skrywer van Goeiemôre, mnr Mandela, onthou dat Gerwel ’n belangrike rol gespeel het in die Burundi-vredesamesprekings: “Nadat meneer Mbeki president geword het,” vertel sy, “het hy Madiba gevra om die Burundi-onderhandelinge namens Suid-Afrika waar te neem. Madiba het staatgemaak op professor Gerwel om voorbereidings met partye te onderneem voor daar op ’n publieke vlak vergaderings kon plaasvind. Prof was die tussenganger en het ’n kritieke rol gespeel in die totstandkoming van die oorspronklike vredesooreenkoms.”

Volgens La Grange was Gerwel se kalm diplomatieke benadering deurslaggewend in die sukses van dié samesprekings. “Partye in Burundi het Madiba en ander betrokkenes baie maal baie kwaad gemaak,” vertel sy. “Hulle sou tot iets ooreenkom in Madiba se teenwoordigheid, en sodra ons die land verlaat, teruggaan op hul woord.” Gerwel was dan altyd die een wat op die beste moontlike manier vir mense verduidelik het dat hulle nie Madiba met hulle optrede moes verloën nie. “Die poging om vrede te bewerkstellig en ’n tussentydse regering saam te stel, sou nooit gebeur het as dit nie vir prof Gerwel se insae en aksies was nie.”

Die Gerwel-gesin tydens Jakes se grootwordjare in die Oos-Kaap (Foto: Jakes Gerwel Stigting)

Jakes Gerwel se wortels lê diep in Afrikaans en in die Oos-Kaapse platteland. Sy liefde vir die taal en die letterkunde moes ongetwyfeld ’n rol gespeel het in sy latere filantropiese verbintenis tot die kunste. Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting, sê: “Jakes het baie kuns oor die jare aangekoop en het vele uitstallings geopen en kunstenaars ondersteun. In Paulet-huis, die stigting se skrywershuis in Somerset-Oos, is tans van Gregoire Boonzaaier se werk, asook van Anton Kannemeyer en ’n plaaslike kunstenaar wat baie Karoo-landskappe doen, John van der Walt.”

Theo vertel ook van Gerwel se “ding” met skilpaaie wat in kuns uitgebeeld word. “Hier is letterlik honderde daarvan wat hy in verskillende mediums regoor die wêreld aangekoop het. En daar is iets van hierdie verbintenis wat Jakes Gerwel op ’n edele manier met eenvoudige dinge gehad het, wat vandag in die aktiwiteite en projekaksies van die Jakes Gerwel Stigting weerspieël word – die koestering van taal en woordkuns, en geleenthede wat geskep word vir ontluikende kunstenaars.”

Mense van Gerwel se statuur is dun gesaai. So sal almal jou vertel wie se paaie met syne gekruis het. “Ons het so min sulke rolmodelle, wat nie net tot ’n sekere gemeenskap spreek nie, maar met wie almal kan aanklank vind,” sê Theo Kemp. “Iemand wat so denkend was, so fyn ingestel op mense, op die kunste, op die lettere. Waar kry jy nog politici wat nie hulle mense vergeet nie, of wat ’n intense liefde het vir Ingrid Jonker en Karel Schoeman?”

Dat Gerwel ’n nederige mens was wat ander se gevoelens en belange bo syne geplaas het, word beaam deur Pam Barron, sy sekretaresse van 2007 tot 2012. “Prof was hoogs intelligent,” sê sy, “en ’n uitstekende leier. Hy was altyd bereid om mense te ondersteun en by te staan. Maar ten spyte van die feit dat hy ’n ikoon was, was hy altyd nederig. Hy was nooit skaam vir ’n dank- of pryswoord teenoor my nie.”

Jakes Gerwel is op 28 November 2012 skielik op ouderdom 66 oorlede, toe Pam in sy diens was.

Die stigting se aktiwiteite fokus nie uitsluitlik op Afrikaans nie. “Net soos Gerwel glo ons nie aan ’n eksklusiewe Afrikaans nie, maar eerder in ’n omarmende Afrikaans,” verduidelik Theo. “Ons wil daarom alle taalgemeenskappe laat baat vind by ons projekte; ons wil Afrikaans laat meepraat met ander tale.”

Die feit dat die stigting op Somerset-Oos gesetel is, vier Gerwel se verbintenis met dié dorp en sy omgewing. Hy is op die plaas Malvern, ongeveer 60 km buite Somerset-Oos, gebore. Theo vertel hoe belangrik ’n goeie opvoeding vir Gerwel se vader, ’n plaasarbeider, was. “Sy pa was ’n eweneens formidabele man wat vir sy tien kinders ’n skool gebou het, want daar was geen skool naby nie. Hierdie skool het die plek geword waar vele ander Oos-Kaapse kinders hulle geleerdheid ontvang het – vir baie sou dit nie die geval gewees het as daar nie so ’n skool was nie.”

Paulet-huis met die Bosberge in die agtergrond (Foto: Jakes Gerwel Stigting)

Jare later het Gerwel ’n huis op die dorp gekoop. Paulet-huis is vandag die stigting se ruimte waar skrywersresidensies en ander aktiwiteite aangebied word. “Dit het hy sy Ander Huis genoem,” vertel Theo, “waar hy ontvlugting kon kry van verpligtinge.” Na Gerwel se dood het sy weduwee, Phoebe, die huis aan die stigting geskenk. “Ons het dit ingerig as skrywershuis – om so Jakes se nalatenskap te vier.

“Hy was in murg en been tog ’n akademikus met ’n eerste liefde vir die letterkunde. Somerset-Oos is die hartklop van die stigting. Die skrywershuis gee fokus aan wat ons wil bereik, naamlik om stories na die letterkunde te bring wat nog nie gehoor of voldoende neergeskryf is nie.”

Annari van der Merwe, Hein Gerwel en Antjie Krog voor Paulet-huis (Foto: Jakes Gerwel Stigting)

Paulet-huis, wat in die vroeë 1800’s deur lord Charles Somerset vir sy tweede vrou, Poulette, opgerig is, se mure dra die fluisteringe van die koloniale geskiedenis. “Nugter weet hoe die huis se naam intussen, soos die straatnaam, verander het na Paulet,” vertel Theo. “Die bekoring van hierdie straat en huis is dat dit teen die Bosberge se voete lê.”

Toe Theo in 2017 by die stigting betrokke geraak het, was die plan om die huis in ’n skrywersoase te ontwikkel. Groot restourasiewerk moes egter eers afgehandel word. In 2019 is daar amptelik met projekte begin. “In die eerste jaar het ons meer as twintig skrywers op verskillende maniere hier gehelp om hulle talente te ontwikkel of ’n manuskrip klaar te maak,” vertel hy.

“Ek kan nie dink aan ’n mooier en rustiger omgewing as Somerset-Oos en die mooie Paulet-huis om in te skryf nie. Alhoewel ons veral fokus op nuwe stemme, was daar ook ’n paar bekendes al oor ons drumpel. Antjie Krog en Ronelda Kamfer het die huis geopen met ’n glas goeie rooiwyn wat hulle op Jakes se grasperk gegooi het. Dan was daar Jeremy Veary, Nathan Trantraal, Francois Bloemhof, Kirby van der Merwe, Chase Rhys en selfs skrywers van België.”

Opkomende talent word geslyp by Paulet-huis: Herschelle Benjamin, Keanen Engel, Du Toit Dianne Albertze, Tasneem Daniels, Kanya Viljoen en Amy Jephta (Foto: Jakes Gerwel Stigting)

Theo se taak is om projekte met verskeie vennote te bedink wat dit ten doel het om “skryf” in die wydste sin te ondervang. “Ons fokus veral op opkomende talent wat nie kan betaal vir amptelike skryfskole soos aan universiteite nie. Daarom stel ons bekwame mentors aan wat in verskeie genres werk. Ons het projekte vir romansiers, niefiksieskrywers, dramaturge, en nou ook liedjieskrywers, Eerste Nasie-skrywers.”

Lees gaan natuurlik hand aan hand met skryf, en daarom bied die stigting ’n groot boekeprogram vir leerders in die grondslagfase aan in Somerset-Oos en omliggende gebiede.

Antjie Krog en Ronelda S Kamfer by die opening van Paulet-huis (Foto: Jakes Gerwel Stigting)

Jakes Gerwel se betrokkenheid by die ontstaan van die Suidoosterfees in Kaapstad is welbekend. Die stigting wat sy naam dra, is uiteraard nou betrokke by dié “soomlose” fees, soos wat Gerwel dit beskryf het. Theo kan sy entoesiasme nie verbloem wanneer hy oor projekaksies saam met die Suidoosterfees gesels nie. “Ons bied jaarliks die Jakes Gerwel-gesprekke daar aan. Hiermee wil ons graag ope gesprek stimuleer en juis menings van uiteenlopende denkers en skrywers by mekaar uitbring.

“Die fees voel ewe sterk as die stigting oor die belegging in nuwe talent, en daarom het hulle die Jong Sterre-projek begin om ’n platform vir belowende dramaturge by die fees te skep. Nou het ons ’n ekstra been hierby gevoeg: Die stigting help identifiseer die jong dramaturge, ons lei hulle dan op deur ’n mentor aan te stel wat vir drie weke intensief met die skrywers in Somerset-Oos gaan werk. Daarna word die werk deur die Suidoosterfees, Kunstekaap en NATi op die planke gebring.

“’n Nuwe projek wat ons vanjaar geloods het, is ’n mentorskapsprogram vir opkomende liriekskrywers en sangers. Ons help ook hierdie skrywers om te skaaf aan hulle lirieke, en die Suidoosterfees help weer om ’n produksie met hierdie jong talent bymekaar te sit.”

Zelda la Grange, vir wie Jakes Gerwel ’n gewaardeerde mentor was toe hulle saam met Nelson Mandela gewerk het, sê: “Vir Madiba was hy die naald op die kompas wat die ware noord aangedui het. Dit was maklik om vir hom baie lief te wees. Sy droë sin vir humor het die mees gespanne situasie ontlont.

“Jy kon met hom filosofies wees en soms net lekker skinder. Jou geheime was altyd veilig by hom. Hy was ’n man met soveel ongelooflike fasette wat hy aangewend het om ander te bemagtig. Hy was ’n veilige hawe vir almal wat hom geken het.

“Dit is daarom van die uiterste belang dat die stigting ondersteun word om sy nagedagtenis te bewaar om ander ook die geleentheid te gun om steeds by hom te leer.”

Zelda se woorde oor die Jakes Gerwel Stigting word deur Pam Barron beaam: “Dit is belangrik dat Prof deur die stigting geëer en onthou moet word. Prof het so baie gedoen vir die stryd teen apartheid, hy het UWK omskep van ’n Boskollege tot ’n Universiteit van die Mense. Hy het ’n deurslaggewende rol gespeel in die vestiging van die Mandela Rhodes-stigting, wat vir honderde studente regoor Afrika deure oopgemaak het. Die Mandela-familie het hom liefgehad en gerespekteer.”

Shana Fife, Michelle van Niekerk, Engela Ovies, Bronwyn Davids, François Bloemhof, Suzette Myburgh, Sharon Magoaneng, Theo Kemp en Beneatha Adams (Foto: Jakes Gerwel Stigting)

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, vertel hoe hy tydens sy termyn by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans gedagtes oor die taal met Gerwel uitgeruil het. “Ons was dikwels in gesprek oor die rol van Afrikaans as taal van opvoedkundige, kulturele, ekonomiese, spirituele en sosiaal-maatskaplike bemagtiging. Dit is teen dié agtergrond dat ons ons werksaamhede diensooreenkomstig belyn het.”

Maar vir Jakes Gerwel was dit belangrik dat bemagtiging geskied deurdat mense ook vir hulleself geleenthede moet kan skep. Christo verduidelik: “Die skep van inklusiewe Afrikaanse tuistes in ’n meertalige en nierassige omgewing was ’n ideaal waarvoor prof Jakes Gerwel onbeskaamd gestaan het.”

Dié gedagte word vergesel deur ’n sinvolle waarskuwing: “Sy nalatenskap vereis dat ons hieroor in gesprek moet tree om inhoud daaraan te gee. En nie toelaat dat dit weer gekaap word deur enigiemand wat ’n ideologiese agenda dryf wat teenstrydig is met die waardes en ideale van ons nasionale Grondwet nie.”

 

Besoek die Jakes Gerwel Stigting se webwerf vir meer inligting oor aktiwiteite wat skrywers raak.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Sherrilyn Lloyd

    Jakes Gerwel het ’n belangrike bydrae gelewer om UWK vanaf ’n bruin universiteit na ’n oorwegend swart universiteit om te skakel. Hy het die vorige rektor, Dr. Van der Ross en vise-rektor, Jaap Durandt, se hoë standaarde en eise om van die beste opgeleides in die land te voorsien, verder gevat... Ek salueer hul al drie vir die ontwikkeling van UWK in ’n top universiteit...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top