Wessel Pretorius se Vlegsel takel kuberboelies op Jeugdag

  • 0

Belangrike nota: Opvoerings wat aanvanklik vir Die klaskamer-produksies op 16 en 19 Junie 2021 om 11:00 en 15:00 geskeduleer was, moes ongelukkig gekanselleer word ingevolge nuwe COVID-19-regulasies wat op 15 Junie 2021 deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is.

***

Wessel Pretorius se kort eenpersoonstuk Vlegsel word op Jeugdag, 16 Junie 2021, en ook op Saterdag 19 Junie by Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad opgevoer. Cintaine Schutte speel in dié stuk, waarvan Wessel die regie waargeneem het. Vlegsel is een van ses kort opvoerings wat deel uitmaak van die Suidoosterfees, KKNK en NATi se Die klaskamer – ’n reeks plekspesifieke produksies wat in verskillende skoolruimtes aangebied word. Melt Myburgh het Wessel Pretorius oor die produksie uitgevra.

Cintaine Schutte speel in Wessel Pretorius se Vlegsel wat op Jeugdag by Hoërskool Jan van Riebeeck as deel van die Suidoosterfees, KKNK en NATi se Die klaskamer-reeks opgevoer word: (Foto: Suidoosterfees)

Die programomskrywing vir Vlegsel:

Teks en regie: Wessel Pretorius

Met: Cintaine Schutte

’n Tienermeisie se noodkreet op sosiale media inspireer ’n volwasse vrou om haar verlede te herbesoek. Sy lees weer haar tienerdagboeke en kom tot verhaal oor haar eie stryd met boelies en tienerangs. Dit noop haar om virtueel na die meisie uit te reik. Vlegsel is ’n kort meditasie oor genesing oor kubergrense heen en beeld die nare realiteit van sosiale media op ’n unieke manier uit.

***

Vlegsel word beskryf as “’n kort meditasie oor genesing óór die kubergrense”. Dit handel oor ’n volwasse vrou wat haar eie stryd met boelies as tiener in oënskou neem nadat sy op ’n tienermeisie se noodkreet op sosiale media afkom. Het jy Cintaine Schutte as akteur in jou kop gehad toe jy die stuk geskryf het?

Ek het inderdaad. Ek het van die begin af geweet dat Cintaine daarin gaan speel. Ons het ook vooraf heelwat oor die tema gesels en ek het haar gevra om persoonlike herinneringe met my te deel. Ek het dit losweg gebruik om die storie en karakter te skep.

Hoe groot en omvangryk is die gevare wat sosiale media inhou, veral vir tieners?

As tiener het ek genadiglik die ergste daarvan vrygespring. Dit is reeds so moeilik om deur jou tienerjare in een emosionele stuk te kom – ek weet nie hoe ek sou gecope het met die druk wat sosiale media ook nog op jou plaas nie. Sosiale media is basies ’n platform waarin jy ’n fiktiewe lewe en persona kan vertoon deur selektiewe samestellings. Die gevaar is as jy dit self begin glo, of so daarmee identifiseer dat dit jou sin van realiteit beïnvloed. Daarteenoor is dit so maklik om jouself van enige aanspreeklikheid te ontkoppel.

Watter insigte het jy tydens die skryf van die stuk verwerf oor die psige van mense wat hulle aan boeliegedrag skuldig maak? Is dit anders by tieners as by volwassenes?

Ek dink in enige geval waar iemand in die rol van boelie staan, sê dit meer van die boelie as van die slagoffer. Dit is ’n hartseer dog gevaarlike manier om jouself te bemagtig en beter te laat voel – deur iemand anders af te breek.

Vlegsel is deel van die Suidoosterfees, KKNK en NATi se Jeugdag-aanbiedinge by Hoërskool Jan van Riebeeck. Is daar vir jou spesifieke waarde in die feit dat die stuk juis op Jeugdag aangebied word?

Dis heel gepas, ja. Die bewaring van individualiteit en die bewusmaking van geestesgesondheid moet juis meer by jongmense posvat.

Wessel, jy het as dramastudent op Stellenbosch reeds met Ont, en ook sedertdien, enorme indruk gemaak met vollengte-eenmanproduksies. Vlegsel is ook ’n eenpersoonstuk, maar dit is kort – net ongeveer agt minute lank. Gaan jy as dramaturg anders te werk wanneer jy so ’n kort stuk skryf?

Die uitdaging is om die teikengehoor in gedagte te hou (dis op tieners gemik), die karakter en storie so duidelik as moontlik te hou en ook die tema te verhelder sonder om mense daarmee oor die kop te slaan. Dit verg meer van ’n balans tussen kreatiwiteit en ekonomie.

In Die ontelbare 48, wat in 2016 deur jou geskryf en opgevoer is, word ’n skoolsaal as ruimte ontgin. Met Vlegsel is jy terug in die skoolomgewing. Is daar iets omtrent die skoolruimte wat jou kreatiewe verbeelding aan die gang sit, of is dit maar net toeval?

So baie van my angs en herinneringe oor die benoudheid van skool het in skoolsale afgespeel. Dis ook waar ek nou meestal optree. So dalk het dit net iewers in my onderbewussyn gaan lê. Maar die ruimte is hierdie keer ook spesifiek vir ons gegee om in te skep.

Wat sou jou boodskap aan mense wees oor wanneer iemand op sosiale media geteiken en uitgesonder word deur kwaadwilliges?

Vat dit van waar dit kom. Dis heel moontlik die gedrag van ’n eensame, dronk of lafhartige mens. Vee die aanmerking uit, blok die persoon en wees die spreekwoordelike eend.

Kaartjies vir Die klaskamer is beskikbaar by Computicket teen R120 vir volwassenes en R80 vir skoliere, studente en groepe. Die vertonings is nie geskik vir kinders onder 14 jaar nie. Vertonings vir beperkte gehore vind op 16 en 19 Junie om 11:00 en 15:00 plaas. COVID-19-protokolle sal streng gehandhaaf word.

 

Lees ook:

Persverklaring: Op Jeugdag neem die Suidoosterfees jou terug skool toe

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top