Groot opwinding heers in die literêre wêreld met die verskyning van Francois Smith se roman Die kleinste ramp denkbaar – ses jaar na die trefferdebuut Kamphoer. Melt Myburgh het met die skrywer gesels.
....................
“Die tipe boek wat boekklubs gaan terroriseer en fynproewers sal laat juig.”
Só beskryf Jonathan Amid verlede week op Facebook Francois Smith se nuwe roman, Die kleinste ramp denkbaar.
Smith se tweede boek het pas verskyn, ses jaar ná sy hoogs suksesvolle debuut, Kamphoer – volgens Joan Hambidge “geskryf met ’n onuitwisbare pen”. Kamphoer het soos soetkoek verkoop, het gesogte pryse ontvang en verskeie vertalings beleef, en Sandra Prinsloo was Susan Nell in die verhoogweergawe.
Teen dié agtergrond moet Smith sekerlik senuweeagtig oor die ontvangs van Die kleinste ramp denkbaar wees?
“Senuagtig is ek inderdaad!” sê hy. Maar dis nie Kamphoer se sukses wat aan die nerwe knaag nie. “Allermins. Ek het trouens al begin dink dat ek bloot ’n volgende boek sal skryf om net nie weer ’n leserskring oor die boek hoef toe te spreek nie.” Smith probeer nie blasé klink nie; om ’n boek te publiseer is in ieder geval ’n senutergende storie.
“Soos Virginia Woolf wil ek ook net onder ’n besembos gaan wegkruip totdat alles verby is. Selfs wat die publisiteit betref, is ek ook maar my pa se kind. Ek onthou goed hoe onwillig hy was om sy ramme te adverteer – hy was ’n boer – omdat reklame vir hom soos brag geklink het.”
Francois is dosent in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. Om te moet publiseer – vakwetenskaplik en andersins – is die kruis wat leermeesters aan tersiêre skryfskole dra. “Dit is beslis een rede waarom ons, ek en Henning Pieterse, moet aanhou publiseer,” vertel hy. “Gelukkig is ek geneties of kultureel – of deur die gode – belas met die noodsaak om te skryf.”
Francois vertel dat die idee vir Die kleinste ramp denkbaar posgevat het toe hy Kamphoer geskryf het. Tydens ’n wintervakansie op sy grootwordplaas het ’n erge griep hom oorval en hy moes spreekkamer toe op die dorp. “Dit was die dokter wat sedert my skooldae op Rouxville was, ’n lieflik eksentrieke man wat so ’n lang rooi Mercedes gery het en die een Van Rijn-sigaret na die ander gerook het; my selfs ’n inspuiting gegee het met die sigaret in die ander hand. Hy was ook ’n geweldige geselser en onophoudelik het hy gesels, oor buffeljagavonture in Mosambiek, oor Dooyeweerd se kommentaar op Paulus se sendbriewe …”
Na die doktersbesoek het die skrywer begin notas maak, “kennelik met die opset om eendag daaroor te skryf”. Francois onthou Karel Schoeman se sêding dat niks aan die toeval oor te laat is nie. Dié waarheid is herbevestig toe hy John Banville se The book of evidence uit die rak haal en die inskripsie en aantekeninge wat hy daarin geskryf het toe hy die eksemplaar in 2014 op McGregor gekoop het, lees. “Die boek moes my reeds smeulende gedagtes behoorlik laat vlamvat het, want agterin is ’n hele rits notas wat ek gemaak het oor ’n boek-in-wording, en een wat ek toe al Kleinste ramp genoem het.”
Volgens een nota wou Francois ’n “intelligente maar koelbloedige man” as hoofkarakter hê wat meegesleep word deur ’n “ongekultiveerde maar sexy vrou met ’n gevaarlike, onvoorspelbare instink”. Die kleinste ramp denkbaar het uiteindelik iets heel anders geword, deels omdat “polisieromannetjies” vir Francois ’n vroeë leesliefde was – “soos wat Don Quixhot s’n ridderromannetjies was”.
Gustav van Aardt, die hoofkarakter vanuit wie se perspektief die verhaal aangebied word, is ’n dokter wat op ’n plaas buite ’n plattelandse dorpie woon. Op ’n dag kruis die geneesheer se pad met dié van ’n doodsiek polisieman, Frans Schuin, wat deur ’n bosluis gebyt is. En van hier af aan word die leser aan verskeie karakters op die dorp bekendgestel, elkeen met ’n bepaalde ingesteldheid teenoor die polisieman.
Van Aardt probeer sin van alles maak te midde van die verval wat in die dorp waarneembaar is. “Op ’n heel instinktiewe vlak,” sê Francois, “is die boek gemoeid met ’n geheim – die geheim van die lewe op daardie dorp, wat ’n mens seker kan sien as ’n soort Suid-Afrika in die kleine. Dis ’n dorp wat verval, maar ook op allerhande maniere nuut en anders word.” Van Aardt reageer op hierdie vreemdheid met weersin en irritasie, totdat die polisieman verskyn en die afstandelikheid plek maak vir verwondering, sê Francois. “Dit is asof daardie polisieman vanuit die dokter se onbewuste ontsnap het en hy hom noodgedwonge moet volg, omdat hy die sleutel het tot die geheim van lewe en dood. Die dokter word egter heeltemal onbewustelik gelei deur sy fantasie en sy haas kwylend begerende oog. Hy hoor ou, ou stemme, hy dool rond in mites,” vertel hy.
“Dis ’n oeroue fantasie van die mens,” verduidelik Francois, “dat daar ’n sekere soort kennis is wat net deur die bose ontsluit kan word, dat die ware lewensgeheime net toeganklik is vir monsteragtige figure soos die polisieman Schuin.”
Volgens Jonathan Amid gaan lesers uitgeboul word deur die “uitsonderlike taalgebruik, die ragfyn detail, die absolute sensoriese maalkolk en estetiese waardering wat manifesteer regdeur die teks”. Louise Viljoen se bespreking van die roman in Sondag se Rapport beaam die opwinding oor die teks. Sy voorspel dat Die kleinste ramp denkbaar as “’n literêre hoogtepunt in ’n vreemde jaar” beskou gaan word.
Lesers sal ’n fout maak as hulle die “ramp”-verwysing in die titel toeskryf aan die manier waarop die skrywer na die wêreld kyk. “Ek is ’n ongeneeslike optimis,” verklaar Francois. “Die Cheetahs kan vyf minute voor die einde 33–0 agter wees, dan glo ek steeds hulle het ’n kans om te wen.” Die rampspoed waarin die wêreld op hierdie oomblik vasgevang is, het buitendien min met die boek uit te waai; die skryfwerk was immers voor dié pandemie klaar.
Vir Francois sluit die roman aan by dit wat aan die hart van Skandinawiese speurverhale lê, naamlik “dat hierdie boeke in wese gaan oor die onderskeid tussen dit wat skyn is en dit wat werklik is”.
’n Groot verskeidenheid van karakters word in die roman beskryf, onder meer mevrou Troskie, met haar “talkpoeier-grimas van minagting”; Dannhauser van Heerden, ’n plaasboer wat die dokter vir passasies lank deur ’n nagsigteleskoop laat kyk; Gretel Tredoux, die dorp se sinusoïdale prokureur met haar Duitse herdershond; Roberto Ojeda, ’n Kubaanse dokter aan wie Van Aardt die verskriklikste leuen vertel; Portia Klaas, die ylende polisieman se bot kollega …
Hoe het hierdie galery personas tot stand gekom?
“Ek het ’n kerntoneel gehad waarin ’n dokter en ’n polisieman was,” vertel die skrywer, “en ek moes gaan sit en uitwerk wat daar aan daardie toneel was wat my ’n poort sal bied tot ’n wêreld wat groot genoeg is vir ’n roman.
“My aanvanklike idee, my oertoneel, was piepklein en die meeste van wat die roman geword het, moes ek ontdek. Die mees voor die hand liggende manier om dit te doen, was om van daardie oertoneel uit te beweeg buitentoe. Ek moes byvoorbeeld die mense ontmoet wat daar in die spreekkamer was toe die dokter die oggend inkom; en voordat die pasiënte aangekom het, was daar mos die vrou by ontvangs …”
In daardie stadium van skryf moes Francois as gevolg van ’n rugprobleem heelwat tyd in dokters se spreekkamers deurbring. En dit is waar hy twee ontvangsdames teëgekom het van wie lesers in die boek afbeeldings sal vind: “die kriptorassistiese ou ene, en dan ook die nuwe ene wie se wonderlike geheime agter die toonbank verskuil is.
“Wanneer jy gaan sit om ’n boek te skryf, aktiveer jy die onbewuste en dan word bykans alles wat jy ervaar gesif en gekeur vir die bruikbaarheid daarvan in jou verhaal.”
Francois moes deeglik navorsing doen om Gustav van Aardt se dokterstem geloofwaardig te maak. “Dinge werk op papier ietwat anders as in die werklikheid, en skryf is allermins ’n spieël wat jy op die sypaadjie voor Pep Stores opstel. Jy moet wel agterkom wat om te doen om daardie spieëlillusie te skep. Hierdie illusie word egter versplinter as jy feitefoute maak, en die ding is dat ek van die medisyne nie veel weet nie. As ek dus daardie arme poliesman die verkeerde antibiotika laat kry het byvoorbeeld, sal enigeen wat ’n bietjie van hierdie klas ding af weet die boek dadelik neergooi.
“Maar dit gaan ook oor iets meer as die empiriese werklikheid. Dit gaan veral oor die geloofwaardigheid van die perspektief van daardie dokter, wat op ’n bepaalde manier tog ’n tipe verteenwoordig. Ek het hiervoor taamlik gelees, onder meer die Amerikaanse dokter-digter William Carlos Williams se stories en sketse oor sy ervarings as huisdokter.”
Gilbert Gibson, Bloemfontein se dokter-digter, moes die manuskrip fynkam vir onakkuraathede. “Die een ding wat hy byvoorbeeld vir my gesê het, is dat dokters nie op loop gaan met of opgeklits raak oor simptome wat ons gewone sterflinge die pipperellekoors sal laat kry nie. Dokters sê byvoorbeeld nie iemand haal hortend asem nie, of hulle gebruik nie die een of ander gelade adjektief nie; hulle sê bloot ‘asemhaling onreëlmatig’.”
Vir Francois is dit belangrik dat lesers deur sy verhaal meegevoer word. “Ek dink as ’n skrywer die roman as medium kies, moet hy hom steur aan storie, aan plot, aan intrige. Die storie moet op die oppervlak werk en hierdie oppervlakverhaal moet op sigself heeltemal bevredig. Daarmee bedoel ek nie dat alles klinkklaar en glashelder moet wees nie, dis nie die soort boek wat ek wou skryf nie, maar as jy vasgenael kan bly lees en dáárdeur vervul raak met die een of ander vorm van onrus of vae vermoedens, dan is dit vir my genoeg.”
Hy beskou dit as ’n bonus as lesers iets kan maak van al die verwysings, intertekste en simbole in die narratief. “Maar die boek moet nie by hierdie bonus staan of val nie. Ek het ook self ervaar dat indien jy nie regtig weet wat om te skryf nie, dan begin jy met allerhande slimmighede, met mitologiese verwysings en daardie klas van ding.”
Oor die neerskryf van gewaarwordinge sê Gustav van Aardt in Die kleinste ramp denkbaar: “Dit is soos ’n droom, as jy dit nie dadelik neerskryf nie, begin jou geheue dit uitwis sodra jy weg is uit die sfeer van die droom.” Geld hierdie benadering ook vir Francois Smith?
“Ek het meestal ’n notaboekie byderhand, veral in die skryffase, waarin ek so gou moontlik goed neerskryf wat ek sien, lees, hoor en ook droom, ja, en dan is dit goed wat my opval omdat dit om die een of ander rede belangrik is. Waarom dit belangrik was, moet ek dan later probeer agterkom, veral wanneer ek vermoed dat dit belangrik is vir ’n bepaalde boek wat ek skryf. Jy loop in Pick n Pay en jy sien ’n vrou in haar handsak grawe, of jy draf by ’n slaghuis verby en ruik gesaagde been, of jy hoor ’n man teen ’n boom urineer, daardie soort ding.”
Die resultaat van Francois Smith se arbeid is ambisieus en groots – ’n produk wat fynproewers beslis baie vreugde gaan besorg, en wat leeskringe hopelik nie te veel die skrik op die lyf sal jaag nie. ’n Boek waaroor Jonathan Amid voornemende lesers as volg waarsku: “Jy kan hierdie roman ongelukkig net een keer vir die eerste keer lees.”
Kommentaar
Die Kleinste Ramp Denkbaar.
Goeiste.
Wonderlike resensie wat my mond laat water.