Hugo Lotriet, professor in inligtingstelsels aan die Universiteit van Suid-Afrika, se navorsingsartikel “’n Oorsigtelike verkenning van die omvang en fokus van inligting-en-kommunikasie-tegnologie-verwante navorsing in Afrikaans vir die tydperk 2011–2021”, het pas in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling verskyn. Die artikel verskaf ’n oorsig van navorsing in Afrikaans oor inligting-en-kommunikasie-tegnologie- (IKT-) verwante onderwerpe, maar werp terselfdertyd lig op die groter prentjie van Afrikaans as navorsingstaal en die druk wat wêreldwyd deur akademici ervaar word om in Engels te publiseer. Melt Myburgh het vir Hugo uitgevra.

Hugo Lotriet (Foto: verskaf)
Hugo, in jou artikel oor IKT-verwante navorsing in Afrikaans wat pas in LitNet Akademies verskyn het, wys jy op belangrike faktore oor die posisie van Afrikaans as navorsingstaal. In watter mate kan mens afleidings uit jou IKT-bevindinge maak met betrekking tot die groter prentjie van die stand van Afrikaans as navorsingstaal?
In my navorsingstoepassingsveld is konteks baie belangrik. Ek sou dus versigtig wees om noodwendig afleidings te maak oor ’n geheelbeeld van navorsing in Afrikaans. Kom ons sê eerder dat daar stof tot nadenke is oor aspekte van navorsing in Afrikaans. Heelwat vrae kan dus gevra word. In watter kontekste/vakgebiede vind ons voorbeelde van volhoubare navorsingsekosisteme en -netwerke in Afrikaans? Hoe lyk volhoubaarheid in hierdie gevalle? Is daar mense met energie en visie wat leiding neem? Waar en hoe word (akademiese) gesprekke gevoer en hoe word inklusiwiteit en diversiteit bewerkstellig? Hoe lyk die gebruik van beskikbare hulpbronne?
Verder kan daar ook gevra word wat die uiteindelike doel van navorsing in hierdie omgewings is. Is daar die moontlikheid dat plaaslike navorsing (in Afrikaans) ’n betekenisvolle impak kan hê op maniere wat dalk nie gemeet word in terme van aanhalings en internasionale erkenning nie? Hier dink ek aan moontlikhede soos die bevordering van belangstelling in wetenskap onder die jeug, en toeganklikheid van wetenskap ter ondersteuning van Suid-Afrikaanse gemeenskappe met al hulle plaaslike uitdagings en aspirasies.
Jy sê in die artikel dat IKT-verwante navorsing in Afrikaans deurgaans “’n sterk sosiale aard het”, en dat temas soos “aspekte van menswees in die digitale omgewing” ’n gemene deler is in die verskeidenheid onderwerpe wat by navorsers byval vind, veral ten opsigte van onderwys en taal. Hoekom is die “menswees”-komponent juis nou in hierdie veld so belangrik vir navorsers?
Toe ek met die navorsing vir hierdie projek begin het, was my verwagting van die uitkoms dat die aard van die IKT-verwante navorsing baie meer tegnologie- en tegniek-gefokus sou wees. Dit was dus vir my interessant om te sien dat die fokus van IKT-navorsing in Afrikaans ’n sterk sosiale aard het, veral aangesien ek in my eie navorsing probeer fokus op die sosiotegniese aspekte van IKT, dws die interaksie tussen die mens en tegnologie, en hoe die mens tegnologie aanvaar en gebruik. Die “menswees”-aspek is belangrik vir navorsers wat tegnologie vanuit hierdie sosiotegniese perspektief benader.
Daar moet egter onthou word dat daar vele navorsers is met meer tegniese perspektiewe waar menswees ’n minder belangrike rol speel. Soos wat ek in die artikel aangedui het, strook die publikasie van “mensgerigte” IKT-verwante navorsing in Afrikaans met Johann Mouton se vorige bevinding dat navorsing met geestes- en sosialewetenskaplike strekking meer geneig is om in plaaslike joernale gepubliseer te word. Volgens hierdie gedagte sal navorsers vir wie menswees in IKT belangrik is, se werk dus meer tipies in plaaslike Afrikaanse wetenskappublikasies gevind word, moontlik omdat hulle meer geredelik hulle werk na hierdie joernale sal instuur.
Watter ander navorsingsonderwerpe sou jy graag meer van wou sien?
Een van die beelde wat gebruik word in sosiotegniese navorsing is dié van tegnologie as ’n konkrete manifestering van gesprekvoering. Wat vir my baie interessant sou wees, is as die plaaslike stories en gesprekke op eie bodem kan lei tot tegnologie-ontwikkeling wat betekenisvol is en sinvol aangewend kan word om van Suid-Afrika ’n beter plek vir sy inwoners te maak. Sulke ontwikkelings het altyd potensiaal vir sakegeleenthede vir plaaslike entrepreneurs en vir die ontwikkeling van digitale en ander tegnologiese vaardighede vir die plaaslike jeug.
Ek sou graag meer navorsing wou sien wat bydra tot verbeterde volhoubaarheid van ons aardse bestaan en wat die implikasies is binne ons plaaslike konteks. Die huidige krisisse rondom onder meer klimaatsverandering en gesondheid beklemtoon die belangrikheid daarvan dat ons dringend met mekaar in gesprek tree hieroor, veral ook rondom inligting en tegnologie binne hierdie verband.
Dit sou welkom wees as Afrikaanse navorsers sou toetree tot gesprekke rondom die etiek van die gebruik van moderne tegnologie soos KI.
Jy vind dit teleurstellend dat slegs 11 van die 90 Afrikaanse navorsers na wie se uitsette jy gekyk het, by meer as een akademiese tydskrif of joernaal betrokke was. Hoekom bekommer dit jou?
Baie navorsers wie se werk ek in die artikel aanhaal, doen baie navorsing en is by soveel as moontlik (waarskynlik meestal Engelse) publikasies betrokke uit die aard van hulle werk. Hierdie publikasies is dus net nie deel van ontwikkelde/ontwikkelende diskoerse rondom IKT in Afrikaans nie.
Oor die redes hiervoor kan mens wonder. Wanneer mens betrokke is by ’n interessante gesprek, wil mens graag deelneem, jou opinie uitspreek en in interaksie tree met die ander deelnemers aan die gesprek. Wat sou dan veroorsaak dat die meeste navorsers (met heelwat publikasies agter hulle naam) slegs eenmalig deelneem aan die diskoerse rondom IKT in Afrikaans?
Jy sê ook: “Verder blyk dit dat navorsers in hierdie veld mekaar se Afrikaanse publikasies slegs tot ’n beperkte mate aanhaal.” Wat sê dit vir ons oor die aard en ingesteldheid van Afrikaanse navorsers?
In navorsing werk dit altyd beter (beide vir die vakgebied en vir die betrokke navorsers) om ’n netwerk van navorsers te hê wat met mekaar se idees interaksie het en op hierdie interaksie voortbou in terme van die navorsing wat gedoen word. Op verkennende vlak rondom IKT in Afrikaans sien ek nie baie spore en tekens van sulke bestaande netwerke nie.
Vir die navorsingsveld (in Afrikaans) is dit wel ’n jammerte, aangesien die gebrek aan hierdie interaksie die potensiaal vir groei en ontwikkeling van die veld in Afrikaans beperk. Bygesê, die meeste van die betrokke navorsers het waarskynlik wel elders netwerke waar hulle meer aktief is.
In jou artikel word die druk op Afrikaanse wetenskaplikes – en inderdaad nie-Engelse navorsers wêreldwyd – om in Engels te publiseer, helder uiteengesit: “Oor die afgelope jare het die druk op navorsers (veral by tersiêre instellings wêreldwyd) dramaties toegeneem om in internasionale tydskrifte met hoë tref- en aanhalingstempo’s te publiseer ten einde bevorder te word en erkenning as akademici te kry.” Dit kan tog nie ’n gesonde situasie vir enige navorsingstaal wees nie? Is daar dalk ’n weerstand onder jonger navorsers teen publikasie in Afrikaans?
Ek kan moeilik namens jonger navorsers praat, aangesien ek self al redelik “senior” is. Ek sou eerder dink dat navorsers (van enige ouderdom) baie gewoond is om in Engels te publiseer, eerder as dat daar ’n vorm van weerstand is teen enige ander taal. Dit is ’n wêreldwye tendens en is nie uniek aan Suid-Afrika of Afrikaans nie.
Wat wel ook ’n rol speel, is die taal waarin byvoorbeeld proefskrifte en verhandelinge geskryf word. Die duidelike afname in hierdie tipe publikasies rondom IKT in Afrikaans is (soos ek in die artikel aangedui het) problematies vanuit ’n Afrikaanse perspektief, aangesien die materiaal in so ’n proefskrif of verhandeling dikwels dien as bron vir verdere publikasies in vaktydskrifte. As ’n proefskrif in Engels geskryf is, is dit dus onwaarskynlik dat verdere publikasies wat daarmee verband hou, in Afrikaans gaan wees.
Interessant is jou stelling dat selfs die sogenaamde supersentrale tale, byvoorbeeld Frans, Chinees en Spaans, ’n drastiese afname beleef in navorsing wat in hierdie tale gepubliseer word. Dan wys jy op die Navorsingsindeksstelsel vir Geesteswetenskappe wat deur die Europese Wetenskapstigting bedryf word om wetenskaplike publikasies in nie-Engels meer sigbaar te maak en op ’n meer gelyke voet met Engelse publikasies te plaas. Hoe werk hierdie indeksstelsel en het ons iets soortgelyks vir en in Afrikaans? Indien wel, maak dit ’n duit verskil aan die tref- en aanhalingskoerse waarna universiteite so smag?
Daar is eintlik ’n hele paar nie-Engelse aanhalingsindekse, byvoorbeeld in Russies, Chinees en Koreaans, almal met die doel om navorsing meer sigbaar te maak. ’n Beter oplossing sou wees dat die hoëprofiel- internasionale indekse (soos Web of Science en Scopus) hulle huidige vermoëns om artikels in ander tale te indekseer verbeter. Anders ontstaan daar te veel akademiese silo’s. Met huidige ontwikkelinge in KI en taaltegnologie is daar die moontlikheid dat dit in die toekoms heelwat beter sou kon wees.
In Suid-Afrika penaliseer die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se subsidieformule nie uitsette in ander tale as Engels nie, dus ontvang tersiêre instellings wel volledige subsidie vir navorsingsartikels in Afrikaans. Dink jy dié stand van sake kan dalk in die toekoms verander?
Uit my ervaring is daar heelwat uitdagings met die regering se subsidiemodel. (Volgens my wete word navorsing nêrens anders in die wêreld volgens ’n soortgelyke model befonds nie.) Dit is nie duidelik dat die model volhoubaar is op lang termyn nie, en dit is heeltemal moontlik dat die model iewers volledig vervang gaan word. Dit is dus moeilik om te voorspel wat die toekoms gaan inhou.
Navorsing, soos aangehaal in jou artikel, toon dat “geesteswetenskaplike navorsing beduidend in Afrikaans gepubliseer word, terwyl natuur- en gesondheidswetenskappe asook ingenieurswese as dissiplines baie min Afrikaanse publikasies oplewer”. Is hierdie tendens te wyte aan die feit dat Afrikaans so ’n ryk taalkundige en literêre veld het? Waarom is die geesteswetenskappe so bedrywig in terme van publikasie?
Afrikaans het inderdaad ’n ryk taal- en literêre veld. Daar is moontlik ander oorwegings ook. Ek verwys in my artikel ook na Johann Mouton se bevinding rakende die verskille tussen die wetenskapskulture van verskillende vakgebiede (wat die navorsingstaal en -publikasieruimtes sou insluit). Ek dink geestes- en sosiale wetenskaplikes het (onder andere) ’n sterk waardering vir die belangrikheid van konteks. As navorsing dan binne ’n spesifieke (Afrikaanse) konteks uitgevoer is, is dit waarskynlik natuurlik om dit dan ook te publiseer in ’n Afrikaanse joernaal wat binne dieselfde konteks gevestig is.
Natuurwetenskaplike, ingenieurswese- en tegnologienavorsers plaas soms weer minder klem op konteks en meer klem op byvoorbeeld standaardmetodes en laboratoriumopstellings, wat maak dat navorsing eerder gestuur word na internasionale vaktydskrifte vir publikasie waar dit vergelyk kan word met navorsing wat onder vergelykbare omstandighede elders uitgevoer is of word. Daar is natuurlik ryke navorsingsgeleenthede in hierdie areas waar konteks wel raakgesien word en eksplisiet aangespreek word in navorsing.
- Die fokusprent by hierdie artikel is ’n verwerking van ’n afbeelding deur Gerd Altmann op Pixabay.
Lees Hugo Lotriet se LitNet Akademies-artikel hier:
Ook op LitNet:
Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld
Hulpvaardige kubernetiese skilpaaie: Kunsmatige Intelligensie en robotte in en om die huis
KI en stamselle of Karoo-skaaptjoppies? Enkele opmerkings oor kunsmatige vleisproduksie
"Om siele vir die Here te wen" – die pastorale rol in tye van kunsmatige intelligensie

