Dat die Vierde Nywerheidsrevolusie in volle swang is, is nie te betwyfel nie. En dit gaan oor baie meer as die teenwoordigheid van hommels wat bo woonbuurte en landerye hang, of SpaceX-vuurpyle wat met ongekende presisie op die aarde land nadat dit die ruimte ingestuur is. Dié revolusie manifesteer hom ook in die mens se intiemste ruimte. ’n Slimfoon word allerweë beskou as ’n instrument wat, soos ’n ekstra ledemaat, ’n individu permanent met ’n digitale dimensie in verbinding hou. Op dié manier het die mens onmiddellik en effektief toegang tot ’n enorme hoeveelheid inligting en tegnologie.
Danksy die alomteenwoordigheid van die internet word die ongelooflike krag van digitalisering en informasietegnologie ontgin om dinge vir die mens makliker te maak. Maar bring dié vooruitgang werklik die voordele wat ontwikkelaars en navorsers aan ons voorhou? Hoe word die arbeidsmark deur die Vierde Nywerheidsrevolusie geraak? Watter impak het dit op ons taal en die manier waarop ons met mekaar kommunikeer? Hoe raak dié revolusie ons ekonomie, die samelewing en individue? En hoe word die stelsels waarin ons ons bevind, getransformeer?
In Januarie 2020 het die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns, in samewerking met die ATKV en Solidariteit Navorsingsinstituut, ’n simposium oor die Vierde Nywerheidsrevolusie aangebied. Deelnemers het oor aspekte van dié revolusie besin en verslag gelewer oor die effek daarvan op ’n verskeidenheid terreine. Hulle bydraes word in hierdie aanlyn seminaar op LitNet beskikbaar gestel.
Lees die bydraes hier:
Die Vierde Nywerheidsrevolusie verander die wêreld waarin ons werk
Wat sou die impak van die Vierde Nywerheidsrewolusie op vertaling en tolking kon wees?