Wat sou die impak van die Vierde Nywerheidsrewolusie op vertaling en tolking kon wees?

  • 0

1. Inleiding

Ek dink nie die vraag moet wees wat die impak van die Vierde Nywerheidsrewolusie op vertaling/tolking sou kon wees nie, maar veel eerder watter impak dit reeds op die bedryf het. Dit is ’n feit dat die werk van die vertaler in die laaste vyf jaar of ingrypend verander het.

Wanneer ons aan die taal- en vertaalbedryf in die Vierde Nywerheidsrewolusie dink, dan weet ons dat ons na die invloed van masjienvertaling op die beroep moet kyk, en moet ons die vraag vra: Sal daar in die toekoms nog werk vir vertalers wees en maak dit nog sin om vertalers en tolke op te lei?

Om die ware impak in die praktyk te bepaal, het gaan kers opsteek by die eienaar van ’n taal- en vertaalagentskap in Pretoria, wat reeds langer as 20 jaar in die veld werksaam is. Baie van dít wat in hierdie artikel ingesluit is, vloei voort uit ’n onderhoud wat ek met haar gehad het oor die veranderde landskap en is gebaseer op haar ervarings in die praktyk. Hierbenewens verlaat ek my ook op twee onlangse opiniestukke wat deur die Internasionale Federasie vir Vertalers (FIT) opgestel is, naamlik The FIT position paper on the future for professional translators (2017) en die hersiene FIT position paper on machine translation (2019). Dit is belangrik om ook ag te slaan op internasionale tendense om te bepaal of dít wat in die buiteland gebeur ook in Suid-Afrika neerslag vind.

 

2. Wêreldwye neigings

Danksy moderne tegnologieë is die wêreld toenemend aaneengeskakel en verbind. In Engels word die woorde “interconnected” en “interconnectedness” gebruik. Hierdie aaneenskakeling en verbondenheid lei tot ’n vinnig groeiende behoefte aan kommunikasie en toegang tot kennis oor verskillende tale heen. Hierbenewens is maatskappye toenemend op soek na ’n internasionale teenwoordigheid. Dit het tot gevolg dat daar ’n vinnig toenemende aanvraag na vertaaldienste is, wat voorts aangehelp word deur voortdurende en voortslepende migrasie as gevolg van konflik, klimaatsverandering en ander gebeure.

Vertaalvolumes groei toenemend, maar daar is hoë druk om tariewe te verlaag, wat voorts vererger word deur samesmeltings en verkrygings van die groot rolspelers in die vertaalwêreld wat moontlik tot verdere markkonsentrasie sal lei, met ’n ooreenstemmende impak op tariewe (FIT, 2017).

Die oorwig van vertaling word wel gedoen deur vryskutvertalers wat ’n bestaan moet kan maak wat met hulle hoë onderwysvlak ooreenstem.

 

3. Is masjienvertaling die groot bedreiging?

Ons neem reeds oral om ons waar dat masjienvertaling (MV) besig is om veld te wen. Dit gebeur relatief vining, maar wel nie so vining as wat mense sou verwag nie.

Wat is die geskiedkundige pad wat masjienvertaling tot nou toe gestap het? Die eerste tipe masjienvertaling het van ’n stel reëls vir die betrokke taalkombinasie gebruik gemaak wat dan deur die stelsel verwerk is. Dit staan bekend as reëlgebaseerde masjienvertaling. Dit is opgevolg deur statistiese masjienvertaling, wat op waarskynlikhede gegrond is. Dit vereis groot korpora brontekste en hul menslike vertalings. Neuromasjienvertaling maak ook staat op groot korpora van menslike vertalings, maar ’n neurale netwerk wat die optimalisering van diep leer behels, word gebruik. Hierdie stelsels vereis baie verwerkingskrag en geheuegrootte.

’n Onderskeid moet getref word tussen gratis aanlyn masjienvertalingstelsels wat, afhangende van die taalpare, dikwels taamlik swak vertalings of onverstaanbare tekste lewer en dikwels geen vertroulikheid van jou data bied nie. Aan die ander kant is daar doelgemaakte stelsels wat opgelei, in stand gehou en deur professionele vertalers gebruik word en wat in staat is om hoogs vertroulike tekste te hanteer (FIT, 2019).

Daar word geluide gemaak, veral deur die ontwikkelaars van MV-stelsels, dat, op ’n bepaalde punt in die toekoms, rekenaarstelsels wat van neurale netwerke gebruik maak menslike intelligensie sal ewenaar en verbysteek. Hierdie punt, wat in Engels as “singularity” bekend staan, sal na bewering die meeste, indien nie alle, beroepe soos ons dit nou ken, maar veral die beroepe wat baie herhalende aksies behels, sodanig oorneem dat hulle sal verdwyn. Totdat dit gebeur, het die menslike vertaler ’n belangrike rol om te speel, want in hierdie stadium ontbreek masjiene die kreatiwiteit en intuïsie wat mense het.

Professionele vertalers sal dit moeilik aanvaar as hulle gereduseer word tot postredigeerders van masjienvertaalde uitsette. Menslike vertalers werk die afgradering van menslike taal teë om hoë gehalte taal te verseker.

 

4. Die rol en aksies van die vertaler

Die veranderde tendense en kliëntevereistes waarna hier bo verwys is, noop professionele vertalers om te aan te pas, om kreatief te wees en om besigheidsmodelle te ontwikkel wat die meeste van die jongste tegnologieë maak.

Dít beaam die agentskapseienaar met wie ek gesels het: As vertalers nie van vertaalgeheues gebruik maak nie, kan hulle nie in die mark kompeteer nie en kan hulle nie groter volumes hanteer nie.

Die gebruik en kennis van vertaalgeheues is trouens reeds in die meeste gevalle ’n vereiste wat in advertensies gelys word wanneer vakante poste geadverteer word. Sy gebruik in haar kantoor Wordfast met Google Translate.

En ja, sy maak inderdaad van Google Translate in haar agentskap gebruik, want daarsonder stel haar oorsese kliënte nie in haar besigheid belang nie. Wanneer daar baie herhaling in en tussen tekste voorkom, soos in die geval van ’n perfekte passing, word die vertaler slegs 10% van die tarief vir daardie gedeeltes betaal; nie-perfekte passing met ’n minder akkurate vertaling sal byvoorbeeld behels dat die vertaler 40% van die tarief betaal word omdat hy of sy self meer vertaalwerk moet doen; en, waar daar geen vertaalgeheue bestaan wat gebruik kan word nie en die vertaling volledig deur die vertaler gedoen moet word, word die volle tarief betaal. Dit spaar kliënte dus geld indien vertalers en vertaalagentskappe van vertaalgeheues en masjienvertalingstelsels gebruik maak. Kliënte is deesdae veel beter ingelig. Hulle weet dat hulle minder kan betaal as die vertaalgeheue groot gedeeltes van ’n teks met perfekte passings vertaal.

Vertalers is baie keer gefrustreerd met die aard van die werk wat hulle nou moet doen. Dit neem veel langer om ’n gemors op te ruim (soos swak, rou masjienvertaalde teks) as om die teks van meet af self te vertaal. Vertalers wil dus nie postredigering van masjienvertaling doen nie.

Vreemd genoeg is die vraag na tikwerk weer besig om toe te neem. Tekste wat nie elektronies beskikbaar is nie, moet oorgetik word sodat die vertaler tegnologie kan inspan om die vertaling te doen (met die gebruik van vertaalgeheues en masjienvertaling). In sekere gevalle kan van optiese karakterherkenning (“optical character recognition” of OCR) gebruik gemaak word, maar dit is ook nie foutloos nie.

Volgens die agentskapseienaar is daar ook nou weer ’n groter vraag na transkripsiewerk en preredigering (om ’n teks vir masjienvertaling voor te berei) vorm ook nou deel van hulle werk. Dit behels byvoorbeeld formateringskwessies (om lynbreke uit te haal), segmentering (om segmente of sinne in afsonderlike reëls te plaas), sinsbelyning, die verwydering van kursivering of vetdruk, karakternormalisering (om nie-skeibare spasies met gewone spasies te vervang, ens.), en die wysiging van hoof- en kleinletters (soos om na te gaan of die woord apple met ’n hoofletter vir die handelsnaam of met ’n kleinletter vir die vrug geskryf moet word).

 

5. Die impak van die Vierde Nywerheidsrewolusie en kunsmatige intelligensie op die vertaling van verskillende dokumenttipes

’n Mens sien die uitwerking van die Vierde Nywerheidsrewolusie en kunsmatige intelligensie op die aard en die tipes dokumente wat nou vir vertaling na vertalers gestuur word: Daar is ’n aansienlike afname, selfs ’n totale afwesigheid, aan alledaagse een-tot-een begripsvertaling. In Engels word dit “gisting” genoem. Mense gebruik nou Google Translate of ander masjienvertalingstelsels vir begripsvertaling. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer ’n kantoor of departement ’n brief ontvang in ’n taal wat die persoon nie magtig is nie. Begripsvertaling vind plaas wanneer die brief baie vinnig in breë trekke vertaal word sodat die ontvanger daarvan ’n vinnige ’n begrip kan vorm van waaroor die brief handel. Hiervoor is Google Translate geskik. Google Translate het reeds in so ’n mate verbeter dat dit ’n vertaling van ’n redelik aanvaarbare vlak van akkuraatheid lewer.

Velde waar daar nog heelwat werk beskikbaar is, is die vertaling van die sogenaamde “high end”-dokumente, soos regsdokumente en mediese dokumente, want hier is hoë vlakke van akkuraatheid nodig. Daarbenewens word bemarkingsmateriaal en webwerwe, literêre vertaling (waar kreatiwiteit van die vertaler vereis word), vertroulike dokumente en opleidingsmateriaal beter deur menslike vertalers vertaal.

Soos reeds genoem, word daar wêreldwyd in die algemeen aanvaar dat daar, om ’n verskeidenheid redes, ’n toenemende aanvraag na vertaling is. Die koek word dus groter, maar die snye van die koek word nou anders verdeel. Rou masjienvertaling is gepas om ’n deel van die aanvraag te hanteer, soos hoogs herhalende inhoud, of inhoud wat andersins nie vertaal sou word nie as gevolg van die hoë koste daaraan verbonde, en waar hoë vlakke van akkuraatheid en vlotheid nie vereis word nie. So sal kliënte wat aanvanklik ’n vertaler of ’n vertaalagentskap nader, dikwels terugkom en sê: “Toemaar, ek het Google Translate gebruik en ek is heel gelukkig met die produk.”

Ek het ook reeds genoem dat, hoewel volumes groei, daar ’n sterk afwaartse druk op tariewe waarneembaar is. Buitelandse kliënte kom doen graag besigheid in Suid-Afrika waar hulle laer tariewe kan beding omdat die lewenskoste in Suid-Afrika laer is, wat beteken dat vertalers minder vir hulle werk kan vra. Gesamentlik is agentskappe besig om die pryse af te forseer om mededingend te kan bly. Heelwat vreemde tale word in Suid-Afrika hanteer, byvoorbeeld Spaans, Portugees, Deens, Noorweegs en Duits.

 

6. Die toekoms van die vertaler

Die tradisionele beeld van die alleenvertaler is beslis besig om te verander. Wat in die toekoms al hoe belangriker gaan raak, is spesialisering, ’n spanbenadering tot die werk en ’n bereidwilligheid om kennis van die hulpmiddels wat van wesenlike belang vir ’n suksesvolle loopbaan in die vertaalberoep is, voortdurend te verfyn. Daar word genoem dat vertalers ’n groter invloed moet uitoefen op die ontwikkeling van masjienvertalingstelsels sodat hulle medeontwikkelaars kan word van die hulpmiddels wat hulle in die toekoms gaan moet gebruik. Tans is daar weinig gesprekvoering tussen die ontwikkelaars van hierdie stelsels en menslike vertalers.

Vertalers sal ander kostestrukture moet begin oorweeg as om per woord, per reël of per vertaalde bladsy te kwoteer. Hulle sal, as professionele persone, moet oorweeg om uurlikse tariewe te vra of selfs op ’n projekgrondslag betaling te ontvang, soos in die geval van ander beroepe.

Professionele vertalers se werk kan uitgebrei word. Hulle kan as taaldiensadviseurs of taalkonsultante optree. Dit behels dat hulle kliënte kan adviseer oor die beste benadering om te volg met betrekking tot ’n bepaalde stuk werk deur die voor- en nadele van verskillende vertaalmetodes te verduidelik.

Vertalers en tolke se rolle kan in die toekoms ook begin saamvloei (die sogenaamde “transterpreter”).

 

7. Opleiding van vertalers en professionele verengings

Universiteite en opleidingsinstansies sal hulle kurrikula moet aanpas en verfyn om sodoende hulle studente vir die veranderende omgewing voor te berei. Hulle moet hulle studente met die nodige vaardighede toerus vir transskepping, lokalisering en ander uitdagende tipes menslike vertaling sonder om die basiese bevoegdhede wat vertalers benodig af te skeep. Studente moet volledig voorberei word om alle stelsels, programmatuur te gebruik wat deur die mark en die werkgewer vereis word.

Professionele verenigings soos die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) moet voorspraak maak by besluitnemers en die publiek oor die belangrikheid en noodsaaklikheid van hoë gehalte vertaalwerk inlig. Hierbenewens moet hulle ook inligting aan hulle lede versprei en opleiding oor nuwe ontwikkelings in die mark bied (FIT, 2017).

 

8. Ten slotte

Die toekoms van die menslike vertaler sal afhang van vertalers se vermoë om nuwe ontwikkelings en tendense met beide hande aan te gryp en daarby aan te pas. Hiermee saam moet vertalers alles in hulle vermoë doen om hulle te vergewis van hulle veranderende rol in ’n hoogs mededingende mark en op die voorpunt bly van tegnologiese ontwikkelings in hulle veld. Vertalers moet ook meer kreatief te werk gaan en hulle byvoorbeeld nie blind staar teen die negatiewe aspekte van die vernuwing nie. As kreatiewe wesens kan hulle byvoorbeeld benewens vertaling ook inhoud produseer en dus self as skrywers optree, eerder as om te aanvaar dat hulle in die toekoms bloot as postredigeerders van masjienvertaalde teks gaan moet optree.

 

Verwysings

International Federation of Translators (FIT). 2017. The FIT position paper on the future for professional translators

International Federation of Translators (FIT). 2019. FIT position paper on machine translation.

 

Hierdie artikel is deel van die miniseminaar "Die Vierde Nywerheidsrevolusie" wat in samewerking met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV en Solidariteit Navorsingsinstituut aangebied word. Lees al die bydraes hier:

Miniseminaar: Die Vierde Nywerheidsrevolusie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top