Die brug tussen taal, regte en tegnologie: Praktykgerigte tegnologie-oplossings vir taalhindernisse in die regsdomein

  • 0

Uitdagings met betrekking tot taal, tegnologie en die reg is ’n belangrike tema in die Suid-Afrikaanse konteks. Alvorens enige praktiese oplossings vir taalhindernisse in die regsdomein in Suid-Afrika oorweeg kan word, is dit nodig om ’n aantal belangrike konsepte kortliks te bespreek.

Die drie konsepte wat ’n mens nie moet onderskat nie, word reeds in die titel aangedui: taal, regte en tegnologie. In bepaalde opsigte verskil hierdie konsepte heeltemal van mekaar en op ander maniere stem hulle ooreen. As ’n mens kyk na taal, is dit belangrik om te onthou dat elke individu se verhouding met taal, en in besonder met dit wat hy as sy taal beskou, uiters kompleks is. Taal is integraal deel van komplekser idees soos identiteit en sosiale samehorigheid. Daar bestaan selfs ’n veld soos linguistiese relatiwiteit1 waarin gemeen word dat ’n spesifieke taal ’n invloed kan hê op die manier waarop jy dink en waaraan jy dink. Hoe jy jou taal gebruik, of nie gebruik nie, is baie keer bloot prakties, maar kan vir ander mense iets sê oor waarmee jy identifiseer of nie identifiseer nie. Die feit dat jy by die werk dalk slegs in Engels kommunikeer omdat almal se moedertale verskil en almal wel Engels magtig is, is duidelik oorwegend ’n praktiese manier om taal te gebruik. Die feit dat jy dan by die huis slegs sê maar Siswati praat, dui wel reeds ’n aspek van ’n persoon se identiteit aan.

Die tweede belangrike konsep is regte, oftewel die reg. Oor die algemeen simboliseer ’n regstelsel vir mense dit wat reg is, die feit dat daar wet en orde is en dat dit gehandhaaf moet word. Daar bestaan wetgewing, prosedures en strawwe om seker te maak dat mense wat sekere reëls oortree, vervolg word of gekeer word om reëls verder te oortree. Konsepte soos die sosiale kontrak en rule of law staan sentraal tot ons regstelsel. Mense het oor die algemeen begrip daarvoor dat jy nie net mag doen wat jy wil wanneer jy wil nie, want daar is ander mense om in ag te neem. Sonder dat ons dit besef, speel regsfaktore deurlopend ’n rol in ons daaglikse lewe. Elke keer as jy inkopies doen, gaan jy ’n kontrak aan: As jy ’n bottel melk van die rak afhaal en jy gaan betaal by die kasregister geld daarvoor, is dit ’n kontrak wat jy sluit.

Vir sommige mense kan die reg ook regverdigheid verteenwoordig. Regverdigheid is ’n konsep waarmee baie mense grootword. As sussie ’n R 500-geskenk vir Kersfees kry, moet boetie ook ’n R500-geskenk kry, anders is dit nie regverdig nie. Die uiteindelike funksie van die reg het egter meer te doen met die oordeelkundige toepassing van wette, die gemenereg en kontrakte as wat dit noodwendig met geregtigheid te doen het. Die handhawing van regverdigheid is nie noodwendig die primêre funksie van die reg nie. Die optimale funksionering van die reg, en meer spesifiek wette, die gemenereg, die gewoontereg en kontrakte is direk verwant aan die mate van toegang wat die partye, soos privaat persone of maatskappye, het. Dit help byvoorbeeld nie daar bestaan ’n wet oor maatskaplike hulp wat stipuleer dat X om ’n sekere rede geregtig is op ’n toelaag terwyl X nie noodwendig kan lees of daarvan vertel word nie. Dieselfde beginsel geld met betrekking tot iemand wat ’n dienskontrak onderteken het, maar nie kan lees nie. Tot watter mate het so ‘n persoon uiteindelik toegang tot die reg? Dieselfde vraag oor toegang kan oor die aard van die konsultasieproses gevra word. Indien ’n bejaarde kliënt na ’n prokureur toe gaan en haar eerste taal is Tshivenḓa en sy het geen basiese kennis van Engels nie, maar die prokureur hou vol om met haar slegs in Engels te konsulteer en haar hofdokumente slegs in Engels op te stel, hoeveel toegang het sy tot die reg?

Die derde konsep waaroor ons meer duidelikheid moet kry, is tegnologie. Om te kan skryf, die gebruik van stoomaangedrewe enjins en die opwekking van elektrisiteit is alles voorbeelde van tegnologie. Uiteindelik lei die bemeestering van tegnologie tot toegang tot inligting of metodes waartoe toegang voorheen nie moontlik was nie. Tegnologie is iets waarmee ons almal deesdae oorbekend is, want dit stel baie van ons in staat om ons werk te doen en selfs meer van ons in staat om met familie en vriende in verbinding te bly. Dit kan sonder veel teenkanting gesê word dat die huidige wêreldwye pandemie baie van ons se tegnologiese emigrasie versnel het. As ons praat van tegnologie, kom platforms soos Skype, WhatsApp en Zoom dadelik by ’n mens op. Die waarde en noodwendige voordele en nadele van sulke platforms is ook nie onbekend nie.

Die vierde aspek wat nie verduidelik hoef te word nie, maar wel ’n kernrol speel en in gedagte gehou moet word by enige bespreking van die regsaspekte in Suid-Afrika, is Suid-Afrika self. Die diversiteit van uitdagings waarmee ’n land soos Suid-Afrika te kampe het, gee aanleiding tot ’n aantal gesprekke wat gevoer behoort te word – juis soos vandag sʼn.

Figuur 1

Teen die agtergrond van al die relevante konsepte, en met Figuur 1 in gedagte, is dit moontlik om ’n aantal hindernisse of uitdagings in die Suid-Afrikaanse konteks te identifiseer. Wanneer hindernisse of praktiese oorwegings in die regsdomein bespreek word, is toegang tot enige vorm van regshulp in Suid-Afrika vanselfsprekend deel van die gesprek. As ’n mens toegang tot enige regsinligting of regshulp in die Suid-Afrikaanse konteks oorweeg, staan ons 11 amptelike landstale nie in isolasie van sosio-ekonomiese en maatskaplike faktore nie. Taal staan sentraal tot die problematiek in die Suid-Afrikaanse regsisteem, omdat taal die medium is waardeur mense hulleself uitdruk in wetgewing, maar ook om uiteindelik die regte hulp te ontvang. Die feit dat Suid-Afrika 11 amptelike tale en ’n aantal nie-amptelike tale het, kompliseer noodwendig die situasie ten minste elfvoudig. Die onderskeid tussen gesproke en geskrewe taal word ook belangrik, aangesien regsdokumente soos dagvaardings en verklarings deur die hele regsproses van belang is. Hoe gemaak in ’n land waar baie mense nie Engels magtig is of kan skryf of kan lees nie? Veral terwyl rekords vir ’n hof in Engels moet wees om aanvaar te word?

Tegnologie behoort so sentraal as moontlik te staan tot enige poging om mense toegang tot die reg te gee. Die probleem kom natuurlik in by die haalbaarheid van tegnologiese moontlikhede. Uiteraard sal ’n webtuiste waar regshulp oor skuldinvorderings of hoe om ’n saak in die hof vir klein eise te maak van onskatbare waarde wees vir baie mense. Vir selfs net so ’n webtuiste om toeganklik vir almal te wees, moet mense data kan bekostig, ’n toestel hê wat met die internet kan verbind, en ook bewus wees dat daar so ’n webwerf bestaan. Die webtuiste sal verder ten minste in al 11 amptelike landstale vertaal moet wees. Tegnologie is uiteindelik funksioneel net in soverre die teikengebruikers daarvan bewus is en dit kan gebruik.

Verder moet ons vra hoe prakties tegnologiese oplossings vir verskillende vlakke van ons samelewing is.

Weer eens kan ’n mens vra of almal toegang tot betroubare internetverbindings en toestelle het. Tegnologie in die vorm van webtuistes wat op datum gehou word, het die moontlikheid om mense ’n geleentheid te gee om vinniger en moontlik goedkoper toegang tot inligting te verkry. Die blote bestaan van iets aanlyn impliseer nie noodwendig voldoende toegang nie. Daar kan byvoorbeeld nie gesê word dat omdat die Wet op Tradisionele en Khoi-San-Leierskap (Wet 3 van 2019)2 aanlyn beskikbaar is, daar voldoende toegang daartoe is nie. Die Wet is slegs in Afrikaans en Engels beskikbaar; hoe toeganklik is dit dus vir almal wat daarby behoort te baat? Vertalingsagteware wat aanlyn beskikbaar is, soos Autshumato-masjienvertaling wat op SADiLaR se webtuiste beskikbaar is,3 sou as hulpmiddel gebruik kon word om toegang te verbeter. Tans kan die webdiens slegs Engelse invoer vat en die gebruiker kan slegs ’n masjienvertaalde weergawe in Afrikaans, Xitsonga, Setswana, isiZulu, Sesotho en Sesotho sa Leboa kry. Helaas is Authsumato nie ’n regsvertaler nie, maar slegs ’n masjienvertaler soortgelyk aan ’n diens soos Google Translate.

Die reg is ’n spesialisveld, soos ornitologie, wiskunde en verloskunde. Om tegnologie-oplossings vir die regsdomein te ontwikkel, moet die basis eers bestaan, en daardie basis is taal, en dan meer spesifiek regstaal. In hierdie verband vervul SADiLaR ’n belangrike rol, aangesien ons ’n tweedelige doel nastreef. Die eerste doel is die digitisering en digitalisering van teks en spraak in al 11 amptelike landstale. Digitisering is die proses waardeur analoë bronne na digitale bronne omgeskakel word. Die skandering van ʼn manuskrip uit 1963 waardeur die analoë dokument na ʼn PDF- of JPEG-weergawe oorgeskakel word, is ʼn voorbeeld van digitisering. Digitalisering behels die proses waardeur die pas omgeskakelde PDF- of JPEG-weergawe van die manuskrip deursoekbaar en selfs meer toeganklik met behulp van metadata of kantnotas gemaak word. Die tweede doel is om digitale humaniora te bevorder. Digitale humaniora is ’n navorsingsveld waarin geesteswetenskaplikes aangemoedig word om interdissiplinêr te werk, met ’n sterk fokus op die kruisbestuiwing met inligtingtegnologie om vernuwende metodes vir die bestudering van taal daar te stel. Soos wat samewerking tussen taal- en rekenaarwetenskaplikes toeneem, so word die moontlikhede vir akkurate outomatiese transkribeerders moontlik. Die bevordering van die digitale teenwoordigheid van al 11 amptelike landstale is in den brede SADiLaR se doel.

Die moontlikheid van korpusse regstaal, in die vorm van dagvaardings, hofsake, betoë, aanmanings ens kan die manier waarop die regsberoep in Suid-Afrika beoefen word, radikaal verander. Outomatiese spraakherkenners, aanlyn vertalers en chatbots wat gratis regsdienste aanlyn verskaf, is beslis drome waarna ons kan en moet strewe. ’n Mens moet in hierdie verband altyd onthou dat enige soort tegnologie net so goed is soos die data waarmee dit afgerig word. As ’n mens byvoorbeeld ’n Engelse regsdokument probeer vertaal deur ’n masjienvertaler wat met Afrikaanse gedigte afgerig is, sal die resultate waarskynlik baie swak wees.

Ek wil graag afsluit met ’n belangrike idee wat ons in Suid-Afrika in gedagte moet hou. In ’n onlangse onderhoud4 oor sy nuwe boek Online courts and the future of justice beklemtoon Richard Susskind dat mense anders moet begin dink oor die reg. Die reg is eintlik ’n stelsel wat mense en partye toegang gee tot en geregtig maak op sekere goedere en dienste, eerder as wat dit maatreëls is wat verbied en straf. Die vraag wat in toekomstige gesprekke oor die tegnologiese oplossings vir taalhindernisse in die regsdomein gevra moet word, is hoe baie regte die mees weerlose mense verbeur omdat hulle nie op enige vlak toegang tot wetgewing het nie en hoe tegnologie gebruik kan word om toegang te bevorder.

 

Eindnotas

1 Everett, C. 2013. Linguistic relativity: evidence across languages and cognitive domains. Berlyn, Boston: De Gruyter Inc.

2 Traditional and Khoi-San Leadership Bill (B23-2015). 2019.

3 Authsumato. 2019.

4 Richard Susskind. How technology will change justice, 8 Januarie 2020.

 

Hierdie artikel is deel van die miniseminaar "Die Vierde Nywerheidsrevolusie" wat in samewerking met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV en Solidariteit Navorsingsinstituut aangebied word. Lees al die bydraes hier:

Miniseminaar: Die Vierde Nywerheidsrevolusie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top