Die Vierde Nywerheidsrevolusie verander die wêreld waarin ons werk

  • 1

Die vermoë om vinniger as jou mededinger te leer mag dalk jou enigste volhoubare, kompeterende voordeel wees (De Gues; 1988).

Die wêreld van werk, soos ons dit ken, is besig om tydens die Vierde Nywerheidsrevolusie onherroeplik te verander.

Almal in die wêreld is op soek na goeie werk. Jim Clifton, die voorsitter van Gallup, skryf in sy boek The coming jobs war dat om ’n goeie werk te skep moeilik is en baie leiers doen baie dinge verkeerd. Hulle ondermyn entrepreneurskap eerder as om dit te ontgin; hulle bestuur maatskappye met ’n depressiewe werksmag; en hulle laat die volgende generasie van werkskeppers in skole verrot (Clifton 2011).

Die werksmag in die volgende nywerheidsrevolusie sal hulleself relevant in die werkplek moet hou deur hulle besig te hou met voortgesette leer en lewenslange leer. Clifton voer aan dat daar ’n globale oorlog vir werk kom en ons moenie tyd mors nie (Clifton 2011).

Die Vierde Nywerheidsrevolusie

Volgens Klaus Schwab, die stigter en voorsitter van die Wêreld Ekonomiese Forum, bevind ons ons tans in die Vierde Nywerheidsrevolusie. Hierdie revolusie is besig om die maniere waarop ons lewe, werk en met mekaar vereenselwig fundamenteel te verander (Park 2016). Schwab het by die jaarlikse WEF-vergadering in Davos in 2016 gesê dat die fase nou begin en dit word gekenmerk deur ’n alomteenwoordige en mobiele internet (die internet van dinge) deur baie klein maar kragtige sensors, masjienleer en kunsmatige intelligensie (Prisecaru 2016).

Dawie Roodt, hoofekonoom en direkteur by die Efficient-groep, het tydens ’n onderhoud op PretoriaFM in Oktober 2019 aangevoer dat die mens en die wêreld se ekonomie en samelewing nog altyd geëvolueer het. Party lande het dit vinniger as ander gedoen, daarom dat daar sulke kontraste wêreldwyd gevind word.

Verandering is nog altyd die kernaspek van die revolusies. Die mens het van die vroegste tye af met diere- en mannekrag gewerk. Enige werk wat gedoen moes word, is so verrig. Daar moet in gedagte gehou word dat deur elke revolusie metodes verbeter is om dit vir die mens gemakliker te maak (Schwab 2017).

Kenmerke van die onderskeie nywerheidsrevolusies

Tabel 1. Die kenmerke van die nywerheidsrevolusies

Tydperk

Oorgangs-periode

Energiebron

Tegniese deurbraak

Ontwikkelde industrie

Vervoer

1760–1900

1860–1900

Stoom en meganisasie

Stoomenjin

Tekstiel en staal

Trein

1900–1960

1940–1960

Olie, elektrisiteit

Brandenjin

Outomasjien-bou

Trein en kar

1960–2000

1980–2000

Natuurlike gas en kernenergie

Rekenaars en robotte

Outomatisasie en chemici

Kar en vliegtuig

2000–...

2000–2010

Groen energie

Internet, 3D-druk-werk genetika

Hoëtegnologie- industrie

Elektriese kar outonome motors

 

Prisecura (2016), Park (2016), Penprase (2018), Veza, Mlandineo, Peko (2015), Davis (2016) en Schwab (2016)

Die omvang van hierdie nywerheidsrevolusie moet nog begryp en verstaan word. Daar is oneindige moontlikhede deur dat miljarde mense met mekaar verbind is deur middel van hulle fone en sosiale netwerke. Dit gee die mense baie mag in terme van verbruik en sosiaal verkeer (Davis 2016). Groot verskuiwings vind plaas in industrieë. Besighede wêreldwyd begin nuwe besigheidsmodelle implementeer en die ontwrigting wat plaasvind in onder ander produksie, verbruik, vervoer, kommunikasie en aflewering is weens sisteme wat vinnig verander (Schwab 2016).

Sommige akademici meen dis steeds ’n uitvloeisel van die 3IR (Derde Industriële Revolusie), maar Schwab meen ons is reeds in die Vierde Nywerheidsrevolusie en voer drie redes aan:

  1. Die tempo waarteen dinge gebeur (en die ongekende verbintenis tussen mense en tegnologie wat ontwikkel maak dit net nog vinniger).
  2. Die diepte en breedte van die impak (op ekonomie, besigheid, samelewing en individue; en dit gaan nie net meer oor wat en hoe nie, maar oor wie ons is).
  3. Die impak op sisteme (transformasie van alle sisteme op daaglikse vlak).

Alle ontwikkelings en tegnologieë het een kenmerk gemeen: Hulle maak gebruik van die ongelooflike krag van digitalisering en informasietegnologie (Schwab 2016, Dehaze 2016).

Die impak op veral drie gebiede

Volgens Schwab (2016) staan daar drie tegnologie terreine uit wat dopgehou moet word:

  1. Die fisiese (bestuurderlose motors, 3D-drukwerk, robotika en materiaalontwikkeling).
  2. Die digitale (alles is verbind: produkte, dienste en plekke is verbind aan mense).
  3. Die biologiese (genetika).

Hier kan die voorbeeld van Uber gebruik word. Die motor is die fisiese masjien, of hy nou ’n bestuurder het of nie. Die biologiese deel is die mens wat vervoer moet word van punt A na B. Die digitale app met behulp van tegnologie en die internet verbind die twee en die proses kan plaasvind. Uber word saam met ander nuwe uitvindsels soos Airbnb en Tripadvisor gegroepeer.

Kantelpunte

Judith Magyar, senior direkteur van die SAP Business Software-groep het tydens die byeenkoms in Davos ’n paar kantelpunte genoem. Die navorsing is onder 800 sakeleiers in die wêreld gedoen (Magyar 2016)

Kantelpunte wat bereik gaan word teen 2025:

  • 91,2% kans dat 10% mense klere dra wat aan internet gekoppel is
  • 91% kans dat 90% mense onbeperkte en gratis stoorplek het
  • 89% van die sakeleiers glo dat 1 triljoen sensors aan die internet gekoppel sal wees
  • 86,5% van die sakeleiers glo dat die eerste robotapteker in Amerika teen 2025 sal werksaam wees
  • 85,5% van die sakeleiers glo dat 10% leesbrille aan die internet gekoppel sal wees
  • 84,4% van die sakeleiers glo dat 80% van mense met digitale teenwoordigheid op internet
  • 84,1 % kans dat eerste 3D-gedrukte motor in produksie is
  • 82,9% kans dat eerste regering sensus vervang met grootdatabronne
  • 78% kans, drywerlose motors maak 10% van alle motors uit in Amerika
  • 45% kans, die eerste KI-masjien op direksie.

Verder sal die tegnologiese revolusie ’n reuse-impak hê op ekonomiese, sosiale en kulturele vlak. Die potensiële impak op ekonomie, besighede, regerings, lande, gemeenskappe en individue is ongekend. Die resultaat sal bemagtiging wees. Hoe die staat met sy burgers verband hou, hoe maatskappye met hulle werkgewers verband hou, en met belangegroepe en kliënte. Schwab (2016) voer breedvoerig die impak aan. Vir die doel van die artikel val die fokus eerder op die werksmag en die belangrikheid van lewenslange leer in die Vierde Nywerheidsrevolusie.

Indiensneming en die wêreld van werk

Die Vierde Nywerheidsrevolusie gaan veral ’n groot impak hê op die werksmag in terme van indiensneming, arbeidsvervanging en die impak op vaardighede (Schwab 2016).

Daar gaan ’n negatiewe impak op kort termyn wees wat indiensneming aanbetref. Maar die vrese van indiensneming kom deur al die revolusies, en die mensdom kon nog altyd aanpas en bybly. Die argument dat rekenaars sekere werke oorneem, kan nie vermy word nie, maar nuwe tegnologie bring ook nuwe moontlikhede (Hirschi 2018, Schwab 2016).

Een ding is seker: Die nuwe tegnologie gaan die aard van werk drasties verander soos wat ons dit nou ken regoor verskeie velde.

Die een onsekerheid handel oor die mate waarin outomatisasie arbeid sal vervang. Hoe lank sal dit neem, en hoe ver sal dit gaan?

Daar is twee effekte wat tegnologie op indiensneming het. Daar is ’n vernietigende effek as tegnologies gedrewe ontwrigters en outomatisasie arbeid vervang. Dan is daar die vernietigende effek word vergesel met kapitalisasie waar die vraag na nuwe goedere en dienste toeneem en lei tot nuwe besighede en industrieë (Schwab 2016).

Die sleutel is tydsberekening en die mate waarin die kapitalisasie-effek, soos hierbo genoem, die vernietigende effek gaan vervang en hoe vinnig die vervanging sal gebeur. Hierdie veranderinge kan lei tot die eliminering van duisende beroepe, maar kan ook lei tot die ontstaan van nuwe beroepe (Brynjolfson en McAfee 2014).

Mense is hier ook in twee kampe. Party glo in die gelukkige einde waar nuwe tegnologie nuwe werke skep en mense daardie arbeidsrol vervul en dat tegnologie voorspoed bring. Ander glo dat dit ’n magtige impak op sosiale en politieke vlak gaan veroorsaak wat grootskaalse werkloosheid gaan veroorsaak. Geskiedenis wys ons gaan iewers in die middel wees. Die vraag is, wat gaan ons doen? (Kyk Schwab 2016, Hirschi 2016, Frey en Osbourne 2013).

Baie meganiese herhalende werk en presisiewerk is al geoutomatiseer en baie gaan nog volg soos wat rekenaars slimmer raak. Baie poste of beroepe sal in die toekoms vervang word. Die een waarheid is wel dat die 4IR minder werkgeleenthede gaan skep as ander revolusies.

Volgens Schwab (2016) sal sekere poste outomatiseer, ander sal stabiel bly, terwyl sommiges kan verdwyn.

Poste wat gaan outomatiseer:

  • Telebemarkers
  • Belastingvoorbereiders
  • Versekeringwaardeerders
  • Skeidsregters en ander sportbeamptes
  • Regsekretaresses
  • Restaurantgashere of -vroue
  • Eiendomsagente
  • Plaasarbeiders
  • Sekretaresses en administratiewe assistente

Poste wat die minste gaan outomatiseer:

  • Maatskaplike werkers
  • Koreograwe
  • Dokters
  • Sielkundiges
  • Menslike hulpbronne
  • Rekenaaranaliste
  • Argeoloë
  • Verkoopsbestuurders
  • Uitvoerende hoofde.

Nuwe moontlike beroepe, waarvan party alreeds in plek is:

  • Dataontleders (Reeds in plek)
  • KI-spesialiste
  • Nuwe bestuur in nuwe industrieë
  • Massadataspesialiste
  • Digitale-transformasie-ontleders
  • Organisasieontwerpers
  • Ontwikkelaars van nuwe sagteware
  • Bestuur van outomatisering van prosesse
  • Innovasiespesialiste (Nuut, maar word reeds in plekke soos banke en finansiële instellings gevind)
  • E-handel- en sosialemediaspesialiste (In die verlede was dit verkoopspersone, hulle fokus gaan skuif na totale digitalisering)
  • Fasiliteerders in opleiding en ontwikkeling
  • Robotika en ingenieurswese
  • Digitale bemarking

Ons sit nie met ’n “mens vs masjien”-dilemma nie. Die kombinasie van digitale, fisiese en biologiese tegnologie wat die voortdurende veranderinge bestuur, sal dien om menslike arbeid en kognisie te verbeter, wat beteken dat leiers in werksmagte moet voorberei en opvoedingsmodelle moet ontwikkel word om saam te werk, en saam met al hoe meer bekwame en intelligente masjiene (Romero, Stahre, Wuest, Noran, Bernus, Berglund en Gorecky 2016). Bogenoemde kan nooit en mag nooit vermy word nie. Die persoon wat in ’n bestaande pos gesetel is, sal waarskynlik ’n klein verskuiwing moet deurgaan om relevant in die werkplek te bly. 

Vaardighede en leer 

Volgens Klaus Schwab moet werknemers reeds teen vanjaar (2020) oor sekere belangrike vaardighede beskik. Die poste wat nie geraak word nie, gaan vereis dat ekstra vaardighede benodig gaan word. Hierdie vaardighede sluit in: probleemoplossingsvaardighede, besluitneming en oordeel, emosionele intelligensie, kliëntediens, bestuur en motivering, interpersoonlike vaardighede, kreatiwiteit, kritiese denke, kognitiewe buigsaamheid en onderhandelingsvaardighede (Grey 2016).

Ons staar kompleksiteit en spesialisasie in die gesig en het te doen met ’n begeerte vir betekenisvolle betrokkenheid. Veral onder die jeug. Die jeug is oral verbind en wil nie teruggehou word in die wêreld van werk nie; hulle soek ’n betekenisvolle en harmonieuse werkslewe-integrasie (Schwab 2016).

’n Graad gaan steeds ’n gesogte kommoditeit wees en dit sal in die nabye toekoms so bly, maar dit gaan dalk in die arbeidsmark van die toekoms nie meer die alfa en die omega wees nie. Die wêreld se voorste tegnologie-entrepreneur, Elon Musk, het verklaar dat grade nie ’n voorvereiste is om groot hoogtes te bereik nie. Hy sê die belangrikste is ontwikkeling en die instandhouding van die relevante vaardighede om aan te hou presteer. Omdat grade in tegniese dissiplines vinnig uitgedien raak as gevolg van die vinnig-ontwikkelende aard van die sektor, is lewenslange leer kritiek (Patterson 2018).

Lewenslange leer is die voortdurende, vrywillige en selfgemotiveerde nastrewe of voortsetting van kennis, of dit nou vir professionele hoedanigheid of persoonlike hoedanigheid is (Laal 2011). Daarom verbeter dit nie net sosiale inklusiwiteit, aktiewe burgerskap en persoonlike ontwikkeling nie, maar ook self volhoubaarheid, kompeterendheid en indiensneembaarheid.

Die vier pilare van lewenslange leer is basiese onderrig, hoër onderrig, voortgesette opleiding en ontwikkeling en heropleiding. Dit sluit ook in die leer om te weet, te doen, te weet en met ander saam te leef (Terziev 2017).

Die wêreld transformeer teen ʼn geweldige tempo en dit geld ook vir die metodes van leer, veral in die werkplek. In die verlede het die werkgewer werksverwante opleiding aangebied om werk makliker gedoen te kry. Deesdae word voortgesette leer die norm in groot maatskappye. Maatskappye begin stadig maar seker ’n leerkultuur vestig wat met hul langtermyndoelwitte belyn is.

Opleiding sal vervang word met digitale leer. Dié opleiding sal ontwerp word om te pas by die werknemer wat daardie kennis of vaardigheid moet opdoen. Om by digitale leer in te koop en te bly leer moet werknemers se digitale ervaring gemaklik wees.

Hoewel mense steeds kreatief, sosiaal, mobiel en fisiek handvaardig is, moet hierdie menslike eienskappe wat nooit gaan verdwyn nie, met die nuwe tegnologie verweef word (Paterson 2019).

Die futuris Alvin Toffler het reeds in sy boek Future shock, wat in 1970 gepubliseer is, gesê: “The illiterate of the 21st century will not be those who cannot read and write, but those who cannot learn, unlearn and relearn.”

Daar is net een antwoord vir lewenslange verandering en dit is lewenslange leer.

 

Bronne

Bryanjolfsson, E en DT McAfee. 2014. The second machine age: Work, progress and prosperity in a time of brilliant technologies. New York: Norton

Clifton, J. 2011. The coming jobs war. New York: Gallup Press.

Davis, N. 2016. What is the fourth industrial revolution. https://www.weforum.org/agenda/2016/01/what-is-the-fourth-industrial-revolution? (23 Februarie 2020 besoek).

De Geus, Arie. http://statusmind.com/smart-quotes-352 (25 Februarie 2020 besoek).

Dehaze, A. 2016. How will technology change the future of work? World Economic Forum, Davos.

Frey, CB en MA Osborne. 2013. The future of employment: How susceptible are jobs to computerastion? https://www.oxfordmartin.ox.ac.uk (25 Februarie 2020 besoek).

Gray, A. 2016. The 10 Skills you need to thrive in the Fourth Industrial Revolution. https://www.weforum.org/agenda/2016/01/the-10-skills-you-need-to-thrive-in-the-fourth-industrial-revolution (26 Februarie 2020 besoek).

Hirschi, A. 2018. The fourth Industrial Revolution: Issues and mplications for career research and practice. The Career Development Quarterly, 66(3):1–20.

Laal. M. 2011. Lifelong learning: What does it mean? Elsevier 28:470–4.

Maygar, J. 2016. Will the Fourth Industrial Revolution improve the state of the world? The fourth industrial revolution, World Economic Forum, Davos, 22 Januarie.

Park, H. 2016. Are we ready for the Fouth Industrial Revolution? The Yearbook of Medical Informatics, 25(1):1–3.

Paterson, J. 2019. Report: Graduates need mix of human, tech and business skills. https://www.educationdive.com/news/report-graduates-need-mix-of-human-tech-and-business-skills/550702 (26 Februarie 2020 besoek).

Penprase, BE. 2018. The Fourth Industrial Revolution and higher education. https://link.springer.com/chapter/10.1007/978-981-13-0194-0_9 (25 Februarie 2020 besoek).

Prisecaru, P. 2016. Challenges of the Fourth Industrial Revolution. Knowledge Horizons, 8(1):57–62.

Romero, D, J Stahre, T Wuest, O Noran, P Bernus, A Berglund en D Gorecky. Towards an operator 4.0 typology: A human-centric perspective on the Fourth Industrial Revolution technologies. https://www.researchgate.net/publication/309609488_Towards_an_Operator_40_Typology_A_HumanCentric_Perspective_on_the_Fourth_Industrial_Revolution_Technologies (26 Februarie 2020 besoek).

Schwab, K. 2017. The Fourth Industrial Revolution. New York: Crown Publishing Group.

Terziev. V. 2017. Research on the status of social entrepreneurship in Bulgaria. Journal of Innovations and Sustainability, 3(1).

Toffler, Alvin. http://statusmind.com/smart-quotes-352 (23 Februarie 2020 besoek).

 

Hierdie artikel is deel van die miniseminaar "Die Vierde Nywerheidsrevolusie" wat in samewerking met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV en Solidariteit Navorsingsinstituut aangebied word. Lees al die bydraes hier:

Miniseminaar: Die Vierde Nywerheidsrevolusie

  • 1

Kommentaar

  • Mnr Schwab praat myns insiens 'n klomp bollie. Die ganse artikel wentel om sy idees en persepsies. As mens kyk na poste wat ge-outomatiseer gaan word, kry ek groot lag. Skeidsregter - gaan 'n robot op die veld rondhardloop en fluitjie blaas - ha ha. Eiendomsagent - 'n robot klim uit sy robot batmobiel en neem jou rond in die huis - kom nou, kan mnr Schwab nie met iets beter tevore kom nie. Ai ja jai ... Ek sien geen 4de IR nie - alles wat nou aan die internet koppel, is maar 'n uitvloeisel van tegnologie wat al 20 jaar bestaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top