KI en stamselle of Karoo-skaaptjoppies? Enkele opmerkings oor kunsmatige vleisproduksie

  • 1

Foto: https://pixabay.com/photos/biology-research-laboratory-science-220005/

“In vitro meat is the edible muscle tissue produced by culturing through tissue engineering and computational simulation technology from stem cells in controlled cultures and physiological conditions in a laboratory.” – Singh, Verma ea (2022:2641)

 

Inleiding

Die produksie van kunsmatige vleis (ook bekend as laboratoriumgekweekte vleis, in vitro-vleis, selgebaseerde vleis, gekultiveerde vleis) is ’n onderwerp waaroor uiteenlopende menings en standpunte in die literatuur uitgespreek en onder die algemene publiek aangetref word.

Rorheim ea (2016) wys daarop dat miljarde diere jaarliks wêreldwyd onder industriële omstandighede vir vleisproduksie geteel word. Behalwe die uiters belangrike rol in terme van voedselvoorsiening en -sekerheid word boerderypraktyke met lewende hawe ongelukkig ook deur waarnemers geïdentifiseer as ’n belangrike oorsaaklike faktor by die ontstaan van pandemiese siektes by die mens, as ’n bedryf wat gepaard gaan met menslik toegediende pyn en lyding by diere en dat boerderymetodes sonder twyfel ’n bydraende rol in aardverwarming speel.

Ten einde hierdie uitdagings doeltreffend aan te spreek sou die ideaal wees om ’n totale wegbeweeg na vegetariese eetgewoontes en leefstyle aan te moedig. Dit is egter nie haalbaar nie, omdat die wêreldbevolking groot waarde heg aan vleisprodukte, veral wat kwaliteit, smaak en tradisie betref. Plantgebaseerde plaasvervangers vir vleis het met verloop van tyd ook nie werklik aan die verwagtinge voldoen nie.

..........
Die voorstanders van kunsmatige vleisproduksie (KVP) argumenteer dat hierdie vernuwende tegnologie ’n kritieke bydrae behoort te lewer ten opsigte van dierewelsyn en terselfdertyd  ’n positiewe impak op omgewingsbewaring en menslike gesondheid sal uitoefen.
...........

Die voorstanders van kunsmatige vleisproduksie (KVP) argumenteer dat hierdie vernuwende tegnologie ’n kritieke bydrae behoort te lewer ten opsigte van dierewelsyn en terselfdertyd  ’n positiewe impak op omgewingsbewaring en menslike gesondheid sal uitoefen.

Die eerste kunsmatig gekweekte hamburgervleis is in 2013 deur Mark Post en sy vaskulêre-fisiologie-navorsingsgroep aan die Universiteit van Maastricht bekendgestel (Schaefer en Savulescu 2014). Die Suid-Afrikaanse maatskappy Mzansi Meat het onlangs aangekondig dat hulle na twee jaar se laboratoriumnavorsing deesdae in staat is om voldoende in vitro-vleis vir ’n volle maaltyd te kweek.

Die metodologie van KVP is aanvanklik geïnspireer deur tegnieke in regeneratiewe geneeskunde waartydens beskadigde spierweefsel van pasiënte gerekonstrueer word, deur die benutting van die pasiënt se eie stamselle (Hocquette 2016).

Kortweg kom KVP daarop neer dat stamselle van ’n dier (intrasellulêre embrionale spierselle) deur middel van ’n biopsie verwyder word. ’n Delikate steierwerk (trabecula) word hierna ontwikkel deurdat ’n eetbare materiaal as medium gebruik word. Die medium is die bron van nutriënte, hormone en groeifaktore wat die potensiaal skep vir die stamselle om verder te ontwikkel. Die medium word een tot twee keer per week vervang. Spierselle word dus tot spiervesels getransformeer. Die aanspraak word gemaak dat die eindproduk gesond en vry van groeihormone is (Hocquette 2016; Jönsson 2016; Singh ea 2022).

............
Kortweg kom KVP daarop neer dat stamselle van ’n dier (intrasellulêre embrionale spierselle) deur middel van ’n biopsie verwyder word. ’n Delikate steierwerk (trabecula) word hierna ontwikkel deurdat ’n eetbare materiaal as medium gebruik word. Die medium is die bron van nutriënte, hormone en groeifaktore wat die potensiaal skep vir die stamselle om verder te ontwikkel.
...........

 

Gerieflikheidsteekproef

Ek het met ses plaaslike welmenende belangstellendes, bekend vir hul ewewigtige dog kritiese menings in die algemeen, oor hierdie onderwerp gesels.¹ Hul terugvoer (kortliks saamgevat) was soos volg:

  • Ek het geen probleem met kunsmatige vleisproduksie nie, net solank 'n kruisskyf soos die ware jakob smaak. Hoe gaan die boere/vleisprodusente hierdeur geraak word? Ek kan verstaan dat sommige persone hul moreel-etiese sienswyses huldig rondom die slag van diere, maar diere word al millennia lank gejag, geslag, geëet en benut vir voortbestaan in die voedselketting. Ek besef ook dat dinge verander en moderniseer, en dit moet, maar kunsmatige produksie moet toevoegend wees, nie algeheel vervangend nie. Dit sal goed wees om massas mense, en die wêreldbevolking wat met rasse skrede groei, van lewensbelangrike proteïne te voorsien.
  • Ek het na ’n program tydens 'n oggendradiogesprek hieroor geluister. Ek het egter nie verder daaroor gelees nie, dus beskik ek oor min kennis. Die konsep het vir my vreemd geklink. Ek neem ’n neutrale standpunt in. Ek is 'n diereliefhebber maar nie tot op 'n vegetariese standpunt/vlak nie. My siening en uitgangspunt is "live and let live", dit wil sê ek beoordeel nie mense oor die algemeen nie, insluitende hulle kosvoorkeure. Nugter alleen weet of die natuurlike vleis wat ek eet, my stilletjies doodmaak. Ons sluk pille wat kunsmatig in laboratoriums vervaardig word, maar die idee van kunsmatige vleis is op hierdie vroeë stadium nog baie vreemd.
  • Ek het op die internet gelees van laboratoriumgekweekte vleis (proteïen) en vind dit fassinerend as 'n manier om die voedselkrisis aan te spreek. Daar kan aangevoer word dat dit maar net nog 'n geldmaakoefening is, maar indien suksesvol, kan dit help om 'n werklike probleem op te los terwyl dit hoogs winsgewend kan wees. Vandag word baie natuurlike voedselprodukte in elk geval geneties gemodifiseer en dit het aanvaarbaar geword, ten spyte daarvan dat dit moontlike negatiewe gesondheidsimpakte kan hê. Ek is nie teen kunsmatige vleis om die massas te voed nie, maar glo dat dit aanvullend tot die natuurlike produk moet wees, mits dit nie nadelig vir 'n mens se gesondheid is nie. Ironies genoeg is baie plantgebaseerde produkte deesdae gegeur om soos natuurlike vleis te smaak. Sal ek kunsmatige vleis eet? Waarskynlik nie, al is daar geen natuurlike vleis op die planeet oor nie. Ek sal eerder oorskakel na 'n plantgebaseerde maaltyd waaruit voldoende proteïene verkry kan word. As iemand wat alles natuurlik verkies, kan ek beslis sonder die behoefte aan vleis oorleef (natuurlik of kunsmatig).
  • Ek het nou die dag 'n kort berig oor die radio daarvan gehoor en dadelik gedink dit kan tog nie werk nie, want geen kunsmatige produk kan 'n Karoo-skaaptjop of ’n lekker steak vervang nie. Die vogtigheid en vetgehalte van die kunsvleis sal nie kan byhou by sy natuurlike eweknie nie.
  • Ek het verskeie gesprekke op radio gehoor oor die onderwerp. Ek verkies egter natuurlike vleisprodukte. 'n Positiewe aspek vir die aarde se atmosfeer is dat die skadelike gasse soos metaangas (kweekhuisemissies) wat deur diere afgeskei word, sal verminder as die aanvraag vir natuurlike beesvleis sou afneem. Die kunsmatige vleisprodukte sal sekerlik deur persone verwelkom word wat om mediese redes of weens ander nie-etiese en etiese besware nie natuurlike vleis mag of wil eet nie. Ek weet egter nie wat die persepsies onder groepe met antivleisgeloofsoortuigings gaan wees nie. Ek kan ook nie onthou of die smaak in die gesprekke genoem is nie. Gaan dit 'n generiese vleissmaak wees of dierspesifiek? Hoe sal laboratoriumvark proe?
  • ’n WhatsApp-groep by ons kantoor het ’n artikel oor in vitro-vleis gesirkuleer. Die kommentaar was hoofsaaklik negatief van aard en het opmerkings ingesluit soos “cheap meat” en “I will rather change to vegetarian than putting lab grown meat in my body.” Gekultiveerde vleis herinner my aan die genetiese modifikasie van kosprodukte. Hoekom moet vrugte byvoorbeeld langer vars bly, groter groei en van kleur verander? Uit ’n ekonomiese oogpunt maak dit seker sin, maar nie uit ’n natuurlike vertrekpunt nie. Watter rol gaan genetiese modifikasie voortaan by KVP speel? Die oorbevolkte wêreld is ’n direkte oorsaak waarom kosbronne “gerek” en kunsmatig vervaardig moet word. Op godsdienstige gebied probeer die moderne mens “God speel”. Soos Scot Miller gesê het: “[A]ny flesh produced through a creative process that fundamentally takes control over outcomes and violates the natural process displays a lack of faith and stewardship.” Dus, my finale siening is dat die natuur sy onverstoorde gang moet gaan.

Volgens die terugvoer deur die groep (wat openbare persepsies verteenwoordig ten spyte van die selektiewe aard van die metode wat gevolg is om die terugvoer te verkry) blyk dit duidelik dat positiewe houdings teenoor KVP meestal gepaardgaan met spesifieke voorbehoude of selfs elemente van altruïsme, soos dat KVP dalk vernuwende oplossings kan bied om die universele voedseltekorte doeltreffend aan te spreek en dat dit uitkomste kan bied aan individue wat om uiteenlopende redes nie natuurlike vleis mag eet nie. Negatiewe houdings (skeptisisme) hou veral verband met ernstige twyfel oor die smaakkwaliteit, vogtigheid en vetgehalte van die produkte; onsekerheid oor die bydraende rol van genetiese modifikasie; die moontlikheid van gesondheidsrisiko’s; sowel as botsings met die moreel-etiese oortuigings van spesifieke geloofsgroepe.

 

Moreel-etiese kwessies

In terme van etiese moreel-besluitneming word die beskouing gehandhaaf dat KVP inherent disrespekvol teenoor die natuur in die algemeen asook die diereryk op sigself is (Schaefer en Savulescu 2014). Dit is veral die natuurlike verhouding tussen die mens en vleisproduserende diere wat in die gedrang kom. Respek vir die natuurlike verhouding word veral deur sekere godsdienstige tradisies soos Confucianisme en Hindoeïsme streng gehandhaaf. Om vleis te eet is toelaatbaar in soverre erken word dat vleis deel vorm van ’n groter patroon van interafhanklikheid en onderlinge inskakeling by die groter natuurwêreld. Die balans tussen tegniese manipulasie en ’n waardebeginsel van nie-opdringbaarheid aan die natuurlike omgewing moet te alle tye gehandhaaf word. KVP word hiervolgens beskou as ’n ondermyning van die mens se verhouding met die natuur. Dit behels die vervanging van interafhanklikheid van mens en natuur met totale onafhanklikheid van die mens. Die mens is dus nie meer van die natuur afhanklik vir sy voortbestaan nie, maar is in staat om sy noodsaaklike voedingstowwe onafhanklik in die laboratorium te sintetiseer.

Die standpunt om stamselle uit ’n natuurlike dier te onttrek vir doeleindes van KVP, impliseer dat die skenkerdier nie met die nodige respek en deernis hanteer word nie, veral omdat die dier misbruik en aan die mens se eie behoeftes onderwerp word.

 

Bedryf- en navorsingsuitdagings

Ellis (2019) noem dat die belangrikste tegniese uitdagings van KVP in terme van kommersiële sukses die koste, smaak en tekstuur van die produkte is. Die produkte is dus meer geskik vir ongestruktureerde toepassings soos worsprodukte, hamburger- en knoetsvleis (nuggets). Hierdie hindernisse behoort egter tydelik van aard te wees en sal na alle waarskynlikheid uit die weg geruim word deur groot bedrae geld wat voortaan in die bedryf belê word. Die proses is onomkeerbaar en uiteindelik sal ’n oorweging om laboratoriumgekweekte vleis te koop, te eet of te boikot neerkom op moreel-etiese besluitneming.

Rorheim ea (2016) wys op spesifieke uitdagings waarvoor die kunsmatige vleisproduksiebedryf tans te kampe het. Enkele aspekte is die volgende:

  • Die mees basiese biotegnologiese navorsing oor die massaproduksie van gekultiveerde vleis moet nog gedoen word, insluitende navorsing oor sellyne (cell lines) en die kwaliteit van kultuurmedia. Daar is min akademiese departemente wat hoofsaaklik op navorsing en ontwikkeling van “biofabrikasie” of “sellulêre landbou” fokus, met die gevolg dat navorsingsbefondsing tans steeds baie skraps is.
  • Die feit dat KVP ’n relatief jong wetenskap is, beteken dat die voedselbedryf se regulatoriese funksies tans onvoldoende is.
  • Onsekerheid oor die rol wat genetiese modifisering veral gedurende die beginfases van die produksieproses gaan speel en wat gevolglik nie as ’n moontlike hulpmiddel uitgeskakel kan word nie.
  • Daar word geraam dat die energieverbruik van KVB besonder hoog gaan wees, ten spyte van minder grondoppervlakte en laer watergebruik wat benodig word in vergelyking met tradisionele vleisproduksie. (15 000 liter water word benodig om 1 kg natuurlike vleis te produseer – kyk Chriki en Hocquette 2020.)
  • Die kostefaktor wat produksie betref, is betreklik hoog, veral indien die staatsubsidies van tradisionele vleisproduksie in aanmerking geneem word. In 2015 is aangekondig dat die koste van gemaalde gekultiveerde beesvleis onder optimale laboratoriumtoestande ongeveer 60 euro per kilogram behoort te beloop. Dit kom neer op ’n hoogs beduidende prysdaling sedert 2013 toe die koste van die eerste eksperimentele in vitro-hamburger 650 000 euro per kilogram beloop het.

 

Die toekoms

Wat die pad vorentoe betref, behoort die openbare bewustheid in verband met die KVP-proses aktief bevorder te word. Meer navorsingsinstitute en akademiese departemente met ’n fokus op navorsing en ontwikkeling behoort van stapel gestuur te word. Terselfdertyd moet deeglike beplanning gedoen word oor doeltreffende kontrole oor en regulatoriese beheer van hierdie bedryf. Watter tipe dierevleis is byvoorbeeld toelaatbaar om kunsmatig te kweek? Die huidige stand van sake in Suid-Afrika in verband met die produksie van gekultiveerde vleis, asook die toekomstige scenario’s en etiese implikasies, behoort omvattend nagevors te word.

..........
Wat die pad vorentoe betref, behoort die openbare bewustheid in verband met die KVP-proses aktief bevorder te word. Meer navorsingsinstitute en akademiese departemente met ’n fokus op navorsing en ontwikkeling behoort van stapel gestuur te word. Terselfdertyd moet deeglike beplanning gedoen word oor doeltreffende kontrole oor en regulatoriese beheer van hierdie bedryf. Watter tipe dierevleis is byvoorbeeld toelaatbaar om kunsmatig te kweek? Die huidige stand van sake in Suid-Afrika in verband met die produksie van gekultiveerde vleis, asook die toekomstige scenario’s en etiese implikasies, behoort omvattend nagevors te word.
...........

Ten slotte is daar baie aspekte in verband met KVP wat in hierdie bondige artikel nie aangeraak is nie, soos ’n markanalise, toeaslike wetgewing, verbruikerspersepsies en godsdienstige beskouings soos die voorbereiding van gekultiveerde vleis in terme van halaal- of kosjervereistes. Wat halaalvereistes betref, kan slegs die stamselle van ’n dier wat op die halaalwyse geslag is onttrek word en geen bloed of serum mag in die kweekproses gebruik word nie (Chriki en Hocquette 2020). En wat sou die Kwakergemeenskap of die Mormoonse standpunt oor KVP behels?

Ek stem in beginsel saam met Kaplan (2022:8): “There is a lot to do before cellular agriculture becomes commonplace as an alternative to traditional livestock-grown meat. It is currently expensive, requires special facilities, and is not able to produce meat on the same scale as conventional farming.”

Baie water moet nog in die see loop voordat die laaste gesang oor die tegniese, regulatoriese en moreel-etiese aspekte van kunsmatige vleisproduksie gesing word.

 

Eindnotas

¹ Die onderstaande semigestruktureerde gespreksraamwerk is aan ses respondente elektronies gestuur op grond waarvan hul terugvoer verkry is:

Ek beplan om ’n artikel te skryf oor die kunsmatige produksie van dierevleis in die laboratorium. Plaaslik in SA word reeds ten minste een so ’n produksieproses bedryf, en wêreldwyd is meer as 100 soortgelyke projekte bekend. Die proses is onder andere bekend as cultivated meat, lab grown meat en cell-based meat. Ek beplan om die klem te plaas op die moreel-etiese aspekte van die proses. Ek benodig gevolglik die anonieme response van ’n gerieflikheidsteekproef. Die response sal opsommenderwys in die inleiding van hierdie artikel ingesluit word. Dit maak die onderwerp onmiddellik meer aktueel vir die lesers. Ek sal dit baie waardeer indien jy kortliks op die volgende drie vrae kan antwoord en jou response vir my terugstuur: 1. Op watter wyse het jy inligting bekom in verband met hierdie tegniek? Byvoorbeeld ’n radiogesprek/koerantartikel, vakkundige tydskrif / gesprek met ń kundige / beskik oor geen of min kennis / stel nie belang in onderwerp nie (ensovoorts). 2. Wat is jou standpunt oor die moreel-etiese implikasies van kunsmatige dierevleisproduksie? Positief / negatief / neutraal / verkies om geen respons te lewer nie / onseker / weet nie presies hoe om die tegniek te beoordeel nie (motiveer kortliks jou standpunt). 3. Enige verdere algemene opmerkings, bv wat sou die implikasies van kunsmatige vleisproduksie kon wees vir vegetariërs, pasiënte met sekere gesondheidstoestande of godsdienstige groeperinge? Voorlopig, baie dankie vir jou terugvoer. Dit word baie waardeer.

 

 

Bibliografie

Chriki, S en J-F Hocquette. 2020. The myth of cultural meat: A review. Frontiers in Nutrition, 7 Februarie, ble 1–9. https://doi.org/10.3389/fnut.2020.00007. Frontiers | The Myth of Cultured Meat: A Review | Nutrition (frontiersin.org).

Hocquette, J-F. 2016. Is in vitro meat the solution for the future? Meat Science, 120:167–76.

Jönsson, E. 2016. Benevolent technotopias and hitherto unimaginable meats: Tracing the promises of in vitro meat. Social Studies of Science, 46(5):725–48. http://www.jstor.org/stable/26107037.

Kaplan, D. 2022. Cultivated meat. Tufts University Health & Nutrition Letter, 40(2):8, April, Gale Academic. OneFile, link.gale.com/apps/doc/A697364402/AONE?u=27uos&sid=bookmark-AONE&xid=15351cee. 3 Mei 2022 geraadpleeg.

Rorheim, A, A Mannino, T Baumann en L Caviola. 2016. Cultured meat: an ethical alternative to industrial animal farming. Policy paper by Sentience Politics, 1:1–14.

Schaefer GO en J Savulescu. 2014. The ethics of producing in vitro meat. Journal of Applied Philosophy, 31(2):188–202. doi:10.1111/japp.12056.

Singh, A, V Verma, M Kumar, A Kumar, D K Sarma, B Singh en R Jha. 2022. Stem cells-derived in vitro meat: from petri dish to dinner plate, Critical Reviews in Food Science and Nutrition, 62(10):2641–54. doi: 10.1080/10408398.2020.1856036.

Lees ook:

LitNet: KI-metgeselle en -gedigte

Die eerste KI-gedig in Afrikaans: "Silwerwit in die soontoe"

Afrikaans se eerste KI-gedigte

Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld

Hulpvaardige kubernetiese skilpaaie: Kunsmatige Intelligensie en robotte in en om die huis

Kunsmatige intelligensie

  • 1

Kommentaar

  • Charl Cilliers

    Nogmaals het die skrywer 'n insiggewende onderwerp gekies wat duidelik nog baie navorsing vereis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top