Hulpvaardige kubernetiese skilpaaie: Kunsmatige Intelligensie en robotte in en om die huis

  • 0
Inleiding

Kunsmatige Intelligensie (KI) het meer van ’n alledaagse verskynsel in mense se lewens geword as wat ons altyd besef. Woordverwerkingprogramme soos Microsoft Word en Google Docs gebruik byvoorbeeld KI om grammatika te kontroleer, Google-soektogte word deur KI uitgevoer, en digitale assistente soos Apple Siri, Google Assistant en Amazon Alexa gebruik KI om natuurlike taal te herken sodat hulle opdragte kan uitvoer. Saam met KI het ook robotte oor die afgelope dekade meer algemeen geword, wat die onderwerp van die huidige artikel is.[1]

Die huidige artikel bespreek die geskiedenis en huidige mark rondom diensrobotte in en om die huis: robotte wat praktiese take verrig soos skoonmaak, grassny en onkruid verwyder. Anders as hoe huishoudelike diensrobotte in byvoorbeeld The Jetsons gekonseptualiseer is, neem hierdie robotte vandag die vorm van ’n skilpad aan: klein, ronde of ovaalvormige, stadigwerkende robotte wat met tyd en met so min as moontlik ontwrigting probeer om die mens behulpsaam te wees.

Robotte in die huis

In die laat 1940’s het die Britse neurofisioloog W Gray Walter probeer om masjiene te bou wat soos biologiese organismes sou optree. Hy het Elmer en Elsie, ’n paar kubernetiese skilpaaie, in 1949 bekendgestel (Holland 2003:351). Hul name is ’n akroniem van ELectro MEchanical Robots, Light Sensitive, with Internal and External Stability (Walter 1950:43). Die robotte kon “sien” deur middel van ’n roterende fotosel wat hulle na ’n ligbron gestuur het, maar as die lig te helder was, sou hulle terugtrek en voortgaan met hul “verkenning” in ’n nuwe rigting. Wanneer hulle struikelblokke raakgeloop het, het ’n raaksensor hulle genoop om van koers te verander, en op hierdie manier het Elmer en Elsie hul omgewing stadig “verken” (Walter 1950:44–5). Wanneer hulle batterye pap geword het, het hulle ook na basisstasies teruggekeer om te herlaai, en sodra hulle klaar gelaai was, sou hulle outomaties weer gaan “verken” (Walter 1950:45). Walter se amptelike naam vir dié “spesie” was Machina speculatrix (Testudo), “because they illustrate particularly the exploratory, speculative behavior that is so characteristic of most animals” (Walter 1950:43). Testudo beteken “skilpad”. Elmer en Elsie het in werklikheid net rondbeweeg, maar sou later die inspirasie vir meer prakties-georiënteerde robotte word. In ’n opvolgeksperiment het Walter Machina docilis gebou, wat die geluid van ’n fluitjie gevolg het en sou “onthou” dat die fluitjie “lig” beteken (Walter 1951). Die twee oorspronklike skilpaaie is in 1951 uitmekaar gehaal en ses nuwes is gebou, waarvan enkeles vandag in museums bewaar word (Holland 2003:354). ’n Video van Elmer en Elsie kan hier gesien word.

Terwyl Walter se skilpaaie slegs rondbeweeg en “verken” het, het ander ontwikkelaars kort daarna die idee gekry om robotstofsuiers te vervaardig. In 1957 het Donald G Moore van Whirlpool ’n patent vir ’n robotstofsuier geregistreer wat in 1961 toegeken is (Moore 1961). Dit was deel van die beoogde RCA-Whirlpool Miracle Kitchen, waarvan ’n reklamevideo hier gesien kan word. Die idee het nie destyds gerealiseer nie.

Hedendaagse robotstofsuiers se vroegste direkte voorouer het ontstaan uit die Massachusetts Institute of Technology (MIT) se Kunsmatige Intelligensie Laboratorium, wat ’n geleentheid bekend as die KI Olimpiese Spele in 1989 aangebied het. Joseph Jones het by hierdie geleentheid die Rug Warrior gebou, wat bewys het dat die tegnologie vir ’n robotstofsuier toe reeds bestaan het, alhoewel die befondsing vir die ontwikkeling van ’n prototipe na ’n produk ontbreek het (Jones 2006).

In 1990 het Kobayashi ea (1992) van Panasonic ’n patent vir ’n robotstofsuier geregistreer wat in 1992 toegeken is, terwyl Electrolux ’n patent in 1996 geregistreer het wat in 1998 toegeken is (Kilstrom, Riise en Haegermarck 1998). Electrolux se robotstofsuier, Trilobite, is in 1997 vrygestel, en Kärcher het hulle RoboCleaner kort daarna vrygestel (Prassler ea 2000). Hierdie stofsuiers was egter nie kommersiële suksesse nie.

In 1999 het Joseph Jones van die genoemde Rug Warrior saam met Paul Sandin aan iRobot, ’n maatskappy wat robotte vir onder andere militêre toepassings vervaardig het, voorgestel dat hulle ’n robotstofsuier kon bou (Jones 2006). iRobot het hulle voorstel aanvaar en Jones en Sandin het ’n bewys-van-konsep-robotstofsuier, Scamp, binne twee weke gebou (Jones 2006). Scamp was oortuigend genoeg vir iRobot om te belê in die ontwikkeling van ’n kommersiële robot, en oor die volgende drie jaar is die Roomba ontwikkel. Jones (2006) skryf dat hulle deurgaans vyf beginsels in gedagte gehou het:

  1. Die toepassing kom eerste.
  2. Koste maak saak.
  3. Slegs werklike toetse kan die robot se foute openbaar.
  4. “Gewoon(lik)” is onbetroubaar.
  5. Kompleksiteit maak dood.

Hulle het gevolglik probeer om ’n robotstofsuier te bou wat in die meeste huise sou werk, koste-effektief is, en eenvoudig sou werk. In 2002 is iRobot se Roomba geloods, wat die wêreld se eerste kommersieel suksesvolle robotstofsuier sou word (Jones 2006). Figuur 1 wys een van die Roomba-modelle.

Figuur 1. ’n Roomba

Vandag is robotstofsuiers ’n alledaagse verskynsel en hulle is ook op vele Suid-Afrikaanse webtuistes beskikbaar. Die markinkomste van robotstofsuiers het wêreldwyd gegroei van $0,81 miljard in 2015 tot $2,54 miljard in 2020 en sal na verwagting $4,98 miljard teen 2025 bereik (Carames ea 2021). ’n Groot aantal maatskappye vervaardig tans robotstofsuiers, byvoorbeeld iRobot, Bosch, Wyze en Eufy. Duurder modelle gebruik KI om hindernisse te identifiseer, beplan roetes, en werk saam met slimfoontoepassings, terwyl goedkoper modelle minder funksionaliteit insluit en gewoonlik in ’n lukrake patroon beweeg totdat ’n hindernis teëgekom word (Colon en Moscaritolo 2022b). Die meeste robotstofsuiers laat die gebruiker toe om skoonmaaksessies te skeduleer, wat byvoorbeeld kan beteken dat die stofsuier werk terwyl die persoon nie by die huis is nie, en omdat hulle laag is, kan hulle onder meubels soos kaste en beddens skoonmaak. Die beeldherkenning van duurder modelle is nie ’n onnodige luuksheid nie: Daar is vele video’s op YouTube van robotstofsuiers wat byvoorbeeld oor hondebollie gery het, met chaotiese gevolge. Sien byvoorbeeld die video hier.

Beeldherkenning is juis in die duurder modelle ingebou om die robotstofsuier in staat te stel om sulke hindernisse vroegtydig te herken.

Robotstofsuiers bespaar nie noodwendig baie tyd nie, omdat die stofsuier self onderhou moet word (Sung ea 2007). Borsels moet skoongemaak word, en die stofsuier se bak moet leeg gemaak word (tensy een van die duurder modelle gebruik word wat self sy bak leegmaak). Nietemin beteken die gebruik van ’n robotstofsuier dat die gebruiker ander take kan verrig terwyl sy/haar huis skoongemaak word.

Saam met robotstofsuiers is robotmoppe ontwikkel wat gereeld deur dieselfde maatskappye vervaardig word (byvoorbeeld iRobot en Eufy). Robotmoppe werk soortgelyk aan robotstofsuiers, en sommige hibriede modelle is ook beskikbaar wat beide mop en stofsuig (Colon en Moscaritolo 2022a). Duurder modelle sal selfs identifiseer wanneer hulle oor ’n mat beweeg en ophou mop, terwyl goedkoper modelle meer voorbereiding van ’n gebruiker sal benodig, byvoorbeeld om matte voor ’n skoonmaaksessie te verwyder.

Robotstofsuiers integreer gereeld met slimhuistegnologie. Die markleiers van slimhuistegnologie is tans Amazon Echo, Google Nest en Apple Homekit, met digitale assistente in die vorm van Amazon Alexa, Google Assistant en Apple Siri onderskeidelik (Senekal 2021). Die integrasie van robotstofsuiers en -moppe met slimhuistegnologie beteken dat die gebruiker ’n skoonmaaksessie kan begin deur ’n opdrag aan Google, Alexa of Siri te gee, of selfs ’n skoonmaaksessie outomaties kan begin sodra die persoon die perseel verlaat. Met die duurder modelle kan die gebruiker selfs monitor waar die stofsuier skoongemaak het.

Robotte buite die huis

Die eerste patent vir ’n robotgrassnyer is in 1969 deur S Lawrence Bellinger geregistreer en is in 1972 toegeken (Bellinger 1972). Dit was egter eers in 1995 dat Husqvarna een van die eerste maatskappye geword het om ’n robotgrassnyer kommersieel bekend te stel. Die Solar/Turtle Mower, wat op die patent van Colens (1995) gebaseer was, het met sonkrag gewerk (Husqvarna 2020). Drie jaar later het Husqvarna ’n battery-aangedrewe weergawe bekendgestel wat outomaties na sy basisstasie kon terugkeer (Husqvarna 2020). In 1998 het Friendly Robotics ook die RL500 robotgrassnyer bekendgestel (Hicks II en Hall 2000; Robomow 2021). Figuur 2 toon een van Husqvarna se modelle.

Figuur 2. ’n Robotgrassnyer van Husqvarna

Soos robotstofsuiers en -moppe, herinner robotgrassnyers se vorm ook aan ’n skilpad, soos gesien in die naam van Husqvarna se eerste robotgrassnyer, wat as ’n “turtle mower” bekend was. Robotgrassnyers werk deesdae meesal met ’n herlaaibare battery wat by ’n basisstasie gelaai word, en hulle gaan dan op ’n gereelde basis uit soos deur die gebruiker geskeduleer. Om te weet waar die grasperk eindig, moet die gebruiker ’n elektriese draad op die rand van die grasperk installeer, alhoewel van die nuutste en duurste soorte nie meer die draad benodig nie. Die robotgrassnyer beweeg in ’n lukrake patroon tussen die grensdrade totdat die hele grasperk gesny is, maar het ook raaksensors om te verhoed dat dit groot voorwerpe probeer omstoot. Anders as met robotstofsuiers sal selfs die duurste modelle nie hondebollie maklik oorsien nie, maar dit sal nie die robotgrassnyer beskadig nie. Die grassnyers versamel nie gras in ’n bak nie, maar omdat hulle daagliks grassny, is die gras wat afgesny word, kort. Robotgrassnyers is gewoonlik duurder as robotstofsuiers, en prysverskille is groot, afhangend van die grootte van die grasperk en die aantal sensors wat die grassnyer het (sommige robot grassnyers sal byvoorbeeld nie in die reën grassny nie) (Delaney 2022). Oor die algemeen is hulle stiller as gewone grassnyers, en kompak, en die gebruiker kan skeduleer wanneer hy sy gras wil sny (sommige modelle is so stil dat dit moontlik is om snags gras te sny). Soos met robotstofsuiers is sommige van die duurder modelle ook toegerus met WiFi of Bluetooth, wat dit moontlik maak om die robot met ’n slimfoon te beheer. Sedert 2018 is Husqvarna en Robomow se robotgrassnyers ook met slimhuistegnologie geïntegreer (Husqvarna 2020; Robomow 2021). Robotgrassnyers word vandag onder andere deur Gardena, Husqvarna, Robomow en Bosch vervaardig.

Vir onkruid is daar Tertill, wat ook deur Joseph Jones, die ontwerper van die Roomba, ontwerp is. Tertill werk met ’n eenvoudige logika: As ’n plant klein genoeg is om onder hom te beland, is dit ’n onkruid wat afgesny moet word; as die plant te groot is, is dit nie ’n onkruid nie en gaan hy om die plant. Dit beteken dat ’n mens vir die eerste keer alle onkruid moet verwyder, en indien daar nuwe plante geplant word, moet hulle ’n skerm kry om te verhoed dat Tertill hulle afsny. Die area waar Tertill werk, moet ook omhein word om te verhoed dat hy ontsnap. Tertill verskil egter van robotstofsuiers en -grassnyers deurdat hy met sonkrag werk: Hy laai totdat hy genoeg krag het, patrolleer met ’n lukrake patroon totdat sy battery pap is, herlaai in die son, en gaan so voort sonder dat daar na ’n basisstasie teruggekeer word. Dit het die voordeel dat Tertill nie naby ’n kragpunt hoef te wees nie, maar die nadeel is dat dit vir klein oppervlaktes (tot 18 m2) ontwerp is. Tertill werk nie op grasperke nie en is hoofsaaklik ontwerp om ’n klein groentetuin in stand te hou. Figuur 3 wys hoe Tertill lyk.

Figuur 3. Tertill, die onkruidrobot

Vir swembaddens is daar Dolphin, wat saam met Aquabot een van die eerste robotswembadskoonmakers was (Prassler e.a. 2000). Anders as tradisionele swembadskoonmakers soos ’n Kreepy Krauly, suig robotswembadskoonmakers nie blare en alge deur ’n pyp op nie, maar het ’n interne filtreringsisteem meer soortgelyk aan dié van ’n stofsuier. Robotswembadskoonmakers gebruik ook ’n rekenaar om hulle skoonmaakroete te beplan en sluit ’n slimfoontoepassing in om skoonmaaksessies te skeduleer. Hierdie robotte se uitdagings is aansienlik minder as robotstofsuiers of -grassnyers s’n omdat die swembad ’n reeds afgebakende area is, sonder hindernisse, en sonder die moontlikheid om van trappe af te val en beskadig te word. Robotswembadskoonmakers is heelwat duurder as tradisionele swembadskoonmakers en hul pryse begin by om en by R10 000 elk. Figuur 4 wys een van die Dolphin-modelle.

Figuur 4. ’n Dolphin-robotswembadskoonmaker

Die impak van huishoudelike robotte op die individu

Sung ea (2007) het bevind dat diensrobotte soos die Roomba mense gelukkiger maak, deels omdat die Roomba tot ’n skoner huis lei. Dit is nie vir almal moontlik om daagliks te stofsuig nie, maar robotstofsuiers maak dit moontlik om permanent in ’n skoon huis te woon, nie ’n huis wat slegs weekliks skoon gemaak word nie. Op dieselfde manier maak robotgrassnyers dit moontlik om altyd ’n grasperk te hê wat goed in stand gehou word omdat die robot daagliks grassny, en nie slegs byvoorbeeld oor naweke nie. Dit alles dra by tot ’n skoon en netjiese omgewing, wat goed is vir mense se gemoed.

Robotstofsuiers motiveer ook mense om hul huise netjies te hou deur dinge van die vloer af op te tel wat in die Roomba se pad kan kom, soos klere, speelgoed en skoene (Forlizzi 2007; Sung ea 2007). Mense integreer nie bloot robotstofsuiers in hulle lewens nie; hulle pas daarby aan (Sung ea 2007; Carames ea 2021). Bygesê, die mense wat aanpas, is mense wat Roombas in hulle lewens integreer; dié wat nie die tegnologie opneem nie, is mense wat nie by die Roombas aanpas nie (Bauwens en Fink 2012; Carames e.a. 2021). In Bauwens en Fick (2012) se studie was daar byvoorbeeld mense wat boeke en borde op die vloer gelos het en geweier het om hulle roetine aan te pas, en dit was die mense wat negatief was oor die Roomba.

Omdat robotstofsuiers binne die huis, wat ’n intieme ruimte is, funksioneer, word hulle deel van mense se sosiale netwerke. Mense raak geheg aan hulle robotstofsuiers en gee selfs vir hulle name (Forlizzi 2007; Sung ea 2007; Zimmermann ea 2021), byvoorbeeld Dustin Bieber. Vir sommige gebruikers word robotstofsuiers deel van die gesin, hetsy as ’n familielid of ’n troeteldier, en mense ken selfs persoonlikhede en geslagte aan die robotte toe (Forlizzi 2007; Sung ea 2007; Marchetti-Bowick 2009). Mense gesels ook met hulle Roombas, en treur as hulle “siek” word en ingestuur moet word vir herstelwerk. Bauwens en Fick (2012) het egter bevind dat die verbintenis met Roombas oppervlakkig was en kon nie lang emosionele verbintenisse waarneem nie – die Roomba is immers ’n diensrobot. Nietemin is die benoeming van robotstofsuiers ’n aanduiding daarvan dat mense hierdie diensrobotte in ’n ander lig sien as dié waarin ander tegnologie beskou word – mense sal byvoorbeeld nie gewoonlik vir ’n gewone stofsuier ’n naam gee nie. Die feit dat hierdie robotte saam met mense leef en werk, skep met ander woorde ’n ander verhouding as met “dom” tegnologie soos ’n gewone stofsuier.

Die impak van huishoudelike robotte op die gemeenskap

Een interessante bevinding van ’n paar studies (Forlizzi 2007; Sung ea 2007) is dat mans en kinders meer betrokke raak by skoonmaak deur middel van robotstofsuiers. Skoonmaak word tradisioneel as ’n vrou se taak gesien, maar die gadget-element van robotstofsuiers lei daartoe dat mans ook robotstofsuiers gebruik. In hierdie opsig skep huishoudelike diensrobotte die geleentheid om tradisionele geslagsrolle te verander of ten minste die afbakening van huishoudelike take te laat vervaag.

Indien alle funksies van skoonmakers en tuindienste deur robotte vervang kon word, wat die tegnologie nog nie kan doen nie, is dit ’n oop vraag wat die effek op die Suid-Afrikaanse samelewing sou wees. In ekonomiese terme is daar ’n deel van die bevolking wie se inkomste aan hierdie take gekoppel is. Boonop is die uitkontraktering van huishoudelike take aan goedkoop arbeid diep ingebed in die Suid-Afrikaanse kultuur. Koos Kombuis verwoord die integrasie van bediendes en huiseienaars in sy liedjie “Kytie”, waar hy sing van die verhouding wat tussen hom en die bediende ontstaan het deur die loop van 20 jaar. Indien hierdie werkers met robotte vervang word, sal dit ’n effek hê op verhoudings binne die Suid-Afrikaanse samelewing.

Om skoonmakers en tuindienste te vervang, sal die tegnologie goedkoper as mense moet wees. Mense is egter “goedkoop”. Soos Nasa in ’n 1965-verslag getiteld The case for man in space geskryf het: “Man is the lowest-cost, 150-pound, nonlinear, all-purpose computer system which can be mass-produced by unskilled labour” (aangehaal in Bruun en Duka 2018:4). Terwyl robotstofsuiers tans vir so min as R1 000 aangeskaf kan word, kos die modelle met groter funksionaliteit meer as R10 000, en die goedkoopste robotgrassnyers kos om en by R15 000. Daar is vele voordele aan die gebruik van hierdie toestelle, maar om slegs ’n deel van ’n goedkoop werker se take met so ’n groot koste te vervang, sal baie mense twee keer laat dink.

Privaatheid

In ’n interessante publikasie vergelyk Wetmore (2018) ’n robotstofsuier met ’n vampier wat toegang tot ’n persoon se huis kan verkry slegs indien hy binnegenooi word. Mense “nooi” ’n robotstofsuier in hul huise in waar daardie stofsuier private inligting kan versamel. Duurder modelle van robotstofsuiers stel ’n vloerplan van ’n huis saam, en deel dan daardie inligting met die maatskappy. Die maatskappy kan daardie inligting aan ander maatskappye verkoop om geteikende advertensies aan die gebruiker uit te stuur, byvoorbeeld as die stofsuier sien dat daar nie veel meubels in die huis is nie, kan die inligting aan ’n meubelmaatskappy deurgegee word om hul produkte aan die gebruiker te bemark (Wetmore 2018). Die kamera op duurder modelle, wat gebruik word om hindernisse deur middel van KI te identifiseer, kan ook foto’s van ander toestelle neem, en daardie inligting kan vir verdere bemarking aangewend word.

Wetmore (2018) is slegs bekommerd oor inligting wat vir bemarkingsdoeleindes verkoop word en nie oor inligting wat aan regerings verkoop word nie. Trouens, Wetmore noem ’n geval in die VSA waar wetstoepassers termiese kameras gebruik het om ’n binnenshuise daggaplantasie te identifiseer, en die hof het bevind dat dit ’n skending van privaatheid was, omdat wetstoepassers nie die nodige hofbevel verkry het om die huis te deursoek nie. Die risiko van privaatheidskending is derhalwe hoofsaaklik dat mense meer relevante bemarking kan ontvang, nie dat regeringsinstellings op mense sal spioeneer nie. Dit is nietemin belangrik dat gebruikers kennis neem daarvan dat wanneer toestelle met ’n internetverbinding in die huis gebruik word, sommige data wel na buite gestuur word.

Privaatheid is ’n groot bekommernis wanneer tegnologie wat data versamel en dit in die wolk met maatskappye deel, ter sprake is (Senekal 2021). Daar moet egter in gedagte gehou word dat die werkers wat deur hierdie tegnologie vervang word, ook ingenooi word en inligting versamel. Huisrowers kies byvoorbeeld hul teikens hoofsaaklik omdat hulle inligting vanaf ’n informant ontvang het, en hierdie inligting kom oorwegend van werkers (Zinn 2008). Daar is nie ’n vergelykbare risiko met robotstofsuiers en ander toestelle nie – hierdie maatskappye sal nie inligting aan Suid-Afrikaanse misdaadsindikate verkoop nie.

Slot

Diensrobotte het oor die afgelope twee dekades ontwikkel van interessante konsepte tot prakties bruikbare items wat reeds in vele huishoudings opgeneem is. Hulle is veral geskik vir roetinetake soos stofsuig, mop, (klein) onkruid verwyder en swembaddens skoonmaak, maar in die toekoms kan meer take moontlik geoutomatiseer word. Aangesien hulle helpers in en om die huis is, word hulle in baie gevalle deel van die familie, wat interessante moontlikhede vir mens-masjien-verhoudings skep. Terselfdertyd beïnvloed die opname van hierdie tegnologie die arbeidsmark en kan dit moontlik in Suid-Afrika, waar die gebruik van tuindienste en skoonmakers so algemeen is, verhoudings tussen gemeenskappe beïnvloed. Vir hierdie robotte om werklik ’n ontwrigtende effek op die samelewing te hê, sal hulle egter meer take moet verrig en goedkoper moet word as wat hulle tans is.

[1] Alhoewel robotika en KI nie dieselfde veld is nie, word KI gereeld by robotte geïntegreer.

Bibliografie

Bauwens, V en J Fink. 2012. Will your household adopt your new robot?, Interactions, 19(2):60–64. doi: 10.1145/2090150.2090165.

Bellinger, SL. 1972. Self-propelled random motion lawnmower. Washington, DC (patent).

Bruun, EPG en A Duka. 2018. Artificial Intelligence, jobs and the future of work: Racing with the machines, Basic Income Studies, 13(2). doi: 10.1515/bis-2018-0018.

Carames, K, K Mui A Azad en WCW Giang. 2021. Studying robot vacuums using online retailer reviews to understand human-automation interaction, Proceedings of the Human Factors and Ergonomics Society Annual Meeting, 65(1):1029–33. doi: 10.1177/1071181321651106.

Casasent, DP. (red). 2000. Intelligent robots and Computer Vision XIX: Algorithms, techniques, and active vision. Intelligent Systems and Smart Manufacturing, SPIE (SPIE Proceedings). doi: 10.1117/12.403770.

Colens, A. 1995. Continuous and autonomous mowing system. Washington, DC (patent).

Colon, A en A Moscaritolo. 2022a. The best robot mops for 2022. https://www.pcmag.com/picks/the-best-robot-mops (19 Mei 2022 geraadpleeg).

—. 2022b. The best robot vacuums for 2022. https://www.pcmag.com/picks/the-best-robot-vacuums (19 Mei 2022 geraadpleeg).

Delaney, JR. 2022. The best robot lawn mowers for 2022. https://www.pcmag.com/picks/the-best-robot-lawn-mowers (19 Mei 2022 geraadpleeg).

Forlizzi, J. 2007. How robotic products become social products: An ethnographic study of cleaning in the home. Proceeding of the ACM/IEEE international conference on Human-robot interaction – HRI ‘07. New York: ACM Press. doi: 10.1145/1228716.1228734.

Hicks II, RW en EL Hall. 2000. Survey of robot lawn mowers. In Casasent (red) 2000.

Holland, O. 2003. The first biologically inspired robots, Robotica, 21(4):351–63. doi: 10.1017/S0263574703004971.

Husqvarna. 2020. The Automower® innovation story. https://www.husqvarna.com/uk/learn-and-discover/automower-25-year-anniversary (19 Mei 2022 geraadpleeg).

Jones, JL. 2006. Robots at the tipping point: the road to iRobot Roomba, IEEE Robotics & Automation Magazine, 13(1):76–8. doi: 10.1109/MRA.2006.1598056.

Kilstrom, L, B Riise en A Haegermarck. 1998. Nozzle arrangement for a self-guiding vacuum cleaner. Washington, DC (patent).

Kobayashi, Y, H Yabuuchi, O Eguchi, S Kondoh en H Terai. 1992. Self-running cleaning apparatus. Washington, DC (patent).

Krumm, J, GD Abowd, A Seneviratne en T Strang (reds). 2007. Ubicomp 2007: Ubiquitous computing. Berlin, Heidelberg: Springer Berlin Heidelberg. doi: 10.1007/978-3-540-74853-3_9.

Marchetti-Bowick, M. 2009. Is your Roomba male or female? The role of gender stereotypes and cultural norms in robot design, Intersect: The Stanford Journal of Science, Technology, and Society, 2(1):1–14.

Moore, DG. 1961. Perambulating kitchen appliances and control means therefor. Washington, DC (patent).

Prassler, E, A Ritter, C Schaeffer en P Fiorini. 2000. A short history of cleaning robots, Springer Science and Business Media LLC. doi: 10.1023/a:1008974515925.

Robomow. 2021. Company timeline. https://www.robomow.com/about-us/history (19 Mei 2022 geraadpleeg).

Senekal, BA. 2021. ’n Bestekopname van slimhuistegnologie vir sekuriteitsdoeleindes in Suid-Afrika, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 40(1):149–61. doi: 10.36303/SATNT.2021.40.1.856.

Sung, J-Y, L Guo, RE Grinter en HI Christensen. 2007. “My Roomba is Rambo”: Intimate home appliances. In Krumm ea (reds) 2007.

Walter, WG. 1950. An imitation of life. Scientific American, 182(5):42–5. doi: 10.1038/scientificamerican0550-42.

—. 1951. A machine that learns, Scientific American, 185(2):60–63. doi: 10.1038/scientificamerican0851-60.

Wetmore, J. 2018. What can we learn about vacuum cleaners from vampires?: Far more than you may think, IEEE Consumer Electronics Magazine, 7(2):103–5. doi: 10.1109/MCE.2017.2747092.

Zimmermann, JL, E de Bellis, R Hofstetter en S Puntoni. 2021. Cleaning with Dustin Bieber: Nicknaming autonomous products and the effect of coopetition. TMS Proceedings 2021. Technology, Mind, and Society, 2021, American Psychological Association. doi: 10.1037/tms0000032.

Zinn, R. 2008. The modus operandi of house robbers in the Gauteng Province, Acta Criminologica: African Journal of Criminology & Victimology, 21(2):56–69.

Lees ook:

Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld

Hoe en hoekom leer ’n rekenaar Afrikaans praat?

Will Smith vs Chris Rock, die soeke na waarheid, en kunsmatige intelligensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top