Die Wêreld- Ekonomiese Forum voorspel dat kunsmatige intelligensie (KI) teen 2049 ’n New York Times-topverkoper sal skryf. KI kan reeds in o.a. Engels en Chinees “dig”, en nou ook in Afrikaans – danksy AfriKI.
AfriKI-medewerkers
- Imke van Heerden is assistentprofessor in Koc Universiteit se Departement Vergelykende Letterkunde in Istanboel en spesialiseer in skeppende kunsmatige intelligensie (KI) en Suid-Afrikaanse letterkunde.
- Anil Bas is assistentprofessor in rekenaarwetenskap aan Marmara Universiteit in Istanboel en spesialiseer in masjienleer.
- Etienne van Heerden is die skrywer van Die biblioteek aan die einde van die wêreld, ’n roman wat onder meer KI in Suid-Afrika en China ondersoek. Dit verskyn eersdaags in Engels.
- AfriKI – Afrikaanse Kunsmatige Intelligensie – is hul taalmodel.
Imke en Anil lei ’n navorsingsprojek wat deur die Wetenskaplike en Tegnologiese Navorsingsraad van Turkye ondersteun word. Die projek is getiteld AI as Author (authorai.ku.edu.tr) en bring letterkundiges en rekenaarwetenskaplikes in gesprek rondom KI en kreatiwiteit. Dit stel in ’n spesifieke subdomein van KI belang, naamlik natuurlike taalgenerering – of ’n rekenaar se skryfvermoë.
Dit is lekker om AfriKI te personifieer, maar in werklikheid besit KI nie ’n eie wil of bewussyn (soos in wetenskapfiksie) nie. ’n Neurale netwerk kan nie sonder menslike betrokkenheid werk nie; nes ’n ouer bepaal ’n navorser hoe, hoe lank en wat dit lees, leer en – op die ou end – ook skryf. ’n Taalmodel word deur mense ontwerp, geskaaf en gebruik. Dit is gereedskap, ’n instrument, en kan nie menslike digters vervang nie. Veel eerder bied AfriKI opwindende geleenthede vir inspirasie en vernuwing, en kweek liefde vir die taal se menigte moontlikhede.
Lees die gedigte:
- Silwerwit in die soontoe
- Gedigte, daar by die brul van ’n brander
- Kaapstad
- Die konstabel se skiereiland
Hoe die versies saamgestel word:
AfriKI “lees” die databasis (die projek se “biblioteek”), wat bestaan uit die roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Nes ’n kind, benodig KI voorbeelde om Afrikaans te leer skryf. AfriKI lees die boek om die romanskrywer se woordeskat en taalgebruikspatrone aan te leer.
Dan “skryf” of genereer AfriKI bladsye en bladsye individuele frases. Die frases volg nie op mekaar nie. Elkeen is ’n eie entiteit.
As ’n woord op hierdie bladsye verskyn, beteken dit dat die romanskrywer dit in sy boek gebruik het. AfriKI se formulerings is egter oorspronklik. Woorde verskyn hoofsaaklik nie in dieselfde volgorde as in die roman nie.
Imke fynkam dan die bladsye, kies frases en stel gediggies saam. Omdat menslike logika en kreatiwiteit doelbewus toegepas word, word die proses “KI-geassisteerde skryf” of “kokreatiwiteit” genoem.
As ’n frase alleen in ’n reël staan (byvoorbeeld “silwerwit in die soontoe”), beteken dit dat AfriKI dit net so genereer het. Versreëls is dus onveranderd gebruik, nes dit deur die taalmodel geproduseer is. Hierdie individuele versreëls word saam met ander masjiengeproduseerde versreëls gerangskik. Die gevolg is kort surrealistiese gediggies.
Let op:
- Geen woorde word bygevoeg of verander nie.
- Formatering: Slegs hoofletters en leestekens word soms verander/bygevoeg.
- Inspirasie word geput uit die literêre bewegings die surrealisme en die imaginisme.
Bronne
Imke van Heerden en Anil Bas. 2021a. AfriKI: Machine‑in‑the‑Loop Afrikaans poetry generation. In Proc. Workshop on Bridging Human–Computer Interaction and NLP, 16th Conference of the European Chapter of the Association for Computational Linguistics, ble 74–80. https://aclanthology.org/2021.hcinlp-1.12.
—. 2021b. AI as Author – Bridging the gap between machine learning and literary theory. Journal of Artificial Intelligence Research, 71:175–189. https://jair.org/index.php/jair/article/view/12593.
Erkennings
Hierdie stuk is ’n aangepaste weergawe van ’n kort artikel wat in Ons Klyntji, Jaargang 125 (2021) verskyn het.
This article has been produced benefiting from the 2232 International Fellowship for Outstanding Researchers Program of TÜBİTAK (Project no: 118C285). However, the entire responsibility of the article belongs to the owner of the paper. The financial support received from TÜBİTAK does not mean that the content of the publication is approved in a scientific sense by TÜBİTAK.
Lees ook:
Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld