Kunsmatige bewussyn

  • 3

Illustrasie: Activistpost.com

The history of any scientific concept (eg energy, atom, genes) is one of increasing differentiation and sophistication until its essence can be explained in a quantitative and mechanistic manner in terms of elements operating at a lower, more elemental level. We are very far from this ideal in the inchoate science of consciousness. (Tsuchiya en Koch 2008:73)

So maybe robots could get some approximation to human emotions through a combination of appraisals with respect to goals, rough physiological approximations, and linguistic/cultural sophistication, all bound together in semantic pointers. (Thagard 2017)

  1. Inleiding

Dit is ’n uitgemaakte saak dat kunsmatige intelligensie (KI) op die huidige tydstip ’n uiters belangrike rol in die bedryf en praktyk speel. Verder word verwag dat KI-tegnologie na alle waarskynlikheid in ’n toenemende mate gevestig gaan word as ’n onontbeerlike toekomstige rolspeler. Hierdie tegnologie het gekom om te bly.

Meissner (2020) verduidelik hoe die opeenvolgende stadia van die ontwikkeling van KI werk. Die aanvanklike stadium van masjienleer word opgevolg deur die fase van masjienintelligensie, waarop die stadium van masjienkreatiwiteit volg. Laasgenoemde is die fase waarin ons ons tans bevind. Die wêreld is stadig maar seker besig om nader te beweeg aan die fase wat as masjienbewussyn en -moraliteit bekendstaan.

Sekere take of handelinge wat werkers moet uitvoer, hou uit ’n veiligheidsoogpunt eenvoudig net te veel risiko in vir die mens om uit te voer. Ander take neem weer te lank om suksesvol sonder rekenaarondersteuning af te handel. Sulke handelinge kan nie tydsekonomies uitgevoer word nie. Dit is algemeen bekend dat die praktiese aanwending van KI toenemend ’n groter mate van presisie in die hand werk, asook beter gehaltebeheer, verhoogde produksie, verhoogde veiligheid, beter tydsekonomie, outomatiese kwantifisering, optimalisering en ’n groter mate van akkuraatheid tydens voorspellings (voorspelling van weerpatrone) waarborg.

Die gebruik van KI bied dus ’n wye spektrum van tegniese oplossings wat voorheen ondenkbaar was.

Robotte, algoritmes en rekenaars is egter “onbewus” van hul eie bestaan en is slegs in staat om opdragte uit te voer waarvoor hulle vooraf geprogrammeer is. Robotte kan op hierdie stadium slegs semi-outonoom optree. Wat sou die implikasies wees indien logaritmes geskryf word wat die vermoë beskikbaar stel vir masjiene om selfstandig te dink en om sodoende ook hul toekomstige “gedrag” te logies beplan en uit te voer?

Kunsmatige bewussyn is natuurlik ’n gewilde tema vir wetenskapfiksie en -rolprente. Hoe behoort hierdie dwingende kwessie op ’n realistiese en verantwoordelike wyse benader te word? Wat word hieroor in erkende vaktydskrifte en bronne gesê?

In hierdie artikel word kortliks ’n oorsig gegee van verskillende onlangse en aktuele menings oor kunsmatige bewussyn soos wat dit in toepaslike literatuur gepubliseer is. Daar word ook gekyk na die wyse waarop die konstruk menslike bewussyn vanuit ’n neurologiese perspektief omskryf word en waarom kunsmatige bewussyn as ’n belangrike entiteit binne die konteks van KI beskou word. Enkele moreel-etiese oorwegings word ook bespreek.

Die studie van menslike en kunsmatige bewussyn betrek ’n wye spektrum navorsing uit verskillende vakdissiplines. Die inligting wat in hierdie artikel weergegee word, is dus die spreekwoordelike druppel in die emmer. Dit kom na regte neer op ’n eenmalige dwarssnit uit en ’n toevallige seleksie van beskikbare inligting op grond waarvan sekere gevolgtrekkings gemaak word. Die hoofdoel van die artikel is om breë rigtings of bakens vir die belangstellende leser aan te dui wat verder self ondersoek kan word. Die gebied is uiters dinamies en interessant en verander voortdurend.

  1. Natuurlike bewussyn

Die menslike bewussyn (hierna bewussyn) is ’n veelfasettige konsep en ’n uiters kontroversiële onderwerp. Die Engelse term, consciousness,  het sy oorsprong in Latyn conscius wat “om te weet” beteken. Natuurlike of biologiese bewussyn kan óf as ’n interne, eerstepersoon- of subjektiewe ervaring beskryf word, óf vanuit ’n eksterne, derdepersoon- of objektiewe perspektief. Laasgenoemde staan as die waarnemersperspektief bekend. Dié perspektief ontstaan uit die navorsingsbevindings en -interpretasies wat deur klinici, navorsers en tegnici ontwikkel word.

Dit is egter nie ’n eenvoudige saak om vanuit ’n neurobiologiese perspektief die funksionering ’n sielkundige verskynsel soos bewussyn logies en akkuraat te verklaar nie. Soos Hildt (2019) die kwessie goed raakvat: “to explain how subjectivity can emerge from matter”. Daarbenewens word ’n wye verskeidenheid aanverwante konsepte met die term bewussyn geassosieer, waarvan kernbewussyn en verlengde bewussyn enkele voorbeelde is.

  1. Bewussyn as neurologiese aktivering (“arousal”)

Hiervolgens is bewussyn ’n toestand van kortikale wakkerheid of neurologiese aktivering. ’n Persoon kan nie tegelyk wakker en aan die slaap wees nie. Aktivering (“arousal”) verwys na die vermoë van ’n persoon om op prikkels te reageer, en wel op ’n geïntegreerde wyse soos verwag word van ’n gesonde persoon in ’n toestand van wakkerheid. Graadverskille in wakkerheid kom voor en beweeg op ’n skaal vanaf normale wakkerheid na lomerigheid, waarna die slaaptoestand volg en wat eindig indien ’n koma sou intree.

Tydens aktivering geld die volgende kenmerke: Die oë moet oop- en toegemaak kan word op versoek, willekeurige spiertonus moet aanwesig wees, asook ’n kenmerkende EEG-profiel.

Verskillende vlakke van aktivering kan onderskei word. Dié vlakke hou verband met die aanwesigheid van elektriese aktiwiteit van die serebrale korteks. Hoe meer kortikale aktiwiteit aanwesig is, hoe hoër is die frekwensie van elektriese potensiaal in die brein. Die voorkoms van beta-aktiwiteit (13–30 Hz) dui op die wakker toestand, terwyl 8–13 Hz op die aanwesigheid van ’n ontspanne toestand dui waartydens die oë geslote is. By 4–7 Hz ontwikkel ’n gewaarwording van lomerigheid. Aktiwiteit van <4Hz bevestig dat ’n slaaptoestand ingetree het.

’n Persoon wat heeltemal wakker is, is in staat om ’n wye spektrum van verskillende emosies te toon (hetsy primêre emosies soos vrees en geluk of sosiale emosies soos skuldgevoelens). Die persoon is ook in staat om sy aandag effektief op eksterne situasies of gebeurtenisse te fokus, en toon doelgerigte gedrag wat volg op die inwerking van eksterne prikkels of stimuli wat via reseptore en sinapse na die brein gestuur word.

Kortikale aktivering is ’n funksie van die retikulêre aktiveringsisteem (RAS), ’n funksionele komponent van die neuronale netwerk in die retikulêre formasie. Die RAS is in die boonste gedeelte van die breinstam geleë.

Indien ’n veeldimensionele konsep soos die menslike bewussyn uitsluitlik op grond van neurologiese prosesse verklaar word, kan dit egter (volgens sekere waarnemers) op ’n meganistiese en reduksionistiese uitgangspunt dui.

Fotobron: Pixabay

  1. Bewussyn as bewustheid (“awareness”)

Volgens hierdie vertrekpunt word bewussyn as ’n subjektiewe proses beskou en op grond van ’n interne perspektief beskryf. Die klem verskuif dus van die neurologie en fisiologie na die prosesse wat die subjektiwiteit en uniekheid van die bewustelike ervaring genereer.

Die subjektiewe benadering van die bewussyn as “bewustheid”, handel primêr oor die inhoudelike aard van ’n persoon se waarneming, met ander woorde ’n bewustheid van wat in die onmiddellike omgewing gebeur, asook die bestaan van ’n eie selfstandige selfkonsep (selfbewussyn). ’n Persoon wat by sy volle bewussyn is, sal bewus wees van spesifieke omgewingsinhoude, gevolglik beskik die persoon oor bewustheid. Die inhoud van hierdie subjektiewe bewustheid word beïnvloed deur die persoon se spektrum en integrasie van sy vorige ervarings, persoonlike gedagtes, emosies, houdings, waardes en verbeelding. Selfbewussyninhoude presenteer gevolglik as uniek vir daardie bepaalde persoon, soos die subjektiewe ervaring van klassieke musiek presenteer as ’n unieke bewussynservaring vir ’n bepaalde individu.

Hiervolgens vind die aanvanklike fases van bewustheid in die assosiasie-areas of geheue plaas. Neurale patrone ontwikkel geleidelik, wat assosiasie tussen spesifieke objekte en gebeurtenisse moontlik maak; visuele, ouditiewe en ander feitelike inligting oor ’n gebeurtenis word, byvoorbeeld met verloop van tyd in die assosiasie-areas gesinkroniseer. Die bewustheid van “ek” of “self” is dus teenwoordig en word geïntegreer in alle sintuiglike waarnemings en gewaarwordings wat ’n persoon ervaar.

Presies hoe die interaksie of samewerking tussen die neurologie van aktivering (arousal) en sielkundige bewustheid (awareness) plaasvind, is vraagstukke wat tans nie volledig verstaan en verklaar kan word nie (kyk Cavanna en medewerkers 2008:108).

Waaroor egter wel meer sekerheid bestaan, is die feit dat bewussynsinhoude onafhanklik ten opsigte van bepaalde neurologiese aktiveringsvlakke kan wissel. Aan die ander kant lei ’n toename in die neurologiese aktiveringsvlak normaalweg tot ’n toename in die omvang en gehalte van bewussynsinhoude.

  1. Kunsmatige bewussyn

Kunsmatige bewussyn is ’n uitvloeisel of ’n geassosieerde produk van kunsmatige intelligensie. Masjiene, rekenaars en robotte bestaan hoofsaaklik uit silikon en elektriese bane en nie uit fisiologiese organe en bloedsirkulasie nie. Dus skep die presiese omskrywing wat met kunsmatige bewussyn bedoel word, ’n fundamentele probleem en blyk dit ’n beduidende struikelblok in die proses te wees.

Enkele basiese beginsels rakende kunsmatige bewussyn kan soos volg saamgevat word:

Kunsmatige bewussyn is ’n konstruk wat uitsluitlik in die fisiese wêreld van masjiene en robotte van toepassing is, daarom kan kunsmatige bewussyn (volgens Windt 2019) slegs vanuit ’n derdepersoon- of eksterne perspektief beskryf word.

’n Voorgestelde oplossing (wat na regte as ’n onbevredigende ontsnappingsroete beskou kan word) om by ’n komplekse definisie verby te kom, is om geen definisie aan te bied nie. Windt (2019) verwys na die werk van David Levy wat eenvoudig ’n pragmatiese standpunt inneem soos “Gebruik die term en gaan voort met die proses.”

Buttazzo (2008) wend ’n poging aan om kunsmatige bewussyn te definieer. Hy maak ’n onderskeid tussen swak en sterk kunsmatige bewussyn. Swak kunsmatige bewussyn beteken dat bewuste menslike gedrag deur middel van algoritmes gesimuleer word. Die tegnologie word as slimprogramme geïmplementeer. Menslike gedrag word dus tot op ’n sekere vlak gesimuleer sonder om die meganismes ten volle te begryp wat tot die bewustelike ervaring aanleiding gee. Sterk kunsmatige bewussyn, daarenteen, is werklike komplekse denke wat voortspruit uit komplekse masjientegnologie, waarvan die kunsmatige brein ’n voorbeeld is. Die enigste verskil tussen die kunsmatige brein en die natuurlike brein is dat die bewussynsproses kunsmatig deur hardeware geskep word.

Dit blyk dus duidelik tot dusver dat neurologiese bewussyn en kunsmatige bewussyn twee totaal verskille konsepte is wat op totaal verskillende dimensies geleë is. Daar is beduidende verskille wat die onderliggende ontwerpstruktuur betref sowel as die ervaring en gehalte van die geïntegreerde bewussynservaring as ’n eindproduk.

Schneider (2019) vra direk of masjiene ooit oor selfbewussyn sou kon beskik. Is KI- bewussyn versoenbaar met die natuurwette? Sy gaan van die standpunt uit dat slegs ’n relatief klein gedeelte van die mens se kognitiewe prosessering op ’n gegewe oomblik bewus is. Denkprosesse vind in ’n groot mate ook onbewustelik plaas. Gedagtes, gevoelens en wilsbesluite kan as onwaarneembare neigings van neurofisiologiese aard bly voortbestaan, en sodoende gedrag onbewustelik beïnvloed (Du Toit en Van der Merwe, 1983:7). Die mens benodig wel bewussyn vir sekere take wat die fokus van aandag vereis en vir die suksesvolle uitvoering daarvan.

Dit mag egter wees dat die argitektuur van gevorderde en toekomstige KI wesenlik van die mens se bewussynfunksies kan verskil omdat superintelligente KI oor spesialiskennis op elke terrein sou kon beskik en dus nie bewussyninhoude soos dit verstaan word, benodig nie.

  1. Kunsmatige bewussyn ’n etiese kwessie

Wat robotika en intelligente masjienleer betref, word breedweg onderskei tussen industriële en sosiale “agente”. Robotiese agente (of ontwerpe), hetsy van industriële of sosiale aard, word vooraf geprogrammeer om sekere vlakke van outonomie en/of sosiale interaksie te handhaaf en uit te voer.

Motors kan reeds hul roete op ’n outonome wyse op ’n snelweg vind sonder om direk bestuur te word. Dit mag wees dat mediese robotte binnekort heeltemal outonoom die aanwesigheid van tumors diagnoseer en verwyder. Vanuit die morele sielkunde word gesuggereer dat die persepsie van robotiese verantwoordelikheid voortaan bepaal sal word deur houdingsvorming oor veral robotiese situasiebewustheid, intensionaliteit, vrye wil sowel as masjiene se vermoë om skade aan te rig (skadepotensiaal). Normatiewe beginsels wat van toepassing is by die implementering van KI, behoort as ’n morele vraagstuk hanteer te word (volgens Kanuch 2019).

Bigman, Waytz, Alterovitz en Gray (2019) skryf oor wat presies robotverantwoordelikheid en masjienmoraliteit behels. Programmeerders en ontwikkelaars verstaan normaalweg onder masjienoutonomie dat ’n masjien oor die vermoë beskik om in ’n dinamiese intydse wêreld vir ’n bepaalde periode sonder menslike kontrole doeltreffend te funksioneer.

Kanuch (2019) stel dit onomwonde dat toenemende gebruik van KI lei tot ’n herprioritisering van menslike waardes. Die etiek van KI het nie bestaansreg as ’n selfstandige entiteit nie, omdat KI-etiek bloot ’n verdere vertakking of uitvloeisel is van menslike inisiatief, vernuwing en gedrag. Die wyse waarop KI ontwerp en geïmplementeer word, is ’n funksie van die menslike vrye wil en intensionaliteit, al lyk dit op die oog af asof simulasie-algoritmes en KI hoogs selfstandige en doeltreffende verskynsels is. Die mens bly egter altyd primêr verantwoordelik vir sy eie skeppingsprodukte. KI kan nooit die menslike bewussyn ten volle simuleer nie. Dit is ’n onmoontlike taak, omdat masjiene nie in staat is tot geïntegreerde bewussynprosesse nie. Daarom behoort masjiene nie morele besluite (bv ’n besluit tussen lewe en dood soos in die geval van hommels) te neem nie.

Koze (2018: 7) argumenteer vanuit ’n teologiese perspektief en plaas robotika en KI saam met genetiese manipulering en nanotegnologie in die breë kategorie van menslike verbetering (“human enhancement”). Sy vra tereg of hierdie ontwikkelings, veral op humanitêre gebied, nie noodwendig ’n toekomstige rol gaan speel om die gaping tussen ryk en arm verder te vergroot nie – “increasing existing socioeconomic divisions and disparities”.

Persepsies van, of houdingsvorming oor, masjienbewussyn (Schneider 2019) hang saam met die beantwoording van relevante en indringende vrae. Voorbeelde is die volgende: Wat sou die openbare aandrang vir (of aversie teen) sintetiese bewussyn behels? Wat behels die besware oor veiligheidsrisiko’s wat masjiene met perseptuele vermoëns inhou? Watter mate van sukses gaan KI-prosedures binne die konteks van neuroprostetika in die toekoms behaal? Wat behels die outonomie en besluitnemingsbevoegdheid en regulering van KI-ontwerpers?

As ’n voorbeeld van kwessies wat met masjienetiek verband hou, word enkele toepaslike scenario’s bespreek volgens Bigman en medewerkers (2019).

Fotobron: Pixabay

  1. Begripsvorming van ’n werklike situasie

Masjiene kan nie sonder meer enige logiese begrip vorm van die diepte van lyding wat uit die dood ontstaan nie. Masjiene kan wel gedeeltelike “begrip” toon deur te onderskei sodra prikkels met ’n verbode situasie geassosieer word, soos in die geval van die waarneming van aankomende voetgangers by e-motors. Die onderskeiding van burgerlike teikens vir militêre hommeltuie val in dieselfde kategorie van gedeeltelike begripsvorming. Hoe meer tegnologiese vordering op hierdie terrein gemaak word, hoe sterker sal houdingsvorming oor robotverantwoordelikheid en -aanspreeklikheid by die mens ontwikkel.

  1. Intensionaliteit

Masjiene is wel in staat tot intensionaliteit, omdat die uitvoering van ’n taak wat tot ’n opsionele uitkoms lei, intensionaliteit impliseer. Intensionaliteit kom ter sprake wanneer evaluering van ’n reeks responsopsies rasioneel oorweeg word as voorvereiste om ’n bepaalde doel te bereik. Hoe meer dikwels masjiene as intensionele agente deur die algemene publiek gesien word, en hoe meer effektief robotte opdragte kan verstaan en vertolk ten einde spesifieke doelwitte te kies, hoe meer sal die publiek morele verantwoordelikheid aan masjiengedrag toeskryf.

  1. Vrye wil

Hedendaagse masjiene is in staat om sekere aksieplanne vrywillig uit te voer. Geprogrammeerde masjienonafhanklikheid bly steeds relatief beperk. Die “gedrag” van masjiene is in ’n groot mate voorspelbaar weens die deursigtigheid van menslike programmering. Voorspelbaarheid beperk egter vrye wil. Deur die verdere tegnologiese ontwikkeling van diep neurale netwerke sou dit moontlik wees om die deursigtigheid van programmering in te perk en op hierdie wyse die vrye wil en onafhanklikheid van masjiene bevorder. Indien ongereguleerd kan ondeursigtige algoritmes gevaar vir die mensdom inhou.

  1. Potensiële skade

KI-tegnologie ontwikkel voortdurend, daarom is die verwagting dat masjienvaardighede soos die afvuur van wapens, bestuur van voertuie, uitvoer van mediese operasies asook fisieke aktiwiteite soos stap, draf en hardloop met verloop van tyd sal verbeter. Hierdie potensiaal skep steeds groter wordende risiko’s vir masjiene om skade aan mens, dier en infrastruktuur aan te rig. Intensionaliteit wat die moontlikheid van humanitêre skadepleging inhou plaas masjienverantwoordelikheid sterk onder die soeklig.

  1. Samevattend

Sommige kundiges beweer dat die wetenskap van kunsmatige bewussyn steeds op ’n rudimentêre vlak funksioneer. Ander is van mening dat op die oomblik met approksimasies van natuurlike of neurologiese bewussynsprosesse gewerk word.

Vanuit ’n etiese gesigspunt word verwag dat spesifieke moreel-etiese vraagstukke rakende masjienbewussyn gedurende die volgende KI-ontwikkelingsfase deeglik onder die loep gaan kom.

Teoreties gesproke is dit moontlik dat die argitektuur van gevorderde of toekomstige KI wesenlik en ingrypend van die mens se natuurlike bewussynfunksies kan verskil, veral omdat superintelligente KI oor spesialiskennis op elke terrein kan beskik en dus nie bewussynsinhoude benodig soos dit tans verstaan word nie.

Oscar Wilde (2016:2) se opmerking: “Nothing is worth doing except what the world says is impossible” kan dalk hier van toepassing wees. Die ideaal is egter dat die mens deurentyd daarna moet streef om primêr die verantwoordelikheid vir sy eie skeppingsprodukte te aanvaar en sodoende doeltreffende beheer en bestuur daaroor uit te oefen.

Bibliografie

Bigman, YE, A Waytz, R Alterovitz en K Gray. 2019. The elements of machine morality. Trends in Cognitive Sciences, 23(5):365–8.

Buttazzo, G. 2008. Artificial consciousness: Hazardous questions (and answers). Artificial Intelligence in Medicine, 44:139–46.

Cavanna, AE, S Shah, CM Eddy, A Williams en H Rickards. 2011. Consciousness: A neurological perspective. Behavioural Neurology, 24:107–16.

Damasio, A en K Meyer. 2008. Consciousness: An overview of the phenomenon and of its possible neural basis. In Laureys en Tononi (reds) 2008.

Du Toit, JM en AB van der Merwe. 1983. Sielkunde ’n algemene inleiding. Pretoria, HAUM.

Hildt, E. 2019. Artificial intelligence: does consciousness matter? Frontiers in Psychology, 2 Julie. 

Kanuck, S. 2019. Humor, ethics, and dignity: Being human in the age of artificial intelligence. Ethics and International Affairs, 33(1):3–12.

Kotze, M. 2018. The theological ethics of human enhancement: Genetic engineering, robotics and nanotechnology. Die Skriflig, 52(3):a2323. 

Laureys, S en G Tononi (reds). 2008. the neurology of consciousness, cognitive neuroscience and neuropathology. Cambridge, MA: Academic Press.

Meissner, G. 2020. Artificial intelligence: consciousness and conscience. Artificial Intelligence and Society, 35:225–35. 

Robitzski, D. 2018. Artificial consciousness: How to give a robot a soul. Futurism.com. 

Sadok, BJ en SA Sadok. 2003. Synopsis of psychiatry. behavioural sciences/clinical psychiatry. Negende uitgawe. New York: Lippincott Williams & Wilkins.

Scheider, S. 2019. Could robots ever be conscious? Psychology Today, 13 Oktober. .

Strickland, J. Sj. Could computers and robots become conscious? If so, what happens then? How Stuff Works: Science

Thagard, P. 2017. Will robots ever have emotions? Psychology Today, 14 Desember. 

Tsuchiya, N en C Koch. 2008. The relationship between consciousness and attention. In Laureys en Tononi (reds) 2008.

Wilde, O. 2016. Only dull people are brilliant at breakfast. Londen: Penguin.

Zeman, AZJ, AC Grayling en A Cowey. 1997. Contemporary theories of consciousness. Journal of Neurology, Neurosurgery and Psychiatry, 62:549–52. 

  • 3

Kommentaar

  • André Badenhorst
    André Badenhorst

    Uitstekende en broodnodige artikel. Ek glo baie van die onoorkombare beperkinge tussen menslike en masjienintelligensie wat hier gelug word, sal byvoorbeeld oorbrug kan word, wat Elon Musk met sy Neuralink ’n “koppelvlak” tussen mens en masjien noem. Die serebrale korteks is ’n uitbreiding van die reptiliese brein. Daardie ingeplante koppelvlak met die kuberruim funksioneer dan as verdere uitbreiding na ’n kollektiewe intelligensie. Dit krap natuurlik ander etiese kompleksiteit oop. Ons moet deur ’n Afrikaanse multi-dissiplinêre KI-konferensie die gesprek aan die gang hou!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top