"Om siele vir die Here te wen" – die pastorale rol in tye van kunsmatige intelligensie

  • 0

Kan ’n intelligente rekenaar ’n siel hê wat vir die Here gewerf kon word? Sou ’n mens ’n rekenaar kon doop of nagmaal aan haar/hom/dit kon bedien?

In hierdie toeligtingsartikel ondersoek Wilhelm van Deventer die konsep van die siel na aanleiding van tergende vrae rakende kunsmatige intelligensie in Isa Konrad se roman Toekomsmens en twee artikels wat in LitNet Akademies verskyn het, naamlik “Dum spiro – spero (terwyl ek asemhaal, hoop ek). Op reis met Elsa Joubert oor die ‘naakte waarheid’ van die ‘menslike siel’” deur Daniël Louw en “Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250–1310)” deur Johann Beukes.

Isa Konrad se Toekomsmens lees lekker en is ideaal vir ’n vakansieboek, indien mens dit bloot as ’n storie beskou. Daar is genoeg spanning om die leser bladsy na bladsy te laat wonder wat volgende sal gebeur. Krap ’n mens egter effens dieper, vind ’n mens vrae wat tipies is van die wetenskapfiksie. Kenners van wetenskapfiksie wys graag daarop dat Isaac Isamov, een van die groot skrywers van wetenskapfiksie, se werk talle vrae in sy populêre boeke geopper het.

Ek gaan my by my lees bepaal en vrae vra oor die siele van die rekenaars in Toekomsmens.

’n Kort oorsig oor die boek

Aangesien die teks redelik onlangs verskyn het, sal ek moeite doen om nie die storie te verklap nie. Om egter die siele van die rekenaars te ondersoek, skets ek kortliks die verhaalgegewe.

Dit is die jaar 2057.

Toekomsmens toon ’n Suid-Afrika wat nie van Covid herstel het nie. Ná Covid tref nog ’n reeks krisisse Suid-Afrika en teen 2027 speel ’n kolera-epidemie klaar met die grootste deel van die land se bevolking. Ná 2027 lê die meeste stede, dorpe en oop vlaktes in puin en is hulle in duisternis gehul. Mense sterf in groot getalle. Slegs drie stede en afgeleë kommunes bly staan waarheen oorlewendes weggevoer word.

’n Nuwe orde het tot stand gekom en die eenpartystaat word deur ’n raad van 12 wetenskaplikes regeer. Hulle span tegnologie in om alle aspekte van hulle onderdane te regeer en te beheer. Die oppergesag is in ’n onbekende en onsigbare voorsitter geleë. Mense, robotte, robotmense, rekenaars en masjiene word almal in die stede en kommunes ingeperk en moet streng reëls en regulasies gehoorsaam.

Kel, die hoofkarakter, is ’n programmeerder en woon in 2057 saam met sy suster, wat die kolera-epidemie van 2027 net-net oorleef het. Terwyl hy elke dag vervulling in sy werk vind, bestaan Adri in die verlede en haar daaglikse roetine is gevul met niks doen; sy kyk dikwels dieselfde outydse flieks oor en oor. Later in die boek word dít belangrik, maar aan die begin is sy gewoon die teenpool van Kel, wat hom 100% met die nuwe orde vereenselwig.

Hoewel Kel ’n mens is, sou die ingeligte leser vrae kon vra oor hoe grondig hy “geprogrammeer” is deur die propaganda van die Nuwe Orde. Hy tree soos ’n robot op wat opdragte sielloos uitvoer.

Dié jongman is met die hand uitgesoek om die hoofprogrammeerder te wees van In-grid, die rekenaar wat alles in die Nuwe Orde beheer. In-grid is in wese die hart, die oë en die ore van die Nuwe Orde.

Kort ná die aanvang van die boek is daar ’n gepoogde staatsgreep en In-grid is die teiken. Sy is geprogrammeer om haarself te vernietig sou sekere veiligheidstrukture binnegedring word. Soos verwag, verdwyn sy van die hoofraamrekenaar, maar Kel is nie seker dat sy haarself wel om die lewe gebring het nie.

Hier lê ’n eerste vraag: Kan ’n hoogs intelligente en geprogrammeerde wese sigself vernietig sonder om die besef van selfdood te ervaar?

In die harwar word Kel toevertrou met In-grid se voorganger, en dit is waar die soeke na ’n siel werklik interessant raak.

Die voorganger se naam is Agnes. Lesers kan gerus lees hoe hy met Agnes kontak maak, maar dat Agnes menslike eienskappe het, is nie altemit nie.

Kel word opdrag gegee om ’n buitengewone taak uit te voer en nou vloei die hede, die verlede en toekoms ruim deurmekaar.

Die boek is nie net blote wetenskapfiksie, of selfs fiksie nie. Deur middel van metafore en vergelykings ontvou vele dieperliggende dimensies wat heelwat etiese vrae na vore roep. Onder andere sou ’n mens aspekte soos meganistiese seks, genetiese manipulasie, kinderhandel en kindermoord, diktatorskap, patriargie en onderdrukking kon bespreek.

Agnes se siel

Agnes, die rekenaar waarmee Kel in 2057 werk, is gebaseer op die lewe van ’n vrou wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog op Nazi-Duitsland gespioeneer het.

Die Agnes van die verlede is natuurlik reeds 113 jaar lank dood in 2057, maar haar hele wese word steeds bewaar in die prototipe waarmee Kel moet werk ná In-grid van die hoofraam verdwyn het.

Agnes van die verlede was dus ’n ware mens wat passie, woede, moederskap en vrees ervaar het, maar het die Agnes in die rekenaar ’n siel?

Sy is in 2057 as rekenaarprogram bewus van haar eie sterflikheid, want sy smeek Kel om nie die rekenaar af te sit nie. Die donker ervaar sy as die dood, wat natuurlik weer en weer gebeur wanneer die rekenaar af is.

As toekomsmens, onder die Nuwe Orde, voer Kel alle opdragte sielloos uit. Selfs die Nuwe Orde se opdrag, “Gaan heen en vul die aarde”, word uitgevoer sonder passie. Lesers kan self lees hoe banaal en sielloos die seks is.

In Agnes van die verlede ontdek Kel wat passie is en was.

Kel en Agnes besef ook albei dat die Nuwe Orde se totale aanslag baie trek op die bewind van Hitler toe die Nazi’s hoogty gevier het. Die Nazi’s het soos geprogrammeerde robotte Hitler se opdragte uitgevoer.

Of nie?

Lees Toekomsmens. Dit is moeilik om meer te sê sonder om ’n leser se leesgenot te bederf.

Die Nuwe Orde en godsdiens

Konrad raak wel hier en daar godsdiens aan. Lesers word veral gevra om ’n seremonie in die Voortrekkermonument te ervaar, maar na aanleiding van artikels wat vroeër in LitNet Akademies verskyn het en ’n onlangse boek deur Samson Makhado, fokus ek hier slegs op ’n sielsdimensie soos dit moontlik in 2057 van toepassing sou kon wees.

Johann Beukes bespreek ’n manuskrip wat gedurende die laat 13de, vroeë 14de eeu deur Marguerite Porete geskryf en versprei is. Hy beskryf die teologies-filosofiese tydsgees van die Middeleeue. Teen daardie agtergrond is Marguerite tot ketter verklaar en op 1 Junie 1310 op die brandstapel tereggestel.

Marguerite skryf oor die siel en onderskei tussen mindere en meerdere siele.

  • Mindere siele is mense wat die gevallenheid van die mens beklemtoon, en hul siele kan daarom slegs deur middel van die bemiddeling van Christus by God uitkom. Daarom leef hierdie mindere siele deurlopend vanuit hul gevallenheid en moet hulle elke dag van vooraf begin, besig bly en hard werk om hul gevallenheid deur middel van die bemiddeling van Christus na te jaag.
  • Meerdere siele kan van sewe stappe gebruik maak om hul siele stelselmatig te elimineer en sodanig deel van God te word. Hulle kan derhalwe in afsondering, stilte en onarbeidsaamheid leef. As begyn sou Marguerite waarskynlik in hierdie kategorie geval het.

In Konrad se 2057 word almal en alles verplig om mekaar te dien en te versorg. Mense, robotte, robotmense, rekenaars en masjiene sou dus as mindere siele beskou kon word. Let gewoon op hoe die mense soos robotte die Nuwe Orde volg. Die vraag is of hierdie wesens ’n bewustheid het van hul gevallenheid en dalk die behoefte sou kon hê aan die bemiddeling van Christus, soos wat Marguerite mindere siele beskryf.

Indien wel, sou laboratoriumbabas gedoop kon word? Sou ’n halfmens, halfrobot gedoop moet word? ’n Vriend van my het gewonder of die grootdoop nie dalk ’n beter opsie sou wees nie. Hoe sou ek as herder moes optree as so ’n wese my sou smeek om die doop of nagmaal as sakrament aan haar/hom/dit te bedien?

Oor die jare heen het ’n mens male sonder tal gehoor dat teologiese studente en geestelikes sou sê dat hulle lewensroeping is “om siele vir die Here te wen”.

Indien al die wesens van 2057 mindere siele sou wees, dan sou daar dalk ’n bediening vir hierdie geroepenes kon wees. Sou ons Marguerite Porete se logika volg en verklaar dat hierdie wesens meerdere siele sou kon wees wie se siele geëlimineer is, dan sou alle geestelikes werkloos wees. Is dit wat Konrad se Nuwe Orde wou hê?

Konrad se sterkste metafoor kom uit Nazi-Duitsland, waar ’n doopplegtigheid in die naam van Hitler plaasvind. Die gebreinspoelde Nazi’s het weliswaar God afgesweer, maar het hulle en hulle kinders se siele vir Hitler gegee.

Dit is die verlede. Wat sou ons as geestelikes moes doen met die skepsels van Isa Konrad se Toekomsmens?

...
Kan ’n rekenaar, of ’n kunsmatig-intelligente wese, in verhouding staan tot ander? Kan so ’n wese iets van ’n Godheid verstaan?
...
Asemhaling in die stilte

Daniël Louw tree in gesprek met Elsa Joubert se boek Spertyd (2017) en lig sy artikel verder met ander skrywers, digters en skilderye toe. Ongelukkig is Joubert op 97 jaar aan COVID-19 oorlede, maar in haar genoemde boek worstel sy met oudword en die dood en alles wat daarmee gepaard gaan; ook die vraag na die siel.

Sy (en Daniël Louw) vind die siel en sin in “asemhaling in stilte”. Die siel is dus nie binne die liggaam vasgevang nie, maar die siel vind haar/sy oorsprong in God en verkry betekenis, nie net binne die mens nie, maar veral in verhouding tot God, andere, die omgewing en die heelal. Binne hierdie konteks is daar lewe waar daar hoop is.

Hedendaagse berading gaan nie daarom “om siele vir die Here te wen” nie, maar om mense te begelei tot die insig dat die siel nie binne ’n liggaam van been en vlees vasgevang is nie en ook nie met die dood skielik uitglip hemel toe nie. Nee, die mens is ’n besielde lewende wese wat met alles wat binne ons, maar veral ook buite ons, in verhoudinge bestaan.

Sou hierdie benadering in 2057 van toepassing op wesens wat mensemaak en intelligent is? Kan ’n rekenaar, of ’n kunsmatig-intelligente wese, in verhouding staan tot ander? Kan so ’n wese iets van ’n Godheid verstaan?

In Konrad se boek roep die karakter Agnes uit dat sy ophou glo het toe die donkerte toegesak het en dat God nie meer daar is nie. In Nazi-Duitsland het Agnes dus haar siel “verloor”, maar ná haar dood word sy na ’n universele sielswêreld weggevoer.

Lesers wat die film 2001: A space odyssey deur Stanley Kubrick ken, sal die beskrywing ná Agnes se dood verstaan. Dit sou die moeite werd wees om hierdie film weer te kyk ná Konrad se boek gelees is.

In 2057 ís Agnes egter weer, maar as wat? Wat is sy? Leef sy? Sy is in ’n masjien, maar sy “lewe” en sy staan in verhouding met mense, die omgewing en die politieke toekoms. Leef sy dus ná haar dood?

Sy is bewus, sy kan redeneer en sy kan emosie ervaar.

Die Franse filosoof René Descartes het by geleentheid gesê ’n mens wat bewus is van haar- of homself, hoef nie in sy of haar bestaan te twyfel nie. Hy het die frase “Cogito, ergo sum” geskep – “Ek dink, daarom is ek.” Agnes dink. Sy is. Sy is bewus van haar sterflikheid as die rekenaar weer afgesit word.

Het Agnes in die rekenaar ’n siel volgens die gesprek tussen Elsa Joubert se boek en Daniël Louw?

Die siel in die tradisionele Venda-godsdiensbeskouing

In hierdie verband skryf Samson Makhado in sy boek When justice, mercy and forgiveness meet (2019) oor die siel binne die konteks van ’n tradisionele Venda-godsdiensbeskouing. Makhado is gedurende sy jonger jare self volledig as tradisionele geneser opgelei en beskik dus oor diepliggende insigte oor hierdie geesteswêreld, alhoewel hy later tot die Christendom bekeer is.

Binne hierdie tradisionele Venda-raamwerk bestaan die siel binne die mens. Sou sodanige persoon sterf, word die tradisionele geneser ingelig en sy/hy tree dan as bemiddelaar op om via die geeste die afgestorwe voorouers in te lig dat daar ’n nuwe siel onderweg is en versoek hulle om hom/haar te ontvang. Op hierdie wyse word die siel ten tye van die dood deel van die alomteenwoordige geesteswêreld.

Lesers van Toekomsmens sal Agnes se rol hier raaksien.

Ek het reeds enkele opmerkings oor Marguerite se siening van die mindere en meerdere siele met betrekking tot 2057 gemaak. Die vraag is nou: Indien die mense, robotte, robotmense, rekenaars en masjiene van 2057 hulself as lewende wesens sou beskou, sou ’n mens dan kon praat van besielde wesens wat in ’n moontlike verhouding is met God? Kan so ’n wese ’n verhouding hê met ander, die omgewing en die heelal; die heelal wat ook deel is van die alomteenwoordige geesteswêreld?

...
As ons, as mense, so voel oor ’n voorwerp wat geen eie lewensbeskouing het nie, hoe moet die herder van die toekoms omgaan met rekenaars of halfmense wat om geestelike leiding sou kon kom vra?
...
Die objek wat seën nodig het

Teen die agtergrond van hierdie tradisionele Venda-geestesbeskouing, bestaan daar ’n ou tradisie in die Venda-Christendom dat ’n nuwe objek ingeseën moet word, net soos wat dit deur ’n tradisionele geneser, soos in die geval van die dood, uitgeoefen sou word.

Ek self is al gevra om ’n nuwe huis, meubels of motor deur middel van gebede in te seën; of dink maar net aan die toesprake en gebede wat by die hoeksteenleggings van belangrike geboue gemaak word. Ook in die Boeddhistiese tradisie gebeur hierdie vorme van inseëning.

As ons, as mense, so voel oor ’n voorwerp wat geen eie lewensbeskouing het nie, hoe moet die herder van die toekoms omgaan met rekenaars of halfmense wat om geestelike leiding sou kon kom vra? Uiteindelik gaan dit oor watter sielsbeskouing ’n mens vanuit watter godsdienstige perspektief verstaan en in glo.

En wie van ons beskik oor die profetiese insig oor watter sielswyshede in 2057 gaan bestaan?

Bronne

Samson Makhado het sy teks When justice, mercy and forgiveness meet in 2019 self uitgegee. Lees meer oor hom hier. https://sahcet.org/about-sahcet/our-team/samson-makhado.

Of bestel die boek hier: samson.makhado@acsi.org.

Toekomsmens, deur Isa Konrad, is in 2020 deur LAPA uitgegee.

Lees ook:

Dum spiro – spero (terwyl ek asemhaal, hoop ek). Op reis met Elsa Joubert oor die "naakte waarheid" van die "menslike siel"

Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250–1310)

Kunsmatige intelligensie

Miniseminaar: Die Vierde Nywerheidsrevolusie

Mens-masjien-verhoudinge en Afrikaanse poësie: ’n onderhoud

Die manifestasie van mens-masjien-verhoudinge in die Afrikaanse poësie (1990–2012): ’n kwantitatiewe en teksontledende beskouing

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top